Kommentaar: FilosofieKafee 31 Mei 2013


Tim du Plessis:            
'Suid-Afrika het nog altyd net 5 jaar oorgehad voor dit klaarpraat sou wees.'
Nadat die vergaderde skare ‘n ekstra drankie of twee moes nuttig terwyl Tim du Plessis in die verkeer vasgesit het, is hy hartlik verwelkom as ons ‘Republiekdagspreker’ – darem grappenderwys!
Die gewag was die moeite werd.  ‘Hoe lank kan ons nog aangaan tot die ergste gebeur?’ is aangespreek met ‘n mengsel van optimisme en rooi-vlag waarskuwings.  Is ons met Prof Willie Esterhuyse as hy sê, ons is nou ‘n ‘ploeterstaat’, een stap voor die mislukte staat? 
Die onderstaande terugberig vat wat gesê is netjies saam.  Die kort antwoord is Nee, ons sal waarskynlik oor 5 jaar nog hier wees en dieselfde vraag vra.  Die gesprek het op die einde wel gedraai na die meganismes, en waarskynlikheid, van verandering.  ‘n Interessante punt was dat politieke veranderinge dikwels baie vining gebeur.  Suid-Afrika is nog altyd gedomineer deur groot partye wat lank regeer, en as hulle val val hulle vining, dikwels na ‘n ‘kataklismiese’ gebeure. Die padwysers vir sulke verandering is
·      Die regerende party huisves te veel kompromieë en teenstrydighede
·      Die morele gesag verval te veel: korrupsie en mense wat kanse vat word net te veel.
Dit is waarskynlik dat die ANC oppad is na so ‘n gebeurtenis, maar om te voorspel is onmoontlik.
Vraetyd was lewendig soos altyd. 
·      M.b.t burgerlike verset, wat ons te doen staan is om binne die wet te bly en te organiseer en die burgerlike samelewing te versterk.  Die blankes in Zimbabwe het onttrek en ‘inwaards geïmigreer’ en te laat wakker geskrik.
·      Die groot brouhaha oor die Gupta vliegtuig is ‘n goeie teken – daar is ‘n nuwe senuweeagtigheid en sensitiwiteit by die regering en ‘n besef dat sulke gebeure onaanvaarbaar is.  Nie dat dit hulle keer om hulleself te verontskuldig en amptenare te blameer nie.  Ons burgerlikes moet wees soos ‘n klein outjie wat skrumskakel speel en aanhou om lasting te wees totdat hy ‘n strafskop vir sy span kry.
·      Lutuli House vs Parlement? E.g. het ook sy faksies.  Lutuli House het groter beheer gehad onder Mbeki;  is daar ‘n moontlike ‘deal’ tussen Mantashe en Zuma dat dit herstel moet word?
·      Op die vraag oor hoekom Cyril Ramaphosa so stil is: hy word hoog aangeskryf en kan wel goed organiseer maar het nie werklik ‘n magsbasis nie. Hy is ‘n Venda maar beskou himself as Suid-Afrikaans.  Wie ookal vir Zuma gaan opvolg moet ‘n ooreenkoms kan sluit dat hy nie vervolg sal word nie.   Net so het Agang ook nie ‘n magsbasis nie.
·      Wanneer gaan ons opstaan teen al die biljoene wat so vermors word? Die koalisie van mense wat kwaad is moet groter word.
·      Op die vraag of ons swak onderwys stelsel nie die grootste bedreiging is vir modernisering nie, kon almal maar net kopknikkend saamstem…..

Ansie de Swardt