Sunday, 30 June 2013

Terugberig: FilosofieKafee 28 Junie 2013

-->
Hier is die teks:  "Wat kan die ander ons leer van onsself?" - Fransi Phillips

Ons het in ‘n klein huisie op die bult gebly, wat beteken dit was voordat ek begin skool gaan het, toe ek die eerste keer vir my ma gevra het of sy dink daar gaan oorlog kom.   Iets aan die manier waarop sy geantwoord of nie geantwoord het nie, of aan die manier waarop sy haar hare uit haar gesig gevee het, het my laat begryp: ek weet nie van oorlog nie, maar hier kom kak. En die oomblik as mens begryp hier kom kak is vanselfsprekend ook die oomblik waarop mens begin probeer om jou pad uit dit uit te vind.


Die eerste pad uit die kak is vir my uitgestippel  deur my Afrikaner ouers:

Doen altyd jou plig

Moenie kos en water mors nie, daar’s kinders wat honger ly en dalk kom reen dit nooit weer nie

Pasop vir die kommuniste

Moenie die huishulp rondfok nie ( in daardie dae is sy bediende genoem)

Moenie na donker huis toe kom nie

Moenie by die strooise speel nie 

Glo in God.


Maar toe word Verwoerd geskiet, en my pa kry ‘n snaakse trek in sy oë, en my ouma wat sap stem vee haar oë met haar voorskoot af en se sy voel jammer vir sy vrou, en sy kyk na jou asof sy verwag dat jy iets moet begryp,  en iets verander, maar jy weet nie wat nie, maar die feit dat daar kak gaan kom, is nie die ding wat verander het soos wat jy gehoop het nie. Jy weet nog steeds en meer as ooit daar kom kak, as dit nie alreeds gekom het nie, en die kak wat kom het iets te doen met die vet minister wat so skreeu . En jy doen alles wat jy moet doen en daarby staan jy nog eerste in die klas en kry ‘n trofee vir tennis, maar dit verander niks aan die kak wat gaan kom nie, en jy raak bietjie skepties  oor die pad wat vir jou aangedui is uit die kak, maar jy dink nog steeds jy moet iets daaraan verander, en as dit nie verander nie beteken dit jy het nie die regte ding gedoen om dit te verander nie want jy is ‘n getroue calvinis wat glo dat straf ‘n teken is van sonde, en die fok weet, die stories met die land klink of dit ‘n vorm van straf inhou.  


Teen die tyd dat jy in st. 10 kom tref die Soweto opstande die land, en dit klink al meer soos die kak wat jy verwag het sou kom, ten spyte van al jou pogings om die regte ding op skool en by die huis te doen, en teen die tyd is jy gatvol vir die hele besigheid en vir jou ouers en die skool, so die volgende jaar op Universiteit besluit jy daar moet ‘n beter uitweg wees en die liberals en Marxiste in jou filosofieklas vry in elk geval beter en trek  interessanter aan as die tokkelokke en die konserwatiewe VSR, en jy doen Marxisme en Neo-Marxisme in die filosofieklas en jy’s die moer in oor die tyd wat jy gemors het om te probeer goed wees terwyl jy in werklikheid heeltyd sleg was, en jy ontmoet vir Ampie Coetee en jy lees Breyten se poësie by die digterskring en Koos Prinsloo se verhaal in “Vlieg” oor bloedksandelike kinderseks word verban op Tukkies, en dit wys jou net hoe sleg is die sisteem en in elk geval is die hele wêreld nou teen apartheid so dit  sal  onnosel wees om nog steeds vir dieselfde party as jou ouers te stem.


Die enigste vlieg in die salf is hierdie ding:  Jy sukkel om die opstande te ondersteun omdat hulle kinders daarvoor gebruik en omdat die necklace ding nie na pret lyk nie. En dan is daar nog die keer op Kerkplein toe die bom afgegaan en almal met bloed aan hulle gesigte rondgeloop het terwyl die ambulanse waansinniglik verbyjaag hospital toe. En daar is die buurman in die flat wie se bene altwee geamputeer is na daardie bom, en sy suster vertel dat hy al soveel operasies moes kry aan sy longe dat hy wakker word onder narkose omdat dit nie meer veel van ‘n verskil aan hom maak nie.  En die feit dat hy ‘n poephol is, is nie die punt nie.  Die punt is dat iemand wat nie ‘n poephol is nie op daardie oomblik daar kon geloop het, en dat jyself in werklikheid baie naby was. 


En behalwe dit is daar hierdie lastige herinnering aan die kommunistiese propaganda-kuns wat die kunsgeskiedenis lektrise in die klas gewys het, en as dit is waar alles heengaan gaan ons vir seker ‘n toekoms van onkreatiewe onnoselheid tegemoet, maar wie weet dalk is die mense wat nou klippe gooi en necklace speel in plaas van om skool te gaan miskien intellektuele teen die tyd dat hulle aan bewind kom. Dit sal dalk ‘n tydjie vat, maar jy is al meer bereid om te wag soos wat die drama ontvou, en sal dit trouens verkies as die wonderwerk iewers na jou dood eers sou gebeur. 




Verder worry jy bietjie oor jou rassistiese pa wat glad nooit geleer het hoe om sy bek te hou nie en verwonder jou oor die feit dat hy kort voor die bevryding nog ‘n job aangebied word as konsultant terwyl baie van die gatkruiper omies met pakette gestuur word om ‘n strandhuis iewers aan die kus te gaan koop, en party van hulle kry hartaanvalle omdat die huise wat hulle in ‘n rivierbedding gebou het tydens ‘n vloed weggespoel word na die see. En die wat nie oorsee gaan nie moor hulleself en hulle gesinne uit asof dit uit die mode gaan.


Terwyl jy werk in die staatsbiblioteek om geld te kry vir ‘n oorsese trip is daar al hierdie verbode lektuur van ANC lede wat in Rusland en Tsjeggo-Slowakye leer waar om die bomme te plant wat jy enige dag kan aftrap, en tydens jou oorsese trip kom jy agter jou vriende is net die met wie jy saamstem dat dit eintlik jou plig is om selfmoord te pleeg, en jy voel al minder lus vir die ding van vriendskap met Wes-Europieers.


En jou broer wat medies swot vertel van mense wat met byle in hulle koppe by ongevalle sit en wag as hy aanklok vir sy aansdskof by die hospital, en dis moeilik om die depressie wat oor hom toesak te ignoreer.  En jou ma koop vir jou ‘n sak kruideniersware sodat jy gereed sal wees wanneer die dag kom, wat jy alles voor die tyd opeet want jy is nou geskei en arm en bly in ‘n flat tussen swart bure in Sunnyside waar jy elke nag ‘n roof of verkragting aanhoor. En jy kyk op TV na die skouspel van die bevryding en voel effens skuldig oor hoe  verveeld jy halfpaddeur raak, amper  soos in die kerk ‘n kwart-eeu gelede, en jy vertel elke dag vir jouself hoe wonderlik die bevryding is, kompleet asof jy jouself nie wil glo nie .    


Jobs raak nou skaarser en misdaad meer en

dis half vanselfsprekend dat boere vermoor sal word omdat hulle plase het en as jy nog nooit fokkin verlig gevoel het dat jy nie die plaas geerf het omdat jy nie die voël het soos jou broer nie, is jy nou verlig daaroor.  Maar behalwe van boere is daar ook stories van babas wat verkrag word en ou tannies wie se vingers afgekap word en kinders wat aan stukkies gesny word vir toordokters wat mens nou nie meer tootdokters mag noem nie want hulle is nou traditional healers. En so begin dit tot jou deurdring dat die spul wat klippe gegooi het toe nie in intellektuele verander het soos wat jy gehoop het nie  en jy probeer maar incash op die kak wat om jou vlieg en skryf ‘n verhaal vir swart skole op aandrang van ‘n uitgewer, maar die uitgewer pleeg selfmoord net nadat jou boek uitgekom het omdat sy nie betaal is vir die boeke wat sy gelewer het nie, en sy word deur ‘n gang verkrag terwyl sy doodgaan en die boek verdwyn en jy hou jou bek bascally omdat jy te verward is om te weet wat de fok om te sê, en Dan Roodt wie se boek verban is deur die Nasionale regering is daar iewers buite besig om sy moer te strip vir die nuwe regering en dan het hy boonop nog die cheek om dit te sê en geleidelik begin dit tot jou deurdring dat jy die naasteliefde vir jou reënboognasie net so sleg afgepull gaan kry soos die scene van Afrkaner voorbeeldigeheid en voortrekkers en volksfeeste.     


So as jou Afrikaner  opvoeding nie ‘n oplossing inhou nie, en jou Westerse liberalisme doen dit ook nie, en Afrika is ‘n totale disaster, waar gaan ons hulp vandaan kom? 


Ek het Oos-Europa ontdek , nie terwyl ek op soek was na hulp nie, maar na ‘n job.  Ek was besig om op vryskut grondslag vir die Pretoria News kunsresensies te skryf, toe ek gevra is om ‘n uitstalling te open van ‘n kunstenaar wat in die geheim agter die ystergordyn met soveel styl uitgemis het op die twintigste eeu dat haar werk my vir die eerste keer  laat wonder  het of daar hoegenaamd iets betekenisvol gebeur het in die eeu van avant garde en hippies,  wat afgesluit is met ‘n belofte van ‘n new age waarin die gelykheid van almal en alles tot so ‘n mate untouchable geraak het  dat die fokkin hoenders van wie mens eiers  koop  se vegetarian status  nou al  in mens keel afgedruk word .  


Dit was in die eerste plek lekker om elke oggend te voel of ek die land van disasters verlaat vir ‘n land waar die mense besig was om hulle eie kultuur te herontdek nadat hulle vir amper ‘n eeu lank verbied was om dit te beoefen op grond van die feit dat kulturele onderskeid in die gelykmakingsproses  verbode was.  En dit was toevallig ‘n klein land wat dit nie polities inkorrek geag het om van sy kleiner buurland af te split en twee verskillende state te word nie, en toe ek vir die ambassadeur vra hoekom daar twee verskilllende lande moet wees vir mense wat dieselfde taal praat, beduie hy vir my dat sy land se vrouens wilder is as die vrouens in die ander land wat vroeër dieselfde land was en dat dit ‘n uitstekende rede is om afsonderlik te wil bly. En dit was lekker om te werk tussen mense wat witter was as ekself, en wat geen skuldgevoelens daaroor gehad het nie.  Maar die lekkerste van alles was die politieke attaché se vrae: “Fransi, what means kortbroek?”  Waarop ek “Short pants” antwoord.  “Fransi, what means voetsek?”  “It’s a rude way of telling someone to go away.” “Fransi, what means politically correct?”   “It means that if you are black you are allowed to hate whites but if you are white you are not allowed to hate blacks.”

 “But Fransi I don’t understand” 

“Actually I don’t want you to understand.”


En terwyl so ‘n vraag, uit die mond van iemand wat geen skuldgevoelens het nie bloot omdat hy geen skuld het nie, maklik sou kon lyk na politieke agterlikheid, en terwyl die haarstyle en oogpotloodstrepe van party van die mense se vrouens bietjie aan die fifties sou kon herinner, moet mens in gedagte hou dat hulle ‘n halwe eeu gelede reeds onderwerp is aan die fok-op van gelykmaking en eendersmaking  waarheen die Weste besig is om ons teen ‘n stink spoed agter hulle aan te sleep.    


Vir tien mooi jare het ek elke oggend in my tweede land aangekom, waar ek moes bontstaan om die oggend se nuus vir die politieke attaché te interpreteer. Terwyl ons in sy kar op pad is na ‘n Europese Unie vergadering sou hy terloops vra:  “Were there as many beggars in the streets under apartheid?”  En dan sou ek antwoord :  “No, definitely not” en hy so vra “Were they shot?”  En ek sou sê “I really don’t think so” en hy sou vra “Where were they?” en ek sou eerlikwaar nie weet hoe om hom te antwoord nie, net so min as wat ek sou weet hoe om my embarrassment te verberg met Mbeki se uitgesproke ingenomenheid om ‘n “kommunistiese” land se president daar te hê toe ‘n president  wat sy lewe lank teen kommunisme geveg het ‘n amptelike besoek aan Suid-Afrika bring, en net so min as wat ek Zuma se ongeletterdheid kon verduidelik aan ‘n diplomaat uit die land van Vaclav Havel en Vaclav Klaus. 


Die politieke attaché van die  klein Oos-Europese land was bekommerd toe hy hoor dat ek op pad Rusland toe is: die vrees vir Rusland is nie iets wat maklik afgeskud sal word in daardie lande nie .  “Fransi”  het hy gesê, “ Be careful of the chernobil mushrooms. “ En toe ek oor die vakansie terugkom met ‘n stuk staal in my gebreekte arm:   “A micro chip, Fransi! See, I told you so.”


Vrees was ook my eerste reaksie toe ek in Rusland aankom:  ek onthou die brat wat met sy fiets in my bagasie vasslet en vererg maak asof dit my skuld is, en Jana die administrateur wat my later sou staan en streel terwyl ek gil van pyn met ‘n gebreekte arm wat verkeerd gespalk is, het met die eerste oogopslag maar baie na ‘n bitch gelyk, en die goed was almal so wit dat dit gelyk het of hulle nie ‘n skaduwee sou kon gooi nie, soos deurskynende rotte wat ontsnap het uit Chernobil, en ek was skyt bang om te verdwaal want ek het gehoor dat mens nie ‘n Rus op straat nader nie, wat ‘n totale kakstorie was.


 My tweede reaksie was ingenomenheid met hulle onverwagse generosity:  terwyl vroutjies wat deur die kommunisme geleef het nie genoeg kan kry van die wonder van koop nie,  voel hulle oënskynlik  net mooi presies vere vir besittings, en al wanneer dit vir hulle iets beteken is die oomblik dat hulle dit kan weggee. Hulle het my letterlik toegegooi onder geskenke. Hulle bly almal in flats wat omtrent so groot soos myne of kleiner is, met dosyne katte en reuse honde wat elke dag in die sneeu gaan rol en oor nuwejaar saamgevat word in die koue om die vuurwerke te waardeer, terwyl daar wilde honde soos wolwe deur die strate hardloop.  Toe ek eenkeer dink ek sien die eerste betoging in die geskiedenis van die Russiese Federasie, kom ek agter dis net ‘n klomp mense wat saamdrom om ‘n meisie wie se klein katjie hulle wil streel.   


In Januarie laasjaar het ek saam met Anja en Vlad op Rooiplein in Putin vasgeloop waar hy besig was om in jeans te staan en yoyo speel terwyl die skares hom flat ignoreer.   ‘There is Mr Putin”, het Vlad gesê.  “Please don’t look at him.” Waaruit ek die verkeerde afleiding gemaak het dat omdat hulle dink Putin is ‘n idioot, hulle graag ‘n regte demokrasie sou wou hê.


My tweede reaksie was dus net so verkeerd soos die eerste:  ek het nou   die onoorbrugbare gaping tussen die Weste se idee van die “onderdrukte” Russe, wat eintlik ‘n gevolg is van die onoorbrugbare gaping tussen die regering en die “onderdrukte” mense, begin toedig aan die “onderdrukte”  mense se politieke naïwiteit, en ewe naïef het ek vir hulle begin verduidelik van politieke verantwoordelikheid wat saamgaan met politieke vryheid, totdat ek agterkom dat hulle my in my gesig sou uitgelag het as hulle net klein bietjie minder van my gehou het, of as hulle nie van my afhanklik was om hulle Engels deur te kom nie. 


Een van die studente, die sestienjarige Lera, het my op ‘n mooi manier uit my misery probeer help.  “We do not believe in democracy”, het sy gese. “Obama is not better than Putin.”

“But what do you see as an alternative ?”

“We do not need an alternative.”  

“So, you like President Putin?”

“No, we don’t like him, but we don’t believe in revolution and we don’t like politics.” 

“What do you believe in?” het ek gevra

“In ourselves”, het sy geantwoord. 

“And are you happy?”

“Yes”, het sy gese.  “We are not very poor or very rich, and we are all crazy. We do as we like and we say whatever we want to. We are happy.”

“But what about the demonstrations after last year’s elections?”

“Haha, they were arranged by mr. Putin.  People were paid to go there.  The Russians are corruptable because they are bored, and they are bored because they are not stupid.”


En toe ek my vriend Evgeny vra wat dink die Russe van Pussy Riot het hy  geantwoord:  “They are stupid cunts.”


Die waarheid is dat die Russe nog veel minder as die Afrikaners kan saamstaan om ‘n demokrasie teweeg te bring. Elke Rus wat ek ooit ontmoet het is die held in die een of ander makabere en waansinnige soap opera wat in sy eie, en net in sy eie kop afspeel. ‘n Rus wat lus is om hom dronk te suip en agteruit oor ‘n besige straat te loop, doen presies dit.  ‘n Rus wat ‘n rot so groot soos ‘n hond as troeteldier wil hê, het ‘n rot so groot soos ‘n hond as troeteldier.  ‘n Rus wat geirriteerd raak met die cheeky duiwe onder mens voete op die Leninplein in Podolsk, ghwel op die duiwe.   En die onderdrukte massas is toe nooit onderdruk nie, eenvoudig omdat dit nie moontlik is om hulle te onderdruk nie. Hulle is wel by tye in die geskiedenis  in massas doodgemaak, maar nog steeds dink ek nie iemand het ooit die voorreg gehad om hulle te onderdruk nie.  Die rede hoekom ek so dink is omdat ek  self my uiterste bes gedoen om ‘n paar van hulle te onderdruk, maar daar was eenvoudig geen manier nie. Nie eers op ‘n basis van ek, die adminstrateur en die ma saam teen een vyfjarige nie. Elke sisteem wat mens uitdink om orde te prober handhaaf word ewe logies uitmekaar  gehaal en binne ‘n paar minute vernietig.  Elke game eindig in chaos, en dis vir die administrateurs van die skool normaal, en ek is geprys vir my goeie werk en oorval met geskenke.  Die enigste mense vir wie daar hoegenaamd respek is, is die babushkas wat ‘n skrikbewind voer met hulle knoffel-asems. Al wat vir my werk is om te kan lag, en te kan entertain.   Wat werk is om die Russian soul te ontmoet waar hy is en nie waar jy verwag om hom te sien nie. 


Wat ek van hulle saambring is nie soveel hulle politieke onverskilligheid nie, maar ‘n herontdekking van  die waarde wat hulle heg aan individuele vryheid. Ek’s nie op hierdie stadium seker of die anargie in Rusland ‘n gevolg is van die despotisme in hulle geskiedenis en of die  despotisme  ‘n gevolg van die ingebore anargie is nie, en ek is glad nie meer seker of dit saak maak of nie.


Wat wel  saak maak is om te mag hou van wie jy wil, en om mense te mag vermy as jy lus voel, al is dit  op grond van hulle geslag of ras of kleur.  Om te mag praat met wie jy wil, om te mag vriendelik wees met wie jy wil, om jou kultuur te mag beoefen, om te mag trots voel op jou voorouers, om te mag werk, om jou kind se veiligheid te mag verdedig,  om jou taal te mag praat, om die kleur te mag wees wat jy is, om te mag bly saam met wie jy wil, om te mag droom wat jy wil, al is dit dan ook van ‘n land waar almal soos jy is en waar jou regte beskerm word.

Dit gaan nie meer vir my daarom om ‘n pad uit die kak te vind nie.  En ek wil julle mooi vra om asseblief nie te probeer saamstaan nie, want julle kan nie en ek kan nie. Dit gaan daaroor om net minder fokkin skynheilig en papbroekig en gatkruiperig en apologeties te wees oor wat jy is.  En om jou middelvinger in die lug te druk, as jy een van die gelukkiges is wat wel nog ‘n middelvinger het, vir wie ookal om watter rede ookal jou vanselfsprekende reg sou bedreig om te sien wat jy sien en te weet wat jy weet. 

Friday, 14 June 2013

Vrydag se Filosofiese gedagte:


"Die vroomste ideale vermom dikwels die mees platvloerste motiewe" - Karl Marx (1818 - 1883
Wat iemand besit, bepaal  in 'n belangrike mate watter standpunt dié beskerm. Dit is veral merkbaar in taalgebruik wanneer finansiële reëlings ontnugter raak.

Friday, 7 June 2013

Vrydag se Filosofiese gedagte!

" Geen kapitalisme sonder protestantisme" - Max Weber (1864 - 1920)
Om baie geld te verdien getuig nie noodwendig van materialisme nie. Werk het 'n spirituele dimensie. Kapitalisme en protestantisme wakker mekaar aan. 

Wat dink u?
oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Wednesday, 5 June 2013

Kommentaar: FilosofieKafee 31 Mei 2013


Tim du Plessis:            
'Suid-Afrika het nog altyd net 5 jaar oorgehad voor dit klaarpraat sou wees.'
Nadat die vergaderde skare ‘n ekstra drankie of twee moes nuttig terwyl Tim du Plessis in die verkeer vasgesit het, is hy hartlik verwelkom as ons ‘Republiekdagspreker’ – darem grappenderwys!
Die gewag was die moeite werd.  ‘Hoe lank kan ons nog aangaan tot die ergste gebeur?’ is aangespreek met ‘n mengsel van optimisme en rooi-vlag waarskuwings.  Is ons met Prof Willie Esterhuyse as hy sê, ons is nou ‘n ‘ploeterstaat’, een stap voor die mislukte staat? 
Die onderstaande terugberig vat wat gesê is netjies saam.  Die kort antwoord is Nee, ons sal waarskynlik oor 5 jaar nog hier wees en dieselfde vraag vra.  Die gesprek het op die einde wel gedraai na die meganismes, en waarskynlikheid, van verandering.  ‘n Interessante punt was dat politieke veranderinge dikwels baie vining gebeur.  Suid-Afrika is nog altyd gedomineer deur groot partye wat lank regeer, en as hulle val val hulle vining, dikwels na ‘n ‘kataklismiese’ gebeure. Die padwysers vir sulke verandering is
·      Die regerende party huisves te veel kompromieë en teenstrydighede
·      Die morele gesag verval te veel: korrupsie en mense wat kanse vat word net te veel.
Dit is waarskynlik dat die ANC oppad is na so ‘n gebeurtenis, maar om te voorspel is onmoontlik.
Vraetyd was lewendig soos altyd. 
·      M.b.t burgerlike verset, wat ons te doen staan is om binne die wet te bly en te organiseer en die burgerlike samelewing te versterk.  Die blankes in Zimbabwe het onttrek en ‘inwaards geïmigreer’ en te laat wakker geskrik.
·      Die groot brouhaha oor die Gupta vliegtuig is ‘n goeie teken – daar is ‘n nuwe senuweeagtigheid en sensitiwiteit by die regering en ‘n besef dat sulke gebeure onaanvaarbaar is.  Nie dat dit hulle keer om hulleself te verontskuldig en amptenare te blameer nie.  Ons burgerlikes moet wees soos ‘n klein outjie wat skrumskakel speel en aanhou om lasting te wees totdat hy ‘n strafskop vir sy span kry.
·      Lutuli House vs Parlement? E.g. het ook sy faksies.  Lutuli House het groter beheer gehad onder Mbeki;  is daar ‘n moontlike ‘deal’ tussen Mantashe en Zuma dat dit herstel moet word?
·      Op die vraag oor hoekom Cyril Ramaphosa so stil is: hy word hoog aangeskryf en kan wel goed organiseer maar het nie werklik ‘n magsbasis nie. Hy is ‘n Venda maar beskou himself as Suid-Afrikaans.  Wie ookal vir Zuma gaan opvolg moet ‘n ooreenkoms kan sluit dat hy nie vervolg sal word nie.   Net so het Agang ook nie ‘n magsbasis nie.
·      Wanneer gaan ons opstaan teen al die biljoene wat so vermors word? Die koalisie van mense wat kwaad is moet groter word.
·      Op die vraag of ons swak onderwys stelsel nie die grootste bedreiging is vir modernisering nie, kon almal maar net kopknikkend saamstem…..

Ansie de Swardt

Sunday, 2 June 2013

Terugberig: FilosofieKafee 31 Mei 2013


TIM DU PLESSIS - SUID-AFRIKA HET NOG ALTYD NET VYF JAAR GEHAD VOOR DIT KLAARPRAAT SOU WEES


Die koerantman, Ken Owen, wat in Lydenburg grootgeword het, het verwys na “die oumense” wat altyd gepraat het van Suid-Afrika wat net “vyf jaar ooor het.” Dit is vandag nog net so waar soos destyds.

Die kenmerke van ‘n staat wat gefaal het (a failed state) is soos volg:

-       Die regering verloor fisiese beheer oor die land. Hier het dit egter nog nie gebeur nie.
-       Die regering verloor die monopolie op die uitoefening van mag.
-       Die regering neem nie besluite nie. In Suid-Afrika se geval is dit nie waar nie.
-       Die regering kan nie meer redelike vlakke van dienslewering verskaf nie. Hier is dit wel waar, maar soos Johnny Steinberg onlangs in Business Day beweer het, bly die ANC tog aan bewind danksy die 2 miljoen huise wat die afgelope paar jaar gebou is, die antiretrovirale program wat sukseslvol ingestel is post-Mbeki en die maatskaplike toelaes waaruit 16 miljoen mense voordeel trek. Dit bring waarskynlik mee dat die regerende party nog ‘n hele ruk aan bewind gaan bly.
-       ‘n Staat kan nie meer diplomatieke betrekkinge met ander state handhaaf nie. In ons geval is dit nog nie so nie.
-       Militias neem beheer oor van gebiede. Dit gebeur darem nog nie in Suid-Afrika nie.
-       Niemand is meer veilig nie en niemand kan meer vertrou word nie. Dit is wel baie toepaslik, weens die hoë misdaadvlakke in Suid-Afrika.
-       Alle vorme van persoonlike veiligheid moet gekoop word. In Suid-Afrika betaal 80% reeds vir hulle eie veiligheid deur van sekuriteitsmaatskappye se dienste gebruik te maak.
-       Korrupsie word ‘n manier van lewe. Mathata Tsedu meen “corruption is what we have become.” Navorsing deur banke en versekeringsmaatskappye toon daar is twee dinge wat op kiesers ‘n impak maak: korrupsie en ‘n gebrek aan leierskap.
-       Burgers likwideer hulle bates. Dit het nog nie plaaslik gebeur nie.

Ons politieke strydpunt van die verlede (ongelykheid/apartheid) is besleg, anders as in die Midde-Ooste en in Ierland. Ons het, teen alle verwagting in, ‘n skikking bereik.

Verder het ons ‘n oop samelewing. Die regering sal dit moeilik kan verander, soos die onlangse dispuut rondom die Information Bill aangetoon het. Almal het daarteen gemobiliseer.

Meeste burgers in Suid-Afrika is besig om te moderniseer.

Daar is toenemende verset teen korrupsie en selfverryking.

Daar is ‘n groeiende burgerlike samelewing. Mense kry hulle stemme terug. Kerke, belastingbetalersverenigings en vakbonde begin protesteer.

Die howe word nog gesien as ‘n wyse om geregtigheid te verkry.

Op voetsoolvlak is daar baie welwillendheid tussen gewone Suid-Afrikaners, ondanks negatiewe politieke retoriek soos dié van Malema.

Die land is meer stabiel as wat ons geneigd is om te dink. Mens moet onthou dat die Rand-waarde destyds ná die Rubicon-toespraak met 30% geval het…

Die ANC is deurtrek van verdeeldheid en faksies.  Zuma het sedert 2009 nie veel geleer nie. Hy is eintlik ‘n wesenlose (vacuous) dop. Naakte politieke oorlewing is die enigste strategie waarmee hy vertroud is. Barney Mthombothi wys daarop dat die meeste ANC-leiers in die verlede oor superieure intelligensie beskik het, uit vooraanstaande politieke families gekom het en oor onkreukbare integriteit beskik het. Zuma is egter ‘n uitsondering - hy is “street wise” en geslepe.

Die 2014-verkiesing gaan gewis interessant wees - veral as die ANC se huidige 65% steun na 60% val. Dit sal ‘n groot terugslag vir die party wees.

Tim verwys ook na ‘n onlangse toespraak van die geskiedkundige Herman Giliomee waarin hy die plaaslike geskiedenis ontleed het. Hy het daarop gewys dat die land nog altyd regeer is deur partye wat lank aan bewind was. Wanneer hulle geval het, het dit egter skielik gebeur. Gewoonlik is daar ‘n kataklismiese gebeurtenis. Te veel kontradiksies en kompromieë binne ‘n partye kan die ondergang beteken, so ook wanneer ‘n regering sy morele gesag verloor het weens te veel korrupsie.
Lydia von Wielligh-Steyn 

Kommentaar is welkom!