TEMA: René Girard, Michel Houellebecq en die metafisiese toekoms van die Afrikaners: Gedagtes na aanleiding van Houellebecq se roman vernietig(2023)

 

SPREKER: Johann Rossouw in gesprek met Lydia von Wielligh-Steyn

 

In hierdie gesprek word Michel Houellebecq se jongste roman, vernietig (Naledi, 2023) ontleed aan die hand van René Girard se teorie van mimetiese begeerte en mededinging ten einde aan te toon hoekom Houellebecq die Dostojewski van ons tyd is. Voorts word ingegaan op Houellebecq se diagnose van die metafisiese armoede van die eietydse Weste, en wat die implikasies hiervan vir die Afrikaners se metafisiese toekoms is. 

 

Johann Rossouw is professor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat en priester van die Ortodokse sendinggemeenskap van die Heilige Apostel Thomas in Bloemfontein. Hy het etlike boeke uit die Frans vertaal, waarvan Michel Houellebecq se vernietig (Naledi, 2023) die jongste is. Hy is die skrywer van meer as 600 rubrieke en opstelle in die plaaslike en buitelandse media, asook die skrywer van drie romans, waarvan die jongste Sluitstuk (Umuzi, 2023) is. In sy vrye tyd luister hy musiek, kyk hy na wedstryde van die Hane en die Springbokke, asook na films en reekse. Hy sit ook graag op die stoep en kyk na sy vrou, Rika, se vetplanttuin.

 

Iedereen is welkom!

 

Donderdag: 12 Oktober 2023 vanaf 6nm- Die Boekklub, Pniel.

R250pp sluit aandete plus ‘n glasie wyn in.

Rsvp: Lamé by 27(0)828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie portaal (verw S012/10 en jou naam)

http://pay.yoco.com/filosofiekafee


TEMA: Waar sal my identiteit vandaan kom?   

SPREKER: Christina Landman

Christina se onderwerp handel oor identiteit. Dit word gesien teen die agtergrond van persone wat grootgeword het in ‘n land waar daar min ontmoetings met mense van kleur was; waar ‘n minderheid later bande moes smee met medeburgers wat anders grootgeword het. Sommige van hulle het plek gemaak vir die minderheid; ander het hulle egter gehaat – in die werkplek, die kerk en ook binne die  sosiale omgangskonteks. Die vraag wat sy stel is: Waar moet my identiteit vandaan kom? Waar hoort ek?


Christina Landman het as ‘n jong meisie orrel gespeel, halfmarathonne gehardloop en later veel geskryf – akademies, populêr en onpopulêr.  Sy het sewe grade in die teologie verwerf, tien akademiese boeke  geskryf,  meer as ‘n honderd geakkrediteerde akademiese artikels gepubliseer, tien (on)populêre boeke die lig laat sien  en sowat 300 artikels  gepubliseer in koerante en tydskrifte –  meesal in Beeld se Godsdiens-Aktueel.  Sy het 42 jaar by Unisa gedoseer en is steeds as ‘n buitengewone professor daar werksaam.  Sy is predikant in die VGK se Rustenburg-Karlienpark gemeente. Die VGK het vroeër as die NG Sendingkerk bekend gestaan. Verder verwonder sy haar aan die lewe, mense, die kerk en stories.

 

Iedereen is welkom om aan hiérdie oop gesprek deel te neem!

 

Vrydagaand: 29 September 2023 vanaf 18:30

Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.

R250pp sluit aandete plus ‘n glasie wyn/biertjie/sap in.

Rsvp: Lamé by 27(0)828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie pertaal (verw W09/29 en jou naam)

http://pay.yoco.com/filosofiekafee


 












Al gewonder waarom kunstenaars soms soos gode paradeer? Niemand anders doen dit in ewe maat nie. Die rede is dat die kuns in noue verbintenis met die gode staan. Laasgenoemde was die vroegste vergestaltings van die natuur, wat die mens se lot bepaal het. Ook was hulle die beskermhere van vuur en 'die idees' –wat die mens kon help om sy eie dood te oorleef. Wie anders as die gode was dan die onsterflikes? Hierdie templaat leef vandag nog voort. Waarom bied kunstenaars én skrywers hulself soms aan as 'gode op aarde'?


Charl-Pierre Naude is benewens filosoof ook digter en romanskrywer, resensent en kritikus. 
Van sy gedigte is onder meer in Duits, Nederlands, Frans en Noorweegs vertaal
In die rede geval: Waarom die mens mites maak is Naudé se eerste besinnende werk en het uit sy doktorsgraad in die filosofie (2022), gegroei. Hy gee tans 
aandag aan die skryf van ’n roman.
 


                                          IEDEREEN WELKOM!  


Kom klink 'n glasie saam op 25 jaar se bestaan!



Bespreek asb vroegtydig by oopgesprek@filosofiekafee.co.za /0828951139
R190 pp sluit aandete, sjerrie/sap in.
Betaal asb met die datum W01/09 en jou naam by hierdie portaal:
 
http://pay.yoco.com/filosofiekafee

 


In sy verontrustende essay Die gesagskrisis postuleer die filosoof Ad Verbrugge dat die postmoderne mens en die markgerigte owerheid albei poreus geword het en dreig om te verbrokkel.
Ons leef in woelige tye. Krisisse tuimel oor mekaar, die vervreemding tussen burgers en owerheid neem toe, die politieke landskap raak al hoe meer versnipperd en die funksionering van die demokratiese regstaat word bevraagteken.  Kritiek op die “elite” groei sterk, die
tradisionele media word toenemend gewantrou en institusies wat voorheen gesaghebbend was, is onder beleg.  Terselfdertyd ontwikkel die besef dat daar geen eenvoudige oplossing is nie, die probleem lê dieper.
Op grond van, onder meer, ‘n grondige besinning oor Aristoteles se etiek van deugde betoog Ad Verbrugge in Die gesagskrisis dat daar ‘n leemte skuil  in die netwerk-maatskappy met sy klem op verbruik. As gevolg van die  gebrek aan ‘n gedeelde besieling  en ‘n lewende opvatting van maatskaplike deug word burgers en owerheid albei poreus  en vatbaar vir grillige kragte wat die bestaande orde uithol.  Die gesagskrisis wat met hierdie uitholling gepaard gaan, vra om ‘n fundamentele besinning oor ons postmoderne kultuur wat begin met die herwaardering van die mens as ‘n sinsoekende gemeenskapswese.

Ad Verbrugge het ’n doktorsgraad oor die denke van Aristoteles en Heidegger geskryf  en is as filosoof verbonde aan die Vrije Universiteit Amsterdam. Hy was besoekende professor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Ad is die outeur van verskeie boeke waaronder die nuutste oor die tema van die gesagskrisis in die Weste. 

IEDEREEN IS WELKOM OM SAAM TE DINK !

KOM KLINK 'N GLASIE SAAM OP 25 JAAR SE STANDHOUDENDE OOP GESPREK! 

R190 pp sluit ontbyt en ‘n koppie koffie/tee/sap in.

Betaal asb met die datum W05/08 en jou naam by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

Morele 'goed' as politieke wapen – Louise Mabille

Miskien het Dostojewski hom misgis. In Die Karamazov Broers wonder die ongemaklike intellektueel Dimitri of die oorgelewerde waarhede oor God, moraliteit en die algemene orde van dinge werklik nog staande kan bly in ʼn siniese, laat-moderne wêreld. Anders as wat die meeste mense dink, is dit nie Dostojewski wat die nou berugte stelling gemaak het dat “as God dood is, is alles nou toelaatbaar” nie. Hierdie eer kom Jean-Paul Sartre toe, wat in L'Être et le néant dit die vraag gemaak het wat menige laataand filosofiegesprek geloods het. Hierdie vraag verskyn ook gereeld in teologiese debatte, veral as die nuwe generasie ateïste hierdie eg-moderne vrees verbete met natuurwetenskaplike argumente probeer besweer. 

Vandag vind ons egter die vreemde situasie dat, soos die Weste al meer sekulariseer, Westerlinge verbete bly vasklou aan ’n woordeskat van die goeie en die bose  – selfs meer so as wat die geval was gedurende die hoogbloei van die Christelike kerk. Kort ná die val van die Berlynse Muur, maak Francis Fukuyama die stelling dat ons meer as ooit tevore behep is met die algehele verwydering van alles wat onaangenaam is, met pyn en diskriminasie bo-aan die lys. Die noodwendige gevolg daarvan is dat wie ook al beskou word as “verantwoordelik” vir hierdie stand van sake, nou met die duiwel self geassosieer word. Dit is ʼn komplekse vraag, maar laat ons kyk hoe dit uitspeel met betrekking tot ʼn onmiddellike politieke voorbeeld, naamlik die konflik in Oekraïne.

 

Een van die opvallendste aspekte van die huidige openbare gesprek in Suid-Afrika, asook in die buiteland, is die woordeskat van die goeie en die bose wat gebesig word. Groepe  of individue – word dikwels met sterk moralistiese terme beskryf. “Moralisties” in hierdie konteks beteken nie dieselfde as “moreel” nie. Dit is wanneer morele goedheid (wat ʼn werklikheid is en aan niemand “behoort” nie) as politieke wapen aangewend word.

Tans word ʼn soortgelyke toon wyd gehandhaaf in gesprekke rondom die Russiese Federasie en sy militêre operasie in Oekraïne. ʼn Onlangse voorbeeld verwys na Rusland en sy “slegte” vriende soos Turkye, Belarus, Eritrea, Sirië, en die twee-en-dertig ander lande wat hulle nie uitdruklik by NAVO skaar nie. ʼn Mens vind dit ook in spekulasies oor hoekom Putin kwansuis so “gewild” by Afrikaners is. 

Hierdie intense morele opposisie, tussen “goeie” demokratiese lande en “slegte” ondemokratiese lande is natuurlik ʼn voortsetting van die woordeskat wat tydens die Koue Oorlog gebruik is, met bv. Reagan se benaming vir die Sowjet-Unie as die sg. Evil Empire. Reagan en Thatcher het egter die kompleksiteit van die Sowjet-Unie goed genoeg begryp sodat ʼn waardige en suksesvolle gesprek mooontlik was met Gorbachev – ʼn dialoog wat wat uiteindelik ʼn positiewe uitkoms gelewer het. Wat interessant is, is dat die gesprek vandag weer gaan draai by die VSA en sy NAVO bondgenote as die onbetwisbare verteenwoordigers van die morele hoë grond. Daar was ʼn tyd ná 9/11 waar akademici en joernaliste graag die skynheiligheid en self-weersprekende diktatoriale tendense van die VSA beklemtoon het. George W. Bush was elke satirikus en intellektueel se gunstelingteiken. Die gesprek het dikwels gaan draai by die blindheid van die Weste en die feit dat Westerlinge geen begrip toon vir kulture wat nie die konvensionele pad na ʼn progressiewe, liberale demokrasie gestap het nie. 

Nou word daar eensklaps egter weer verwys na “Islamistiese terroriste” – wat tot onlangs ʼn doodsonde was. Selfs George W. Bush is blykbaar  gerehabiliteer: hy bied nou klasse in “outentieke leierskap” aan op die platform Masterclass, waar hy kontak het met figure soos Gloria Steinem, Pharell Williams en ander sosiaal legitieme figure.

Hierdie spronge is tekenend van die vermoë om òf  werklik polities òf werklik moreel te dink. Ná die Tweede Wêreldoorlog was twee breë pogings om sin te maak van hierdie verskriklike gebeurtenis en die gruwels van die Joodse Volksmoord. Een manier van dink – wat vandag blykbaar die oorhand verkry het – is om goedheid en boosheid in absolute terme te bedink: die aakligheid van die Joodse Volksmoord moet uit iets heeltemal anders vloei as wat “gewone” mense kenmerk, en elke oppervlakkige teken, wat met “nasionalisme” of “fascisme”  geassosieer word, moet beveg word en met “goedheid” bedek word. Dit is ookʼn houding wat dikwels in gesprekke oor die Afrikaner-verlede voorkom. 

Daar is egter ook ʼn ander manier van dink, wat ironies genoeg met ʼn Joodse denker, wat self amper in Auschwitz beland het, geassosieer word. In haar nadenke oor die oorsprong van totalitarisme het Hannah Arendt juis daarop gewys dat die pogings om net  een “groot verhaal” as legitiem te beskou (selfs die moreel regverdigbares) eintlik aan die wortel van die politieke krisisse van die 20ste eeu gelê het. Pogings van die “goeie” Geallieerdes om die “slegte” Duitsland met reuse skadevergoeding te straf ná die Eerste Wêreldoorlog het juis tot die tweede, erger konflik gelei.

Baie mense dink aan politiek as versorging deur ʼn goedbedoelende regering wat altyd weet wat reg en goed is. Vir Arendt bestaan enige gesonde samelewing egter uit twee sfere: die privaatsfeer van die huis en die hart of die plek van emosie, en die psige, liggaam en die intieme, wat deur velde soos die sielkunde bestuur word. Daar is egter ook die publieke sfeer of openbare sfeer. In die openbare sfeer word ʼn tree teruggeneem van slordige privaat emosies, en die masker van beleefdheid en formaliteit wat opgesit word ten einde ʼn vrye gesprek te kan hê. Hier is selfs mooi privaat emosies soos liefde taboe: dit is die domein van redelikheid, regverdigheid en soveel as moontlik objektiwiteit. ʼn Hof is byvoorbeeld so ʼn domein, maar eintlik behoort alle politieke gesprekke aan hierdie standaard te voldoen. Dit is ook die taak van elke burger om self sy of haar vryheid in hierdie sfeer op te eis en uit te leef.

Arendt wys daarop dat ʼn weergawe van hierdie domein vanaf die Grieke, deur die Middeleeuse koninklike howe, die Renaissance tot by die nederige Engelse pub- kultuur (pub is ‘n afkorting van public) bestaan het. Wat Nazisme so sinister gemaak het, was nie hul propagering van haat nie – dit bestaan maar altyd in een of ander vorm – maar die feit dat hulle die openbare sfeer heeltemal gesluit het. Dit het nie net weerstand ontmoontlik gemaak nie, maar het ook enige ander alternatiewe visie van die werklikheid laat verdwyn. 

Tans dreig ʼn soortgelyke blokkade. Kommentators wat werklik die politiek in die klassieke sin van die woord wil behou en uitbou sal moet besef dat die politiek – net soos die regswese – berus op die openbare sfeer, waar elke perspektief sy geleentheid in die kalklig moet kry. Dit sluit selfs die perspektief van die individu in wat op die oog af die verpersoonliking van boosheid is. Hierdie gedagte, wat deur Voltaire se beroemde uitspraak verwoord is, naamlik “Ek mag dalk nie saamstem met wat jy te sê het nie, maar ek sal jou reg om dit te verwoord tot die dood verdedig” was lank die hoeksteen van die vrye orde. Dit word egter al meer in die kiem gesmoor deur ʼn politiek van goeie bedoelinge. Dit gaan oor baie meer as blote verdraagsaamheid: die moontlikheid moet oopgehou word dat enigiemand – selfs die slegste mens op aarde – dalk ʼn punt beet kan hê. Dit is belangrik om hier by te voeg dat Suid-Afrika se grootste probleem hoogswaarskynlik nie ”haat” is, soos bv. anti-Steve Hofmeyr aktiviste gereeld beklemtoon nie, maar die verval van die redelike gesprek, oftewel die behoud van wat ons kortliks beskaafde gesprekstandaarde kan noem.

Arendt noem die verbreking tussen die openbare en private die opkoms van die sosiale sfeer; die vreemde soort vermenging van die private en die publieke. Dit bied nie die beskerming van die private nie, maar ook nie die vryheid, nugterheid en regverdigheid van die openbare sfeer nie. Sosiale media is die verpersoonliking van hierdie probleem: aan die een kant is dit vol morsige emosionele uitinge, maar aan die ander kant het dit ook ʼn kleingeestige kultuur van aankla en uitskel geskep. Baie politieke kommentaar geskied op hierdie trant. Dit sal die wêreld juis veiliger vir demokrasie maak as kommentators minder op die psige of persoonlike lewens van figure soos Poetin of Trump fokus en na die ware politiek terugkeer. Deur Rusland bloot net as “sleg” te beskou, word daar belangrike moontlikhede misgekyk, soos byvoorbeeld dat ons vandag met ʼn beduidende herrangskikking van mag te make het. Of dat NAVO – wat gedurende die Koue Oorlog gevorm is met die spesifieke doel om Rusland teë te staan – dalk die einde van sy rakleeftyd bereik het. Dalk is dit nie Rusland wat terughunker na die goeie ou dae van die “glorie” van die ou Sowjet-Unie nie, maar onsself wat terugverlang na Reagan se gemaklike beskrywing van die Sowjet-Unie as die Evil Empire. Die wêreld is egter nie ʼn Batman-comic vol helde en booswigte nie, en daar is meer verbonde aan politieke gesprek as morele verdoeming. Bertold Brecht het daarop gewys dat dit nie die land sonder helde is wat bejammerenswaardig is nie, maar juis die een wat helde nodig het wat werklik in die sop is. Ek sou afsluit op ʼn meer sober noot: dit is selfs erger wanneer ʼn land, ʼn  groep, of sy mediaspreukbuise hulself op helde prober beroep wanneer bloot ʼn redelike gesprek heeltemal voldoende sal wees. 

 

 






"Hoe leef ons dan met mekaar? Augustinus, Ubuntu en die Tussenin"- John Enslin.

“Die vraag hoe ons met mekaar saamleef as mense wat verskil op vele maniere en tog deel vorm van een kontinent of een wêreld is beide oud en aktueel. Ek oorweeg of Augustinus insigte aanbied wat ons in 'n Afrikaanse konteks met Ubuntu mag help. Dit lyk asof sy idee van innerlikheid 'n korreksie mag bied aan 'n dalk te eensydige verstaan van Ubuntu. Daar moet iets wees wat tussen 'n oordrewe individualisme aan die een kant en 'n oorheersende kommunitarisme aan die ander kant staan. Ek wil betoog dat Augustinus se insigte ook hier nuttig kan wees.”

John Enslin is in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool Linden gematrikuleer. Hy studeer BA Admissie aan die destydse RAU en begin daarna met Teologie by UP. Hy voltooi sy laaste jaar Teologie aan US en verkry ook 'n MA in Filosofie onder leiding van Prof W.P. Esterhuyse. Dit was in hierdie jare dat hy besluit het om hom tot die Rooms-Katolieke Kerk te wend wat gelei het tot sy toetrede tot die Katolieke Kerk aan die einde van 1991. In Februarie 1996 sluit hy aan by die novisiaat van die Jesuïete orde en twee jaar later lê hy sy geloftes af. As Jesuïet studeer en werk hy onder andere in Spokane, München, Boston en Londen. Hy werk ook in Braamfontein in 'n gemeente en later as student- kapelaan aan die Universiteit van Kaapstad. In 2021-2022 woon hy in Bikfaya, Libanon en vandaar word hy aangestel as dosent in filosofie aan die nuwe Arrupe Jesuïete Universiteit in Harare.

Iedereen is welkom!

Twee gratis kaartjies vir nuwelinge.

 

Vrydagaand 7 Julie 2023 vanaf 18:30

Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington. 

R250pp sluit aandete en ‘n glasie wyn in. 

Rsvp Lamé by +27(0)828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie portaal (verw 07/07 en jou naam)

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

 

TERUGBERIG

deur Riaan de Villiers

Kompleksiteit, politiek, en die filosofiese tradisie van Stellenbosch - Rèné Eloff

Dit was ‘n hoogs suksesvolle byeenkoms. Die Bôrdienghuis was vol en gesellig, en Rèné lei ‘n boeiende -- eintlik briljante – gesprek in, wat lewendige bespreking ontlok.

Hy verduidelik dis ‘n oefening in die intellektuele geskiedenis, wat klem plaas op die ontstaan en ontwikkeling van idees in ‘n bepaalde sosiale konteks. Sy vertrekpunt is die werk van die politieke filosoof en geskiedkundige Andrew Nash, wat argumenteer dat Stellenbosch – en veral die politieke filosoof Johan Degenaar -- ‘n belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van ‘n ‘dialektiese tradisie’ in Suid-Afrika.

Dit gebeur teen die agtergrond van ‘n dubbelsinnige verhouding met moderniteit in die Kaap en die Boland, gekenmerk deur ‘n spanning tussen ontluikende kapitalisme en ‘n konserwatiewe stroming binne die NG-Kerk. Volgens Nash was die dialektiese tradisie eiesoortig en waardevol, maar ook filosofies en polities beperk. Ter voortsetting van Nash se werk vra Rene of die tradisie by Degenaar eindig of op die een of ander manier voortleef, en ook hoe die sosiale omgewing waarin filosofiese denke plaasvind, kon verander het. 

//////////////////

Die dialektiese tradisie had ‘n lang aanloop maar word deurgaans gekenmerk deur die tema van die oop gesprek, volgens Nash dialekties in die Sokratiese sin. Dit word ook gevorm deur die plaaslike konteks van Stellenbosch. Teenstrydige belange skep die ruimte vir ‘n intellektuele tradisie wat nie Britse liberalisme, gepaard met kapitalisme, volledig kan aanvaar nie, maar ook nie blindelings ‘n konserwatiewe ideologie kan omarm nie. Intellektuele in Stellenbosch moes dus ‘n fyn lyn loop tussen tradisie and moderniteit. In hierdie konteks vind die ‘dialektiese tradisie’ as ‘n toewyding tot ‘n gesprek vanuit verskillende oogpunte ‘n teelaarde. 

Die dialektiese tradisie gaan in die 20ste eeu deur verskillende fases, in tandem met sosiale en politieke verskuiwings, maar kry veral gestalte in Degenaar se werk, en veral na die Nasionale Party se oorwinning by die stembus, wat die konteks verander waarbinne daar oor vryheid besin word.

Degenaar staan ‘n Sokratiese vraagstelling en openheid voor wat beide Calvinistiese sowel as liberale denke uitdaag, en werk teen enige dogmatiese opvattings, hetsy verwant aan die kerk, die nasie of die mark. Enige finale antwoord word afgewys, en ‘n oop gesprek met andere word voorop gestel. Hierdie model is egter nie genoegsaam sosiaal nie, en die historiese posisies van die gespreksgenote word nie in ag geneem nie.   

Degenaar probeer later politieke inhoud aan die oop gesprek gee deur dit te beskryf as ‘solidariteit’ – ‘n soort toewyding tot die moontlikhede wat die wereld bied. Maar dit het geen praktiese politieke betekenis nie; die toewyding tot openheid en die erkenning van verskille maak dit onmoontlik om kant te kies in enige werklike politieke of sosiale konflik.

////////////////////

Rèné argumenteer dan dat die ‘dialektiese tradisie’ wel vir ‘n tyd lank voortleef in die werk van Degenaar se student en latere professor aan dieselfde departement, Paul Cilliers, wat in 2011 ontydig dood is. Hy was ‘n internasionaal gerekende akademikus op die gebied van kompleksiteitsteorie, en sy werk het bygedra tot die stigting van ‘n interdissiplinere sentrum met ‘n fokus op die studie van kompleksiteit. In Cillier se werk is kompleksiteit ‘n eienskap van oop sisteme, wat in wese daarop neerkom dat elke poging om ‘n opvatting van die werklikheid te vorm, onvoldoende is, en dat mense dus hul opvattinge gedurig moet hersien. Omdat mense se kennis van die werklikheid onvoldoende is, kom hulle voordurend voor etiese keuses te staan – met ander woorde, keuses wat op grond van gebekkige kennis gemaak moet word. 

 

Met Cilliers se klem op die dinamiese aard van sisteme en die openheid en etiese sensitiwiteit wat dit van ons vereis, sluit sy opvatting van kompleksiteit duidelik aan by die dialektiese tradisie soos gesien by Degenaar; dit vertoon egter ook dieselfde gebreke. Omdat die werklikheid so ‘kompleks’ is, huiwer hy deurgaans  om historiese en politieke inhoud te gee aan die posisies waarin die mens hom bevind.

Soos in Degenaar se geval, impliseer kompleksiteitsteorie ook ‘n kritiek op ‘n eng nasionalisme, en weerstaan dit in beginsel die reduksie van die mens tot ‘n blote besitter en verbruiker. Dit is egter minder duidelik wat die konsep van kompleksiteit vir ons beteken binne historiese kontekste wat optrede vereis; die moontlikheid bestaan dat politieke optrede implisiet afgewys word as ‘n uitgediende manier om met kompleksiteit om te gaan. Op die manier verleen ‘n erkenning van kompleksiteit hom aan ‘n neoliberale politieke rasionaliteit, waar die wagwoord “bestuur” is, eerder as optrede. 

////////////////////////

Wat die sosiale konteks betref, verander dit klaarblyklik aansienlik na 1994. Stellenbosch self verander -- te midde van toenemende ongelykheid -- in ‘n ‘soort post-landelike paradys’, Die dorp word beskryf as ‘n ‘innovasie-hoofstad’, en finansiële dienste raak al hoe meer prominent binne die plaaslike ekonomie. Kortom, the dorp het ‘skatryk’ geword. Die universiteit word toenemend gekorporatiseer, wat aansluit by die wereldwye neiging waarvolgens politieke kwessies gereduseer word tot tegniese, ekonomiese probleme, en daarop ‘bestuur’ moet word eerder as om aanleiding te gee tot robuuste openbare gesprek en politieke standpunt-inname.

Ten slotte se Rèné dis verleidend om te dink dat die spanning tussen liberalisme en Afrikaner--nasionalisme voortleef in die Stellenbosse taaldebat. Dit sou egter meer akkuraat wees om te sê dat die liberale elemente van die SA grondwet selfs konserwatiewe Afrikaners toegelaat het om hul te verlaat op ‘n tipies liberale opvatting van vryheid as ‘n individuele reg. ‘Kortliks dink ek mens sou moes toegee dat die liberale opvatting van vryheid as die vryheid om jou te onttrek aan die openbare sfeer en jou besittings te geniet, uiteindelik die oorhand gekry het.’

/////////////////////////

‘n Lewendige bespreking volg, waarin talle deelnemers hul kommer uitspreek oor die korporatisering van die universiteit, asook die depolitisering van die Stellenbosse gemeenskap. Minstens sommige sluit hul dus implisiet aan by Rèné se verdoemende oordeel.

‘n Besonderse bydrae kom van Ilse Cilliers, Paul se jonger suster. Sy spreek haar waardering uit vir die aandag wat Paul se denke geniet. Sy voeg dan by dat sy nou met hom saamgewerk het, dat hul intense gesprekke oor sy werk gevoer het, en dat Paul tog baie besorg was oor etiese kwessies. 

///////////////////////////

Rèné het my goedgunstiglik die teks van sy lesing gestuur. Daar is eintlik geen manier waarop mens dit behoorlik kon assimileer nie, en ook geen manier waarop ek in hierdie opmerkings reg daaraan kan laat geskied nie. Rèné berei tans 'n formele artikel vir LitNet. Maak seker dat jy dit lees !


Ons sal die skakel hier plaas.

 


Andrew Nash het geargumenteer dat daar oor die 20ste eeu 'n eiesoortige filosofiese tradisie aan die Universiteit Stellenbosch ontwikkel het, waarvan Johan Degenaar miskien die bekendste proponent is. Nash lees Degenaar se werk as 'n filosofiese en etiese omgang met die politieke problematiek van apartheid. 'n Mens sou kon aantoon dat die idee van kompleksiteit, soos beskryf deur Paul Cilliers, in betekenisvolle opsigte 'n voortsetting is van Stellenbosch se filosofiese tradisie, maar nou teen die agtergrond van 'n grondwetlike, post-apartheid Suid-Afrika. Kompleksiteit en etiek was 'n sentrale tema in Cilliers se werk, maar die politieke implikasies daarvan is minder duidelik. Die doel van hierdie voordrag is om te kyk na kompleksiteit as 'n volgende hoofstuk in Stellenbosch se filosofiese tradisie, en hoe dit in gesprek tree, al dan nie, met die nuwe uitdaging van neoliberalisme en die gepaardgaande verruiling van politiek vir doeltreffende "bestuur. 

Rèné is gebore in Pretoria, en het in Dullstroom, Riversdal en Stellenbosch grootgeword. Hy het sy skoolopleiding by Paul Roos voltooi, en daarna B.A. Regte en Filosofie aan  Stellenbosch Universiteit gestudeer. Sy huidige belangstelling is die intellektuele geskiedenis van filosofie as 'n dissipline in Suid-Afrika. 

Iedereen is welkom by dié oop gesprek!

Vrydagaand 5 Mei 2023 vanaf 18:30

Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.

R250 pp sluit aandete en 'n glasie wyn/biertjie/sap in. 

Koffie/Tee en soetgoed word aangebied.


RVSP Lamé by +27(0)828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie portal (verwysing W05/05 en jou naam)

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

 

Die kwessie van amnestie vir stryders aan albei kante tydens die SA konflik was een van die grootste tergvrae tydens die Suid-Afrikaanse oorgang. Dit het uiteindelik op die WVK en sy omstrede voorwaardelike amnestie-proses uitgeloop. Ná jare se studie en ontleding het die politieke filosoof André du Toit nou vir die eerste keer die komplekse onderhandelingsproses behoorlik uitgepluis. Volgens André pluk Suid-Afrika tot vandag toe die wrange vrugte van die lukrake, deels geheime en uiteindelik ontoereikende manier waarop hierdie kwessie beding is.


André se navorsing is vervat in sy boek AMNESTY CHRONICLES, wat Vrydagaand  beskikbaar sal wees teen ‘n spesiale prys


Prof André du Toit is in Bethlehem in die Vrystaat gebore. Hy het op Stellenbosch gestudeer, en in Leiden gedoktoreer. Later het André saam met Johan Degenaar klas gegee in die politieke filosofie. Hy was deel van die Afrikaanse groep wat ‘n ANC-afvaardiging in Dakar ontmoet het, en was later lid van IDASA se bestuurskomitee. Voor sy aftrede was hy hoof van ‘n program oor oorgangsgeregtighed aan die Universiteit van Kaapstad. 


Jaco Barnard-Naude is tans professor in Jurisprudence en mede-direkteur van die Sentrum vir Retoriekstudies in die Regsfakulteit by die Universiteit van Kaapstad.  Hy neem aktief  deel aan die openbare debat en fokus deesdae op die Afrikaanse literatuur, kuns en films. 


Iedereen welkom by dié oop gesprek!


Vrydagaand 17 Maart 2023 vanaf 18:30. 

Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.

R250 pp sluit aandete en ‘n glasie wyn/biertjie/sap in. 

Rsvp: Lamé by  +27828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie portaal. (verw W17/03 en jou naam)

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

 Ter herinnering aan die FilosofieKafee gesprek: 

Dolf van Niekerk en Johann Rossouw op 30 Julie 2022 in Pretoria.