FilosofieKafee: SONDAG 30 Mei 11:30

"Politieke indrukke: oopgesprek met Prof Danie Goosen"
Daar is nie ’n vraag in die politieke geskiedenis van Afrikaners wat ’n belangriker plek inneem as die vraag na hulle verhouding met die groter Suid-Afrika nie. Vanaf hulle vroegste politieke oomblikke is dit ’n sentrale motief: In watter verhouding staan die deel tot die geheel? Vanweë die dinamiese aard van die politieke geskiedenis word hierdie verhouding telkens uitgedaag, betwis en beveg. Afrikaners kon nog nie ’n standhoudende antwoord hierop gee nie. Vandag staan hierdie verhouding weer onder ernstige spanning. Afrikaners ervaar hulself as uitgesluit en vervreemd van die geheel. Om die waarheid te sê, hulle is besig om psigies van die geheel weg te dryf. As dit vir hulle enigsins prakties moontlik was, sou hulle reeds fisies daarvan afskeid geneem het.
Maar waarheen lei dit? Gaan Afrikaners daarin slaag om – onder meer by wyse van ’n verbeeldingryke aansluiting by hulle eie republikeinse tradisie – daarin slaag om ’n antwoord hierop te gee? Die gesprek ondersoek verskillende moontlikhede in hierdie verband.
Kom neem deel aan die onbevange oopgesprek in hierdie historiese gebou in die hart van die stad.
R60 pp (ete ingesluit)
rsvp 012 328 3173 of caferiche@kerkplein.co.za

Terugberig: Voorwaar van Vadertaal na Moedertaal!


VAN VADERTAAL TOT MOEDERTAAL


Lionel Adendorf weet hoe dit voel dit om verguis te word. Deesdae is hy egter nie seker van watter kant om die houe te verwag nie. Op ’n koue herfsaand by Café Riche se maandelikse filosofiekafeebyeenkoms sukkel hy om sy emosies in bedwang te hou wanneer hy praat oor die dreigemente wat hy deesdae as sameroeper vir die Forum van Swart Afrikaanssprekendes ontvang. Die dreigemente kom van wit en bruin Afrikaanssprekendes. Wit sprekers wat meen dat hy as bruinman geen reg het om by die stryd van Afrikaans betrokke te raak nie. Bruin Afrikaanssprekendes wat glo dat die Afrikaners lank genoeg ’n monopolie op Afrikaans gehad het en dat dit tyd is vir bruin of swart Afrikaanssprekendes om die leiding te neem.

Die nuwe etikette kleef ongemaklik aan hom. “Jong bul in die taalstryd”, “aktivis”, “taalstryder”, “die eerste swart gesig van die stryd om die oorlewing van Afrikaans”, word hy deesdae in die pers genoem. “Ten spyte van die dreigemente was ek nog nie spyt dat ek besluit het om myself beskikbaar te stel vir die taal nie,” vertel hy die Café Riche-gehoor. Bedags werk hy as mediabeampte van Noluthando Mayende-Sibiya, minister van vroue, kinders en persone met gestremdhede. In sy vrye tyd wy hy hom aan Afrikaans, “die taal waarin ons liefde maak; grappe maak; leef.”

Die soms militante toon van sy onlangse artikels maak plek vir ’n genuanseerdheid en selfs ’n effense weerloosheid. “Dit is vir my belangrik dat alle Afrikaanssprekendes by die stryd van en oor die taal betrokke moet wees,” beklemtoon hy. “Wat wit Afrikaanssprekendes tot dusver vir die taal reggekry het, mag nie geïgnoreer word nie. Ons moet egter alle Afrikaanssprekendes op ’n nie-rassige basis nou betrokke kry.”

Op 17 en 18 April vanjaar het Adendorf geskiedenis gemaak toe swart, bruin en wit Afrikaanssprekendes genooi is na ’n byeenkoms waar daar uitgevind moes word of swart Afrikaanssprekendes by Afrikaans betrokke behoort te raak, en hoe dit gedoen moet word. Akademici, vermaaklikheidskunstenaars en politici het by die Universiteit van Wes-Kaapland byeengekom. Die ondersteuning wás toe daar.

By hierdie maand se Filosofiekafee-byeenkoms praat hy oor hoe Afrikaans van ’n vadertaal in ’n moedertaal omskep kan word. “Afrikaans is nie net ’n taal wat gepraat word nie; dit lê mense na aan die hart,” meen hy. “Ons lewe egter in ’n patriargale stelsel waar vroue en kinders die taal van die man aanneem. Die debat oor Afrikaans word dan ook deur wit Afrikaanssprekende mans oorheers. Daar is geen duidelike vrouestemme nie.”

Adendorf is entoesiasties oor die potensiaal van Afrikaans. “Omdat dit deur soveel mense van verskillende groepe gepraat word, kan dit die taal van nasiebou wees,” meen hy. “Afrikaans behoort toeganklik gemaak te word vir almal. ’n Boshoff, ’n Naidoo en ’n Slingers moet almal kan optree vir die taal. Die toekoms van die taal lê op die tonge van dié wat haar praat. Afrikaans gáán voortleef, maar dan moet dit die taal word van nie-rassigheid en versoening; die taal van ons moeders.”

Hy lag as hy vertel dat Kringe in ’n Bos, die TV-reekse Sonkring en Agter elke Man, asook die boeke van Ena Murray, deel van sy en sy familie se grootwordwêreld was.

Daar is volgens hom vier punte wat belangrik is. Hierna verwys sommiges deesdae na die Manifes vir Volhoubare Afrikaans. “Eerstens moet alle Afrikaanses kan deelneem aan die debat. Tweedens moet ons ’n groter verskeidenheid van Afrikaanse produkte (soos byvoorbeeld koerante) skep. Derdens moet ons alle tipes Afrikaans deel maak van hoofstroom Afrikaans. En dit is nie ’n pleidooi vir die gebruik van Engels nie!”, vermaan hy. “Die vierde belangrike punt is dat die voortbestaan van Afrikaans nie noodwendig alleenlik gaan afhang van wat by die voormalige Afrikaanse universiteite gebeur nie. Ons moet ander instansies soos die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland ook betrek, want hulle het historiese bande met die swart Afrikaanssprekende gemeenskappe.”

Adendorf is van mening dat Afrikaans die taal is wat deur die meeste mense in hierdie land verstaan word. Ten einde dit te bewys, wil hy Statistiek Suid-Afrika versoek om in die volgende sensusopname mense te vra hoeveel tale hulle verstaan, in plaas van net hoeveel tale hulle kan praat.

Hy staan afwysend teenoor die teorie dat die bruin gemeenskap se ondersteuning van Afrikaans sal afhang van hoeveel hulle op sosio-ekonomiese gebied gehelp word. “Ons kan nie die stryd om die taal koppel aan die aantal bruin jong mans in tronke of die hoeveelheid swanger meisies op die Kaapse Vlakte nie,” meen hy. “Dit behoort hier net te handel oor die taal.”

Hy raak ietwat emosioneel as hy verwys na onlangse persoonlike kritiek. “Mense verwys na die feit dat ek Engels met my kind praat. Maar my seun identifiseer tog nie wie ek is nie. En ja, ek werk vir die ANC en die regering. Elke individu het die reg om sy of haar organisasie te herinner dat ons ’n muliti-kulturele samelewing is. By die ANC se konferensie in Mangaung in 2012 sal daar duidelik standpunt ingeneem moet word oor veeltaligheid.”

Hy ondersteun nie die argument in bruin geledere dat daar ’n waarheids-en versoeningskommissie tot stand behoort te kom om te kyk na hoe swart Afrikaanssprekendes voorheen benadeel is nie. “Ek sal nie my ideaal van Afrikaans as ’n nie-rassige instrument van versoening en eenheid prysgee nie,” sê hy beslis.

“Ons gaan egter nie die stryd vir Afrikaans wen tydens ’n gesprek met ’n buurvrou oor ’n koppie tee nie. Ons moet aktivisme kweek; ’n sirkel van geesdriftiges skep,” beklemtoon hy. “Ons het as Afrikaanssprekendes almal ’n taak om Afrikaans lewend te hou deur Afrikaanse produkte te gebruik en ook om die taal te help lewe gee, deur nuwe skrywers, draaiboekskrywers en komponiste voort te bring. Ons moet ook met ons beursies vir Afrikaans praat deur die Afrikaanse ekonomie te ondersteun.“

“Ons behoort ons nie te laat mislei deur die teenwoordigheid van kunstefeeste en die huidige publikasie van Afrikaanse boeke nie. Net omdat die vuur nou brand, beteken dit nie dat ons hout vir die res van die jaar gaan hê nie. As ons verder nie daarin slaag om binne die volgende tien jaar van Afrikaans ’n moedertaal te maak nie, is dit te laat.”

Afrikaans laat hom soms dink aan ’n vrou wat misbruik is, meen Adendorf. Sy oë is sag en sy hande beduie dringend. “Dit is die huidige generasie se taak om hierdie vrou se waardigheid te herstel.”

“Ons het nou ’n era van vrede in Afrikaans. Mense moet hulle verantwoordelikhede teenoor die taal begin nakom. En elkeen het ’n taak.”

Lydia Van Eeden