Marinus Wiechers en Pieter Bredell neem die huidige stand van sake in ons land in oënskou by Vrydagaand se gesprek - dit was die afsluiting van hierdie jaar by die Café Riche.

Terugberig: Die dilemma van skuld -André Krüger


André Kruger skets die konteks van sy debuutroman, Die twee lewens van Dieter Ondracek, ten einde die dilemma van skuld te illustreer. Hy verwys ook na die lewe en hofsaak van Adolf Eichmann, om verdere aspekte rondom die skuldkwessie uit te wys.

Dieter is ‘n ingenieur in Nazi-Duitsland. Hy is aanvanklik apolities, maar nadat sy verhouding op die rotse loop, besluit hy om by die Nazi-party aan te sluit en word hy die vervoerdeskundige wat vervoer vir die Jode na die uitwissingskampe moet organiseer. Hy vlug later na Suid-Afrika, waar hy by die SA Spoorweë teregkom en later op sy buurvrou verlief raak. Sy verlede haal hom egter in…

Kruger verwys na Hannah Arendt se Eichmann in Jerusalem. In hierdie boek neem sy ‘n posisie in waarvoor sy uit Joodse geledere erg gekritiseer is. Sy het Eichmann, die monster, op ‘n ander manier gesien en meen dat groot besluite altyd kompleks is. Sy het daarop gewys dat David Ben-Gurion op soek was na ‘n “show trial”. Eichmann was nie besonder intelligent nie. Hy was verder die mees junior offisisier by die Wannsee-konferensie en ook nie direk betrokke by die strategie rondom die finale oplossing en dus die dood van mense nie. Uit ‘n regsoogpunt kan mens nie die doodstraf ontvang vir medepligtigheid nie, maar dit is juis op hierdie aanklag dat hy ter dood veroordeel is.

Die Nazi’s het eufemismes gebruik soos die woorde “verwydering”, “arbeid in die ooste”, “finale oplossing”, maar het nie direk verwys na die moord op mense nie. Die manipulasie van denke het verder meegebring dat mense nie hierdie dade veroordeel het nie.

Daar was geen kousale verband tussen Eichmann se dade en die straf wat hy aan die einde van die 14-week lange hofsaak in Jerusalem ontvang het nie. Hy is die eerste person wat op aanklagte van volksmoord verhoor is en is uiteindelik skuldig bevind en tot die dood veroordeel.

“Die uitsonderlikheid van volksverdrukking onder staatsbevel: hoe word die burger medepligtig, selfs aandadig? n Kort bestekopname van die dood van Adolf Eichmann en die lewe van Dieter Ondracek”


-->

‘”Terwyl ek ‘n student was het ek op die werk van Hannah Arendt afgekom. Ek het, kort op mekaar se hakke,  The Origins of Totalitarianism, On Revolution en On Violence gelees, en toe ook Eichmann in Jerusalem: A Report on the Banality of Evil  – haar verslag oor die verhoor van Adolf Eichmann.  Een van die dinge wat my toe opgeval het was dat Eichmann, anders as sê Hans Frank of Ernst Kaltenbrunner, nie direk betrokke was by die dood van mense nie. Hy was ‘n betrokkene, eerder as die een wat die sneller getrek het of die bevele gegee het vir die wat wel die snellers getrek het of die gif in die kamers gestort het. Tog was hy hoog op die soeklys van die na-oorlogse Nazi jagters, soos Simon Wiesenthal, en is hy dan ook ontvoer uit Argentinië en in Israel verhoor, skuldig bevind en tereggestel. Die vorm van ‘n roman gee mens die vryheid om die innerlike lewe van karakters te ondersoek en ontgin. Dit is wat ek met my boek, Die Twee lewens van Dieter Ondracek probeer aanpak het. Al die idees, al die agtergrond en lees en wonder oor hoekom mense sou doen wat hulle doen, kan in karakters se koppe en monde gesit en so getoets word.  ‘n Hele reeks verskillende vraagstukke kan aangepak word in die lewe van een fiksionele karakter. So kan mens ondersoek hoe mense, wat nie ooglopend so is nie, bose dinge kan vermag. Hoe word skuld toegeken, en hoe leef mense met skuld? En, belangrik, kan mense van hulle verledes ontkom? “

Vrydagaand 26 Sept vanaf 19:30

R75 sluit aandete in

rsvp Café Riche 012 328 3173



“Geskiedenis as erfenis – die uitdaging tot 'n gebalanseerde geskiedenisoorsig van Suid Afrika”  -Prof. Fransjohan Pretorius 

Fransjohan Pretorius is professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer of redakteur van agt boeke oor die Anglo-Boereoorlog, onder meer 'Verskroeide Aarde'. Die Afrikaanse weergawe van sy doktorale proefskrif, getiteld 'Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902', is met verskeie toekennings, onder meer die Recht Malan-Prys, bekroon. Die Engelse weergawe was naaswenner van die Sunday Times Alan Paton Award.
Fransjohan het onder meer die Stalsprys vir Kultuurgeskiedenis ontvang. Hy is voorsitter van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en is redakteur van die pas verskene 'Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag', wat as basis vir sy gesprek by hierdie FilosofieKafee sal dien.
 

rsvp Café Riche 012 328 3173
 

"Herbetowering van 'n onttowerde wêreld: die invensie van 'n sinvolle bestaan"-Prof Fanie de Beer


In hierdie gesprek word besin  oor die begrip wêreld, die gebruik daarvan, die sin daarvan, die geldigheid en omvang daarvan terwyl die moontlike diepgaande aard daarvan ondersoek word, asook die aannames wat daaroor geld en ‘n antwoord op die vraag ‘in watter wêrelde lewe ons?’ gesoek word en waarin veral die verband tussen wêreld-  en sinskepping bespreek word.
Hierbenewens word  die onttowering van die wêreld bespreek , die vanselfsprekendhede wat dit huisves, die faktore wat dit verwesenlik, die onvermydelikheid daarvan en die uitdaginge wat dit bied en in hoeverre dit eweneens ons mense se maaksel is en die mate waartoe die onttowering sinverlies en nihilisme verwesenlik en die wêreld onleefbaar maak.
Sou die herbetowering (skepping, maakbaarheid) van of die luisterverlening aan hierdie wêreld  ‘n geldige en haalbare en noodsaaklike opsie wees wat ook die skepping en invensie van sin verwesenlik? Indien wel wat sou die verwagtinge wees? Waarop sou die klem moes val en sou dit wel, soos sommige aandui, die karakter van ‘n stryd moes aanneem ten einde wêreldskepping en sinvervulling te verwesenlik? 

Fanie de Beer (CS) is Emeritus Professor van die Departement Inligtingkunde, Universiteit van Suid-Afrika en is tans Buitengewone Professor in Inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy het gegradueer in Landbou en Filosofie (doktorale werk) aan die Universiteite van Pretoria en Parys X, Nanterre, Frankryk, onderskeidelik. Hy doen tans ekstensief navorsing en publiseer oor die volgende temas: die Filosofie en teorie van inligting in die wydste sin van die woord, met besondere klem op die individuele en sosiale implikasies van inligting; navorsingsmetodologiese uitdagings; filosofieë en teorieë van tegniek en tegnologie; kennisinvensie, -disseminasie, -benutting en -bestuur; lees- en interpretasieteorieë en die bestaande geletterdheidsnood; en oor die her-invensie van menslike spiritualiteit, noölogie en die gees van ons tyd.


31 Augustus 2012 vanaf 19:30
Soffkamer:
Café Riche, Kerkplein 2, Pretoria.
rsvp : 012 328 3173 of caferiche@kerkplein.co.za
R65 per persoon (sluit aandete in)

“Is gesprekvoering en onderhandeling aanvullend of uitsluitend tot mekaar?”-Dr Leon Wessels


Onderhandeling word gebou op gesprek, maar nie alle gesprekke loop uit op onderhandeling nie. Die onderbou van gesprekvoering is die uitruil van gedagtes wat bevorderlik is vir onderhandeling - of wyse besluitneming – maar gaan selde gepaard met die gee-en-neem aard van onderhandeling. Dit het ook nie die morele verpligting  - soms selfs regsverpligting – om die ooreengekome besluite te eerbiedig nie. Besluite geneem tydens onderhandeling het dus die krag van inbinding en afdwinging. Hiernaas is gesprekvoering aangewys op die goeie trou en welwillendheid van die gespreksgenote.
Vrydagaand 18:30 (vroeër tyd)
rsvp: 012 328 3173 / caferiche@kerkplein.co.za

FilosofieKafee: Vrydagaand 29 Junie vanaf 19:30



Tema: “Tradisie versus moderniteit: kontraste, ambivalensie en anachronismes in die Midde-Ooste - persoonlike belewenisse van Westerlinge in Doha, Qatar ” - Meinhard Peters en Joan de Beer
Joan de Beer het na 'n lewenslange loopbaan in die biblioteekwese in 2008 afgetree as adjunk-nasionale bibliotekaris by die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika, voorheen die Staatsbiblioteek en die Suid-Afrikaanse Biblioteek. Daarna was sy vir meer as drie jaar verbonde aan die Qatar Foundation in die staat Qatar, geleë in Education City in Doha. Sy was aanvanklik adjunk-direkteur vir versamelingsbestuur by Qatar Foundation se Central Library, en daarna waarnemende direkteur. Joan is tans deeltyds betrokke by die meestersprogram in Inligtingbestuur by die Universiteit van Pretoria.

Meinhard Peters het as bedryfsingenieur gespesialiseer in aspekte van bestuurstelsels en het as bedryfskonsultant by verskeie         maatskappye in Suid-Afrika gewerk. Hy was later dosent by die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Johannesburg. Van 2007 tot 2009 was hy die Kwaliteitbestuurder van die Ras Laffan Nywerheidsgebied in Doha, in die staat Qatar. Hy doseer tans deeltyds by die Universiteit van Pretoria in organisasiegedrag. Meinhard is bekend as ontleder van kultuur- en aktuele sake, waaroor hy dan ook gereeld publiseer.

R65pp - sluit aandete in.
Kom vroeg en ontmoet kritiese gespreksgenote!
rsvp Café Riche: 012 328 3173


“Hoe versoen ons Sosiale Kapitaal met Morele Waardes?” -dr Piet Croucamp



" Die vraag oor die intellektuele oorsprong van 'morele waardes' is ter sprake, maar ook hoe 'n (morele) waardestel beslag vind in die bindingsverhoudings in bestendige samelewings. Die idee is nie om 'n voorskriftelike relaas te lewer nie, maar om moedswillig met die grense van die bestaande veronderstellings om te gaan." - dr Piet Croucamp
Vrydagaand 25 Mei vanaf 19:30 

Café Riche, Kerkplein 2, Pretoria
rsvp: 012 328 3173    / caferiche@kerkplein.co.za

Terugberig: Digitale era se invloed op die tradisionele boek- Lydia von Wielligh-Steyn



HET DIE EINDE VAN DIE TRADISIONELE BOEK AANGEBREEK MET DIE KOMS VANDIE DIGITALE ERA? – NICOL STASSEN medereerder Lydia von Wielligh-Steyn
20 April 2012: Soffkamer, Café Riche, Pretoria
Die vraag wat Vrydagaand bespreek was, is nie filosofies van aard nie, maar eerder ’n kardinale een. 
Dit is bekend dat bankiers ongeveer 25% wins maak. Vir jare was die winsmarge op boeke baie laag – tussen 3 en 4%. In die VSA het groot firmas egter begin om in koerante en boeke te belê.  Dit het aanvanklik aanloklik gelyk, maar hierdie seepbel het in die koerantbedryf gebars en dieselfde kan ook in die boekbedryf gebeur.
Die impak van tegnologie is nog te onlangs om werklik te kan beoordeel. In die dertigerjare van die vorige eeu al was daar vrees dat radio – en later ook TV – lesers sou afrokkel. Die koms van radio het egter ’n minimale impak op die boekbedryf gehad.
Die Internet het wel ’n groot verandering meegebring. Die optrede van Google en Amazon sal deurslaggewend wees vir die voortbestaan van die boekbedryf. Dit kan as ’n vyandige aanslag op die Westerse kulturele wêreld gesien word. Google het boeke sonder toestemming gedigitaliseer en die invloed van Amazon het gelei tot die sluiting van talle onafhanklike boekwinkels. Amazon wil self nou ook boeke begin uitgee, ’n diaboliese stap, aangesien boekwinkels toenemend van Amazon afhanklik word om hulle eie boeke te versprei.
In die VSA en in Kanada is hofsake tans aan die gang omdat groot uitgewers daarvan beskuldig word dat hulle boekpryse kunsmatig hoog hou en as ’n soort kartel optree. Amazon (wat sy geld uit Kindles maak) wil boeke onder 10 USD verkoop, wat tradisionele uitgewers nie kan bekostig nie.
In die laaste tien jaar het die sirkulasie van koerante wêreldwyd gedaal. Dit het tot ’n verlaging in advertensie-inkomste en die afdanking van baie joernaliste gelei. So het die Chicago Tribune en LA Times bankrot gespeel en vele ander publikasies kan volg. Daar word geraam dat 20 000 werksgeleenthede jaarliks in die VSA koerantmilieu verloor word. Die globale resessie het hierdie probleemsituasie versnel. 65% Van Amerikaners glo dat daar oor tien jaar nie meer koerante gaan bestaan nie. In Brittanje en Frankryk is hierdie agteruitgang ook sigbaar.
Verbasend genoeg is die koerantbedryf in Japan nog gesond, asook elders in Asië. 74 Van die wêreld se huidige top-koerante is dan ook afkomstig uit hierdie wêrelddeel.
Jongmense het wantrouig teenoor die tradisionele media geword. Verder kannibaliseer Google die wêreldkoerante, onder die voorwensel dat hulle hiermee “gratis publisiteit” aan die publikasies gee. Die advertensie-inkomste wat egter so op die Internet verdien word, beland in Google se sakke.
Nuuslesers op die Internet is egter nie die enigste rede vir die afname in koerantlesers nie. Net sowat 3% van nuuslesers lees nuus op die Internet.
’n Moontlike oplossing sou wees vir regerings om in te gryp, soos in die geval van die probleme rondom die Süddeutsche Zeitung. Regerings borg immers reeds staatsbiblioteke, nasionale TV-bedrywe en film-maatskappye. Die gevaar is natuurlik dat regerings aan koerante probeer voorskryf wat gepubliseer mag word.
Sommige koerante aanvaar die digitale era as ’n gegewe waaraan hulle weinig kan verander. So verskyn die Christian Science Monitor byvoorbeeld deesdae net in aanlynformaat en is daar weggedoen met die tradisionele harde kopie. Ander koerante probeer ’n breër leserspubliek trek ten einde meer advertensies te bekom en uiteindelik kwyn intellektuele debat in sulke gevalle.
Die invloed van die digitale era op die musiekbedryf was rampspoedig. Ook in die koerantbedryf lyk dinge nie rooskleurig nie. Die boekebedryf behoort egter minder geraak te word.
In die laaste paar dekades was die volgende aspekte prominent in die boekbedryf:

  1. Die groei in boekwinkelkettinggroepe: hierdie model is egter nie volhoubaar nie. So het Borders in die VSA reeds bankrot gespeel en Fascination Books plaaslik.
  1. Multi-nasionale uitgewerkonglomerate: in sowel Brittanje, die VSA as in SA word groot gedeeltes van die boekbedryf deur vyf groot uitgewers oorheers.  In die geval van SA is dit 52% van die bedryf wat in die hande van vyf uitgewers is...
  1. Die digitale revolusie: sedert die middel-tagtigs vind al meer tegniese veranderings in die boekbedryf plaas. Die e-boek het egter nie oorgeneem soos voorspel is nie. In 2006 het Sony se eboek verskyn en in 2007 die Kindle. Daar was wel ’n dramatiese toename in die verkope van e-boeke, maar dit moet in gedagte gehou word dat hierdie styging van 0% af kom.
Niemand is regtig seker wat die toekoms inhou nie. Die voordeel van e-boeke word dalk oordryf – niemand wil noodwendig die inhoud van honderde boeke op een slag met hom/haar saamdra nie. Die digitale boek kan verder nie veel byvoeg tot die leeservaring nie.  Die kostevoordeel van die e-boek (20%) is ook relatief klein.
Dit moet onthou word dat die digitale era ook voordele vir die boekbedryf gebring het. Dit is vandag heelwat goedkoper om boeke te druk danksy vordering wat op hierdie gebied plaasgevind het.

April 20 “Het die einde van die tradisionele boek aangebreek met die koms van die digitale era?”- dr Nicol Stassen

Met die koms van die digitale era het heelwat nuwe uitdagings vir uitgewers aangebreek. Sommige het ’n positiewe invloed op die boekbedryf gehad en ander het tot ernstige probleme in die bedryf aanleiding gegee. Met die koms van e-boeke wil dit voorkom of die einde van tradisionele boeke aangebreek het. Is dit werklik so? Hoe raak die digitale era ons reeds wankelende plaaslike boekebedryf?
Nicol Stassen het ’n meestersgraad in chemiese ingenieurswese, ’n BA-graad met Afrikaans, Duits en Russies as hoofvakke en in 2009 het hy ’n D. Phil.-graad in geskiedenis behaal met die onderwerp: “Die Afrikaners se laaste halfeeu in Angola, 1928-1975”.

Kom neem gerus deel aan hierdie gesprek in ‘n gasvrye omgewing en ontmoet mede redenaars.
Onthou, kom vroeg en koop besonderse boeke!

Café Riche, 19:30
Kerkplein 2, Pretoria rsvp: 012 328 3173
caferiche@kerkplein.co.za
R65pp - sluit aandete in.

“Hoe ontwikkel gewetenlose gesinsgeweld tot moord?” -Prof Christiaan Bezuidenhout

30 Maart 19:30
Is daar ‘n toename in hierdie soort kriminele gedrag in ons gemeenskap? Hoe ontwikkel sulke afwykings, sonder teenstand of verset? Wat is die merkers?
Christiaan stel belang in die teorieë van misdaad, kriminele regsisteme, jeug misdrywe, psigo en haatmisdaad. Hy werk tans saam met ‘n Amerikaanse kolega aan misdaad oor kulteer grense heen met spesiale fokus op die dilemmas waarmee die reg- en polisieringsisteme gekonfronteer word in die huidige bestel.
Christiaan Bezuidenhout is lektor in Kriminologie aan die Universiteit van Pretoria.
rsvp 012 328 3173

“Odusseus na Ithaka” - Johann Rossouw


“Om te verstaan wat die terugkeer na die geliefde land beteken – sowel die reis daarheen as die uiteindelike aankoms, hervestiging en verdere lewe – kan ons ons steeds vandag deur Odusseus se odussee laat lei. In hierdie begeleiding moet ons noodwendig die kloof tussen ons en hom deur verbeelding probeer oorbrug. Dat die brug van verbeelding dalk meer fiksie as feite bevat, is onvermydelik, maar hoe sal ons sy en ons verhale anders met mekaar laat praat? Miskien sal die filosofie ons naby genoeg aan die waarheid hou.”

Johann Rossouw is lektor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Kom vroeg genoeg,ontmoet medereerders in 'n gasvrye sfeer.
R65 pp sluit aandete in.
Café Riche
Kerplein 2,
Pretoria.
rsvp: 012 328 3173 /caferiche@kerkplein.co.za