29 Mei - “Baie geluk, Lord Milner.......”

By die volgende Filosofie Kafee sessie gaan Harald Pakendorf gesels oor of daar regtig so iets soos 'n Suid-Afrikaner is en wil hy klem laat val op die verengelsing van die land  - selfs Rhodes is ironies  in Engels van sy troon gestoot.

 

Kom neem gerus deel aan hierdie gesprek in 'n gasvrye omgewing en ontmoet ander gespreksgenote. Iedereen Welkom!

 

Vrydag 29 Mei 2015 vanaf  19:30

“Baie geluk, Lord Milner...”

- Harald Pakendorf 

 

R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.

Besrpeek by 012 328 3173 /  hostess@caferiche.co.za


Harald Pakendorf is op 'n sending stasie buite Middelburg in die ou Transvaal gebore, het 'n B-graad en was 'n  Nieman-genoot, het tot 'n stuk of tien boeke 'n hoofstuk elk bygedra, was redakteur van verskeie koerante (by die laaste een in 1986 afgedank weens sy aandrang op 'n gesprek met die ANC en die noodsaak dat almal voor die wet gelyk moet wees en dieselfde stemreg moet hê) TV-aanbieder, radio-kommentator (selfde program vir 15 jaar) het twee dekades lank ‘n maandelikse politieke verslag vir maatskappye gelewer en ook lesings oor die politieke gehou, ens. Tans is hy 'n skrywer by die kommunikasie-maatskappy Meropa  - en doen nog soms van die ander goed.

Soos altyd, by Café Riche | Kerkplein 2, Pretoria.

Volg ons op Twitter en neem aanlyn deel aan die gesprek: @Filosofie_Kafee met die tema #LordMilner.


Parkering in Parlementstraat, vanuit Pretoriusstraat. 

Kontak Lamé Ebersöhn  - oopgesprek@filosofiekafee.co.za.






Standbeeld-storm 2015

Wat wil ons vergeet, en waarmee wil ons woeker?

 

Om nie onoordeelkundig af te breek óf te behou nie, só stel Louise Mabille voor moet ons dink aan die onlangse stormloop op koloniale standbeelde. Die geskiedenis is 'n balanseertoertjie, sê sy, en elke gesprek wat ’n mens met die geskiedenis aanknoop, dra tot daardie geskiedenis by.

 

 

Dr. Mabille sê in hierdie artikel dat die standbeelde-debat in 2015 haar herrinner aan Nietzsche se Gebruik en Misbruik van die Geskiedenis vir die Lewe.

 

DIE GESKIEDENIS AS BALANSEERTOERTJIE

Foto: Gallo Images.

 

-->
Dit is moontlik om Foucault te parafraseer en te sê dat die geskiedenis ’n malhuis is. Dit wil sê, dit is allesbehalwe ’n enkele groot verhaal, laat staan nog een van progressie en voorspoed. Wat ons al te maklik “geskiedenis” noem, is eintlik ’n metoniem, of ’n opsomming van ’n klomp groot verhale, waarvan die meeste nog boonop in stryd met mekaar staan. Daarby is min van hierdie verhale vir almal toeganklik. Blote geletterdheid impliseer nie historiese geletterdheid nie. Maar dat die geskiedenis, wat op die oog af stom en verby is, wel ’n houvas op mense kan hê, kan duidelik gesien word uit die effek wat ’n aantal standbeelde uit die verlede tans op die hede het.

Die belangrikste beeld, wat eintlik die “beeldstorm van 2015” aan die gang gesit het, is natuurlik die standbeeld van die invloedryke Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad. Sedertdien is nog standbeelde aangeval. Dit is duidelik dat dit meer oor geskidenis as kuns gaan, en daarom het ek ’n ou bekende tema nadergetrek: Nietzsche se Gebruik en Misbruik van die Geskiedenis vir die Lewe (“Vom Nutzen und Nachtheil der Historie für das Leben”). Gegewe die Foucauldiaanse malhuis wat die geskiedenis eintlik is, is dit nogal ’n aantreklike prentjie wat Nietzsche hier skep van sorgelose beeste:


“Beskou die weiende beeste soos jy hulle verbygaan. Hulle weet nie wat bedoel word met more of vandag nie. Hulle spring rond, eet, rus, verteer hulle kos, spring weer rond, van die oggend tot die aand en van dag tot dag, en hulle is nooit teneergedruk of verveeld nie.

Maar die mens wonder nog die meeste oor homself, dat hy nie kan vergeet nie, en bly vasklou aan dinge van die verlede. Dit maak nie saak hoe ver of vinnig hy hardloop nie; die verlede is nog altyd soos ’n ketting by hom. Die oomblik is ’n wonderbaarlike ding: skielik daar en skielik weer weg. Nogtans kom dit weer terug soos ’n gees wat by ’n mens kom spook. Dit is soos ’n blaar wat van die rol van tyd ontsnap en wegwaai; net om weer terug te waai in ’n man se skoot. Dan sê die man ‘ek onthou’ en voel niks minder as jaloesie teenoor die dier nie, wat dadelik vergeet, en elke moment onder wolk en nag sien verdwyn”.

Juis dít wat die mens sy menslikste maak, is ook dieselfde aspek wat hom of haar die meeste uitgelewerd laat voel. Dit is duidelik te siene aan die effek wat slegs ’n paar dekades oue standbeelde kan wakker maak.

Volgens Nietzsche is daar drie maniere om met die geskiedenis om te gaan. Die eerste is die geskiedenis as monumentale verhaal. Dat hierdie manier van omgang met die geskiedenis so ’n belangrike rol in ons eie verlede gespeel het, kan help om te verklaar waarom daar soveel woede in die openbare ruimte rondom koloniale standbeelde is. Alle volke het groot inspirerende figure op strategiese tye in hul geskiedenis nodig: sulke figure dien as ideaal en maatstaf vir die toekoms. Sulke figure is dan ook dikwels ’n verpersonifisering van wie en wat ’n volk eintlik wil wees. 

Foto: Netwerk24.com.


Soms egter, kan ’n inspirerende figuur so groot uitrys bo die res van sy volk, dat daar geen sprake meer is van in ’n verhouding staan met hierdie figuur nie. Die figuur word so groot dat hy of sy eintlik mitiese status aanneem. Die ideaal word  onmenslik hoog gestel sodat niemand meer hierdie status kan bereik nie. Die gelyknamige figuur in Shakespeare se Julius Caesar is so ’n figuur. Vir Brutus en Cassius was Caesar naderhand so ’n reus dat daar vir niemand anders meer ruimte in die openbare sfeer was nie:

Hy betree die klein wêreldjie soos ’n Kolossus

En ons klein mannetjies loer agter sy reuse-bene uit

Net om ons uiteindelik in eerlose grafte te vind (my vertaling)


Dit is geen toeval dat Rhodes ook met ‘n “Kolossus” geassosieer word nie. Hy het in ’n stadium gesê dat “hy die maan sou koloniseer as hy maar net kon”. In Rhodes se geval het ons met ’n negatiewe Kolossus te make. Die woede wat rondom hierdie figuur uitgebreek het, sowel as die uiteindelike verwydering van die beeld, daag nie werklik die koloniale (kolossale) verlede uit nie, maar bevestig die greep wat Cecil John Rhodes steeds op die gekoloniseerde hede het. Die verwydering van sy standbeeld is eintlik net nog ’n insident in die beeld se verlede. Selfs al word die beeld nou in ’n museum geplaas, het dit onlangs meer aandag ontvang as in die afgelope vyftig jaar.

Die uiteindelike verwydering van die beeld, daag nie werklik die koloniale (kolossale) verlede uit nie, maar bevestig die greep wat Cecil John Rhodes steeds op die gekoloniseerde hede het.

Daar is egter slegs een antwoord op ‘n “Kolossus”: nog ’n Kolossus. In Suid-Afrika het ons meer as een antwoord gehad: eers Paul Kruger, en heelwat later, Nelson Mandela.  

Geen land kan egter net op ’n dieet van groot figure oorleef nie, en mense moet leer om saam met die kolosse van die verlede te leef sonder om in hul skadu te staan. Slegs dan kan daar sprake van vryheid wees.

Omdat Suid-Afrika so ’n jong land is, is dit wat oud is vir ons dikwels iets eksoties en waardevol. Maar die drang om te preserveer is wat Nietzsche die antikwariese geskiedsorïentasie genoem het. Om te bewaar, is ’n gesonde begeerte, en kan baie waardevol wees. Niemand wil in die verskriklike posisie wees van die Jode ná die Tweede Wêreldoorlog, wat bo en behalwe die verwerking van die verlies aan hul geliefdes, ook die brokstukke van hul tradisie moet optel nie. Tog is antikwariese geskiedenis nie net voordelig nie. Hans-Georg Gadamer sluit aan by die gedagte van antikwariese geskiedenis, met sy konsep van die “museumifikasie” van die alledaagse lewe. Soos Foucault gewys op die tendens om elke aspek van die lewe aan ’n kenner te onderwerp in die moderne tydperk, so is daar ’n tendens in die moderne Weste om allerhande aspekte van die lewe – kos, seks, geld – in museums te verewig. Volgens Nietzsche kweek hierdie antikwariese vashou van die verlede ’n negatiewe opvatting teenoor die lewe: niemand voel ooit vry om die toekoms sonder hierdie gewig aan te pak nie. 

Dit is slegs deur die derde modus waar Nietzsche genoeg lewensvatbaarheid in die geskiedenis sien om dit waardevol vir die hede te maak. Dit is net as mens op ’n kritiese wyse met die verlede in gesprek tree wanneer dit van waarde word vir die hede. Tans is daar ’n tendens om die verlede in terme van “skuld” te bedink: een groep is die eendimensionele skuldenaars en die ander die eendimensionele slagoffers. So ’n interpretasie van die verlede maak egter van almal eendimensionele kartonfigure, en hou almal in ’n toestand van stasis vas. 

Foto: Netwerk24.com.


Die woord “krities” kom van die Grieks kritikē af, wat rofweg vertaal as “uitmekaar haal om te bestudeer”. Volgens Nietzsche is dit noodsaaklik om krities met die geskiedenis om te gaan. Dit beteken om nie onoordeelkundig te vernietig óf te bewaar nie. Die geskiedkundige bevind hom of haar as’t ware op ’n dun koord oor ’n hoë afgrond. Beide te veel en te min geskiedenis kan dodelik wees.  

Elke gesprek wat ’n mens met die geskiedenis aanknoop, dra tot daardie geskiedenis by. 

Dit is nie net vir die professionele geskiedkundige nie, maar vir almal wat hulle in die huidige tydsgewrig bevind, nodig om te besluit wat hulle wil vergeet en waarmee hulle gaan woeker. Dit is belangrik, want elke gesprek wat ’n mens met die geskiedenis aanknoop, dra tot daardie geskiedenis by.