Terugberig: Só het die burgers saam gepraat!




Op Vrydag 25 September 2009 het die maandelikse FilosofieKafee van die gebruiklike Café Riche-perseel na die Tukkie-kampus verskuif. Die debat het tydens die Woordpoort-fees op die kampus plaasgevind. Daar was ’n feestelike atmosfeer by die universiteit, met vele nuuskieriges wat van een opvoering na die ander geswerf het.

By Burgundy’s in die Klubsaal het die FilosofieKafee-gangers reggeskuif vir luister en gesels...

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van Afriforum, het tydens die byeenkoms kommentaar gelewer op die plig van die burger om by die openbare debat betrokke te raak. Dit volg op die onlangse polemiek in die pers oor blanke Suid-Afrikaners se reg al dan nie om betrokke te raak by die debat in die land.

Volgens Kallie Kriel het ds Nico Smith in sy onlangse Beeld-artikel na voorbeelde verwys van wat kan gebeur as ’n minderheidsgroep wel sy stem verhef, met noodlottige gevolge. Hier in Suid-Afrika is ons egter omring deur voorbeelde van wat kan gebeur as mens nie praat nie. Zimbabwe is een so ’n geval.

Afrikaners het sedert die bewindsverandering in 1994 óf die land verlaat, óf na binne geëmigreer. Om kwaad te word rondom braaivleisvure het geen impak op die openbare debat nie. Die gevaar bestaan dat as ons nie deelneem aan hierdie debat nie, Suid-Afrika ’n soort Zimbabwe kan word waar daar nie voldoende alternatiewe stemme is om die demokrasie in stand te hou nie. Ons het ’n verskeidenheid van stemme hier nodig, asook ’n veelheid van benaderings.

Afriforum het die weg van aktivisime ingeslaan. Aktivisime kan op ’n gesofistikeerde wyse bedryf word. Dit is belangrik om in deelname aan die openbare debat die morele hoë grond te behou. Mens moet ook jou standpunt internasionaal kan verdedig. Wedersydse respek en erkenning is verder belangrik.

Nico Smith sien Afrikaners egter as tweedeklasburgers wat eerder moet stilbly.

As mens oor ’n magsbasis beskik, beding jy. So nie, bedel mens. Getalle is nie noodwendig essensieel vir ’n magsbasis nie. Ander meganismes kan ook ingespan word. Die reg is so ’n instrument en in hierdie verband het Afriforum die afgelope tyd heelwat reggekry. Dít waarna mens streef, moet duidelik gestel word. So het Afriforum byvoorbeeld met die onteieningswet aan buitelandse ambassades geskryf met positiewe gevolg. Mens kan soms kreatief en onkonvensioneel wees sonder om noodwendig van regsmiddele gebruik te maak.

Ons moet die taal praat wat die magshebber sal verstaan. Dit is belangrik om ’n arogansielose selfvertroue te ontwikkel. In baie van die openbare debatte word meganismes gebruik om mens te sensor. Beskuldigings van rassisme is so ’n voorbeeld. As ons eersteklasburgers wil wees, moet ons genoeg selfvertroue ontwikkel om onsself in sulke situasies te handhaaf en ’n genuanseerde debat te kan voer.


Afriforum gee prakties uiting hieraan deur byvoorbeeld die onlangse regsaak om die Pretoria-skole waarvan die krag afgesny is, te hulp te kom. Wanneer mens met so ’n aksie slaag, kweek dit selfvertroue.

Die organisasie glo dat Afrikaners hulleself binne die konteks van die regering moet kan verwoord, maar parallel hiermee moet selfstandigheid ook bevorder word. Hiervan is Soltech ’n voorbeeld.

Op ’n vraag uit die gehoor oor die gebruik van die term “settlers” ten opsigte van blanke Suid-Afrikaners, het Kallie geantwoord dat ons moet klem lê op die feit dat blankes ook Afrikane is en dat hulle moet verwys na hoe lank terug hulle voorvaders in Suid-Afrika aangekom het.

Louise van Heerden het gemeen dat mens beide protes moet kan lewer en die besluitnemers beïnvloed.

Volgens Hennie de Wet behoort mondige burgers verantwoordelikheid vir hulle woorde en dade te aanvaar. Afrikaners tree onmondig op as hulle nie hul burgerlike verantwoordelikheid aanvaar nie. Mense kyk na organisasies soos Afriforum om op te tree en kom nie hul individuele plig na nie. Daar is ook ’n gebrek aan strategiese denke.

Marius Coetzee wou weet waar hierdie onmondigheid vandaan kom. Kallie skryf dit toe aan die feit dat Afrikaners en hulle organisasies ná 1994 nie meer beskerm was nie, en moes fokus op oorlewing. Aangesien mense nie polities geskool is nie, onttrek hulle hul aan die openbare debat.

Lydia van Eeden wou weet watter rol ’n kollektiewe skuldgevoel in die ontwikkeling van hierdie onmondigheid speel. Volgens Kallie internaliseer Afrikaners nie skuld nie, maar sukkel hulle om hulleself ten opsigte van die verlede te verwoord. Daar is tans ’n totale magsoorwig en blankes moet ’n balans skep om te sorg dat die Algerynse scenario nie hier herhaal word nie.

Op ’n vraag van Elri Schoonbee oor hoe die gemeenskap gemobiliseer kan word om saam te staan, meen Kallie dat sulke mobilisasie rondom spesifieke kwessies moet geskied.

Nog ’n deelnemer aan die bespreking, wat homself eerder as ’n
Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner as ’n Afrikaner sien, het die mening gelug dat opposisiepolitiek mens moeg maak. Daar moet eerder alternatiewe politiek bedryf word. Jongmense wil volgens hom nie baklei nie, maar wel sien dat die land ’n beter plek word vir almal om in te woon.

Hennie de Wet wys daarop dat emigrasie meegebring het dat diegene wat ’n verskil kan maak, reeds landuit is. Die klem moenie noodwendig op baklei wees nie. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog is daar nie gebaklei nie, maar instellings soos Sanlam en Volkskas is geskep. Daar is weer nuwe instellings nodig.

Kallie het die bespreking afgesluit deur daarop te wys dat Afriforum onbeskaamd is daaroor dat hulle ’n Afrikanerorganisasie is. Binne instansies soos die Afrikaanse Taalraad word daar met bruin Afrikaanssprekendes saamgewerk, maar by ander kwessies fokus Afriforum op blanke Afrikaners. Hierdie posisionering is natuurlik, aangesien elke persoon immers oor verskillende identiteite beskik.
Kom dink en gesels saam elke laaste Vrydagaand van die maand!



BURGER, STAAT, TYD: Johann Degenaar


BURGER, STAAT, TYD
“ Aan die begin van hierdie opstel het ek dit gestel dat die kleinerwordende wêreld-politieke situasie as resultaat het dat mense en volkere onmiddelliker en intenser op mekaar aangewese is. Dit het ook daartoe gelei dat mense bewus geword het van belangrike fenomene soos burger en staat. Daarom ook hierdie gesprekke vandag en die noodsaaklikheid daarvan. Die wêreld-politieke situasie het nie skielik die mens ‘n staatkundige wese gemaak nie. Dit het hom net bewus gemaak dat hy dit is, dat hy dit beslissend is, dat hy dit in elke asemhaling is.
Dit het hom bewus gemaak daarvan dat die mens nie net ‘n politieke wese is wanneer hy stem nie, maar ook wanneer hy dink en eet, wanneer hy bid en speel.
Hierdie gedagte kan egter, in plaas van bevrydend te wees, bindend werk en die burger ‘n gevoel van fatalisme gee. Dit hoef nie noodwendig so te wees nie. Daarom is dit nodig vir die mens om hom telkens oor sy politieke dier-karakter te besin. Die fatalistiese houding hang hoofsaaklik saam met ‘n verkeerde verhouding van die mens tot tyd. Die mens is nie net ‘n produk van die verlede en so afgesluit in die tyd nie. Die betrokkenheid van burger en staat is ook nie afgesluit in die tyd nie. Die neiging bestaan om die politieke situasie waarin die mens verkeer, af te sluit en as statiesdwingend te beskou. Die betrokkenheid van burger en staat op mekaar word byvoorbeeld identies gestel met die impasse waarin ‘n spesifieke regering verkeer. Dit kan lei tot ‘n besef van noodlot en ‘n gevoel van frustrasie. Wat dan kan help, is om in te sien dat die burger-staat-relasie nie afgesluit is in die tyd nie, maar juis ontsluit word in die tyd. Wanneer ‘n regering op ‘n sekere tyd nie aan die aard van die staat en gevolglik ook aan die aard van die burger reg laat geskied nie, moet nie die staat, die burger en die politiek daardeur in diskrediet gebring word nie. Dan word die burger juis opgeroep om die staat staat te laat wees en die burger burger. Dan moet hy juis stry om die vrymaking uit die situasie van vervreemding. Die aard van die staat moet nie gelykgestel word met die mislukking van ‘n regering en die wangedrag van die burger nie. Die mens moet in die tyd stry om staatkundigheid en burgerskap.
Anders gestel: Die mens moet nie probeer om as gevolg van vrees in ‘n politiek-lose situasie te lewe nie. Dit sou ‘n nie-menslike situasie wees. Die politiek kan nie gered word deur die mens daaruit te neem nie. Ons moet ons daarvoor beywer om die mens terug te plaas in die politiek en hom sy menslikheid en medemenslikheid en redelikheid juis daarin te laat vind. Alleen só word burger burger en staat staat.
Vervreemding kan ook plaasvind wanneer ‘n regeringsbeleid ‘n doel op sigself word. Dan is dit nie meer ‘n instrument om die land as geheel te dien nie, maar sluit dit die staat en die burger af binne sy opvattinge. Ook dit moet die burger nie met moedeloosheid vervul nie. Dit is net ‘n groter aansporing tot redelike stryd om vryheid. Pessimisme is net so ‘n verkeerde houding as optimisme. Beide is eensydig en ontrou aan ‘n situasie. Pessimisme is ‘n oorbeklemtoning van onvryheid; optimisme weer ‘n onderbelemtoning daaarvan. Die juiste standpunt is om so ‘n situasie as geleentheid te sien vir verantwoordelike besinning en verantwoordelike optrede.”
Prof Johann J Degenaar - Op Weg na ‘n Nuwe Politieke Lewenshouding: Filosofiese Opstelle (1963) pg 35,36

Hóé praat die mondige burger? - Kallie Kriel


Hóé praat ‘n mondige burger? - Kallie Kriel
Gegewe die huidige debat oor die betrokkenheid al dan nie van die burger by die staat, kom die vraag noodgedwonde op: hoé kan die burger aan haarself getrou bly ten einde ook die waardigheid van die staat te handhaaf? Die neiging om nie burgerskap te aanvaar nie, hou die staatsorganisasies ongeldig . Staat het burgers nodig, en burgers die staat. Die uitdaging om vanuit hierdie gelyk-oorspronklike verskynsel te dink, is die moeisame taak van mondige burgers.


11/09: Datum nie meer plek nie?


‘Terwyl vroër die noem van ‘n stad – Lissabon of Auschwitz- voldoende was om ontsteltenis en afgryse te herroep, begin die eenentwintigste eeu met ‘n datum’ - Susan Neiman, Evil in modern Thought (2003)
Die datum waarna die Amerikaanse moraalfilosoof Susan Nieman  verwys is natuurlik 11 September 2001. En sy het gelyk: die drie syfers 9/11 benodig geen toeligting. Die gebeurtenis waarna sy verwys staan in ons kollektiewe geheue ingegriffel. Sedertdien het daar nóg bygekom: 11/3 (die aanslag in Madrid), 7/7 (dié in London) en 2/11 (die moord op Theo van Gogh)
Hoe het dit gekom dat die datum waarop sulke traumatiese  gebeure plaasgevind het, veelseggender geword het dan die plek waar dit gebeur het? Kan hierdie verskuiwing te make hê daarmee dat globalisering die kategorie ‘plek’ enigsins betekenloos maak? Danksy die media word daar nie meer berig oor wáár iets gebeur nie. Duisende kilometers afstand word deur kameras gemaklik oorbrug. Dan bly nog die kategorie ‘tyd’ oor,  om rampe op hierdie aarde tog ‘n plek in ons herinnering te gee.
Sebastien Valkenberg

Toepassing van die filosofie



“Die Filosofie kan haar invloed, haar algemene oortuigingskrag nie heeltemaal behou, as dit nie toegepas word op die lewe en die wêreld waarin ons leef nie” Karl Gotlob Schelle