BURGER, STAAT, TYD: Johann Degenaar


BURGER, STAAT, TYD
“ Aan die begin van hierdie opstel het ek dit gestel dat die kleinerwordende wêreld-politieke situasie as resultaat het dat mense en volkere onmiddelliker en intenser op mekaar aangewese is. Dit het ook daartoe gelei dat mense bewus geword het van belangrike fenomene soos burger en staat. Daarom ook hierdie gesprekke vandag en die noodsaaklikheid daarvan. Die wêreld-politieke situasie het nie skielik die mens ‘n staatkundige wese gemaak nie. Dit het hom net bewus gemaak dat hy dit is, dat hy dit beslissend is, dat hy dit in elke asemhaling is.
Dit het hom bewus gemaak daarvan dat die mens nie net ‘n politieke wese is wanneer hy stem nie, maar ook wanneer hy dink en eet, wanneer hy bid en speel.
Hierdie gedagte kan egter, in plaas van bevrydend te wees, bindend werk en die burger ‘n gevoel van fatalisme gee. Dit hoef nie noodwendig so te wees nie. Daarom is dit nodig vir die mens om hom telkens oor sy politieke dier-karakter te besin. Die fatalistiese houding hang hoofsaaklik saam met ‘n verkeerde verhouding van die mens tot tyd. Die mens is nie net ‘n produk van die verlede en so afgesluit in die tyd nie. Die betrokkenheid van burger en staat is ook nie afgesluit in die tyd nie. Die neiging bestaan om die politieke situasie waarin die mens verkeer, af te sluit en as statiesdwingend te beskou. Die betrokkenheid van burger en staat op mekaar word byvoorbeeld identies gestel met die impasse waarin ‘n spesifieke regering verkeer. Dit kan lei tot ‘n besef van noodlot en ‘n gevoel van frustrasie. Wat dan kan help, is om in te sien dat die burger-staat-relasie nie afgesluit is in die tyd nie, maar juis ontsluit word in die tyd. Wanneer ‘n regering op ‘n sekere tyd nie aan die aard van die staat en gevolglik ook aan die aard van die burger reg laat geskied nie, moet nie die staat, die burger en die politiek daardeur in diskrediet gebring word nie. Dan word die burger juis opgeroep om die staat staat te laat wees en die burger burger. Dan moet hy juis stry om die vrymaking uit die situasie van vervreemding. Die aard van die staat moet nie gelykgestel word met die mislukking van ‘n regering en die wangedrag van die burger nie. Die mens moet in die tyd stry om staatkundigheid en burgerskap.
Anders gestel: Die mens moet nie probeer om as gevolg van vrees in ‘n politiek-lose situasie te lewe nie. Dit sou ‘n nie-menslike situasie wees. Die politiek kan nie gered word deur die mens daaruit te neem nie. Ons moet ons daarvoor beywer om die mens terug te plaas in die politiek en hom sy menslikheid en medemenslikheid en redelikheid juis daarin te laat vind. Alleen só word burger burger en staat staat.
Vervreemding kan ook plaasvind wanneer ‘n regeringsbeleid ‘n doel op sigself word. Dan is dit nie meer ‘n instrument om die land as geheel te dien nie, maar sluit dit die staat en die burger af binne sy opvattinge. Ook dit moet die burger nie met moedeloosheid vervul nie. Dit is net ‘n groter aansporing tot redelike stryd om vryheid. Pessimisme is net so ‘n verkeerde houding as optimisme. Beide is eensydig en ontrou aan ‘n situasie. Pessimisme is ‘n oorbeklemtoning van onvryheid; optimisme weer ‘n onderbelemtoning daaarvan. Die juiste standpunt is om so ‘n situasie as geleentheid te sien vir verantwoordelike besinning en verantwoordelike optrede.”
Prof Johann J Degenaar - Op Weg na ‘n Nuwe Politieke Lewenshouding: Filosofiese Opstelle (1963) pg 35,36