Monday, 30 November 2009

Terugberig: Waardes?






WAT ÍS DAN DIE UNIVERSELE WAARDES?
Prof Willem Landman, uitvoerende direkteur van EthicSA, en Chris Louw, bekende vryskut joernalis en skrywer, het op 27 November 2009 by Café Riche in gesprek getree oor die tema “Wat is dan die universele waardes?” Die aanleiding tot hierdie gesprek was die publikasie van Chris Louw se artikel oor Antjie Krog in By van 21 November. Bestaan daar hoegenaamd iets soos universele waardes of is alles relatief?
Willem Landman het begin deur ’n opsomming te gee van die onderhoud wat Kirby van der Merwe met Antjie Krog gevoer het na aanleiding van haar nuwe boek, Begging to be Black. Dit is op hierdie artikel dat Chris Louw in sy skrywe gereageer het.
Volgens Antjie Krog moet ons as’t ware onder die vel kan inkruip van mense soos Julius Malema om hulle verwysingsraamwerk te verstaan. Iemand soos Malema verteenwoordig tog die standpunt van baie mense daar buite. Die ander se waardes en verwysingsraamwerk is net so geldig soos die eie. Die Suid-Afrikaanse regering se moraliteit word gedurig deur die Westerse media gekritiseer. Ons moet barmhartigheid hê, wat meegebring word deur die begrip dat ander morele posisies ook bestaan. Sy kom tot die gevolgtrekking dat ons ’n nuwe waardestelsel nodig het en dat dié van die meerderheidsgroep aanvaar behoort te word. Indien ons aanhou om die regering en swart mense as korrup uit te beeld, sonder begrip vir waar hulle vandaan kom, kan ’n sekere verharding intree.
Volgens Chris Louw is sy artikel bedoel as ’n parodie en nie ’n objektiewe antwoord aan Krog nie. Krog is verkeerd om te verklaar dat ons ander se waardestelsels moet aanvaar bloot omdat dit ’n pragmatiese keuse is en ons wil oorleef, en nie noodwendig omdat daardie waardes korrek is nie. Hy spel die konsekwensies van haar standpunt in sy artikel uit. Tydens die periode van die Waarheids-en Versoeningskommissie het sy vanuit die standpunt van algemeen aanvaarde universele waardes oor apartheid geoordeel, maar noudat sy met ’n ander realiteit gekonfronteer word, verander sy van opinie.
Louw wys verder daarop dat Krog nie uit ’n joernalistieke agtergrond kom nie en dat sy tydens die WRK-verhore klem gelê het op haar eie persoon en haar eie belewenis van die getuienis wat gelewer is. Daar was ’n sterk emosionele faset in haar beriggewing, wat dit minder geslaagd gemaak het as dié van Max du Preez, wat meer feitlik was en dus meer aangrypend, omdat mense hulle eie afleidings kon maak.
Waar sy eens sterk universele waardes voorgestaan het, is sy nou ’n voorstander van relativisme. Apartheid is ten strengste deur haar veroordeel, maar as swartmense dinge doen wat bevraagteken moet word, moet daar agteroor gebuig word om hulle te akkommodeer.
Landman vra of Antjie Krog bloot bedoel dat ons empatie moet hê met diegene wat ly en hulle waardestelsels as ewe geldig aanvaar. Wat word dan van die waardes wat histories gebou is vanaf die Freedom Charter by Kliptown tot die huidige grondwet? Behoort hierdie visie nie as die algemene waarde-vertrekpunt gebruik te word nie?
Louw verwys na die korrupte situasie in Nigerië en meen dat ons in dieselfde rigting beweeg as ons plaaslike korrupte amptenare wil begryp en aanvaar. Ons moet verstaan, maar nie kondoneer nie.
’n Interessante debat met lede van die gehoor het gevolg. Die mening is uitgespreek dat Antjie Krog reg is om te sê dat ons die konteks in ag moet neem. Tot dusver het ons te oppervlakkig gekyk na wat in die geskiedenis gebeur het en wil bloot aanbeweeg. Hoekom kan Afrikaners met barmhartigheid kyk na een van hulle eie (Joost van der Westhuizen of Hansie Cronje) maar nie na ander groepe nie? Ons skram weg van relativisime. Dit is makliker om deur ’n venster te kyk as deur ’n spieël.
Volgens Lamé Ebersöhn is daar wel universele waardes. Voorbeelde is dat mense hulle gebonde voel as hulle ’n ooreenkoms aangegaan het en verder dat mense subjektiewe keuses in grens-situasies maak.
Willem Landman sluit hierby aan deur te verduidelik dat universele waardes dít is wat in feite bestaan en deur die loop van die geskiedenis in alle samelewings aanvaar word. Dit is waardes wat enige samelewing behoort te respekteer en wat bou aan die tipe gemeenskap waarbinne ons graag wil woon. Demokrasie is ’n voorbeeld van so ’n waarde.
Abraham Viljoen is van mening dat ons nie neerbuigend barmhartigheid moet bepleit nie. Dit was immers die blankes wat die verabsolutering van sekere waardesisteme bekendgestel het. Ons het ons eiesoortigheid beklemtoon, en hoe ons deur ’n sekere geskiedenis gevorm is. Indien Antjie Krog reg is, bly vernuwing en nasiebou onmoontlik. Dan kan ons maar net sowel swart regters aanstel vir swartmense en blanke regters vir blankes. Krog hou haarself te veel besig met die verlede en bied nie genoeg inisiatief om te kan vorentoe kyk nie. Ons moet werk in die rigting van ’n dinamiese waarde-ontwikkeling.
Willie Spies sluit hierby aan deur op te merk dat verabsolutering die eintlike probleem hier is. Lamé Ebersöhn wys op die onlangse saak van ’n individu wat ten spyte van 13 interdikte nie daarin kon slaag om die polisie te oorreed om onwettige besetting van sy eiendom te beëindig nie. Sy brei verder uit op die verskil tussen die etiese en die morele. Sy is van mening dat Antjie Krog se houding dui op ’n gebrek aan emanisipasie. Dalk moet ’n nuwe belangstelling in die grondwet wakker gemaak word, om weer ’n begrip van daardie waardes te laat ontstaan.
Willem Landman meen meer oorkoepelende waardes word deur die grondwet verwoord, maar dat dit probleem is dat die regstaat nie meer gerespekteer word nie.
Nog ’n deelnemer aan die debat wys daarop dat steun vir Malema nie noodwendig handel oor moraliteit nie, maar eerder identiteit: swartmense vereenselwig hulleself met iemand wat hulle frustrasies verwoord.
Op grond van sy ervarings in die Midde-Ooste meen Louis Ebersöhn dat algemeen universele waardes nie bestaan nie. Louise sluit hierby aan deur te sê dat indien universele waardes deur die geskiedenis bepaal word, dit eintlik ’n onmoontlikheid is, aangesien volke in verskillende periodes van die geskiedenis verkeer.
Volgens Chris Louw het Afrikaners nou al te lank probeer verstaan. Begrip los in elk geval nie mens se kritiese fakulteit op nie.
Chris Louw summarises the evening’s discussion by saying that all the participants basically expressed the same thought, albeit worded differently. The current political process has seen the Afrikaner having to bend backwords to please. He was happy, however, to see that there were no signs during the debate of the reactionary attitude generated by these frustrations and displayed by some Afrikaners.

Friday, 27 November 2009

Is Antjie se standpunt absurd?

Die gesprek vanaand gaan ook oor Antjie se nuwe boek 'Begging to be black' waarin sy aanvoer dat ons ander -swartes- se denkraamwerke en dus verskillende waardes uit hul oogpunt moet verstaan. Hierop het Chris striemend in By gereageer en onder meer die banale gevolge van haar standpunt uitgewys. Vanaand gaan Chris en Willem hiéroor saam gesels. Chris sal sy standpunt verduidelik nadat Willem 'n kort oorsig oor die artikel gee. Willem gaan argumenteer vír die universele waardes en die absurde konsekwensies van Antjie se argument uitwys. Die groter vraag is hoe Antjie se standpunt by die krisis van waardes in hierdie land inskakel, of dit selfs mag aanhelp ten spyte van haar edele motiewe?"

Kom vroeg genoeg en geniet hierdie afsluitaand van die jaar!

Tuesday, 24 November 2009

“Wát is dan die Universele Waardes?”- 27 Nov 2009 19:30

'n Ondersoekende gesprek tussen Prof Willem Landman en Chris Louw (Boetman)

Na aanleiding van die huidige gesprek rondom verskillende waardes van individue en groepe wat in ag geneem moet word wanneer ons propeer om mekaar te verstaan, sal dié onderwerp onder bespreking kom hiérdie Vrydagaand.
Kan ‘n mens begryp wat jou vriend se standpunt is, maar daar géén begrip voor toon nie?
Kom gesels saam!
Dis die afsluitingsfunksie van die FilosofieKafee vir hierdie jaar! Kom vroeg genoeg en parkeer op Kerkplein.
‘n Verskeidenheid van boeke oor hierdie onderwerp word aangebied deur Louise van Protea Boekwinkel.

R55pp aandete ingesluit
Rsvp 012 328 31 73
caferiche@kerkplein.co.za

Wednesday, 4 November 2009

Terugberig: Ferial Haffajee in gesprek met Chris Louw in die Soff kamer van Café Riche






Op ’n koelerige, nat aand was die Soff-kamer die 30ste Oktober volgepak met Filosofiekafee-gangers wat na Ferial Haffajee, redakteur van die City Press, kom luister het
Fyngebou, vasberade en passievol oor haar land en wat hier verkeerd is, maar ook hoopvol - dit is Ferial Haffajee in ’n neutedop.
Volgens haar het Jacob Zuma se administrasie nóg die wil, nóg die politieke slaankrag om die huidige korrupsie binne die staat uit te roei en tenderprosedures ingrypend te verander. Die president skuld te veel mense en faksies gunste. Volgens die onlangse verslag van die ouditeur-generaal het maatskappye wat bande met regeringsamptenare het, oor ’n periode van vier jaar meer as R600 miljoen in hulle sakke gesteek.
Sy is verbaas oor die feit dat daar so min gefokus is op die skokkende 28 biljoen rand wat volgens Pravin Gordhan deur die staat in die komende jaar gespaar gaan word deur minder op konsultante, gholftoernooie en vermaak te spandeer. Suid-Afrikaanse staatsamptenare lewe lekker, terwyl dieselfde lewenspeil nie deur hulle eweknieë in ander ontwikkelende lande soos Brasilië en Indië gehandhaaf word nie.
Staatsamptenare is nie noodwendig geïnteresseerd in goedkoop tenders nie, maar eerder in hoe hulle uit die proses kan voordeel trek.
Plaaslike regeringstrukture het ineengestort. Dit gaan nie meer oor dienslewering nie, maar wel oor ’n geveg tussen verskillende faksies om hulpbronne in te palm. Suid-Afrika het die hoogste per capita-besteding op onderwys op die Afrika-vasteland, maar plaaslike leerlinge doen konstant sleg in toetse waar hulle met leerlinge van ander lande vergelyk word.
Wat die plaaslike pers betref, word joernaliste redelik goed betaal en daar is instansies wat joernaliste verteenwoordig, soos die SA Nasionale Redakteursforum. Die nodige fondse bestaan verder om wel teen beperkings op persvryheid te veg. Een van die groot gevare, naamlik die skepping van die ANC se sogenaamde media-appèlhof, is vroeër vanjaar afgeweer. Hierdie hof sou klagtes van landsburgers aanhoor oor die gedrukte media en is met sterk teëstand uit joernalistieke geledere begroet.
Tans is daar wetgewing hangende oor sogenaamde teistering. Die staat wil nie soseer die media aanval nie, maar ook mense se privaat lewens beheer. Daar is natuurlik ook wetgewing wat joernaliste in die tronk kan laat beland as hulle sou weier om hulle bronne bekend te maak.
Ongeletterdheid en ’n gebrek aan leeslus is van die grootste probleme vir mediavryheid in Suid-Afrika. Dan is daar ook die beheptheid met die geelpers en bekende persoonlikhede, wat dui op ’n onwilligheid om regte probleme aan te spreek.
Volgens die vryskut joernalis Chris Louw, wat die gesprek gemodereer het, kan ’n mens dink dat ons in ’n vrye samelewing leef as jy kyk na die onthullings wat op programme soos Carte Blanche en Special Assignment gemaak word. Daar is egter weinig resultate ná sulke onthullings, want die maghebbers is arrogant en steur hulle nie daaraan nie.
Charl Engelbrecht wys daarop dat die korrekte tenderprosedures onder die vorige regering ook nie altyd gevolg is nie, maar dat mens dan gevolge kon verwag, anders as vandag.
Lamé Ebersöhn meen dat selfs wanneer sake oopgevlek word, die publiek nie reageer nie - daar is ’n gebrek aan protes. Charl sluit hierby aan deur te noem dat dit verklaar kan word deur die feit dat mense nie die koerante lees nie, of sulke gedeeltes (oor korrupsie), spesifiek oorslaan. Marietjie Luyt sien tekens van protes in die townships, maar volgens Charl word dit nie deur die pers gegenereer nie.
Ferial Haffajee wys daarop dat ons in ’n era leef waar misdade ongestraf gaan. Suid-Afrika het immers ’n president verkies teen wie aanklagte van korrupsie laat vaar is. Jackie Selebi gaan waarskynlik aansoek doen dat sy saak uit die hof gegooi word deur van dieselfde beginsels as Zuma gebruik te maak. Wat die protes in die swart woonbuurte betref, meen sy dat die gewone mense goed weet wie diegene is wat “eet” of hulleself verryk.
Sy glo verder dat Julius Malema, leier van die ANC se jeugvleuel, magtiger is as wat ons dink. Hy kan homself maklik beskikbaar stel vir die pos van provinsiale leier in Limpopo in 2012. Hy spreek tot dié Suid-Afrikaners wat hulleself uitgesluit voel van die materiële gewin wat vryheid meegebring het. Hierdie groep mense word al meer, as gevolg van groeiende werkloosheid.
Abraham Viljoen wys daarop dat ons nie in die proses van die uitwys van al die foute en korrupsie selfvoldaan moet wees nie, en vra verder of navorsing gedoen is oor waaróm hierdie soort dinge op die Afrika-vasteland gebeur, ten einde vas te stel of dit endemies of sosio-ekonomies van aard is. Dit is nie die voorkoms van korrupsie wat mens in Suid-Afrika verbaas nie, maar wel die omvang daarvan.
Volgens Ferial Haffajee was apartheid ’n korrupte stelsel, met geen demokratiese optrede nie. Mens verwag egter beter van ’n regering wat ’n uiters liberale grondwet aanvaar het. Die probleem met korrupsie kom in by die elite wat van die regering onttrek en dan die weg ooplaat vir misdrywe en wanbestuur. Die globale ekonomie het ’n voorliefde vir ’n materialistiese kultuur geskep. Hierdie soort debatte vind ook tans in Suid-Amerika plaas.
Chris Louw wys op die absolute armoede en veragting van rykes wat lei tot die opeis van regte wat nie saamhang met vermoëns nie.
Ferial Haffajee meen dat die sosiale media (Facebook, Twitter) hier nie gebruik word vir protesdoeleindes soos byvoorbeeld met selfone onder Obasanjo se bewind nie.
Mariaan Kruger wys op die miljoene Suid-Afrikaners wat nooit ’n werk gaan beklee nie. Hulle moet bereik word, al kan hulle nie lees nie. Hoe gaan die media aan hierdie mense hoop gee? Wilna meen dit is nie rol van die pers om hoop te gee nie, maar Mariaan meen as belastingbetalers het ons almal ’n verantwoordelikheid in hierdie verband. Chris Louw meen egter dat die media en diegene wat dit lees, ’n elite verteenwoordig - hoe ver kan mens gaan en dinge verander?
Ferial Haffajee, anders as Wilna, meen dat mense nie passief is nie. Sy glo dat Suid-Afrikaners moet betrokke raak by gemeenskapspolisiëring en gevalle van korrupsie moet aanmeld.
Wytze de Boer wil weet, as daar dan wel persvryheid in Suid-Afrika bestaan, waarom koerante huiwerig is om kwessies soos gay huwelike, die mafia, die voorkoms van kanker, ens oop te vlek en te kritiseer.
Lydia van Eeden wil weet hoekom daar so min ondersoekende joernalistiek bedryf word. Ferial Haffajee wys egter daarop dat dit besig is om te verander. Sy het pas ’n konferensie saam met ander ondersoekende joernaliste van Afrika bygewoon. Media24 het vir Jacques Pauw aangestel en Ivor Powell lei deesdae ondersoekende joernalistiek vir die Independent Group se publikasies.
Volgens Wouter van Wyk moet diegene wat nie kan lees nie, ingelig word oor dit wat gebeur. Tans word die oningeligte massas gebruik om die regbank onskadelik te stel. Die regbank kan dus nie korrek funksioneer nie.
Ferial Haffajee wys op die doeltreffende manier waarop die Demokratiese Alliansie as opposisie funksioneer. Hulle stel die regte kandidate aan en doen goeie navorsing. Hulle fokus die aandag telkens op ministers en amptenare se uitspattige leefstyl. Die DA is ’n voorbeeld van hoe effektief ’n opposisieparty in ’n ontwikkelende land kan wees.
Nog ’n deelnemer wys daarop dat die probleme wat tans ondervind word, toegeskryf kan word aan die gevoel wat mense het dat hulle iets verdien.
Celia Ebersöhn wys op die frustrasie en onmag wat mense deesdae ervaar.
Marietjie Luyt wys op enkele enklawes van onafhanklikheid wat nog by die SABC bestaan. Wilna sluit hierby aan en vertel hoe 702 brûe tussen gemeenskappe help bou. Chris Louw wys op die belangrikheid dat idees tog iewers moet ontstaan en dat dit juis in die media gebeur.
Nog ’n aand van gedagtes uitruil oor ’n glasie wyn en ’n goeie bord kos!
Kom sluit volgende keer by ons aan en praat saam!

Wednesday, 21 October 2009

Vrydagaand 30 Oktober 2009 19:30 caferiche@kerkplein.co.za


"Press freedom: under threat?" (English)

Ferial Haffajee is the current editor of City Press and former editor of the Mail & Guardian.

Ms Haffajee started her journalistic career as an intern at the Weekly Mail. She then worked for the SABC as radio producer and television reporter.

She shot to national fame as one of the reporters on a panel that interviewed Nelson Mandela in his first television discussion soon after his release from 27 years of imprisonment.

Ms Haffajee joined the Financial Mail as senior editor, rising to managing editor, before returning to the Mail and Guardian as associate editor.

She was appointed editor of the Mail & Guardian in February 2004, two years after control of the paper was acquired by Trevor Ncube. In 2005 the publication became one of the few local newspapers interdicted from publishing specific stories. In 2006 the paper was again interdicted, and Haffajee threatened, after republishing controversial cartoons depicting the prophet Muhammed

The newspaper's reputation for investigative journalism remained the main focus area under Haffajee's leadership at the Mail & Guardian. She started her new career at City Press on 1 July this year.

Ms Haffajee is eminently suited to speak about the topic Press freedom: under threat?

Monday, 5 October 2009

Terugberig:Regte Albie Sachs het met Prof Karen van Marle gesels in Café Riche.


Op Sondag 4 Oktober 2007 het uittredende regter van die Grondwetlike Hof, Albie Sachs, in gesprek met Prof Karin van Marle van die Universiteit van Pretoria, uitgewei oor sy lewe, sy rol in die vestiging en ontwikkelling van Suid-Afrika se nuwe grondwetlikbegronde regstelsel en die onvermydelike verbinding tussen die twee.

Die gesprek het plaasgevind teen die agtergrond van die verskyning van Regter Sachs se nuutste boek, The strange alchemy of life and law (2009) Kaapstad: Oxford. In hierdie boek ontwikkel Regter Sachs die idee dat die lewe buite die reg en die reg self nou met mekaar verwikkel is – dat, in die eerste plek, sy eie verstaan van die aard van die reg en van sy regterlike rol onlosmaaklik verbind is tot sy lewenservarings en die gewaarwordinge en gelowe wat vir hom daaruit voorgespruit het. Met verwysing na spesifieke beslissings van die Grondwetlike Hof waarin hy ‘n rol gespeel het, dui hy aan hoe die oplossings wat hy in sy beslissings vir spesifieke dispute beslis het, nie alleen verklaar kan word aan die hand van regsreëls en die tekste wat dit beliggaam nie (al speel díe uiteraard ‘n belangrike, inderdaad ‘n deurslaggewende rol) maar tot ‘n groot mate bepaal is deur sy eie oortuiginge en intuïsies.

Hierdie tema is vanuit verskeie hoeke opgeneem in die gesprek met Prof van Marle. Hy reageer op Prof Van Marle se suggestie dat die titel van sy boek daarop dui dat lewenservaring beregting op dikwels onverwagse (‘magical’) maniere beïnvloed deur te vertel hoe sy ervaring van deelname aan twee gebeurtenisse – een ‘n ‘Gay Pride’ optog en die ander ‘n konferensie van Christelike regslui uit Suider-Afrika - daartoe gelei het dat hy in die opspraakwekkende Fourie-saak, waar gay huwelike deur die Grondwetlike Hof erken is, erkenning kon gee aan die lewensbeskouinge van beide die ten gunste van en gekant teen gay huwelike. Verder, in antwoord op die vraag of hy sy rol as Regter gesien het as ‘n proses van onderhandeling van die spanning tussen vryheid en beperking (‘freedom and constraint’) antwoord hy dat hy die spanning eerder sal beskryf as een tussen rede en passie (‘reason and passion’) – dat die gebondenheid aan logika en rede waaronder ‘n regter staan tog telkens onvermydelik getemper en versag word deur dit waaroor die regter passievol voel, haar oortuiginge.

Op treffende wyse vertel Regter Sachs hoe, weereens onverwags, toe hy die eerste keer sy bewussyn herwin het nadat hy deur ‘n bom van apartheid-agente in Maputo opgeblaas is, sy eerste reaksie was om vir homself ‘n grappie te vertel oor sy situasie en te lag. Hy herlei hierdie ervaring spesifiek na sy beslissing van die Laugh it off-saak, waar die Grondwetlike Hof intellektuele goederereg besware teen satire van die hand gewys het en vertel hoe hy tydens die aanhoor van die saak akuut bewus was van die ontlontende aard van lag, maar ook die mag van lag om onderdrukking op non-konfrontasionele wyse uit te daag.

Die gesprek het ‘n boeiende, deerniswekkende en insiggewende blik gegee op die veelbewoë lewe van Regter Sachs, maar daardeur ook op die werking van die Hoogste Hof van ons land en die denkwyses van diegene wat die regterlike amp daar beklee.


Thursday, 1 October 2009

TAAL
'Elke taal deel sigself mee' - Walter Benjamin: 'Over de taal in het algemeen en over de taal van de mens"(1916)
Bejamin wys daarop dat die gebruiklike visie dat taal as 'n deurgeeluik om 'n gedagte tuis te bring, pas in die eensydige matematies-meganistiese manier van denke wat die westerse wêreld sedert die Verligting beheer. Hy noem hierdie siening dan ook die 'burgerlike' taalopvatting. Hierteenoor plaas Benjamin 'n poëties-simboliese visie op taal, waar nié die médedeling nie, maar wél die úítdrukking sentraal staan. Maar wát druk die taal uit?
Benjamin se enigmatiese antwoord is: sigself! In die taal druk die taal sigself uit as medium. Daarom is volgens Benjamin nié die begrip of konsep die essensie van taal nie, maar die naam. Die naam is suiwer kommunikasie: dit druk niks anders uit, dan sigself nie!
Paul Boon:Filosofie Scheurkalender 2009

Sunday, 27 September 2009

Terugberig: Só het die burgers saam gepraat!




Op Vrydag 25 September 2009 het die maandelikse FilosofieKafee van die gebruiklike Café Riche-perseel na die Tukkie-kampus verskuif. Die debat het tydens die Woordpoort-fees op die kampus plaasgevind. Daar was ’n feestelike atmosfeer by die universiteit, met vele nuuskieriges wat van een opvoering na die ander geswerf het.

By Burgundy’s in die Klubsaal het die FilosofieKafee-gangers reggeskuif vir luister en gesels...

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van Afriforum, het tydens die byeenkoms kommentaar gelewer op die plig van die burger om by die openbare debat betrokke te raak. Dit volg op die onlangse polemiek in die pers oor blanke Suid-Afrikaners se reg al dan nie om betrokke te raak by die debat in die land.

Volgens Kallie Kriel het ds Nico Smith in sy onlangse Beeld-artikel na voorbeelde verwys van wat kan gebeur as ’n minderheidsgroep wel sy stem verhef, met noodlottige gevolge. Hier in Suid-Afrika is ons egter omring deur voorbeelde van wat kan gebeur as mens nie praat nie. Zimbabwe is een so ’n geval.

Afrikaners het sedert die bewindsverandering in 1994 óf die land verlaat, óf na binne geëmigreer. Om kwaad te word rondom braaivleisvure het geen impak op die openbare debat nie. Die gevaar bestaan dat as ons nie deelneem aan hierdie debat nie, Suid-Afrika ’n soort Zimbabwe kan word waar daar nie voldoende alternatiewe stemme is om die demokrasie in stand te hou nie. Ons het ’n verskeidenheid van stemme hier nodig, asook ’n veelheid van benaderings.

Afriforum het die weg van aktivisime ingeslaan. Aktivisime kan op ’n gesofistikeerde wyse bedryf word. Dit is belangrik om in deelname aan die openbare debat die morele hoë grond te behou. Mens moet ook jou standpunt internasionaal kan verdedig. Wedersydse respek en erkenning is verder belangrik.

Nico Smith sien Afrikaners egter as tweedeklasburgers wat eerder moet stilbly.

As mens oor ’n magsbasis beskik, beding jy. So nie, bedel mens. Getalle is nie noodwendig essensieel vir ’n magsbasis nie. Ander meganismes kan ook ingespan word. Die reg is so ’n instrument en in hierdie verband het Afriforum die afgelope tyd heelwat reggekry. Dít waarna mens streef, moet duidelik gestel word. So het Afriforum byvoorbeeld met die onteieningswet aan buitelandse ambassades geskryf met positiewe gevolg. Mens kan soms kreatief en onkonvensioneel wees sonder om noodwendig van regsmiddele gebruik te maak.

Ons moet die taal praat wat die magshebber sal verstaan. Dit is belangrik om ’n arogansielose selfvertroue te ontwikkel. In baie van die openbare debatte word meganismes gebruik om mens te sensor. Beskuldigings van rassisme is so ’n voorbeeld. As ons eersteklasburgers wil wees, moet ons genoeg selfvertroue ontwikkel om onsself in sulke situasies te handhaaf en ’n genuanseerde debat te kan voer.


Afriforum gee prakties uiting hieraan deur byvoorbeeld die onlangse regsaak om die Pretoria-skole waarvan die krag afgesny is, te hulp te kom. Wanneer mens met so ’n aksie slaag, kweek dit selfvertroue.

Die organisasie glo dat Afrikaners hulleself binne die konteks van die regering moet kan verwoord, maar parallel hiermee moet selfstandigheid ook bevorder word. Hiervan is Soltech ’n voorbeeld.

Op ’n vraag uit die gehoor oor die gebruik van die term “settlers” ten opsigte van blanke Suid-Afrikaners, het Kallie geantwoord dat ons moet klem lê op die feit dat blankes ook Afrikane is en dat hulle moet verwys na hoe lank terug hulle voorvaders in Suid-Afrika aangekom het.

Louise van Heerden het gemeen dat mens beide protes moet kan lewer en die besluitnemers beïnvloed.

Volgens Hennie de Wet behoort mondige burgers verantwoordelikheid vir hulle woorde en dade te aanvaar. Afrikaners tree onmondig op as hulle nie hul burgerlike verantwoordelikheid aanvaar nie. Mense kyk na organisasies soos Afriforum om op te tree en kom nie hul individuele plig na nie. Daar is ook ’n gebrek aan strategiese denke.

Marius Coetzee wou weet waar hierdie onmondigheid vandaan kom. Kallie skryf dit toe aan die feit dat Afrikaners en hulle organisasies ná 1994 nie meer beskerm was nie, en moes fokus op oorlewing. Aangesien mense nie polities geskool is nie, onttrek hulle hul aan die openbare debat.

Lydia van Eeden wou weet watter rol ’n kollektiewe skuldgevoel in die ontwikkeling van hierdie onmondigheid speel. Volgens Kallie internaliseer Afrikaners nie skuld nie, maar sukkel hulle om hulleself ten opsigte van die verlede te verwoord. Daar is tans ’n totale magsoorwig en blankes moet ’n balans skep om te sorg dat die Algerynse scenario nie hier herhaal word nie.

Op ’n vraag van Elri Schoonbee oor hoe die gemeenskap gemobiliseer kan word om saam te staan, meen Kallie dat sulke mobilisasie rondom spesifieke kwessies moet geskied.

Nog ’n deelnemer aan die bespreking, wat homself eerder as ’n
Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner as ’n Afrikaner sien, het die mening gelug dat opposisiepolitiek mens moeg maak. Daar moet eerder alternatiewe politiek bedryf word. Jongmense wil volgens hom nie baklei nie, maar wel sien dat die land ’n beter plek word vir almal om in te woon.

Hennie de Wet wys daarop dat emigrasie meegebring het dat diegene wat ’n verskil kan maak, reeds landuit is. Die klem moenie noodwendig op baklei wees nie. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog is daar nie gebaklei nie, maar instellings soos Sanlam en Volkskas is geskep. Daar is weer nuwe instellings nodig.

Kallie het die bespreking afgesluit deur daarop te wys dat Afriforum onbeskaamd is daaroor dat hulle ’n Afrikanerorganisasie is. Binne instansies soos die Afrikaanse Taalraad word daar met bruin Afrikaanssprekendes saamgewerk, maar by ander kwessies fokus Afriforum op blanke Afrikaners. Hierdie posisionering is natuurlik, aangesien elke persoon immers oor verskillende identiteite beskik.
Kom dink en gesels saam elke laaste Vrydagaand van die maand!



Saturday, 26 September 2009

BURGER, STAAT, TYD: Johann Degenaar


BURGER, STAAT, TYD
“ Aan die begin van hierdie opstel het ek dit gestel dat die kleinerwordende wêreld-politieke situasie as resultaat het dat mense en volkere onmiddelliker en intenser op mekaar aangewese is. Dit het ook daartoe gelei dat mense bewus geword het van belangrike fenomene soos burger en staat. Daarom ook hierdie gesprekke vandag en die noodsaaklikheid daarvan. Die wêreld-politieke situasie het nie skielik die mens ‘n staatkundige wese gemaak nie. Dit het hom net bewus gemaak dat hy dit is, dat hy dit beslissend is, dat hy dit in elke asemhaling is.
Dit het hom bewus gemaak daarvan dat die mens nie net ‘n politieke wese is wanneer hy stem nie, maar ook wanneer hy dink en eet, wanneer hy bid en speel.
Hierdie gedagte kan egter, in plaas van bevrydend te wees, bindend werk en die burger ‘n gevoel van fatalisme gee. Dit hoef nie noodwendig so te wees nie. Daarom is dit nodig vir die mens om hom telkens oor sy politieke dier-karakter te besin. Die fatalistiese houding hang hoofsaaklik saam met ‘n verkeerde verhouding van die mens tot tyd. Die mens is nie net ‘n produk van die verlede en so afgesluit in die tyd nie. Die betrokkenheid van burger en staat is ook nie afgesluit in die tyd nie. Die neiging bestaan om die politieke situasie waarin die mens verkeer, af te sluit en as statiesdwingend te beskou. Die betrokkenheid van burger en staat op mekaar word byvoorbeeld identies gestel met die impasse waarin ‘n spesifieke regering verkeer. Dit kan lei tot ‘n besef van noodlot en ‘n gevoel van frustrasie. Wat dan kan help, is om in te sien dat die burger-staat-relasie nie afgesluit is in die tyd nie, maar juis ontsluit word in die tyd. Wanneer ‘n regering op ‘n sekere tyd nie aan die aard van die staat en gevolglik ook aan die aard van die burger reg laat geskied nie, moet nie die staat, die burger en die politiek daardeur in diskrediet gebring word nie. Dan word die burger juis opgeroep om die staat staat te laat wees en die burger burger. Dan moet hy juis stry om die vrymaking uit die situasie van vervreemding. Die aard van die staat moet nie gelykgestel word met die mislukking van ‘n regering en die wangedrag van die burger nie. Die mens moet in die tyd stry om staatkundigheid en burgerskap.
Anders gestel: Die mens moet nie probeer om as gevolg van vrees in ‘n politiek-lose situasie te lewe nie. Dit sou ‘n nie-menslike situasie wees. Die politiek kan nie gered word deur die mens daaruit te neem nie. Ons moet ons daarvoor beywer om die mens terug te plaas in die politiek en hom sy menslikheid en medemenslikheid en redelikheid juis daarin te laat vind. Alleen só word burger burger en staat staat.
Vervreemding kan ook plaasvind wanneer ‘n regeringsbeleid ‘n doel op sigself word. Dan is dit nie meer ‘n instrument om die land as geheel te dien nie, maar sluit dit die staat en die burger af binne sy opvattinge. Ook dit moet die burger nie met moedeloosheid vervul nie. Dit is net ‘n groter aansporing tot redelike stryd om vryheid. Pessimisme is net so ‘n verkeerde houding as optimisme. Beide is eensydig en ontrou aan ‘n situasie. Pessimisme is ‘n oorbeklemtoning van onvryheid; optimisme weer ‘n onderbelemtoning daaarvan. Die juiste standpunt is om so ‘n situasie as geleentheid te sien vir verantwoordelike besinning en verantwoordelike optrede.”
Prof Johann J Degenaar - Op Weg na ‘n Nuwe Politieke Lewenshouding: Filosofiese Opstelle (1963) pg 35,36

Monday, 21 September 2009

Hóé praat die mondige burger? - Kallie Kriel


Hóé praat ‘n mondige burger? - Kallie Kriel
Gegewe die huidige debat oor die betrokkenheid al dan nie van die burger by die staat, kom die vraag noodgedwonde op: hoé kan die burger aan haarself getrou bly ten einde ook die waardigheid van die staat te handhaaf? Die neiging om nie burgerskap te aanvaar nie, hou die staatsorganisasies ongeldig . Staat het burgers nodig, en burgers die staat. Die uitdaging om vanuit hierdie gelyk-oorspronklike verskynsel te dink, is die moeisame taak van mondige burgers.


Friday, 11 September 2009

11/09: Datum nie meer plek nie?


‘Terwyl vroër die noem van ‘n stad – Lissabon of Auschwitz- voldoende was om ontsteltenis en afgryse te herroep, begin die eenentwintigste eeu met ‘n datum’ - Susan Neiman, Evil in modern Thought (2003)
Die datum waarna die Amerikaanse moraalfilosoof Susan Nieman  verwys is natuurlik 11 September 2001. En sy het gelyk: die drie syfers 9/11 benodig geen toeligting. Die gebeurtenis waarna sy verwys staan in ons kollektiewe geheue ingegriffel. Sedertdien het daar nóg bygekom: 11/3 (die aanslag in Madrid), 7/7 (dié in London) en 2/11 (die moord op Theo van Gogh)
Hoe het dit gekom dat die datum waarop sulke traumatiese  gebeure plaasgevind het, veelseggender geword het dan die plek waar dit gebeur het? Kan hierdie verskuiwing te make hê daarmee dat globalisering die kategorie ‘plek’ enigsins betekenloos maak? Danksy die media word daar nie meer berig oor wáár iets gebeur nie. Duisende kilometers afstand word deur kameras gemaklik oorbrug. Dan bly nog die kategorie ‘tyd’ oor,  om rampe op hierdie aarde tog ‘n plek in ons herinnering te gee.
Sebastien Valkenberg

Tuesday, 8 September 2009

Toepassing van die filosofie



“Die Filosofie kan haar invloed, haar algemene oortuigingskrag nie heeltemaal behou, as dit nie toegepas word op die lewe en die wêreld waarin ons leef nie” Karl Gotlob Schelle



Thursday, 21 May 2009

Filosofiekafee 28 Augustus 2009: Café Riche


Die vertoontogte van ‘Voorbeeldige Vroue’, soos dié van die ‘Moedige Manne’, noop ons om wéér te kyk na hoe en wanneer vroue mondig raak. Kán die Calvinisme vroue bevry? Hoe het die Feminisme gevaar? Of is dít juis die stremming? Op die agterblad van ‘n vorige boek, “The piety of Afrikaans Women,” sê Christina Landman ‘local Calvinism was as sexist as it was racist’. Hoe interpreteer ons die behoefte van Afrikaanse vroue aan hierdie huidige vertoon?