Terugberig: Ferial Haffajee in gesprek met Chris Louw in die Soff kamer van Café Riche






Op ’n koelerige, nat aand was die Soff-kamer die 30ste Oktober volgepak met Filosofiekafee-gangers wat na Ferial Haffajee, redakteur van die City Press, kom luister het
Fyngebou, vasberade en passievol oor haar land en wat hier verkeerd is, maar ook hoopvol - dit is Ferial Haffajee in ’n neutedop.
Volgens haar het Jacob Zuma se administrasie nóg die wil, nóg die politieke slaankrag om die huidige korrupsie binne die staat uit te roei en tenderprosedures ingrypend te verander. Die president skuld te veel mense en faksies gunste. Volgens die onlangse verslag van die ouditeur-generaal het maatskappye wat bande met regeringsamptenare het, oor ’n periode van vier jaar meer as R600 miljoen in hulle sakke gesteek.
Sy is verbaas oor die feit dat daar so min gefokus is op die skokkende 28 biljoen rand wat volgens Pravin Gordhan deur die staat in die komende jaar gespaar gaan word deur minder op konsultante, gholftoernooie en vermaak te spandeer. Suid-Afrikaanse staatsamptenare lewe lekker, terwyl dieselfde lewenspeil nie deur hulle eweknieë in ander ontwikkelende lande soos Brasilië en Indië gehandhaaf word nie.
Staatsamptenare is nie noodwendig geïnteresseerd in goedkoop tenders nie, maar eerder in hoe hulle uit die proses kan voordeel trek.
Plaaslike regeringstrukture het ineengestort. Dit gaan nie meer oor dienslewering nie, maar wel oor ’n geveg tussen verskillende faksies om hulpbronne in te palm. Suid-Afrika het die hoogste per capita-besteding op onderwys op die Afrika-vasteland, maar plaaslike leerlinge doen konstant sleg in toetse waar hulle met leerlinge van ander lande vergelyk word.
Wat die plaaslike pers betref, word joernaliste redelik goed betaal en daar is instansies wat joernaliste verteenwoordig, soos die SA Nasionale Redakteursforum. Die nodige fondse bestaan verder om wel teen beperkings op persvryheid te veg. Een van die groot gevare, naamlik die skepping van die ANC se sogenaamde media-appèlhof, is vroeër vanjaar afgeweer. Hierdie hof sou klagtes van landsburgers aanhoor oor die gedrukte media en is met sterk teëstand uit joernalistieke geledere begroet.
Tans is daar wetgewing hangende oor sogenaamde teistering. Die staat wil nie soseer die media aanval nie, maar ook mense se privaat lewens beheer. Daar is natuurlik ook wetgewing wat joernaliste in die tronk kan laat beland as hulle sou weier om hulle bronne bekend te maak.
Ongeletterdheid en ’n gebrek aan leeslus is van die grootste probleme vir mediavryheid in Suid-Afrika. Dan is daar ook die beheptheid met die geelpers en bekende persoonlikhede, wat dui op ’n onwilligheid om regte probleme aan te spreek.
Volgens die vryskut joernalis Chris Louw, wat die gesprek gemodereer het, kan ’n mens dink dat ons in ’n vrye samelewing leef as jy kyk na die onthullings wat op programme soos Carte Blanche en Special Assignment gemaak word. Daar is egter weinig resultate ná sulke onthullings, want die maghebbers is arrogant en steur hulle nie daaraan nie.
Charl Engelbrecht wys daarop dat die korrekte tenderprosedures onder die vorige regering ook nie altyd gevolg is nie, maar dat mens dan gevolge kon verwag, anders as vandag.
Lamé Ebersöhn meen dat selfs wanneer sake oopgevlek word, die publiek nie reageer nie - daar is ’n gebrek aan protes. Charl sluit hierby aan deur te noem dat dit verklaar kan word deur die feit dat mense nie die koerante lees nie, of sulke gedeeltes (oor korrupsie), spesifiek oorslaan. Marietjie Luyt sien tekens van protes in die townships, maar volgens Charl word dit nie deur die pers gegenereer nie.
Ferial Haffajee wys daarop dat ons in ’n era leef waar misdade ongestraf gaan. Suid-Afrika het immers ’n president verkies teen wie aanklagte van korrupsie laat vaar is. Jackie Selebi gaan waarskynlik aansoek doen dat sy saak uit die hof gegooi word deur van dieselfde beginsels as Zuma gebruik te maak. Wat die protes in die swart woonbuurte betref, meen sy dat die gewone mense goed weet wie diegene is wat “eet” of hulleself verryk.
Sy glo verder dat Julius Malema, leier van die ANC se jeugvleuel, magtiger is as wat ons dink. Hy kan homself maklik beskikbaar stel vir die pos van provinsiale leier in Limpopo in 2012. Hy spreek tot dié Suid-Afrikaners wat hulleself uitgesluit voel van die materiële gewin wat vryheid meegebring het. Hierdie groep mense word al meer, as gevolg van groeiende werkloosheid.
Abraham Viljoen wys daarop dat ons nie in die proses van die uitwys van al die foute en korrupsie selfvoldaan moet wees nie, en vra verder of navorsing gedoen is oor waaróm hierdie soort dinge op die Afrika-vasteland gebeur, ten einde vas te stel of dit endemies of sosio-ekonomies van aard is. Dit is nie die voorkoms van korrupsie wat mens in Suid-Afrika verbaas nie, maar wel die omvang daarvan.
Volgens Ferial Haffajee was apartheid ’n korrupte stelsel, met geen demokratiese optrede nie. Mens verwag egter beter van ’n regering wat ’n uiters liberale grondwet aanvaar het. Die probleem met korrupsie kom in by die elite wat van die regering onttrek en dan die weg ooplaat vir misdrywe en wanbestuur. Die globale ekonomie het ’n voorliefde vir ’n materialistiese kultuur geskep. Hierdie soort debatte vind ook tans in Suid-Amerika plaas.
Chris Louw wys op die absolute armoede en veragting van rykes wat lei tot die opeis van regte wat nie saamhang met vermoëns nie.
Ferial Haffajee meen dat die sosiale media (Facebook, Twitter) hier nie gebruik word vir protesdoeleindes soos byvoorbeeld met selfone onder Obasanjo se bewind nie.
Mariaan Kruger wys op die miljoene Suid-Afrikaners wat nooit ’n werk gaan beklee nie. Hulle moet bereik word, al kan hulle nie lees nie. Hoe gaan die media aan hierdie mense hoop gee? Wilna meen dit is nie rol van die pers om hoop te gee nie, maar Mariaan meen as belastingbetalers het ons almal ’n verantwoordelikheid in hierdie verband. Chris Louw meen egter dat die media en diegene wat dit lees, ’n elite verteenwoordig - hoe ver kan mens gaan en dinge verander?
Ferial Haffajee, anders as Wilna, meen dat mense nie passief is nie. Sy glo dat Suid-Afrikaners moet betrokke raak by gemeenskapspolisiëring en gevalle van korrupsie moet aanmeld.
Wytze de Boer wil weet, as daar dan wel persvryheid in Suid-Afrika bestaan, waarom koerante huiwerig is om kwessies soos gay huwelike, die mafia, die voorkoms van kanker, ens oop te vlek en te kritiseer.
Lydia van Eeden wil weet hoekom daar so min ondersoekende joernalistiek bedryf word. Ferial Haffajee wys egter daarop dat dit besig is om te verander. Sy het pas ’n konferensie saam met ander ondersoekende joernaliste van Afrika bygewoon. Media24 het vir Jacques Pauw aangestel en Ivor Powell lei deesdae ondersoekende joernalistiek vir die Independent Group se publikasies.
Volgens Wouter van Wyk moet diegene wat nie kan lees nie, ingelig word oor dit wat gebeur. Tans word die oningeligte massas gebruik om die regbank onskadelik te stel. Die regbank kan dus nie korrek funksioneer nie.
Ferial Haffajee wys op die doeltreffende manier waarop die Demokratiese Alliansie as opposisie funksioneer. Hulle stel die regte kandidate aan en doen goeie navorsing. Hulle fokus die aandag telkens op ministers en amptenare se uitspattige leefstyl. Die DA is ’n voorbeeld van hoe effektief ’n opposisieparty in ’n ontwikkelende land kan wees.
Nog ’n deelnemer wys daarop dat die probleme wat tans ondervind word, toegeskryf kan word aan die gevoel wat mense het dat hulle iets verdien.
Celia Ebersöhn wys op die frustrasie en onmag wat mense deesdae ervaar.
Marietjie Luyt wys op enkele enklawes van onafhanklikheid wat nog by die SABC bestaan. Wilna sluit hierby aan en vertel hoe 702 brûe tussen gemeenskappe help bou. Chris Louw wys op die belangrikheid dat idees tog iewers moet ontstaan en dat dit juis in die media gebeur.
Nog ’n aand van gedagtes uitruil oor ’n glasie wyn en ’n goeie bord kos!
Kom sluit volgende keer by ons aan en praat saam!