Terugberig: Waardes?






WAT ÍS DAN DIE UNIVERSELE WAARDES?
Prof Willem Landman, uitvoerende direkteur van EthicSA, en Chris Louw, bekende vryskut joernalis en skrywer, het op 27 November 2009 by Café Riche in gesprek getree oor die tema “Wat is dan die universele waardes?” Die aanleiding tot hierdie gesprek was die publikasie van Chris Louw se artikel oor Antjie Krog in By van 21 November. Bestaan daar hoegenaamd iets soos universele waardes of is alles relatief?
Willem Landman het begin deur ’n opsomming te gee van die onderhoud wat Kirby van der Merwe met Antjie Krog gevoer het na aanleiding van haar nuwe boek, Begging to be Black. Dit is op hierdie artikel dat Chris Louw in sy skrywe gereageer het.
Volgens Antjie Krog moet ons as’t ware onder die vel kan inkruip van mense soos Julius Malema om hulle verwysingsraamwerk te verstaan. Iemand soos Malema verteenwoordig tog die standpunt van baie mense daar buite. Die ander se waardes en verwysingsraamwerk is net so geldig soos die eie. Die Suid-Afrikaanse regering se moraliteit word gedurig deur die Westerse media gekritiseer. Ons moet barmhartigheid hê, wat meegebring word deur die begrip dat ander morele posisies ook bestaan. Sy kom tot die gevolgtrekking dat ons ’n nuwe waardestelsel nodig het en dat dié van die meerderheidsgroep aanvaar behoort te word. Indien ons aanhou om die regering en swart mense as korrup uit te beeld, sonder begrip vir waar hulle vandaan kom, kan ’n sekere verharding intree.
Volgens Chris Louw is sy artikel bedoel as ’n parodie en nie ’n objektiewe antwoord aan Krog nie. Krog is verkeerd om te verklaar dat ons ander se waardestelsels moet aanvaar bloot omdat dit ’n pragmatiese keuse is en ons wil oorleef, en nie noodwendig omdat daardie waardes korrek is nie. Hy spel die konsekwensies van haar standpunt in sy artikel uit. Tydens die periode van die Waarheids-en Versoeningskommissie het sy vanuit die standpunt van algemeen aanvaarde universele waardes oor apartheid geoordeel, maar noudat sy met ’n ander realiteit gekonfronteer word, verander sy van opinie.
Louw wys verder daarop dat Krog nie uit ’n joernalistieke agtergrond kom nie en dat sy tydens die WRK-verhore klem gelê het op haar eie persoon en haar eie belewenis van die getuienis wat gelewer is. Daar was ’n sterk emosionele faset in haar beriggewing, wat dit minder geslaagd gemaak het as dié van Max du Preez, wat meer feitlik was en dus meer aangrypend, omdat mense hulle eie afleidings kon maak.
Waar sy eens sterk universele waardes voorgestaan het, is sy nou ’n voorstander van relativisme. Apartheid is ten strengste deur haar veroordeel, maar as swartmense dinge doen wat bevraagteken moet word, moet daar agteroor gebuig word om hulle te akkommodeer.
Landman vra of Antjie Krog bloot bedoel dat ons empatie moet hê met diegene wat ly en hulle waardestelsels as ewe geldig aanvaar. Wat word dan van die waardes wat histories gebou is vanaf die Freedom Charter by Kliptown tot die huidige grondwet? Behoort hierdie visie nie as die algemene waarde-vertrekpunt gebruik te word nie?
Louw verwys na die korrupte situasie in Nigerië en meen dat ons in dieselfde rigting beweeg as ons plaaslike korrupte amptenare wil begryp en aanvaar. Ons moet verstaan, maar nie kondoneer nie.
’n Interessante debat met lede van die gehoor het gevolg. Die mening is uitgespreek dat Antjie Krog reg is om te sê dat ons die konteks in ag moet neem. Tot dusver het ons te oppervlakkig gekyk na wat in die geskiedenis gebeur het en wil bloot aanbeweeg. Hoekom kan Afrikaners met barmhartigheid kyk na een van hulle eie (Joost van der Westhuizen of Hansie Cronje) maar nie na ander groepe nie? Ons skram weg van relativisime. Dit is makliker om deur ’n venster te kyk as deur ’n spieël.
Volgens Lamé Ebersöhn is daar wel universele waardes. Voorbeelde is dat mense hulle gebonde voel as hulle ’n ooreenkoms aangegaan het en verder dat mense subjektiewe keuses in grens-situasies maak.
Willem Landman sluit hierby aan deur te verduidelik dat universele waardes dít is wat in feite bestaan en deur die loop van die geskiedenis in alle samelewings aanvaar word. Dit is waardes wat enige samelewing behoort te respekteer en wat bou aan die tipe gemeenskap waarbinne ons graag wil woon. Demokrasie is ’n voorbeeld van so ’n waarde.
Abraham Viljoen is van mening dat ons nie neerbuigend barmhartigheid moet bepleit nie. Dit was immers die blankes wat die verabsolutering van sekere waardesisteme bekendgestel het. Ons het ons eiesoortigheid beklemtoon, en hoe ons deur ’n sekere geskiedenis gevorm is. Indien Antjie Krog reg is, bly vernuwing en nasiebou onmoontlik. Dan kan ons maar net sowel swart regters aanstel vir swartmense en blanke regters vir blankes. Krog hou haarself te veel besig met die verlede en bied nie genoeg inisiatief om te kan vorentoe kyk nie. Ons moet werk in die rigting van ’n dinamiese waarde-ontwikkeling.
Willie Spies sluit hierby aan deur op te merk dat verabsolutering die eintlike probleem hier is. Lamé Ebersöhn wys op die onlangse saak van ’n individu wat ten spyte van 13 interdikte nie daarin kon slaag om die polisie te oorreed om onwettige besetting van sy eiendom te beëindig nie. Sy brei verder uit op die verskil tussen die etiese en die morele. Sy is van mening dat Antjie Krog se houding dui op ’n gebrek aan emanisipasie. Dalk moet ’n nuwe belangstelling in die grondwet wakker gemaak word, om weer ’n begrip van daardie waardes te laat ontstaan.
Willem Landman meen meer oorkoepelende waardes word deur die grondwet verwoord, maar dat dit probleem is dat die regstaat nie meer gerespekteer word nie.
Nog ’n deelnemer aan die debat wys daarop dat steun vir Malema nie noodwendig handel oor moraliteit nie, maar eerder identiteit: swartmense vereenselwig hulleself met iemand wat hulle frustrasies verwoord.
Op grond van sy ervarings in die Midde-Ooste meen Louis Ebersöhn dat algemeen universele waardes nie bestaan nie. Louise sluit hierby aan deur te sê dat indien universele waardes deur die geskiedenis bepaal word, dit eintlik ’n onmoontlikheid is, aangesien volke in verskillende periodes van die geskiedenis verkeer.
Volgens Chris Louw het Afrikaners nou al te lank probeer verstaan. Begrip los in elk geval nie mens se kritiese fakulteit op nie.
Chris Louw summarises the evening’s discussion by saying that all the participants basically expressed the same thought, albeit worded differently. The current political process has seen the Afrikaner having to bend backwords to please. He was happy, however, to see that there were no signs during the debate of the reactionary attitude generated by these frustrations and displayed by some Afrikaners.