26 Junie - "Oor Gemeenskap en Plek"

Koos Malan gesels by Junie 2015 se Filosofie Kafee met 
Danie Goosen
  oor sy nuwe boek: 

'Oor Gemeenskap en Plek.  Anderkant die onbehae'


Lees ook die resensie oor díe boek deur Auwais Rafudeen hier.  

In aansluiting by gemeenskapsdenkers in die hedendaagse filosofiese en teologiese denke voer Danie in sy nuwe boek 'n kritiese gesprek met die globale hegemonie van die neo-liberalisme. In die hart van dié gesprek staan die oeroue vraag na die aard van die mens: Ontvang ons onsself vanuit bronne wat ons as individue voorafgaan en selfs moontlik maak, soos ons veelheid van gemeenskappe en tradisies? Of is ons vryswewende individue wat ons eie werklikheid vanuit 'n gemeenskapsvrye sone skep, maak?

Vrydag 26 Junie 2015 vanaf  19:30

“Oor Gemeenskap en Plek..”

- Danie Goosen

 

Sluit aan en neem deel aan die 2-in-1 boekbekendstelling en gesprek.

Kom neem gerus deel aan hierdie debat in 'n gasvrye omgewing en ontmoet ander gespreksgenote. Iedereen Welkom!

R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.

 

Bespreek by 012 328 3173 /  hostess@caferiche.co.za


 



Wat is die sosiale en politieke implikasies van 'n antwoord op genoemde vrae? Lewer die neo-liberale beeld op die mens ons nie aan die ‘monsteragtige’ uit nie? En bied 'n aansluiting by die gemeenskapsgedagte 'n antwoord hierop?

Danie Goosen is professor in godsdienswetenskap aan Unisa, voorsitter van die FAK-direksie, en lid van die direksie van AfriForum.   

Soos altyd, by Café Riche | Kerkplein 2, Pretoria.

Volg ons op Twitter en neem aanlyn deel aan die gesprek: @Filosofie_Kafee met die tema #Gemeenskap.

Parkering in Parlementstraat, vanuit Pretoriusstraat. 

Kontak Lamé Ebersöhn  - oopgesprek@filosofiekafee.co.za.



Verligting en Tragiek

Kontingensie, of noodsaaklikheid, in moderne samelewing



Daar heers ’n toutrekkery tussen twee maniere om met die werklikheid om te gaan in die Westerse denktradisie; ’n toutrekkery wat veel ouer en veel meer fundamenteel is as die ewige pseudo-debat tussen die pseudo-religie en die pseudo-wetenskap. Dit is die onderskeid tussen Verligting en Tragiek.


 

Ware beskawing, soos Aristoteles dit gesien het, is ’n interspel tussen tragedie en verligting, skryf Louise Mabille.

 

DIE TWEESPEL VAN BESKAWING


Die verskil tussen die twee kan ten beste verduidelik word aan die hand van die filosofiese begrip ‘kontingensie’. In streng filosofiese terme kan die begrip kontingensie gekontrasteer word met ‘noodsaaklikheid’. Noodsaaklike waarhede is die groep (gewoonlik abstrakte) waarhede wat nie weerspreek kan word nie. Dit behels waarhede soos die feit dat ’n vierkant vier hoeke het, of dat twee parallele lyne nooit kruis nie. Hierdie waarhede is gewoonlik toutologies (selfverwysend) en vanselfsprekend, en word dikwels in die wiskunde en formele logika aangetref. 

Kontingensie kan in verband gebring word met die meer toeganklike begrip van ‘toeval’. Dit verwys na waarhede wat toevallig so is, bv dat ’n mens vyf vingers en vyf tone aan elke hand en voet het. Daar is niks wat sê dat dit so moet wees nie – Marilyn Monroe het byvoorbeeld ses tone aan een voet gehad, en dit het haar nie minder menslik gemaak nie. 

Behalwe vir ‘toeval’ kan kontigensie ook met gebeurlikheid in verband gebring word: die warboel feite, voorwerpe, emosies, posisies, verhoudings en lewens waarmee elke mens bedags gekonfronteer word. Dit is die raamwerk van wêreldse gesitueerdheid wat menslike bestaan moontlik maak. Van die mees fundamentele eienskappe van menslike bestaan is die feit dat die mens uitgelewerd staan aan hierdie wêreldkondisie. Nie alleen is die mens se bestaan eindig nie, dit is ook onderworpe aan veranderlikheid, en wat ons ’n epistemologiese tekort kan noem: die tweebeendier kan nie deurdring tot die mees fundamentele waarhede oor óf die heelal, óf oor hom of haarself nie. Dit is die mees fundamentele aspekte van die menslike toestand. 

In die Weste het daar basies twee maniere ontstaan om sin te maak van kontingensie en die menslike uitgelewerdheid daaraan. Die mees voor die hand liggende manier vir die moderne mens is om sy rede in te span. Sedert die Griekse Verligting van die sesde eeu V.C. het ’n gees van optimisme begin posvat dat die rede of ratio gebruik kan word om die mens meer tuis te laat voel in sy/haar gesitueerdheid. Die sleutel daarvoor was natuurlik kennis. Die vroeë Griekse φυσιόλογοι (fisiologoi) was die eerste denkers wat die wêreld in fisiese, natuurwetenskaplike terme beskryf het. Dit het begin met Thales  - van die Ioniese skool, wat gesê het dat water die oorsprong van alles is – iets wat in ’n waterarme land soos Suid-Afrika nogal sin maak. Die Ioniese Verligting het natuurlik verder deur die Griekse skiereiland beweeg tot en met die hoogtepunte bereik deur Sokrates, Plato en Aristoteles wat almal oor een ding saamgestem het, naamlik dat die rede die werklikheid kon begrond, of dit nou te vinde is in vorms of gemene delers. Filosofie self het haar oorsprong in ’n geloof in die rede om sin te maak van ’n mensonvriendelike werklikheid. Deur die eeue het die filosofie en die natuurwetenskappe ’n optimime oor die denke gedeel - ’n optimisme wat vandag nog te vinde is in die eindelose pogings van die Anglo-Saksiese tradisie om tog net ‘n ‘rasionele taal’ te vind wat die werklikheid woord vir woord kan uitbeeld. Verligtingsdenke verklaar pyn, ongeluk en lyding in terme van ’n gebrek aan kennis en is gewoonlik aan ’n progressiemodel gekoppel. Toe Descartes se dogtertjie oorlede is, het hy homself getroos met die gedagte dat die mens eendag die dood self deur die korrekte aanwending van die natuur kon oorkom, en sy grootste smart was dat hy nie geleef het in die tyd toe dit moontlik geword het nie. Spinoza het die begrip kontingensie in sy geheel verwerp, en voorgehou dat as die werklikheid onregverdig of pynlik voorkom, die rede net beter toegepas moet word. 

Pyn en lyding is dan ook een van die groot stukragte agter die opkoms van die rede. Mary Shelley se beroemde wetenskapsfiksieverhaal, Frankenstein, sien dan ook die rede vir die dokter se eksperimente as ’n poging om die dood  - en die pyn wat daarmee saamgaan - te oorkom. Victor Frankenstein is eintlik ’n personifikasie van die Cartesiaanse ideaal. ’n Ouer woord wat ook met kontingensie verband hou, is natuurlik die noodlot. Volgens die verligtingsideaal kan kennis die noodlot tem. ’n Mens moet net slim en presies wees, en die natuur noukeurig observeer. Dit is die domein vir die teoretiese mens, die theoreos, wat dinge op ’n afstand beskou, onder die vergrootglas plaas en ’n skerp lig daarop laat skyn, dus die Ver-lig-ting. 

Die Verligtingsideaal het die Weste vir altyd vervorm, en die rasionele houding het baie gebied. Niemand ontken die voordele wat die mediese wetenskap gebring het, en groot tegniese prestasies soos die uitvinding van elektrisiteit (wie sal daarmee stry – dankie aan Franklin en Edison!) het die wêreld ’n makliker plek gemaak om in te bly. 

Maar steeds moet ons met die digter saamstem: ‘die wêreld is ons woning nie’. 

Die rede daarvoor kan gevind word in die feit dat die mens, ten spyte van die tegniese buffer (Gestell) wat hy tussen hom of haarself en die werklikheid bou, steeds uitgelewer is aan kragte waaroor hy of sy weinig beheer het. Descartes, byvoorbeeld, was verkeerd - daar is baie meer aan die dood as bloot net ’n gebrek aan kennis. Meer as ’n duisend deure loop daarop uit.

Dit bring ons by die ouer manier om die menslike toestand te verwoord, en dit is die tragedie, of die tragiese lewensuitkyk. Dit is veel meer as net ’n genre waar die held of heldin ondergaan; dit is ’n estetiese meditasie oor menswees. Waar die Verligtingsmens homself as ’n denkende subjek sien teenoor ’n objektiewe wêreld, is die tragiese self ingebed in ’n komplekse kosmiese orde wat groter as haar- of homself is. In hierdie wêreld moet die handelende self versigtig met die werklikheid omgaan om die grense wat deur God, die natuur, of omstandighede getrek is nie te oorskry nie. Volgens Nietzsche was dit die sterk punt van die ou Attiese tradisie - ’n Griekse tradisie wat ouer is as die rede waarna ons reeds verwys het, en terugstrek na selfs die orale tydperk. Figure soos Oedipus, Orestes en Antigone, en die dramas wat rondom hulle gebou is, vertel bo alles vir die toeskouer - wat nou nie bloot ’n afsydige toeskouer is nie, maar deel van ’n gehoor wat in die verhaal ingetrek word - dat die lewe, ten spyte van ons uitgelewerdheid aan die noodlot, steeds wonderlik is, en esteties verwoord kan word. Ware tragedie vertel nooit ’n morele lessie nie. Nietzsche sou ’n weersin gehad het aan Thomas Bowdler, die agtiende eeuse sensor wat aangedring het dat Koning Lear ’n gelukkige einde moet hê! Anders as die rasionele subjek, vind die tragiese held of heldin nie sommer antwoorde nie, dit word deur die gebeure, of die kontingente, afgedwing. Daarom kan ons eintlik die tragedie as ‘die gebeure wat handel’ beskryf, eerder as die subjek. Bestaan is nie meer so objektief as wat die geval is met die Verligtingsubjek nie, die self ondergaan eerder die werklikheid as om dit te verklaar. Die tragiese besoek die donker hoeke waar die lamplig nie val nie. Terwyl Sokrates van die Symposium in wind en weer buite staan, deur sy rede gepantser teen die koue op ’n Stoïsynse manier, staan Koning Lear uitgelewer aan die elemente gedurende ’n storm in ’n onbeskermde veld, verlaat deur sy dogters en sy goeie oordeel. (Maar natuurlik, net soos Bartho Smit se Keiser, nie sonder sy hofnar nie).

Ware tragiek het weinig met konvensionele geregtigheid te doen. Oedipus, Antigone en Orestes is nie een moreel skuldig aan wat met hulle gebeur nie, tog wys hulle verhale, anders as die Verligtingsideaal, dat teëspoed wel ’n deugdelike mens kan besoek. Iemand wat die stelling sou waag dat Macbeth sy dood sou ‘verdien’, het ook nie ’n idee wat tragedie werklik is nie - dit wys eerder dat daar ’n groter kosmiese orde is waaroor Macbeth geen beheer het nie. Maar meer nog, dit wys ook dat die mens van al die elemente van sy of haar lewe kan sin maak - en bo alles, dat groot kuns ook negatiwiteit benodig om werklik trefkrag te hê - Polanski se Macbeth (die ‘bloedige’ Macbeth[i]) het nou eenmaal meeer trefkrag as Bowdler s’n. So ook, sou dit bloot Hollywood wees as Koki, Van Wyk Louw[ii] se held in Raka, nie ondergaan aan die einde nie. 

’n Mens moet egter nie die fout maak om te dink dat die tragiese al is wat ons nodig het, of dat ons ons moderniteit moet verruil vir uitgelewerdheid ten einde meer outentiek te wees nie. Daar is goeie denkers en skrywers in elke tradisie: rasionele, wetenskaplike skrywers en sosiale realiste wat die wêreld toeganklik maak, maar ook goeie skrywers wat die wêreld as ’n onsinnige warboel beskryf. Die redenasie bestaan dat die tragiese hom veral tans in die gruwelgenre manifesteer. Thomas Ligotti byvoorbeeld, beskryf die werklikheid as ’n groot ‘sameswering teen die mensdom’. Soos baie skrywers van die kontemporêre Gotiese, het hy ’n siniese uitkyk op die lewe, net soos sy voorgangers H.P. Lovecraft en Edgar Allan Poe. Plaaslik is daar natuurlik van die verhale van C.J. Langenhoven(!) en Herman Charles Bosman wat ’n vreemdheid tussen die humor oproep. Sy uiteindelike posisie is eintlik heel ontstellend, as ’n mens werklik daaroor nadink: dit staan bekend as anti-natalisme, of die doktrine dat dit beter is om nie gebore te wees nie, omdat die lewe vol pyn en onverstaanbaar is, en dat die goeie nie die slegte in die wêreld regverdig nie. Ligotti het onlangs prominent geword omdat sy idees ’n groot invloed uitgeoefen het op die Suid-Gotiese reeks ‘True Detective’. Lovecraft is iemand wat nie so bekend is in die hoofstroom-letterkunde nie, maar het ’n sterk kultusgevolg, veral onder die meer denkende gruwelleser. Interessant egter is dat Michel Houellebecq, ’n skrywer goed bekend aan gereelde Café Riche-gangers, beweer dat Lovecraft een van sy grootste invloede is. Houellebecq is natuurlik ’n aarts-sinikus en word ook by die anti-natalistiese tradisie ingesluit. Plaaslik is dit natuurlik David Benetar van UCT wat ’n anti-natalistiese posisie op utilitaristiese gronde verdedig – dit sou volgens hom selfsugtig wees om voort te plant, omdat dit pyn in die wêreld bring. So ’n oordrewe rasionalisme - en ’n voorbeeld van wat gebeur as die Verligtingsideaal tot sy rasionale uiterste gedryf word, spring egter terug op homself: as sy voorstel om nie voort te plant nie werklik gevolg word, sal daar nie meer ’n subjek wees wat die vraag kan vra, of ’n leser - om Derrida se poskaartmetafoor te gebruik - wat sy boodskap sal kan ontvang nie. Ons het nie hier met ’n tragiese insig te make nie. Op die oog af lyk dit nogal op die wysheid van Silenius - Midas se bête noir wat hom meedeel: ‘Lydende wese, eendagsvlieg, die beste vir jou is nie bereikbaar nie. Die beste van alles is om nie gebore te word nie, en die tweede beste is om gou te sterf’. (Die Geboorte van die Tragedie, III, my vertaling). Soos duidelik uit die anti-natalistiese tradisie, kan tragedie alleen nie wysheid bring nie. Ware beskawing, soos Aristoteles dit gesien het, is ’n interspel tussen tragedie en verligting. Ons as mense moet al die hulp en insig gebruik wat tot ons beskikking is. Ons het dit werklik nodig.


[i] Kyk uit vir die nuwe Macbeth later vanjaar in die rolprentteaters – ‘n eg Skotse weergawe.
[ii] Ek bevel graag Andre P Brink se Orde en Chaos aan vir verdere lees.