TEMA: Van ekonomistifikasie na die ekonomie van kosbaarheid

SPREKERHercules Boshoff

 

In ‘n tydsgewrig waarin tegnologie en verbruik beloftes van selfoptimalisering aanbied, blyk dit– soos die ekonoom Dawie Roodt beweer, dat ons nie meer politieke wetenskappe en ander sagte wetenskappe vir ‘n florerende samelewing benodig nie. Uit die yl aanbod van geesteswetenskaplike vakke by privaatinstellings in Suid-Afrika blyk dit dat ander invloedryke rolspelers hierdie sentimente deel. In die gesprek gaan die teendeel beweer word, naamlik dat ‘n ekonomistiese ingesteldheid ‘n verengde ekonomie skep, wat nie meer bestand word teen ideologie nie, maar juis meer vatbaar daarvoor. Hierteenoor gaan ek aan die hand van die tema van kosbaarheid ‘n ruimer begrip vir die ekonomie daarstel wat nie gerig is op die bestuur van voorafbepaalde uitkomstes uit toegepaste opvoeding nie, maar dialogiese instemming tot die kernaspekte van ons menswees in die wêreld aanmoedig. 

IEDEREEN IS WELKOM!

http://filosofiekafee.blogspot.com

Dr Hercules Boshoff is gebore in Vereeniging waar hy ook grootgeword het. Na skool het hy in Londen gaan werk en het daarna teologie en filosofie studeer eers aan UP tot by M vlak, en daarna ‘n PHD by UFS, en ‘n Postdoc by PUK. Met hierdie studies het hy onder van Nederland se mees vooraanstaande filosowe navorsing gedoen met uitruilprogramme. Hy het doseer aan Akademia in Centurion waar hy die vakhoof van filosofie en besigheidsetiek was, en is tans studieleier en navorser by verskeie instellings, insluitend Stadio die Universiteit van Stellenbosch. Hy is ook medewerker by die Instituut vir filosofie en die samelewing.

Hy was eens ‘n ywerige tennisspeler, maar is vandag slegs ‘n waarderende kyker. Hy stap graag en soek nog ‘n goeie latynse dansklub om by aan te sluit rondom Stellenbosch.  

Datum: Vrydagaand 24 Julie 2026

Tyd: vanaf 6nm – 10nm

Plek: Atkv Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, WELLINGTON.

Bespreek asb by Lamé +27828951139 / oopgesprek@filosofiekafee.co.za.

Toegang: R150pp sluit ‘n welkomsdrankie in.

Betaal asb met dié verwysing W24/07  en jou naam by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee



 



TEMA: Ode aan die Mensdom, Sophocles, Antigone, 332-375.

SPREKER: Danie Lombard.

‘n Sentrale koorlied in Sophokles se Antigone besing die voortreflikheid van menslike tegnologiese prestasies, maar ook die gevaar wat daarin geleë is. Hierdie ode is deur filosowe soos Hegel en Heidegger opgeneem en geïnterpreteer, en dit open ook Hans Jonas se werk ‘Das Prinzip der Verantwortung’. Hegel en Heidegger poog om die betekenis van die lied in nadenke op die aard en bestaan van die mens toe te pas; Jonas beklemtoon die tematiese aktualiteit daarvan. Die huidige bydrae is beperk tot 'n meer beskeie poging om die lied en sy posisie in die tragedie te interpreteer en genoemde vertolkings krities te evalueer. Daarna sal dit hopelik ’n gesprek onder ons stimuleer oor die voortdurende aktualiteit van die Sophokleïese lied in die lig van kernnavorsing en KI.

Danie Lombard het in Freiburg i.Br. onder die Plato-kenner Hermann Gundert gestudeer en gespesialiseer in die neerslag van voorsokratiese denke in die tragedies van Euripides. Sy latere navorsing het ook die antisipasie van Platoniese etiek by Euripides belig. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika was hy uiteindelik Hoof van Klassieke by Unisa. Hier het hy sy navorsingsgebied uitgebrei na mondeling oorgelewerde digkuns, aangesien isiZulu-prysgedigte ’n lewende laboratorium bied vir ’n vergelykende ondersoek na die voorskriftelike mondeling-poëtiese tegnieke wat ook die grondslag vorm van die oudste Westerse narratiewe epos, die Ilias en die Odysseia. Hierdie werk het neerslag gevind in Duitse klassiek-filologiese en volkskundige publikasies. Weens sy kennis van akkulturasie is hy by UP se Fakulteit Gesondheidswetenskappe betrek as mentor en kontekstuele tutor.

IEDEREEN IS WELKOM!

http://filosofiekafee.blogspot.com

Filosofiekafee


Datum: Saterdagoggend 30 Mei 2026

Tyd: vanaf 9vm – 12nm

Plek: PROE(voorheen PRONK), Afriforum Teater, Greenlyn Village-sentrum, Menlo Park, Pretoria.

Bespreek asb by Lamé +27(0)828951139 / oopgesprek@filosofiekafee.co.za.

Toegang: R150pp sluit ‘n kontinentale ontbyt in.

Betaal asb met dié datum P30/05  en jou naam by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee


 TEMAIs politieke ideologie 'n sinvolle manier om idees te orden, maar 'n swak manier om mense en gemeenskappe te verstaan?
SPREKER: Daniël Eloff.

Die gesprek vertrek vanuit die vraag of politieke ideologie vandag nog help om die wêreld sinvol te verstaan, of eerder dien as ’n gerieflike manier om mense en gemeenskappe te reduseer tot eenvoudige etikette. Terwyl ideologie dikwels ’n nuttige raamwerk bied om idees en beleidskeuses te orden, raak dit problematies wanneer dit as ’n morele of identiteitslens gebruik word waardeur mense beoordeel word. In ’n tyd van toenemende polarisasie vra dié gesprek of ideologie werklik begrip verdiep of eerder gesprekke verskraal en verhoudings verhinder.

Die vraag is dus of ideologie ons nader aan realiteit bring of ons juis keer om mense en gemeenskappe in hul volle teenstrydigheid te begryp.


Daniël is in Pretoria gebore en het so op en af met Lynnwoodweg skool en studies voltooi. Hy het ’n LLB en LLM aan die Universiteit van Pretoria voltooi, asook ’n Nagraadse Diploma in Menseregte-litigasie aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Daniël  is ’n toegelate prokureur en dien tans as die Hoofregsadviseur in die kantoor van die Uitvoerende Burgemeester van Kaapstad. 

Verder dien hy  op die direksies van die Foundation for Rights of Expression and Equality (Free SA) en Action Society, asook op die Universiteit van Pretoria se Konvokasieraad.

Hy  is 'n medestigter en redakteur van die aanlyn meningsblad OntLaer.  Hy skryf graag (beide akademies en in meningsblaaie) oor politiek, kultuur en filosofie met ’n fokus op staatsbestuur, vryheid en gemeenskapsdinamika.

‘Ek probeer al my vryetyd met my gesin te spandeer. Ons stap graag saam. Verder lees ek ook graag.’

 

IEDEREEN IS WELKOM!


 

Datum: Vrydagaand 13 Maart 2026

Tyd: vanaf 6nm – 9nm

Plek: ATKV Bôrdienghuis Teater, Breytenbach Sentrum, Wellington.

Bespreek asb by Lamé +27(0)828951139 / oopgesprek@filosofiekafee.co.za.

Toegang: R150 pp sluit ‘n welkomsdrankie in.

Betaal asb met dié datum W13/03 en jou naam by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee