"Herbetowering van 'n onttowerde wêreld: die invensie van 'n sinvolle bestaan"-Prof Fanie de Beer


In hierdie gesprek word besin  oor die begrip wêreld, die gebruik daarvan, die sin daarvan, die geldigheid en omvang daarvan terwyl die moontlike diepgaande aard daarvan ondersoek word, asook die aannames wat daaroor geld en ‘n antwoord op die vraag ‘in watter wêrelde lewe ons?’ gesoek word en waarin veral die verband tussen wêreld-  en sinskepping bespreek word.
Hierbenewens word  die onttowering van die wêreld bespreek , die vanselfsprekendhede wat dit huisves, die faktore wat dit verwesenlik, die onvermydelikheid daarvan en die uitdaginge wat dit bied en in hoeverre dit eweneens ons mense se maaksel is en die mate waartoe die onttowering sinverlies en nihilisme verwesenlik en die wêreld onleefbaar maak.
Sou die herbetowering (skepping, maakbaarheid) van of die luisterverlening aan hierdie wêreld  ‘n geldige en haalbare en noodsaaklike opsie wees wat ook die skepping en invensie van sin verwesenlik? Indien wel wat sou die verwagtinge wees? Waarop sou die klem moes val en sou dit wel, soos sommige aandui, die karakter van ‘n stryd moes aanneem ten einde wêreldskepping en sinvervulling te verwesenlik? 

Fanie de Beer (CS) is Emeritus Professor van die Departement Inligtingkunde, Universiteit van Suid-Afrika en is tans Buitengewone Professor in Inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy het gegradueer in Landbou en Filosofie (doktorale werk) aan die Universiteite van Pretoria en Parys X, Nanterre, Frankryk, onderskeidelik. Hy doen tans ekstensief navorsing en publiseer oor die volgende temas: die Filosofie en teorie van inligting in die wydste sin van die woord, met besondere klem op die individuele en sosiale implikasies van inligting; navorsingsmetodologiese uitdagings; filosofieë en teorieë van tegniek en tegnologie; kennisinvensie, -disseminasie, -benutting en -bestuur; lees- en interpretasieteorieë en die bestaande geletterdheidsnood; en oor die her-invensie van menslike spiritualiteit, noölogie en die gees van ons tyd.


31 Augustus 2012 vanaf 19:30
Soffkamer:
Café Riche, Kerkplein 2, Pretoria.
rsvp : 012 328 3173 of caferiche@kerkplein.co.za
R65 per persoon (sluit aandete in)