Huldeblyk:
Rudi Visker (22-08-1959, Leuven – 16-10-2026, Leuven): Die ongemak van singulariteit en intersubjektiwiteit
Met die dood van Rudi Visker het die Nederlandstalige filosofie een van die mees markante, oorspronklike en uitdagende denkers van die afgelope paar generasies verloor. Hy het lank met ernstige gesondheidsprobleme geworstel, wat sy aktiewe loopbaan in die fleur van sy lewe beëindig en sy briljante denkwerk voortydig kortgeknip het. Hy is op Vrydag 16 Oktober in sy slaap in Leuven oorlede aan komplikasies weens longontsteking.
Ons vriendskap dateer uit 1995, toe ek as besoekende navorsingsgenoot ’n jaarlange studieverblyf aan die Hoger Instituut voor Wijsbegeerte (HIW) van KU Leuven gehad het. Rudi was toe ’n jong dosent; later het hy hoogleraar geword en ’n leidende figuur aan die instituut, onder meer as redakteur van die internasionaal hoog aangeskrewe Tijdschrift voor Filosofie.
Ek sal Rudi onthou vir sy intellektuele onverskrokkenheid, sy skerpsinnigheid en die ongewone vriendskap — ’n vriendskap wat nooit vanselfsprekend was nie, telkens opnuut verras het — wat oor meer as drie dekades tussen ons gegroei het. Sy eerste besoek aan Suid-Afrika was op my uitnodiging in 1999. Daarna het hy by meer as een geleentheid, byna jaarliks, as besoekende hoogleraar aan die filosofiedepartemente van die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria opgetree en sodoende ’n wye en waarderende vriendekring binne die Suid-Afrikaanse filosofiegemeenskap opgebou.
Visker was ’n kompromislose denker, genadeloos skerpsinnig en altyd in staat om sy gespreksgenoot met priemende vrae en ’n kritiese blik vanuit ’n onverwagse hoek te ontgogel. Hy het ’n foutlose sintuig gehad vir die nog ongedagte, die ondeurdagte of selfs die tot dusver ondenkbare in sy gespreksgenoot se gedagtegang. Dit kon hy dan tot onderwerp van ’n eie filosofiese verkenning maak, maar op so ’n geesdriftige en meesleurende manier dat ’n mens jou graag deur hom laat meevoer het.
Hy was bekend en gerespekteer — soms selfs heimlik beny of verkwalik — vir sy oorspronklike en onvoorspelbare intervensies tydens vraetye en besprekings by filosofiese konferensies en studiedae. As daar iets soos die filosofiese ekwivalent van ’n vuurwerkvertoning is, dan was dit dít: Visker op sy Viskeriaans, spontaan improviserend, sonder ’n enkele nota op papier of ’n asempouse tussen komplekse gedagtekonstruksies, besig met ’n ikonoklastiese kragtoer wat sy gehoor verbluf gelaat het.
Hy was eweneens ’n uitmuntende dosent, maar ’n veeleisende leermeester. Heel tipies van sy moedswilligheid het hy sy nagraadse seminare op Vrydae van vyfuur smiddags tot agtuur saans geskeduleer — in die koue, donker wintertyd in Leuven boonop — en die getal deelnemers beperk. Nogtans het studente tougestaan en op waglyste beland om dit te kon bywoon. Die ontbering en opoffering was dit kennelik werd!
Hierdie teendraadse durf en astrantheid het ook sy filosofiese werk gekenmerk. Visker het hom nie tot die interpretasie van ander denkers beperk nie, hoewel hy die oeuvres van filosowe soos Heidegger, Levinas, Merleau-Ponty, Lévi-Strauss, Foucault, Lacan, Derrida en Rorty in diepte geken en meesterlik beheers het. Hy het met hulle én teen hulle gedink, hul denke van binne af ondersoek en juis daar waar dit begin knars, nuwe vrae oopgebreek.
Dit blyk reeds uit sy vroeë werk oor Michel Foucault, Genealogie als kritiek (1990), gebaseer op sy proefskrif onder leiding van die legendariese Samuel IJsseling, wie se leerstoel hy later beklee het. Daarin ondersoek hy die moontlikhede en interne spanninge van genealogiese kritiek. Sy vraag was nie bloot hoe Foucault die historiese en magsgebonde voorwaardes van kennis blootlê nie, maar ook hoe so ’n kritiese metode self filosofies verantwoord kan word wanneer dit op sy eie uitgangspunte en kritiese aansprake toegepas word.
In Truth and Singularity: Taking Foucault into Phenomenology (1999) voer Visker die gesprek tussen Foucault se (post)strukturalisme en die fenomenologiese tradisie verder. Teenoor die destyds gangbare opvatting dat hierdie twee benaderings onversoenbare alternatiewe verteenwoordig, ondersoek hy die kruispunte én spannings tussen hulle, veral met betrekking tot waarheid, eindigheid en die onherleibare singulariteit van die subjek.
Hoe verstaan ons onsself as konkrete, eindige wesens wanneer ons selfbegrip — individueel sowel as kollektief — deur taal, geskiedenis en ons verhouding tot ander gevorm word? Waarna verwys ons wanneer ons van die singulariteit van die self, die ek, die subjek praat? Is dit ’n leegte, ’n leemte, ’n verleentheid, ’n gespletenheid, ’n toedekking of vermomming, ’n masker — of juis ’n oneindigheid, ’n teken sonder betekenaar of betekende? Hoe kan ons daaroor praat sonder om dit meteen weer te verskraal tot gedeelde begrippe en algemene waarhede, en sodoende geweld aan te doen, dit te verraai of onsself te bedrieg?
Vrae soos hierdie — vrae wat draai om die klassiek-fenomenologiese problematiek van die (on)moontlikheid van intersubjektiwiteit — loop deur in sy latere denke oor andersheid, identiteit en multikulturaliteit. In Vreemd gaan en vreemd blijven (2005) ondersoek hy die spanning tussen die erkenning van kulturele verskille en ons neiging om die vreemde binne ons eie begripsraamwerke toe te eien en sodoende die andersheid daarvan tot ons eie terme te reduseer. Die Nederlandse uitdrukking vreemd gaan verwys ook na ontrou in ’n liefdesverhouding, na owerspel. Visker kies hierdie titelwoordspeling doelbewus: die konnotasie van ontrouheid resoneer ook in ons verhouding met onsself, met die vreemde in onsself en, des te meer, in ons ontmoeting met die vreemde van en in die Ander — die vreemdeling, die vriend, selfs die beminde. In al hierdie verhoudings kan kwade trou en selfbedrog ons op ’n dwaalspoor bring indien ons nie die onvanselfsprekendheid van ons verhouding tot die vreemde onder oë sien nie.
In The Inhuman Condition: Looking for Difference after Levinas and Heidegger (2004) verken hy hierdie problematiek ook op ’n fundamenteel-filosofiese vlak. Die Ander is nie bloot iemand wat van ons verskil en wie se andersheid ons met genoeg welwillendheid kan aanvaar of verdra nie. Aanvaarding en verdraagsaamheid kan juis ’n gerieflike onverskilligheid verbloem. Die ontmoeting met die Ander, waarin ons onsself vir die Ander oopstel, konfronteer ons met die grense van ons eie selfverstaan en bestaan, met die aporieë van ontmoeting, die onmoontlikheid van volkome eenwording of versmelting, en die weerbarstigheid van sowel ons eie eindigheid as die singulariteit van die Ander.
Met sy dood verloor ons nie net ’n oorspronklike en invloedryke filosoof nie, maar ook ’n denker wat ons nie toelaat om te maklik met onsself en ons eie oortuigings vrede te maak nie. Ek het ’n vriend verloor wie se denke my telkens uitgedaag het en wie se intellektuele onverskrokkenheid ek bly waardeer. Sy werk laat ons met ’n vraag wat steeds ongemaklik én noodsaaklik bly: Hoe kan ons die Ander tegemoetgaan sonder om die andersheid van die Ander uiteindelik in ons eie terme te laat verdwyn?
WL (Willie) van der Merwe
Emeritus professor in Godsdiensfilosofie, Vrije Universiteit van Amsterdam
Buitengewone professor in Filosofie, Universiteit van Stellenbosch
