“Is daar ‘n verband tussen seerowery en hongersnood? - ‘n kyk deur Somalië se lens”-Prof Maxi Schoeman




Hongersnood, seerowers, terroriste en oorlog - Afrika - én die wêreld- deur die lens van Somalië
Teen die agtergrond van die burgeroorlog in Somalië, en die land se reputasie as 'n veilige hawe vir terroriste, ondersoek Maxi die huidige hongersnood waardeur die land geteister word, en kyk na 'n moontlike verband tussen die hongersnood en seerowery. Sy argumenteer dat die Somaliese krisis 'n mensgemaakte tragedie is waarin buurlande en ander internasionale rolspelers, en spesifiek die VSA, 'n groot aandeel het. Suid-Afrika se (potensiële) rol om hulp te verleen en 'n oplossing te vind, word ook onder die loep geneem.

Kom neem gerus deel aan hierdie gesprek in ‘n gasvrye omgewing en ontmoet mede redenaars.
rsvp 012 328 3173 (Dricky vd Merwe)
oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Terugberig: Hoe skryf ons Suid-Afrika se Geskiedenis?




Geskiedenis gaan nie alleenlik oor die verlede nie, maar stel ons ook in staat om die verlede, teenswoordige en die toekoms met mekaar te verbind. Dit help ons verder om te verstaan waarheen ons op pad is.

Daar is drie scenarios:

1. Wanneer mens leef binne ‘n gemeenskap wat ontwikkel en vooruit beur
2. Wanneer die gemeenskap ‘n stabiele gang gaan
3. Wanneer die gemeenskap besig is om te verval

Hoe langer die geskiedenis gedokumenteer is, hoe beter is mens se begrip van wat presies in die verlede gebeur het. Hoe minder dokumentasie bestaan, hoe moeiliker is dit om jou weg te vind. Die het implikasies vir die “rakleeftyd” van ‘n betrokke stuk geskiedenis. Goeie geskiedenis het ‘n langer rakleeftyd as slegte geskiedenis! In die geval van suider-Afrika het ons ‘n baie kort gedokumenteerde geskiedenis, ten spyte van die feit dat ons na onsself, in die lig van ons lang argeologiese erfenis, as die wieg van die mensdom verwys.

Ons lewe binne ‘n gemeenskap waar meeste Suid-Afrikaans half-geletterd is. Dit was vroeër die geval en is vandag nog waar. Nasionalistiese regerings hou die sistemiese verwaarlosing van geletterdheid in stand. In ons geval vind die oordrag van historiese kennis meesal mondelings plaas. Hierdie soort populêre, demokratiese geskiedenis is nie presies en streng van aard nie. Binne hierdie multi-kulturele en veelrassige land bestaan daar vele gemeenskappe. Oral ter wêreld is dit gebruik dat die heersers geskiedenis gebruik om kulturele herkoms te verheerlik. Binne ‘n gefragmenteerde land soos Suid-Afrika is die situasie moeilik. Die heersers is op soek na helde wat dié gedeelte van die geskiedenis wat hulle graag onthou, verpersoonlik. Historici is lugtig wanneer hulle gekonfronteer word met die mantra van “my geskiedenis” of “nasiebou.” Geskiedenis word deur nasionaliste beskou as ‘n kommoditeit wat deel uitmaak van nasionale politiek.

Die huidige Suid-Afrika aspireer daarna om ‘n slegte staat te wees, maar kry dit nie reg nie! Afropessimiste is verkeerd in hulle siening van Suid-Afrika, aangesien hulle eintlik te optimisties is. Die chaos gaan nie beëindig word nie. Geskiedenis het nie ‘n spesifieke afsnytyd nie. Die Suid-Afrikaanse staat is te sterk om te faal, maar terselfdertyd te swak om ‘n sukses te kan wees.

Geskiedkundiges ontwikkel ‘n stel reëls wat hulle help om die rakleeftyd van hulle geskiedenis te verleng. In hierdie verband verwys prof van Onselen na sy eie reëls:

Eerstens is daar die illusie dat elke land se geskiedenis eiesoortig is. Om jou eie geskiedenis as buitengewoon te wil sien, kan tot waansin lei.

Verder moet ‘n mens nie ‘n gevangene word van geografiese determinisme nie. Nasiestate is menslike skeppings en nie goddelike waarhede nie. Geografiese grense behoort nie nie jou verbeelding aan bande te lê nie. Dit is waarom die gesprek oor plaaslike geskiedenis eerder oor suider-Afrika as net Suid-Afrika moet handel.

Die geskiedkundige het die moeilike taak om ‘n balans te handhaaf tussen ‘n weergawe van die reële, komplekse aard van geskiedenis en ‘n duidelike, samehangende interpretasie daarvan.

Daar behoort samehang te bestaan tussen die verlede en die hede wanneer mens spesifieke vraagstukke bestudeer.

Alles na afloop van 1945 kom neer op ‘n studie van joernalisme of sosiologie.

Die wortels van geskiedenis gaan terug na ‘n periode toe digkuns en historiese oorsprong nou verweef was. Geskiedenis is gevolglik halfpad kuns, en halfpad wetenskaplik van aard.

Geskiedskrywing behoort duidelik te wees en die gehoor te interesseer sonder dat enige kompleksiteit in die gebeure prysgegee word.

Klasverskille gee ‘n universele karakter aan menslike ervarings. Wanneer kleur te sprake kom, beweeg mens te na aan ‘n situasie waar ‘n spesifieke groep se geskiedenis as “buitengewoon” gesien word.

Skeptisisme behoort gehandhaaf te word teenoor alle inligting wat uit staatsoorde bekom word. Hierdie amptelike bronne behoort op ander wyses aangevul te word.

Geskiedkundiges behoort amptelike publikasies, “goedgekeurde” biografieë of enige ander opdragte van die staat te vermy. Indien hulle sulke werk aanvaar, word publikasies gelewer wat geen rakleeftyd het nie.

Lydia van Eeden