Terugberig: Só het die burgers saam gepraat!




Op Vrydag 25 September 2009 het die maandelikse FilosofieKafee van die gebruiklike Café Riche-perseel na die Tukkie-kampus verskuif. Die debat het tydens die Woordpoort-fees op die kampus plaasgevind. Daar was ’n feestelike atmosfeer by die universiteit, met vele nuuskieriges wat van een opvoering na die ander geswerf het.

By Burgundy’s in die Klubsaal het die FilosofieKafee-gangers reggeskuif vir luister en gesels...

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van Afriforum, het tydens die byeenkoms kommentaar gelewer op die plig van die burger om by die openbare debat betrokke te raak. Dit volg op die onlangse polemiek in die pers oor blanke Suid-Afrikaners se reg al dan nie om betrokke te raak by die debat in die land.

Volgens Kallie Kriel het ds Nico Smith in sy onlangse Beeld-artikel na voorbeelde verwys van wat kan gebeur as ’n minderheidsgroep wel sy stem verhef, met noodlottige gevolge. Hier in Suid-Afrika is ons egter omring deur voorbeelde van wat kan gebeur as mens nie praat nie. Zimbabwe is een so ’n geval.

Afrikaners het sedert die bewindsverandering in 1994 óf die land verlaat, óf na binne geëmigreer. Om kwaad te word rondom braaivleisvure het geen impak op die openbare debat nie. Die gevaar bestaan dat as ons nie deelneem aan hierdie debat nie, Suid-Afrika ’n soort Zimbabwe kan word waar daar nie voldoende alternatiewe stemme is om die demokrasie in stand te hou nie. Ons het ’n verskeidenheid van stemme hier nodig, asook ’n veelheid van benaderings.

Afriforum het die weg van aktivisime ingeslaan. Aktivisime kan op ’n gesofistikeerde wyse bedryf word. Dit is belangrik om in deelname aan die openbare debat die morele hoë grond te behou. Mens moet ook jou standpunt internasionaal kan verdedig. Wedersydse respek en erkenning is verder belangrik.

Nico Smith sien Afrikaners egter as tweedeklasburgers wat eerder moet stilbly.

As mens oor ’n magsbasis beskik, beding jy. So nie, bedel mens. Getalle is nie noodwendig essensieel vir ’n magsbasis nie. Ander meganismes kan ook ingespan word. Die reg is so ’n instrument en in hierdie verband het Afriforum die afgelope tyd heelwat reggekry. Dít waarna mens streef, moet duidelik gestel word. So het Afriforum byvoorbeeld met die onteieningswet aan buitelandse ambassades geskryf met positiewe gevolg. Mens kan soms kreatief en onkonvensioneel wees sonder om noodwendig van regsmiddele gebruik te maak.

Ons moet die taal praat wat die magshebber sal verstaan. Dit is belangrik om ’n arogansielose selfvertroue te ontwikkel. In baie van die openbare debatte word meganismes gebruik om mens te sensor. Beskuldigings van rassisme is so ’n voorbeeld. As ons eersteklasburgers wil wees, moet ons genoeg selfvertroue ontwikkel om onsself in sulke situasies te handhaaf en ’n genuanseerde debat te kan voer.


Afriforum gee prakties uiting hieraan deur byvoorbeeld die onlangse regsaak om die Pretoria-skole waarvan die krag afgesny is, te hulp te kom. Wanneer mens met so ’n aksie slaag, kweek dit selfvertroue.

Die organisasie glo dat Afrikaners hulleself binne die konteks van die regering moet kan verwoord, maar parallel hiermee moet selfstandigheid ook bevorder word. Hiervan is Soltech ’n voorbeeld.

Op ’n vraag uit die gehoor oor die gebruik van die term “settlers” ten opsigte van blanke Suid-Afrikaners, het Kallie geantwoord dat ons moet klem lê op die feit dat blankes ook Afrikane is en dat hulle moet verwys na hoe lank terug hulle voorvaders in Suid-Afrika aangekom het.

Louise van Heerden het gemeen dat mens beide protes moet kan lewer en die besluitnemers beïnvloed.

Volgens Hennie de Wet behoort mondige burgers verantwoordelikheid vir hulle woorde en dade te aanvaar. Afrikaners tree onmondig op as hulle nie hul burgerlike verantwoordelikheid aanvaar nie. Mense kyk na organisasies soos Afriforum om op te tree en kom nie hul individuele plig na nie. Daar is ook ’n gebrek aan strategiese denke.

Marius Coetzee wou weet waar hierdie onmondigheid vandaan kom. Kallie skryf dit toe aan die feit dat Afrikaners en hulle organisasies ná 1994 nie meer beskerm was nie, en moes fokus op oorlewing. Aangesien mense nie polities geskool is nie, onttrek hulle hul aan die openbare debat.

Lydia van Eeden wou weet watter rol ’n kollektiewe skuldgevoel in die ontwikkeling van hierdie onmondigheid speel. Volgens Kallie internaliseer Afrikaners nie skuld nie, maar sukkel hulle om hulleself ten opsigte van die verlede te verwoord. Daar is tans ’n totale magsoorwig en blankes moet ’n balans skep om te sorg dat die Algerynse scenario nie hier herhaal word nie.

Op ’n vraag van Elri Schoonbee oor hoe die gemeenskap gemobiliseer kan word om saam te staan, meen Kallie dat sulke mobilisasie rondom spesifieke kwessies moet geskied.

Nog ’n deelnemer aan die bespreking, wat homself eerder as ’n
Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner as ’n Afrikaner sien, het die mening gelug dat opposisiepolitiek mens moeg maak. Daar moet eerder alternatiewe politiek bedryf word. Jongmense wil volgens hom nie baklei nie, maar wel sien dat die land ’n beter plek word vir almal om in te woon.

Hennie de Wet wys daarop dat emigrasie meegebring het dat diegene wat ’n verskil kan maak, reeds landuit is. Die klem moenie noodwendig op baklei wees nie. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog is daar nie gebaklei nie, maar instellings soos Sanlam en Volkskas is geskep. Daar is weer nuwe instellings nodig.

Kallie het die bespreking afgesluit deur daarop te wys dat Afriforum onbeskaamd is daaroor dat hulle ’n Afrikanerorganisasie is. Binne instansies soos die Afrikaanse Taalraad word daar met bruin Afrikaanssprekendes saamgewerk, maar by ander kwessies fokus Afriforum op blanke Afrikaners. Hierdie posisionering is natuurlik, aangesien elke persoon immers oor verskillende identiteite beskik.
Kom dink en gesels saam elke laaste Vrydagaand van die maand!