Morele 'goed' as politieke wapen – Louise Mabille

Miskien het Dostojewski hom misgis. In Die Karamazov Broers wonder die ongemaklike intellektueel Dimitri of die oorgelewerde waarhede oor God, moraliteit en die algemene orde van dinge werklik nog staande kan bly in ʼn siniese, laat-moderne wêreld. Anders as wat die meeste mense dink, is dit nie Dostojewski wat die nou berugte stelling gemaak het dat “as God dood is, is alles nou toelaatbaar” nie. Hierdie eer kom Jean-Paul Sartre toe, wat in L'Être et le néant dit die vraag gemaak het wat menige laataand filosofiegesprek geloods het. Hierdie vraag verskyn ook gereeld in teologiese debatte, veral as die nuwe generasie ateïste hierdie eg-moderne vrees verbete met natuurwetenskaplike argumente probeer besweer. 

Vandag vind ons egter die vreemde situasie dat, soos die Weste al meer sekulariseer, Westerlinge verbete bly vasklou aan ’n woordeskat van die goeie en die bose  – selfs meer so as wat die geval was gedurende die hoogbloei van die Christelike kerk. Kort ná die val van die Berlynse Muur, maak Francis Fukuyama die stelling dat ons meer as ooit tevore behep is met die algehele verwydering van alles wat onaangenaam is, met pyn en diskriminasie bo-aan die lys. Die noodwendige gevolg daarvan is dat wie ook al beskou word as “verantwoordelik” vir hierdie stand van sake, nou met die duiwel self geassosieer word. Dit is ʼn komplekse vraag, maar laat ons kyk hoe dit uitspeel met betrekking tot ʼn onmiddellike politieke voorbeeld, naamlik die konflik in Oekraïne.

 

Een van die opvallendste aspekte van die huidige openbare gesprek in Suid-Afrika, asook in die buiteland, is die woordeskat van die goeie en die bose wat gebesig word. Groepe  of individue – word dikwels met sterk moralistiese terme beskryf. “Moralisties” in hierdie konteks beteken nie dieselfde as “moreel” nie. Dit is wanneer morele goedheid (wat ʼn werklikheid is en aan niemand “behoort” nie) as politieke wapen aangewend word.

Tans word ʼn soortgelyke toon wyd gehandhaaf in gesprekke rondom die Russiese Federasie en sy militêre operasie in Oekraïne. ʼn Onlangse voorbeeld verwys na Rusland en sy “slegte” vriende soos Turkye, Belarus, Eritrea, Sirië, en die twee-en-dertig ander lande wat hulle nie uitdruklik by NAVO skaar nie. ʼn Mens vind dit ook in spekulasies oor hoekom Putin kwansuis so “gewild” by Afrikaners is. 

Hierdie intense morele opposisie, tussen “goeie” demokratiese lande en “slegte” ondemokratiese lande is natuurlik ʼn voortsetting van die woordeskat wat tydens die Koue Oorlog gebruik is, met bv. Reagan se benaming vir die Sowjet-Unie as die sg. Evil Empire. Reagan en Thatcher het egter die kompleksiteit van die Sowjet-Unie goed genoeg begryp sodat ʼn waardige en suksesvolle gesprek mooontlik was met Gorbachev – ʼn dialoog wat wat uiteindelik ʼn positiewe uitkoms gelewer het. Wat interessant is, is dat die gesprek vandag weer gaan draai by die VSA en sy NAVO bondgenote as die onbetwisbare verteenwoordigers van die morele hoë grond. Daar was ʼn tyd ná 9/11 waar akademici en joernaliste graag die skynheiligheid en self-weersprekende diktatoriale tendense van die VSA beklemtoon het. George W. Bush was elke satirikus en intellektueel se gunstelingteiken. Die gesprek het dikwels gaan draai by die blindheid van die Weste en die feit dat Westerlinge geen begrip toon vir kulture wat nie die konvensionele pad na ʼn progressiewe, liberale demokrasie gestap het nie. 

Nou word daar eensklaps egter weer verwys na “Islamistiese terroriste” – wat tot onlangs ʼn doodsonde was. Selfs George W. Bush is blykbaar  gerehabiliteer: hy bied nou klasse in “outentieke leierskap” aan op die platform Masterclass, waar hy kontak het met figure soos Gloria Steinem, Pharell Williams en ander sosiaal legitieme figure.

Hierdie spronge is tekenend van die vermoë om òf  werklik polities òf werklik moreel te dink. Ná die Tweede Wêreldoorlog was twee breë pogings om sin te maak van hierdie verskriklike gebeurtenis en die gruwels van die Joodse Volksmoord. Een manier van dink – wat vandag blykbaar die oorhand verkry het – is om goedheid en boosheid in absolute terme te bedink: die aakligheid van die Joodse Volksmoord moet uit iets heeltemal anders vloei as wat “gewone” mense kenmerk, en elke oppervlakkige teken, wat met “nasionalisme” of “fascisme”  geassosieer word, moet beveg word en met “goedheid” bedek word. Dit is ookʼn houding wat dikwels in gesprekke oor die Afrikaner-verlede voorkom. 

Daar is egter ook ʼn ander manier van dink, wat ironies genoeg met ʼn Joodse denker, wat self amper in Auschwitz beland het, geassosieer word. In haar nadenke oor die oorsprong van totalitarisme het Hannah Arendt juis daarop gewys dat die pogings om net  een “groot verhaal” as legitiem te beskou (selfs die moreel regverdigbares) eintlik aan die wortel van die politieke krisisse van die 20ste eeu gelê het. Pogings van die “goeie” Geallieerdes om die “slegte” Duitsland met reuse skadevergoeding te straf ná die Eerste Wêreldoorlog het juis tot die tweede, erger konflik gelei.

Baie mense dink aan politiek as versorging deur ʼn goedbedoelende regering wat altyd weet wat reg en goed is. Vir Arendt bestaan enige gesonde samelewing egter uit twee sfere: die privaatsfeer van die huis en die hart of die plek van emosie, en die psige, liggaam en die intieme, wat deur velde soos die sielkunde bestuur word. Daar is egter ook die publieke sfeer of openbare sfeer. In die openbare sfeer word ʼn tree teruggeneem van slordige privaat emosies, en die masker van beleefdheid en formaliteit wat opgesit word ten einde ʼn vrye gesprek te kan hê. Hier is selfs mooi privaat emosies soos liefde taboe: dit is die domein van redelikheid, regverdigheid en soveel as moontlik objektiwiteit. ʼn Hof is byvoorbeeld so ʼn domein, maar eintlik behoort alle politieke gesprekke aan hierdie standaard te voldoen. Dit is ook die taak van elke burger om self sy of haar vryheid in hierdie sfeer op te eis en uit te leef.

Arendt wys daarop dat ʼn weergawe van hierdie domein vanaf die Grieke, deur die Middeleeuse koninklike howe, die Renaissance tot by die nederige Engelse pub- kultuur (pub is ‘n afkorting van public) bestaan het. Wat Nazisme so sinister gemaak het, was nie hul propagering van haat nie – dit bestaan maar altyd in een of ander vorm – maar die feit dat hulle die openbare sfeer heeltemal gesluit het. Dit het nie net weerstand ontmoontlik gemaak nie, maar het ook enige ander alternatiewe visie van die werklikheid laat verdwyn. 

Tans dreig ʼn soortgelyke blokkade. Kommentators wat werklik die politiek in die klassieke sin van die woord wil behou en uitbou sal moet besef dat die politiek – net soos die regswese – berus op die openbare sfeer, waar elke perspektief sy geleentheid in die kalklig moet kry. Dit sluit selfs die perspektief van die individu in wat op die oog af die verpersoonliking van boosheid is. Hierdie gedagte, wat deur Voltaire se beroemde uitspraak verwoord is, naamlik “Ek mag dalk nie saamstem met wat jy te sê het nie, maar ek sal jou reg om dit te verwoord tot die dood verdedig” was lank die hoeksteen van die vrye orde. Dit word egter al meer in die kiem gesmoor deur ʼn politiek van goeie bedoelinge. Dit gaan oor baie meer as blote verdraagsaamheid: die moontlikheid moet oopgehou word dat enigiemand – selfs die slegste mens op aarde – dalk ʼn punt beet kan hê. Dit is belangrik om hier by te voeg dat Suid-Afrika se grootste probleem hoogswaarskynlik nie ”haat” is, soos bv. anti-Steve Hofmeyr aktiviste gereeld beklemtoon nie, maar die verval van die redelike gesprek, oftewel die behoud van wat ons kortliks beskaafde gesprekstandaarde kan noem.

Arendt noem die verbreking tussen die openbare en private die opkoms van die sosiale sfeer; die vreemde soort vermenging van die private en die publieke. Dit bied nie die beskerming van die private nie, maar ook nie die vryheid, nugterheid en regverdigheid van die openbare sfeer nie. Sosiale media is die verpersoonliking van hierdie probleem: aan die een kant is dit vol morsige emosionele uitinge, maar aan die ander kant het dit ook ʼn kleingeestige kultuur van aankla en uitskel geskep. Baie politieke kommentaar geskied op hierdie trant. Dit sal die wêreld juis veiliger vir demokrasie maak as kommentators minder op die psige of persoonlike lewens van figure soos Poetin of Trump fokus en na die ware politiek terugkeer. Deur Rusland bloot net as “sleg” te beskou, word daar belangrike moontlikhede misgekyk, soos byvoorbeeld dat ons vandag met ʼn beduidende herrangskikking van mag te make het. Of dat NAVO – wat gedurende die Koue Oorlog gevorm is met die spesifieke doel om Rusland teë te staan – dalk die einde van sy rakleeftyd bereik het. Dalk is dit nie Rusland wat terughunker na die goeie ou dae van die “glorie” van die ou Sowjet-Unie nie, maar onsself wat terugverlang na Reagan se gemaklike beskrywing van die Sowjet-Unie as die Evil Empire. Die wêreld is egter nie ʼn Batman-comic vol helde en booswigte nie, en daar is meer verbonde aan politieke gesprek as morele verdoeming. Bertold Brecht het daarop gewys dat dit nie die land sonder helde is wat bejammerenswaardig is nie, maar juis die een wat helde nodig het wat werklik in die sop is. Ek sou afsluit op ʼn meer sober noot: dit is selfs erger wanneer ʼn land, ʼn  groep, of sy mediaspreukbuise hulself op helde prober beroep wanneer bloot ʼn redelike gesprek heeltemal voldoende sal wees.