TERUGBERIG

deur Riaan de Villiers

Kompleksiteit, politiek, en die filosofiese tradisie van Stellenbosch - Rèné Eloff

Dit was ‘n hoogs suksesvolle byeenkoms. Die Bôrdienghuis was vol en gesellig, en Rèné lei ‘n boeiende -- eintlik briljante – gesprek in, wat lewendige bespreking ontlok.

Hy verduidelik dis ‘n oefening in die intellektuele geskiedenis, wat klem plaas op die ontstaan en ontwikkeling van idees in ‘n bepaalde sosiale konteks. Sy vertrekpunt is die werk van die politieke filosoof en geskiedkundige Andrew Nash, wat argumenteer dat Stellenbosch – en veral die politieke filosoof Johan Degenaar -- ‘n belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van ‘n ‘dialektiese tradisie’ in Suid-Afrika.

Dit gebeur teen die agtergrond van ‘n dubbelsinnige verhouding met moderniteit in die Kaap en die Boland, gekenmerk deur ‘n spanning tussen ontluikende kapitalisme en ‘n konserwatiewe stroming binne die NG-Kerk. Volgens Nash was die dialektiese tradisie eiesoortig en waardevol, maar ook filosofies en polities beperk. Ter voortsetting van Nash se werk vra Rene of die tradisie by Degenaar eindig of op die een of ander manier voortleef, en ook hoe die sosiale omgewing waarin filosofiese denke plaasvind, kon verander het. 

//////////////////

Die dialektiese tradisie had ‘n lang aanloop maar word deurgaans gekenmerk deur die tema van die oop gesprek, volgens Nash dialekties in die Sokratiese sin. Dit word ook gevorm deur die plaaslike konteks van Stellenbosch. Teenstrydige belange skep die ruimte vir ‘n intellektuele tradisie wat nie Britse liberalisme, gepaard met kapitalisme, volledig kan aanvaar nie, maar ook nie blindelings ‘n konserwatiewe ideologie kan omarm nie. Intellektuele in Stellenbosch moes dus ‘n fyn lyn loop tussen tradisie and moderniteit. In hierdie konteks vind die ‘dialektiese tradisie’ as ‘n toewyding tot ‘n gesprek vanuit verskillende oogpunte ‘n teelaarde. 

Die dialektiese tradisie gaan in die 20ste eeu deur verskillende fases, in tandem met sosiale en politieke verskuiwings, maar kry veral gestalte in Degenaar se werk, en veral na die Nasionale Party se oorwinning by die stembus, wat die konteks verander waarbinne daar oor vryheid besin word.

Degenaar staan ‘n Sokratiese vraagstelling en openheid voor wat beide Calvinistiese sowel as liberale denke uitdaag, en werk teen enige dogmatiese opvattings, hetsy verwant aan die kerk, die nasie of die mark. Enige finale antwoord word afgewys, en ‘n oop gesprek met andere word voorop gestel. Hierdie model is egter nie genoegsaam sosiaal nie, en die historiese posisies van die gespreksgenote word nie in ag geneem nie.   

Degenaar probeer later politieke inhoud aan die oop gesprek gee deur dit te beskryf as ‘solidariteit’ – ‘n soort toewyding tot die moontlikhede wat die wereld bied. Maar dit het geen praktiese politieke betekenis nie; die toewyding tot openheid en die erkenning van verskille maak dit onmoontlik om kant te kies in enige werklike politieke of sosiale konflik.

////////////////////

Rèné argumenteer dan dat die ‘dialektiese tradisie’ wel vir ‘n tyd lank voortleef in die werk van Degenaar se student en latere professor aan dieselfde departement, Paul Cilliers, wat in 2011 ontydig dood is. Hy was ‘n internasionaal gerekende akademikus op die gebied van kompleksiteitsteorie, en sy werk het bygedra tot die stigting van ‘n interdissiplinere sentrum met ‘n fokus op die studie van kompleksiteit. In Cillier se werk is kompleksiteit ‘n eienskap van oop sisteme, wat in wese daarop neerkom dat elke poging om ‘n opvatting van die werklikheid te vorm, onvoldoende is, en dat mense dus hul opvattinge gedurig moet hersien. Omdat mense se kennis van die werklikheid onvoldoende is, kom hulle voordurend voor etiese keuses te staan – met ander woorde, keuses wat op grond van gebekkige kennis gemaak moet word. 

 

Met Cilliers se klem op die dinamiese aard van sisteme en die openheid en etiese sensitiwiteit wat dit van ons vereis, sluit sy opvatting van kompleksiteit duidelik aan by die dialektiese tradisie soos gesien by Degenaar; dit vertoon egter ook dieselfde gebreke. Omdat die werklikheid so ‘kompleks’ is, huiwer hy deurgaans  om historiese en politieke inhoud te gee aan die posisies waarin die mens hom bevind.

Soos in Degenaar se geval, impliseer kompleksiteitsteorie ook ‘n kritiek op ‘n eng nasionalisme, en weerstaan dit in beginsel die reduksie van die mens tot ‘n blote besitter en verbruiker. Dit is egter minder duidelik wat die konsep van kompleksiteit vir ons beteken binne historiese kontekste wat optrede vereis; die moontlikheid bestaan dat politieke optrede implisiet afgewys word as ‘n uitgediende manier om met kompleksiteit om te gaan. Op die manier verleen ‘n erkenning van kompleksiteit hom aan ‘n neoliberale politieke rasionaliteit, waar die wagwoord “bestuur” is, eerder as optrede. 

////////////////////////

Wat die sosiale konteks betref, verander dit klaarblyklik aansienlik na 1994. Stellenbosch self verander -- te midde van toenemende ongelykheid -- in ‘n ‘soort post-landelike paradys’, Die dorp word beskryf as ‘n ‘innovasie-hoofstad’, en finansiële dienste raak al hoe meer prominent binne die plaaslike ekonomie. Kortom, the dorp het ‘skatryk’ geword. Die universiteit word toenemend gekorporatiseer, wat aansluit by die wereldwye neiging waarvolgens politieke kwessies gereduseer word tot tegniese, ekonomiese probleme, en daarop ‘bestuur’ moet word eerder as om aanleiding te gee tot robuuste openbare gesprek en politieke standpunt-inname.

Ten slotte se Rèné dis verleidend om te dink dat die spanning tussen liberalisme en Afrikaner--nasionalisme voortleef in die Stellenbosse taaldebat. Dit sou egter meer akkuraat wees om te sê dat die liberale elemente van die SA grondwet selfs konserwatiewe Afrikaners toegelaat het om hul te verlaat op ‘n tipies liberale opvatting van vryheid as ‘n individuele reg. ‘Kortliks dink ek mens sou moes toegee dat die liberale opvatting van vryheid as die vryheid om jou te onttrek aan die openbare sfeer en jou besittings te geniet, uiteindelik die oorhand gekry het.’

/////////////////////////

‘n Lewendige bespreking volg, waarin talle deelnemers hul kommer uitspreek oor die korporatisering van die universiteit, asook die depolitisering van die Stellenbosse gemeenskap. Minstens sommige sluit hul dus implisiet aan by Rèné se verdoemende oordeel.

‘n Besonderse bydrae kom van Ilse Cilliers, Paul se jonger suster. Sy spreek haar waardering uit vir die aandag wat Paul se denke geniet. Sy voeg dan by dat sy nou met hom saamgewerk het, dat hul intense gesprekke oor sy werk gevoer het, en dat Paul tog baie besorg was oor etiese kwessies. 

///////////////////////////

Rèné het my goedgunstiglik die teks van sy lesing gestuur. Daar is eintlik geen manier waarop mens dit behoorlik kon assimileer nie, en ook geen manier waarop ek in hierdie opmerkings reg daaraan kan laat geskied nie. Rèné berei tans 'n formele artikel vir LitNet. Maak seker dat jy dit lees !


Ons sal die skakel hier plaas.