TIM DU PLESSIS
- SUID-AFRIKA HET NOG ALTYD NET VYF JAAR GEHAD VOOR DIT KLAARPRAAT SOU WEES
Die koerantman, Ken Owen, wat in Lydenburg
grootgeword het, het verwys na “die oumense” wat altyd gepraat het van
Suid-Afrika wat net “vyf jaar ooor het.” Dit is vandag nog net so waar soos
destyds.
Die kenmerke van ‘n staat wat gefaal het (a failed
state) is soos volg:
-
Die regering verloor fisiese beheer oor die land. Hier het dit egter
nog nie gebeur nie.
-
Die regering verloor die monopolie op die uitoefening van mag.
-
Die regering neem nie besluite nie. In Suid-Afrika se geval is dit nie
waar nie.
-
Die regering kan nie meer redelike vlakke van dienslewering verskaf
nie. Hier is dit wel waar, maar soos Johnny Steinberg onlangs in Business Day beweer het, bly die ANC tog
aan bewind danksy die 2 miljoen huise wat die afgelope paar jaar gebou is, die
antiretrovirale program wat sukseslvol ingestel is post-Mbeki en die
maatskaplike toelaes waaruit 16 miljoen mense voordeel trek. Dit bring
waarskynlik mee dat die regerende party nog ‘n hele ruk aan bewind gaan bly.
-
‘n Staat kan nie meer diplomatieke betrekkinge met ander state handhaaf
nie. In ons geval is dit nog nie so nie.
-
Militias neem beheer oor van gebiede. Dit gebeur darem nog nie in
Suid-Afrika nie.
-
Niemand is meer veilig nie en niemand kan meer vertrou word nie. Dit is
wel baie toepaslik, weens die hoë misdaadvlakke in
Suid-Afrika.
-
Alle vorme van persoonlike veiligheid moet gekoop word. In Suid-Afrika
betaal 80% reeds vir hulle eie veiligheid deur van sekuriteitsmaatskappye se
dienste gebruik te maak.
-
Korrupsie word ‘n manier van lewe. Mathata Tsedu meen “corruption is
what we have become.” Navorsing deur banke en versekeringsmaatskappye toon daar
is twee dinge wat op kiesers ‘n impak maak: korrupsie en ‘n gebrek aan leierskap.
-
Burgers likwideer hulle bates. Dit het nog nie plaaslik gebeur nie.
Ons politieke strydpunt van die verlede
(ongelykheid/apartheid) is besleg, anders as in die Midde-Ooste en in Ierland.
Ons het, teen alle verwagting in, ‘n skikking bereik.
Verder het ons ‘n oop samelewing. Die regering sal
dit moeilik kan verander, soos die onlangse dispuut rondom die Information Bill
aangetoon het. Almal het daarteen gemobiliseer.
Meeste burgers in Suid-Afrika is besig om te
moderniseer.
Daar is toenemende verset teen korrupsie en
selfverryking.
Daar is ‘n groeiende burgerlike samelewing. Mense
kry hulle stemme terug. Kerke, belastingbetalersverenigings en vakbonde begin
protesteer.
Die howe word nog gesien as ‘n wyse om geregtigheid
te verkry.
Op voetsoolvlak is daar baie welwillendheid tussen
gewone Suid-Afrikaners, ondanks negatiewe politieke retoriek soos dié
van Malema.
Die land is meer stabiel
as wat ons geneigd is om te dink. Mens moet onthou dat die Rand-waarde destyds
ná die Rubicon-toespraak met 30% geval het…
Die ANC is deurtrek van verdeeldheid en faksies. Zuma het sedert 2009 nie veel geleer
nie. Hy is eintlik ‘n wesenlose (vacuous) dop. Naakte politieke oorlewing is
die enigste strategie waarmee hy vertroud is. Barney Mthombothi wys daarop dat
die meeste ANC-leiers in die verlede oor superieure intelligensie beskik het,
uit vooraanstaande politieke families gekom het en oor onkreukbare integriteit
beskik het. Zuma is egter ‘n uitsondering - hy is “street wise” en geslepe.
Die 2014-verkiesing gaan gewis interessant wees -
veral as die ANC se huidige 65% steun na 60% val. Dit sal ‘n groot terugslag
vir die party wees.
Tim verwys ook na ‘n onlangse toespraak van die
geskiedkundige Herman Giliomee waarin hy die plaaslike geskiedenis ontleed het.
Hy het daarop gewys dat die land nog altyd regeer is deur partye wat lank aan
bewind was. Wanneer hulle geval het, het dit egter skielik gebeur. Gewoonlik is
daar ‘n kataklismiese gebeurtenis. Te veel kontradiksies en kompromieë binne ‘n partye kan die
ondergang beteken, so ook wanneer ‘n regering sy morele gesag verloor het weens
te veel korrupsie.
Lydia von Wielligh-Steyn
Kommentaar is welkom!