Vrydagaand 26 Februarie vanaf 19:30

"Slaggate in ons grondwet: Opvul of Ompad?" - Prof Koos Malan
Die Suid-Afrikaanse Grondwet is vir baie lank hoog aangeprys. Kritiek teen die Grondwet het feitlik glad nie voorgekom nie. Nou, sestien jaar nadat die tussentydse grondwet in 1994 in werking getree het, word daar in die besonder onder Afrikaners intens oor die Grondwet gedebatteer. Sommige is van mening dat daar ernstige leemtes in die Grondwet is en dat dit om wysigings vra. Ander lewer nie soseer kritiek op die Grondwet nie maar maak nogtans verreikende voorstelle oor wat Afrikaners te doen staan om ‘n beter bedeling te bewerkstellig. ‘n Afrikaner-provinsie word byvoorbeeld voorgestel. Nog ander sê dat die Grondwet basies goed is en net verkeerd toegepas word. Onder hulle tel voormalige President F W de Klerk, wie se politieke nalatenskap natuurlik van ‘n gunstige beoordeling van die Grondwet afhanklik is. Die grondwetlike kwessie word intens onder al hoe meer mense gedebatteer. Talle briewe in die gedrukte media en nog veel meer menings veral op die Internet getuig daarvan. Van die prominente deelnemers aan die onlangse grondwetlike debat sluit in Breyten Breytenbach, Lawrence Schlemmer, Marinus Wiechers en Koos Malan.