Terugberig: Dus, wáárom het vroue nie die begeerte om leiding te neem nie?


Gender- en organisasieleierskap: Marianne de Jong in gesprek met prof Mollie Painter-Morland

Marianne open die gesprek deur te verwys na die gewildheid van sisteemteorie in vakke soos sielkunde en opvoedkunde. In opposisie met hierdie rigting staan Gilles Deleuze, wat teen die sisteem gekant is. In die Afrikaanse wêreld vind sy denke neerslag in die aktiwiteit en werke van Dan Roodt, Willem Anker en Antjie Krog se nuutste publikasie, Begging to be Black.

Mollie verwys na die onsienbare beperking op vroue in ’n korporatiewe omgewing, ook bekend as die glasplafon. Price Waterhouse Cooper (PWC) meld in hulle verslag oor die onderwerp dat dié term eerder vervang behoort te word met “lekkende pype.” Twee maal meer vroue as mans bedank uit leiersposisies in die VSA en in Suid-Afrika is dit drie maal meer.

Die “lekkende pype” hou verband met ongeartikuleerde probleme. Daar is dikwels diskrepansies tussen maatskappye se beleid wat gelykheid predik, en die realiteit. Vroue word naamlik uitgesluit uit manlike sosiale netwerke, wat hulle posisies by die werk benadeel. Daar is ook dikwels nie ’n goeie passing tussen hulle waardes en dié van die maatskappy nie.

Wanneer mens na ’n kompleks aanpasbare organisasiemodel kyk, is daar nie ’n lineêre interaksie tussen waardes, gevoelens, ens nie. Die orde wat daaruit ontstaan, “meld dit self aan”. Binne hierdie konteks is mens nie in beheer van alles wat gebeur nie.

Daar is ’n aantal foutiewe aannames:

- Verwarring bestaan tussen geslagsverskille en gender

- Gender is sosiaal gekonstrueer

- Gender bestaan afsonderlik van situasies en organisasies

- Werksgelykheidbeleid borg gelyke geleenthede

Ons moet ontslae raak van die dualistiese siening. Op papier maak organisasies of mans en vroue absoluut gelyk behandel word en daarom word gesê daar is geen rede vir gendervooroordele nie. Dit lei tot ’n ongesonde politieke korrektheid. Genderteorie se siening is egter meer realisties. Guattari en Deleuze wys daarop dat gender nie net kognitief is nie, maar ook fisies. As mens vroue uitvra oor hulle ervarings in leierskapposisies, is hulle byvoorbeeld baie selfbewus oor hul gebare en oor of hulle sag/hard praat.

Persepsies dat vroue byvoorbeeld beter as mans doen as dit kom by persoonlike interaksie, doen vroue nie goed in leierskapposisies nie. Aangesien dit as ’n inherente eienskap gesien word, kry hulle geen krediet daarvoor nie. Baie ambisieuse vroue aap manlike rolmodelle na. Daar bestaan net ’n manlike leierskapmodel. Dit is egter nie vroue wat moet verskuif nie; wel die model self.

Studies in Suid-Afrika het getoon dat vroueleiers as “hard” ervaar word; en selfs erger as mans beleef word.

Deleuze en Guattari stel die vraag: wat kan hierdie lyf doen in verhouding met ander? Hulle tref ’n onderskeid tussen die molêre en molekulêre vlakke. Binne die molêre orde is daar ’n stabiele orde wat oor tyd ontwikkel het. Begeerte is wat ons in aksie bring; dis ’n produksie-element. Hierdie vloei van mag is altyd teenwoordig in ons realiteit. Oor tyd kodeer hierdie strukture. Onder hierdie identiteit is die molekulêre orde verberg.

Deleuze en Guattari is nie noodwendig gekant teen hierdie struktuur nie: daar moet immers territorialisering wees om te kan lei tot deterritorialisering en herterritorialisering. Hulle meen verder dat ons ’n nuwe epistemologiese netwerk nodig het. Ons moet die tradisionele binêre boomvertakkingstruktuur vervang met die risoom-netwerk. As ons binne die binêre raamwerk bly, kom ons nie verby opponerende gender nie. Op die risoomvlak is daar egter soveel verskillende invloede wat op mekaar inwerk.

Wanneer mens kyk na sistemiese leierskap, is leiers nie noodwendig net diegene in leierskapposisies nie; mens kyk na die organisasie as geheel. Individue tree op sekere stadia tot die leierskap van die organisasie toe. Ons moet die veelvoudigheid op molekulêre vlak verstaan.

Marianne wil weet of Deleuze en Guattari se radikaliteit hier ietwat agterweë geraak het. Volgens Mollie is dit waar dat hulle kapitalisme en die korporatiewe milieu ondermyn. Hierdie werke is egter in die 70’s geskryf, ná die sosiale opstand van 1968, en dus is daar ’n sterk Marxistiese agtergrond. Oor tyd het daar egter ’n verandering in hulle denke plaasgevind en groter waardering het vir struktuur ontstaan.

Hildegard wys daarop dat vroue binne die korporatiewe milieu weens kinders ’n agterstand het teenoor mans. Volgens Mollie sal ’n ander inrigting van die organisasiestruktuur meebring dat mans gelyke rolle ten opsigte van die versorging van hulle kinders kan speel. Bemagtigende leiers sal dit sien as ’n geleentheid vir nuwe moontlikhede.

Wilna vind dat daar in haar korporatiewe milieu wel gelykheid is, veral tussen die jongmense. Mens kan beleid skep, maar dit gaan nie vroue noodwendig in leierskapposisies kry nie. Mollie wys daarop dat die probleem lê by vroue se persepsies van wat in leierskapposisies verwag word. Dit is nie soseer ’n kwessie van bekwaamheid nie, maar wel van passing in die korporatiewe omgewing.

Mariana wys daarop dat mans en vroue verskillende maniere van praat het.

Marietjie sien beperkings in leierskap en vra hoekom almal wil leiers wees. Molly antwoord deur te sê dat die leierskapmodel verbreed moet word sodat almal erkenning en billike vergoeding kan kry.

Lamé wys op die totale gebrek aan leierskap in die land en vra vrae oor organisasies vs entrepreneurs en uitvoerende amptenare vs ware leiers. Molly wys daarop dat vele groot organisasies in die VSA reeds sistemiese leierskap beoefen. Daar ontstaan kreatiewe spasie wanneer mens van die hiërargie afsien. Die molekulêre kan gekanaliseer word indien die molêre ondermyn word.

Op ’n vraag waarom vroue hoegenaamd besturende direkteure wil word, antwoord Molly dat dit alles ’n kwessie van begeerte is. Wat haar voordoen as jou wil, is dikwels die gevolg van sosiale interaksie. Die vraag moet eerder gevra word hoekom vroue nie in die posisies beland nie. Dikwels word die simptoom behandel en nie die oorsake van die probleem nie.

Volgens Therese kry homoseksuele persone swaar binne die korporatiewe bestel. Mollie meen dat Suid-Afrika egter verder gevorder is as die VSA in hierdie verband.

Dus, waarom het vroue nie die begeerte om leiding te neem nie?

Kom sit aan by dié gesprektafel - hiér in die kuberkafee!

Terugberig: Lydia van Eeden