"Hoe het die beiteltjie dan so stomp geword? Sê my waar is al die intellektuele heen…" 

Wilhelm Jordaan.

Wilhelm Jordaan se inleiding tot die gesprek op 1 Julie by die FilosofieKafee in die Bôrdienghuis se teater op Wellington vind plaas teen die agtergrond van die stortvloed hoofsaaklik negatiewe kommentare oor sekere programveranderinge by RSG-radio. Die taamlik sterk konsensus is dat die veranderinge op ‘n voortgesette vervlakking van intellektuele gesprekvoering dui, soos dit ook elders in die samelewing voorkom.

Met N.P. van Wyk Louw se breë vermenslikende siening van die “ware intellektueel” in gedagte, gaan Jordaan die begrip  “vervlakking” en die breedlopende simptome daarvan in oënskou neem. Hy vra ook waarom die benaming “intellektueel” verdag geraak het. En is daar iets soos ‘n “nuwe intellektueel” en wat is die uitlopers van dié manier van wees, dink en doen? 

Die vraag is dan of daar nog ‘n plek en funksie is vir die soort intellektueel vir wie dié begrip nie op ‘n aanmatigende titel dui nie, maar op ‘n outentieke manier van wees in die wêreld. Vir hom behels dít, á la Van Wyk Louw, om oor belangrike lewensake redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel en die eie mening met ‘n bietjie meer selfkritiek te beskou. Verder behels dit om ook met verwondering en verbeelding lewensin te soek. 

As só ‘n intellektuele houding meriete het, hoe gaan ons verseker dat dit gedy?   

Waarmee hou hy hom tans besig.

"Lank-lank gelede, byna soos in ‘n sprokie, moes ek ‘n intreerede by Unisa hou. My onderwerp was ‘n Grammatika vir Menskunde. Dit het gegaan oor hoe die sielkunde kan baat deur interdissiplinêre samewerking, byvoorbeeld tussen sielkunde, teologie, letterkunde en filosofie. In my akademiese loopbaan was dié tema vooropgestel en die rubrieke wat ek sedert 1987 vir Afrikaanse koerante skryf, is ‘n voortsetting daarvan. Die projek kom nie klaar nie. Jy kan maar sê ek werk nog steeds aan ‘n onvoltooide én onvoltooibare grammatika vir menskunde.

Daarnaas hou ek van lees oor alles en nog wat, vuurmaak, vleisbraai, kyk na die sterre, tuinmaak, reis na stil beskutte plekke, gesels met my geliefde, klets met my kinders en kleinkinders en praatjies maak vir die vaak – soos vanaand. "

                                  IEDEREEN WELKOM! 

Plek: Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.
Tyd: vanaf 18:30
R220 pp sluit aandete en ‘n glasie wyn in.
Bespreek vroegtydig by Lamé:  0828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

Of direk per eft:

Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000.