"Onteiening sonder vergoeding – R.I.V.? 

Gaan die herstel van grondregte ten gronde? "  -Eberhard Bertelsmann. 

As die regering geen tweederde meerderheid vir die wysiging van die Grondwet kan beding nie, bly die vraagstuk van ‘n billike herverdeling van grond ‘n krisis wat dringende antwoorde verg. (Die krisis mag selfs groter wees as die tweederde meerderheid verkry word.)

Daar is sterk aanduidings dat die beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet, om onteiening van grond sonder vergoeding te bewerkstellig, die wind van voor kry.

Die aandrang om toegang tot landbougrond en menswaardige huisvesting te verkry, is 'n tydbom. Die oplossing lê nie in slagspreuke en wetsontwerpe nie. Daar moet onmiddellik prakties opgetree word, maar hoe?

Die toepassing van die Wet op die Herstel van Grondregte is omslagtig, stadig en deurspek met mislukking en vertraging. Ander regeringspogings om grond volhoubaar te verdeel vaar nie veel beter nie.

Sommige private inisiatiewe om ‘n billike en verantwoordbare oplossing te vind is met sukses bekroon, maar bly ‘n druppel aan die emmer.

Oudregter Eberhard Bertelsmann was advokaat, voorsitter van die balieraad en later regter van die Hooggeregshof van Gauteng, waarna hy in 2016 uitgetree het. Sy aanmoediging, gerig op jong regstudente, is bekend: “Onthou dat die mense wat jou die meeste nodig het, diegene is wat jou nie kan bekostig nie”.

Hy bly aktief betrokke by 'n pro bono regshulpkliniek asook by die voorkoming en behandeling van rehabilitasie ten opsigte van substans-afhanklikheid.  Verder is hy aktief betrokke by arbitrasies, insolvensie-ondervragings en mediasie.

Sy belangstellings wissel van die regte, politiek, kerkreg, teater en letterkunde.


R220 pp sluit aandete en 'n glasie wyn in.  

rsvp:  Lamé 0828951139 / oopgesprek@filosofiekafee.co.za


Bespreek asb spoedig, getalle is belangrik ter wille van covidregulasies. Betaal asb direk by hierdie portaal:

 http://pay.yoco.com/filosofiekafee



TERUG BERIG:


Regter Bertelsman het benadruk dat Suid-Afrika vir etlike dekades reeds besig is met grondhervorming, maar dat die vordering in die algemeen stadig is – hoewel daar tog daadwerklike vordering in bepaalde gevalle was.  Die fokus op artikel 25 en die moontlike wysiging daarvan om spesifiek vir onteiening met nul vergoeding voorsiening te maak, is juis tekenend van onderliggende frustrasie wat opborrel. Hoewel die proses frustrasie belig het, soos genoem, het die gepaardgaande debatte en mediadekking ongelukkig ook ‘n skadelike uitwerking op die land gehad, juis omdat dit tot onsekerheid en angs onder grondeienaars gelei het en omdat dit investeringsvertroue in die land geskaad het.

Die gesprek is begin deur te reflekteer op die proses wat die afgelope paar dekades gevolg is, ten aansien van herverdeling en restitusie in die besonder. Wat laasgenoemde betref, was die proses vanuit die staanspoor konfronterend in die opsig dat grondeise deur eisers ingestel moet word, teen grondeienaars. In die proses het elke party haar bes gedoen om te slaag: grondeisers om te slaag en moontlik die bepaalde grond of alternatiewe grond of geldelike kompensasie te ontvang aan die een kant en grondeienaars wat hul bes gedoen het om die eis teen te staan, hetsy omdat hul self reeds geruime tyd (dikwels generasies) op die grond woon en boer, hetsy omdat bepaalde formele vereistes nie nagekom is nie, aan die ander kant. In so ‘n konfronterende proses was die kans dat werklike versoening kon plaasvind, ongelukkig uiters skraal. Waar die restitusieproses dus moontlik tot versoening en rekonsiliasie kon lei, het die manier hoe dit opgestel is, ongelukkig sodanige pogings gekelder. Waar herverdeling van grond plaasgevind het en nuwe, opkomende boere landbougrond toegeken is of waar grond in die geval van ‘n sukesvolle grondeis toegeken is, is daar dikwels geen verdere ondersteuning verleen nie, met die gevolg dat die grond nie effektief of optimaal benut kon word nie. In hierdie proses het  daar ongelukkig waardevolle werkskeppingsgeleenthede en ander ontwikkelingsgeleenthede verlore gegaan, wat weer negatief op die omgewing, die ekonomie en op voedselsekerheid impakteer het.

Ander spesifieke aspekte wat as problematies identifiseer is, is dat die beleide en wetgewing nie altyd belyn is nie en dat verskillende departemente op verskillende aspekte fokus; die belangrike rol wat die landbank moet speel maar wat tans onmoontlik is weens beperkte fondse; die feit dat daar nie permanente regters in die Grondeisehof aangestel is nie; die kompleksiteit inherent aan grondhervorming wat uit drie programme bestaan; die groot druk in stede vir voldoende beskikbare grond vir behuising en probleme wat intree wanneer groepe persone saam grond of eiendom ontvang, hetsy in die herverdelingsprogram, hetsy weens suksesvolle restitusie. 

 

Regter Bertelsman vra vir ‘n nuwe Kodesa vir grond waar veral die privaatsektor die inisiatief moet neem en waar private finansieringsinstansies, handelsbanke en individuele befondsers belangrike rolle kan speel. Die noodsaaklikheid vir grondhervorming om te slaag word duidelik benadruk: nie net om die huidige onderliggende frustrasies aan te spreek nie, maar vir die land in die geheel en vir al haar mense, om saam vorentoe te gaan.

Juanita Pienaar