WAAR IS ONS (NOU) - Breyten Breytenbach 

"Alle vormgee is ‘n soeke na plek. Wat ons nou, wêreldwyd, belewe is chaos en onsekerheid. Ons gebruiklike aandoenplekke het opeens onvertroubaar geword. Die pandemie, die Kroonpes, Covid, die kouevoetkonfyt het waarskynlik almal op die aardbol laat besef dat ons één is. En nêrens was daar enige begrip van wat die agent hiervan werklik is nie : alle golflengtes is versadig met alarmistiese verslae, herhaaldelik, om ons nog dieper in die depressie te dryf. Die enigste teenvoeter was skynbaar om ons te isoleer agter ons snoetdoeke en mense-kontak te vermy. Ons was alleen in die heelal. Desperaat het ons gesoek na alternatiewe haarde om hierdie oorbevolkte en besoedelde aardplaneet te verlaat. Ons het afgetuur in die Niet. En net so skielik het ons besef hoe nietig, hoe toevallig, hoe oorbodig ons is – en hoe gevaarlik vir ander lewens- en bewussynsvorme. Hierdie einde-van-alles bestaansangs het ons menswees na vore gebring : werklike  empatie, ‘n diepgaande bevraagtekening van alles (veral sedert daar nou geen ‘waarheid’ of ‘onwaarheid’ was om te onderskei nie) en ook ons inherente hebsug en wreedheid en versmagting na mag – so asof ons die dood sou kon systap deur onderdrukking en uitbuiting, of deur verbaster te word met verbeelde lewensuitinge wat ons self geskep het, die virtuele intelligensie en sosiale media. Daar was opeens geen morele leierskap waar dan ook, en is nog steeds nie. Die rykes het ryker geword ook al is die rykdom virtueel en obseen, en die armes méér, en meer ellendig.  

Waar is ons in die kosmos ? Wat is die omvang van syn indien nie net pyn nie ? Wie is hierdie ons ? Bestaan ons ooit of is ons maar net skimme in ‘n kosmologiese nagmerrie ? Wie of wat droom ons ? Is hierdie nou wat ons deur gesamentlike konseptualisering teenwoordigheid of substansie wil gee wérklik ? Of is dit ‘n ewigheid wat maar net ‘n oogknip lank duur ?" - Enkele aanhalings uit die gesprek by die FilosofieKafee op Wellington,  4 Maart 2022 (Breytenbach Galery)