"Wat is die verhouding tussen aanspreeklikheid en verantwoordelikheid? - Mollie Painter.

Die konsep van relasionele aanspreeklikheid sal verduidelik word aan die hand van die denke van twee Franse filosowe, Emmanuel Levinas en Gilles Deleuze, en in gesprek gebring word met die verhoudingsaard van ubuntu. Voortgesette aanspreeklikheid teenoor ander word onderskei van eenmalige of periodieke aanspreeklikheid vir aksies in die verlede. Verantwoordelikheid, in hierdie konteks, word gesien as die vermoë om te antwoord, eerder as om jouself te verantwoord. Beteken dit egter dat ons mekaar nie verantwoordelik kan hou vir foute nie, en dat straf of oordeel nie meer inpas by die idee van aanspreeklikheid nie? Oor hierdie dilemmas sal ons saam medereer.


Mollie Painter is professor van Etiese Organisasie by die Nottingham Sakeskool in Brittanje. Sy staan aan die hoof van ‘n navorsingsentrum genaamd The Responsible and Sustainable Business Lab. Sy is verder buitengewone professor by Tuks se Gordon Institute of Business Science (GIBS) op ‘n deeltydse basis. Weens Covid-19 is sy egter tans ‘n swerwende filosoof, wat haar besig hou met verskeie projekte gemik op die normatiewe herstel van verhoudings en instellings in die samelewing. Een so ‘n projek het te make met die vind van digitale oplossings om gender-gebaseerde geweld aan te spreek. ‘n Ander projek is gefokus op die ondersteuning van fluitjieblasers en die skep van organisasie-kulture wat waardegedrewe-aksie moontlik maak. Haar werk word gekenmerk deur die wyse waarop sy 20ste eeuse Europese filosofie aanwend om verhoudinge binne organisasie(s) te verdiskonteer. ‘n Goue draad wat deur verskillende van haar skrywes loop, is die konsep van gedeelde aanspreeklikheid.