ONTHOU, VERGEET en NOSTALGIE in die SUID AFRIKAANSE GEMEENSKAP  - JO-ANSIE VAN WYK

Individue en gemeenskappe onthou en gedenk gebeure, omstandighede en verliese van besondere belang. Ons vergeet ook. Vergeetagtigheid en geheueverlies word, byvoorbeeld, beskou as meganismes om, onder meer, trauma te verwerk. Die ontwerp, vestiging en instandhouding van ‘n openbare geheue, polities-geïnduseerde geheueverlies en vergeetagtigheid het verreikende maatskaplike gevolge. Enersyds is dit polities voordelig om die verlede en heugenis te mobiliseer, uit te wis of te saniteer. Voorbeelde van geskiedkundige of hedendaagse teenspoed, bevryding, mislukking en sukses word fyn uitgekies, vergeet of veredel tot ‘n neusriem of ‘n politieke Goue Kalf. In hierdie konteks manifesteer ‘n tipe nostalgie as politieke handelsmiddel en oorlewingsmeganisme. ‘n Herontwerpte, ‘n ontkende of onderdukte geheue versterk of daag die maatskaplike orde uit. Openbare forme van vergeet of geheueverlies of amnesie is nie noodwendig fataal nie. Die woord amnestie, by voorbeeld, is etimologies verbind aan amnesie, maar: wat word onthou, of nie, en waarom word dit onthou of vergeet? Hoe onthou en vergeet ons? Wat is die implikasie daarvan? Hoe hou dit verband met nostalgie? 

Nostalgie is, onder andere, ‘n eselsbrug van onthou en vergeet. Veredelde nostalgie manifesteer in openbare heimwee, mites en sosiale artefakte soos openbare vakansiedae, heldeverering en ‘n amptelike diskoers oor die struggle terwyl private nostalgie dikwels blom rondom braaivleisvure, agter herstelde laers met elektriese heinings, en “onthoukos”. Die etimologie van beide heimwee en nostalgie is die verlange na ‘n tuiste of tuiskoms wat eens was of wat veridealiseer word. Dus, waar is ons tuis, wat laat ons ontheemd en wat beteken dit? 


Prof Jo-Ansie van Wyk is ‘n hoogleraar in Internasionale Politiek in die department Politieke Wetenskappe, Unisa. 



                                     IEDEREEN WELKOM  


R220pp sluit aandete en ‘n glasie wyn in.

rsvp +27 828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb met verw W11/11 by hierdie portaal:

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

Of direk per eft:

Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000


Van BEELDBESTORMER na BOEGBEELD   -  ALBIE SACHS.

Albie Sachs gaan gesels oor die vreugde - en ook ongemak - wat hy onlangs ervaar het toe hy 'n toekenning van die Clooney-stigting vir Geregtigheid ontvang het. Hy sal uitbrei oor sy lewe en drome in die jare van die anti-apartheidstryd. Hy sal ook praat oor sy betrokkenheid by die opstel van die grondwet en sy tyd as regter verbonde aan die konstitusionele hof. Hy sluit dan af met sy visie van die huidige stand van sake in Suid-Afrika. 

                         IEDEREEN WELKOM !

4 Nov 2022 vanaf 6:30 nm

Bôrdienghuis Teater, Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14, Wellington

R250pp sluit aandete en ‘n glasie wyn in.

rsvp +27 828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb met verw W04/11 by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

Of direk per eft:

Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000.


Is Peterson en Harari se gewildheid 'n aanklag teen of 'n oproep tot nadenke?- Gerhard Bothma

Jordan Peterson en Yuval Noah Harari se gewildheid het in die onlangse verlede beduidend toegeneem. Dié gewildheid hou nie net verband met hul werk in onderskeidelik sielkunde en geskiedenis nie. Dit is veral hul uitsprake oor die alledaagse, hul samelewingskritiek en die voorstelle wat hulle maak wat miljoene mense se aandag trek – en behou. Kritiek, ook uit akademiese geledere, maak skynbaar geen impak op hul gewildheid en invloed nie. Albei se boeke is in verskeie tale vertaal en miljoene daarvan is reeds verkoop. Van hul video’s is al meer as 50 miljoen kere gekyk. Gedurende September 2022 word Unstoppable Us – ‘n beweging vir pre-tieners waarvan Harari mede-stigter is, naas die reeds invloedryke Sapienism geloods.


Gerhard Bothma is in Pretoria gebore. Ná aanvanklike studies in die regte, besluit hy in 1986 om eerder teologie aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Hier word die grade BA (Teologie) en BD cum laude aan hom toegeken. In 2004 volg 'n doktorsgraad (Ph.D).

Vanaf 1992 tot 1994 en 1994 tot 2014 was hy as predikant by twee gemeentes in Polokwane werksaam. In dié tyd was hy ook deeltyds verbonde aan die Universiteit van die Noorde, Noordwes Universiteit en die Universiteit van Pretoria.

Sedert die einde van 2015 is hy terug in Pretoria waar hy steeds werksaam is. As toekomspreneur help hy persone, organisasies en gemeenskappe om beter toekomste te bou.

Die meeste van sy huidige lees- en dinkwerk hou verband met die toekoms, die brein en toegepaste neurowetenskappe, asook met die oorgang van homo sapiens na 'n nuwe spesie. Hy is verder betrokke by 'n aantal projekte rakende lewenslange leer en die ontwikkeling van lewensvaardighede, asook die skryf van twee boeke.

 

Datum: Vrydagaand 2 September 2022 vanaf 6nm

Plek: Breytenbach Galery, Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14, Wellington.

Rsvp: Lamé by oopgesprek@filosofiekafee.co.za of whatsapp/teks +27(0)828951139

Kaartjies: R190 pp sluit aandete en ‘n glasie wyn in.

Betaal asb met verw W02/09 by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

Of direk per eft:

Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000.  


 

"Hoe het die beiteltjie dan so stomp geword? Sê my waar is al die intellektuele heen…" 

Wilhelm Jordaan.

Wilhelm Jordaan se inleiding tot die gesprek op 1 Julie by die FilosofieKafee in die Bôrdienghuis se teater op Wellington vind plaas teen die agtergrond van die stortvloed hoofsaaklik negatiewe kommentare oor sekere programveranderinge by RSG-radio. Die taamlik sterk konsensus is dat die veranderinge op ‘n voortgesette vervlakking van intellektuele gesprekvoering dui, soos dit ook elders in die samelewing voorkom.

Met N.P. van Wyk Louw se breë vermenslikende siening van die “ware intellektueel” in gedagte, gaan Jordaan die begrip  “vervlakking” en die breedlopende simptome daarvan in oënskou neem. Hy vra ook waarom die benaming “intellektueel” verdag geraak het. En is daar iets soos ‘n “nuwe intellektueel” en wat is die uitlopers van dié manier van wees, dink en doen? 

Die vraag is dan of daar nog ‘n plek en funksie is vir die soort intellektueel vir wie dié begrip nie op ‘n aanmatigende titel dui nie, maar op ‘n outentieke manier van wees in die wêreld. Vir hom behels dít, á la Van Wyk Louw, om oor belangrike lewensake redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel en die eie mening met ‘n bietjie meer selfkritiek te beskou. Verder behels dit om ook met verwondering en verbeelding lewensin te soek. 

As só ‘n intellektuele houding meriete het, hoe gaan ons verseker dat dit gedy?   

Waarmee hou hy hom tans besig.

"Lank-lank gelede, byna soos in ‘n sprokie, moes ek ‘n intreerede by Unisa hou. My onderwerp was ‘n Grammatika vir Menskunde. Dit het gegaan oor hoe die sielkunde kan baat deur interdissiplinêre samewerking, byvoorbeeld tussen sielkunde, teologie, letterkunde en filosofie. In my akademiese loopbaan was dié tema vooropgestel en die rubrieke wat ek sedert 1987 vir Afrikaanse koerante skryf, is ‘n voortsetting daarvan. Die projek kom nie klaar nie. Jy kan maar sê ek werk nog steeds aan ‘n onvoltooide én onvoltooibare grammatika vir menskunde.

Daarnaas hou ek van lees oor alles en nog wat, vuurmaak, vleisbraai, kyk na die sterre, tuinmaak, reis na stil beskutte plekke, gesels met my geliefde, klets met my kinders en kleinkinders en praatjies maak vir die vaak – soos vanaand. "

                                  IEDEREEN WELKOM! 

Plek: Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.
Tyd: vanaf 18:30
R220 pp sluit aandete en ‘n glasie wyn in.
Bespreek vroegtydig by Lamé:  0828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

Of direk per eft:

Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000.

"Die koplose ruiter van Skimmelperdpan: Is sintuiglikheid 'n wegholperd, en die ruiter red(d)eloos?" 

Frederik Rudolph van Dyk.


Die jong Nigeries-Amerikaanse filosoof en teoretikus, Olufemi Taiwo, het reeds in 2020 die koppe laat draai met sy wenner-essay op die joernaalblad The Philosopher (sien https://www.thephilosopher1923.org/post/being-in-the-room-privilege-elite-capture-and-epistemic-deference).

 

Taiwo verdedig in sy essay die argument dat standpunt-epistemologie / kennisleer, identiteitspolitieke diskoerspraktyke en epistemic deference (epistemiese heenwysing) - wat saam die teoretiese onderbou vorm waaruit die sogenaamde wokeisme en kanselleerkultuur inspirasie put - 'n elite opvoering geword het. Taiwo wys daarop dat hoewel hierdie teoretiese raamwerke vanuit basiese empiriese oftewel sintuiglike kennisleerbeginsels afgelei kan word, die talle belewenisse van ongelykheid en ander sosiale magswanbalanse net opgelos kan word indien gemeenskappe hande vat rondom daadwerklike planne. Dit is dan die sogenaamde "konstruksiebenadering" tot 'n identiteitspolitieke diskoers.

 

In 'n poging om voort  te bou op Taiwo se argumente, kan gevra word of sy kwalifikasie van die sintuiglike / empiriese grondslae van identiteitspolitieke raamwerke moontlik is sonder die aanvaarding van beginsels van die rede-leer, oftewel die rasionalisme. 

 

Is sy handevat of konstruksiebenadering tot identiteitspolitieke praksis enigsins sinvol, indien die wegholperd van die sintuiglikheid nie juis deur eeue-oue rasionale instellings gekwalifiseer word nie? Laastens, is daar meriete in die argument dat rasioneel-gebaseerde instellings self die slagoffers van empiriese identiteitswanbalanse is, en dus haas onbruikbaar word? 

 

Frederik probeer denkende, aktiewe en nuuskierige Afrikaanse intellektualiteit uitlewe. Hy geniet lees, openbare debat, uithousport en deesade ook 'n potjie gholf. Verder skryf hy, soos die muse kom, bepaald oor Afrikaanse musiekverwikkelinge (veral rock en alternatiewe bands) en geniet verder sy vinielplaat-versameling saam met sy naastes om 'n waaghalsig opgetoorde maaltyd in die Johannesburgse winter.


IEDEREEN WELKOM!

 

 

FilosofieKafee®

R220 pp sluit aandete en ‘n glasie wyn in.

Bespreek by 0828951139 /oopgesprek@filosofiekafee.co.za 

en betaal asb by hierdie portaal: Verw P10/06

http://pay.yoco.com/filosofiekafee   OF  direk per eft: Absa Spaar rek naam en nommer  9242373000
















R.I.P.   Abraham Viljoen

28 Oktober 1933 - 11 Mei 2022


Beste Lamé Ebersöhn, 

 

Die nuus van Abraham se afsterwe het my werklik geruk ook al was dit, gesien sy hoë ouderdom, seker nie heeltemal onverwags nie. Mens se hart gaan uit na sy familie en sy naasbestaandes, en dan ook na vriende soos u. Ek weet hoe dierbaar hy vir u was. Ons taal wat, indien die regdenkendes hulle vernietiging daarvan kan voltrek, binne die afsienbare toekoms nie meer sal bestaan nie, het mooi en eerbiedige en sagte uitdrukkings om die onsêbare te probeer verwoord : heengaan byvoorbeeld. En ontslaap. 

 

Baie jare gelede het ek ‘n roman van W.F. Hermans met die titel NOOIT MEER SLAPEN gelees. Die storie het my lankal ontgaan, maar die implikasies van die titel het my bygebly. Beteken om oorlede te wees dat mens dan nooit weer sal slaap nie ? Is ‘om te slaap’ dan so eie aan ons oorlewing? 

 

Abraham het nou die grens na die ewigheid van stilte oorgesteek. Dis soos ek hom verbeel en onthou. Vir diegene wat nog kan hoor selfs al wil hulle nie luister nie, was Abraham Viljoen se stilte egter nie die uiting van verslaentheid of opgee of berou of selfs berusting nie. Sekerlik ook nié van ‘stilbly is ook ‘n antwoord’. nie. Inteendeel, dit  was ‘n gelouterde, sterk en diepe stilte. Miskien selfs ´n vertroosting. Die stilte van iemand wat gedoen het wat hy kón vir solank dit moontlik was, en gewéét het hoe dit is om getrou te bly aan jou ideale gevoed deur oortuiging en empatie. En aan die suiwerheid van eenvoud. 

 

Ek kan nie voorgee dat ek die voorreg gehad het om hom te ken nie. Maar wat in my verweef lê is daardie één dag wat ons, danksy u bemiddeling, saam deurgebring het. 

´n Dag sonder begin of einde met veel lig. Die plaas se naam was Betlehem. Of dalk Jerusalem. Al die Bybelse verwysings. Met Helderberg om ons te laat vergeet van die nabye nes van slinkses wat voorgee hulle is links : die Fariseërs en Saduseërs wat ons enigste eersgeboortereg langs die Eersterivier verkwansel vir ‘n bietjie aansien terwyl die taal nooit hulle s’n was om te verkoop vir ‘n vuil skottel lensiesop nie. Hulle ganse lewe was seker een van selfveragting, en dit sal heimlik ook so bly.

 

Het ons enigiets spesifieks vir mekaar te vertel gehad daardie dag? Ek glo nie. Dit was nie nodig nie. En dit is ongevraagd om nou so ‘n vals noot van verbittering te wil uiter. Ek wil glo Abraham luister nog iewers. Hy oordeel nie. Miskien voel hy net dis nie die stilte werd om te wil redeneer met ‘n praatsieke vervreemde nie! Buitendien, die Boland is mooi in die herfs, met die skoonheid van verbranding.

 

Laat ek liewers in alle ootmoed vir hom sê ek treur ook in stilte, ek huil ook oor wat kon gewees het - ek is ook van ´n familie vol teenstrydighede en synvuur met wie ek nie om dieselfde vuur kon sit nie maar op wie ek trots is. Mense vir wie ek deur die vuur sal loop. Want hulle is eerbare mense met, uiteindelik, net die verantwoordelikheid vir ´n lewe bevolk deur ander en met dieselfde verknogting aan ‘n gedeelde geboortegrond, daardie onbevraagtekende lojaliteit teenoor die medemens as aardling, die ander wat beskerm moet word. Wie sal oordeel? Niemand is onskuldig nie.

 

Saam met sy broer het Abraham Viljoen ´n burgeroorlog voorkom. Gaan vra maar vir Nelson Mandela en Mac Maharaj en Albie Sachs. Gaan vra vir die bure en die werkers van die wêreld waar hy vandaan kom. Moenie vir Carl Niehaus vra nie - hy kan nie help om te lieg en te huigel nie… en dalk ook, wanneer niemand dit sien, ´n bietjie te huil nie. Moet ook nie vir Roelf Meyer vra nie : hy sal nie weet nie. 

 

En wat het ons nou? ‘n Volk wat nie ´n volk is nie en, vir dié van hulle wat oorbly, probeer oorlewe in ‘n partystaat van plunderaars wat heers oor die gemors van woede en armoede, die haat en die vrees, die ongebreidelde vraatsug en die vernedering. 

 

Was ons onbesonne om te droom dat dit anders kon wees? Is dit dan so eie aan die mense-natuur dat ons net lewe om mekaar dood te maak? Néé! Ek wil my verwerdig om te glo ons sou nog steeds dieselfde stryd gestry het, elk op eie manier. Miskien met minder selfverblinding (ek praat nou van myself) en meer geduld en begrip en wedersydse aanvaarding. Miskien met meer bereidwilligheid om te wil leer en verstaan.

 

Abraham sou, dink ek, wéér ‘n stigterslid van IDASA wou wees, wéér saam met Van Zyl Slabbert na Dakar en Gorée reis op soek na erkenning van en geregtigheid vir ons almal. Wat anders kon hy doen? Hy was ‘n man van geloof al het die haatdraendes in sy kerk hom verdryf en verguis. Hy was van daardie uitsonderlike voorbeelde wat wérklik omgee vir die swakkeres, die weduwees en die wese. Hy was een van dié wat dit tog die moeite werd maak om mens te wil wees. 

 

Sy dood sal stil verbygaan. Tog, daar sal altyd mense wees, hoe onvolmaak dan ook, om sy lewe te gedenk. Sy stilte was dalk dié van ontnugtering en ontmagtiging - maar dit was ook die stilte van wysheid. Van iemand wat in geloof en oortuiging verder kon sien as die huidige gespartel om oorlewing. Die Vrystaat, in alle implikasies van stryd en van ruimte en van één-wees met die mensdom se noodlot, was eenvoudig te diep in hom verankerd om ooit op te wil gee. Hy vergestalt, en so sal dit bly, die oerkennis wat oor eeue van ons nietigheid strek: 

die hart fatsoeneer géé

en kan nie anders nie 

 

Ons wil vir hom hamba kahle mfowethu, sê. Soos vir Madiba en Chief Van Zyl en Betsie du Toit en Beyers Naudé en Neville Alexander en Naamgenoot Fischer en Alex Borraine en Oom Tao Versfeld en Johann Degenaar en Dulcie September en Jan Rabie… ons oermoeders en ons abbavaders.  

 

En persoonlik, beste Lamé, wil ek dit kan doen in wat ons neem-en- eet se deel was in stilte en saamwees : ons voëlvrytaal in sonde en stryd ontvang en gebore, en die beliggaming kon wees deur vele lywe en met baie tonge van ons saam-mekaar-andersmaak, van ‘n vry oopheid wat ons ‘Suid-Afrikaan’ sou kon noem sonder om anderpad te hoef kyk, van die aardse en die sublieme, die banale en die ekstase, die skone en die skoonmaak, die behoudenheid én die omvorming… Miskien sou ook dit soos die lewe self net ‘n handomkeer duur. ‘n Mooi illusie. ‘n Tutudroom. Maar dit sal  ook ‘n soeke na sin bly selfs al ontken ons die grammatika van menswees.

 

om diep en stip sonder wegkyk 

In jou oë op te gaan 

asof dit die laaste sien sou wees

van wat jy nog wou déél 

 

om saam te neem na waar sien 

en sien-nie nie meer bestaan 

 

tot aan die donker flikkering 

van die innigste woord 

van kaalgestroop te word in ons taal : 

ontslaap 

 

 

Mag Braam rustig rus - 

 

Breyten Breytenbach 

 



                                                      Terugberig: 

Andrew Nash oor Degenaar

“Denke wat kan dans: Johan Degenaar se gesprek as filosofiese kunsvorm” was die onderwerp van die FilosofieKafee-gesprek wat op Vrydagaand 6 Mei 2022 in die Breytenbach Sentrum op Wellington aangebied is. Andrew Nash, wyd gereken as denker en iemand wat Johan Degenaar (1926–2015) op Stellenbosch as student en as mededosent geken het, is genooi om by die geleentheid oor hom te gesels. Willem de Vries berig.

Lees die volledige berig op Litnet:

https://www.litnet.co.za/filosofiekafee-andrew-nash-bekyk-opnuut-degenaar-se-toonaangewende-vorm-van-gesprek/

"Denke wat kan dans: Johan Degenaar se gesprek as filosofiese kunsvorm" – Andrew Nash

Vir meer as 40 jaar was die filosoof Johan Degenaar (1926-2015) 'n bron van voortdurende inspirasie vir sy studente op Stellenbosch, maar ook die oorsaak van frustrasie vir die akademiese, kerklike en politieke owerhede. Hoe het hierdie establishment Degenaar tot orde probeer roep? Wat was die aard, struktuur en uitwerking van sy eiesoortige gesprek met studente en ander? Kan sy vernuwende filosofiese praktyke vandag nog voortleef en verder ontwikkel?

Andrew Nash studeer en doseer by die universiteite van Wes-Kaapland (UWK), Kaapstad (UK) en Stellenbosch (US) in Politieke Filosofie. Hy publiseer gereeld essays oor verskeie  aktuele onderwerpe en bedryf ‘n blog genaamd www.dialectic.co.za waar van hierdie skrywes beskikbaar is.

 

 

Datum: Vrydagaand 6 Mei 2022 vanaf 18:00

Plek: Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.

R190 pp (sluit aandete en 'n glasie wyn in)

rsvp: oopgesprek@filosofiekafee.co.za  of teks 0828951139

Betaal asb by hierdie portaal: http://pay.yoco.com/filosofiekafee    

of ’n eft na Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000.





















Waarom die aandrif tot filosofie? - Willie van der Merwe.

Medereerder: Louise du Toit


Waar kom die aandrif tot filosofie vandaan? Kies ’n mens daarvoor om bewustelik filosofie te beoefen, jou tyd en energie te wy aan die begeerte na wysheid, of is dit iets wat jou as’t ware oorval en oorrompel? Is die aandrif tot filosofie nie eerder iets wat in ’n mens wakkergemaak word nie, iets wat by jou opgeroep word, ’n roeping waaraan jy gehoor móét gee, selfs al sou jy nie wou nie?  Waarom sou jy, as soveel mense – gewone individue en groot denkers – vóór jou en náás jou daarvan getuig dat die beoefening van filosofie ’n mens nie juis gelukkiger maak nie, inteendeel! Soos die bekende Duitse filosoof, Oddo Marquard, ’n keer half-sinies en met self-ironie opgemerk het, is die keuse van ’n jongmens vir filosofie immers meesal nie die begin van ’n suksesvolle loopbaan nie, maar eerder van ’n persoonlike tragedie. Waarom dan die aandrif tot filosofie? En waarom daaraan gehoor gee?

Vrydagaand: 8 April 2022 vanaf 18:00
La Sala, Reyneveldstr 44, Stellenbosch.

R190 pp (antipastabord en 'n glasie wyn)

rsvp: Lamé
oopgesprek@filosofiekafee.co.za of 0828951139

Betaal asb by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

Of maak 'n direkte eft:
Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000







 

WAAR IS ONS (NOU) - Breyten Breytenbach 

"Alle vormgee is ‘n soeke na plek. Wat ons nou, wêreldwyd, belewe is chaos en onsekerheid. Ons gebruiklike aandoenplekke het opeens onvertroubaar geword. Die pandemie, die Kroonpes, Covid, die kouevoetkonfyt het waarskynlik almal op die aardbol laat besef dat ons één is. En nêrens was daar enige begrip van wat die agent hiervan werklik is nie : alle golflengtes is versadig met alarmistiese verslae, herhaaldelik, om ons nog dieper in die depressie te dryf. Die enigste teenvoeter was skynbaar om ons te isoleer agter ons snoetdoeke en mense-kontak te vermy. Ons was alleen in die heelal. Desperaat het ons gesoek na alternatiewe haarde om hierdie oorbevolkte en besoedelde aardplaneet te verlaat. Ons het afgetuur in die Niet. En net so skielik het ons besef hoe nietig, hoe toevallig, hoe oorbodig ons is – en hoe gevaarlik vir ander lewens- en bewussynsvorme. Hierdie einde-van-alles bestaansangs het ons menswees na vore gebring : werklike  empatie, ‘n diepgaande bevraagtekening van alles (veral sedert daar nou geen ‘waarheid’ of ‘onwaarheid’ was om te onderskei nie) en ook ons inherente hebsug en wreedheid en versmagting na mag – so asof ons die dood sou kon systap deur onderdrukking en uitbuiting, of deur verbaster te word met verbeelde lewensuitinge wat ons self geskep het, die virtuele intelligensie en sosiale media. Daar was opeens geen morele leierskap waar dan ook, en is nog steeds nie. Die rykes het ryker geword ook al is die rykdom virtueel en obseen, en die armes méér, en meer ellendig.  

Waar is ons in die kosmos ? Wat is die omvang van syn indien nie net pyn nie ? Wie is hierdie ons ? Bestaan ons ooit of is ons maar net skimme in ‘n kosmologiese nagmerrie ? Wie of wat droom ons ? Is hierdie nou wat ons deur gesamentlike konseptualisering teenwoordigheid of substansie wil gee wérklik ? Of is dit ‘n ewigheid wat maar net ‘n oogknip lank duur ?" - Enkele aanhalings uit die gesprek by die FilosofieKafee op Wellington,  4 Maart 2022 (Breytenbach Galery)