R.I.P.   Abraham Viljoen

28 Oktober 1933 - 11 Mei 2022


Beste Lamé Ebersöhn, 

 

Die nuus van Abraham se afsterwe het my werklik geruk ook al was dit, gesien sy hoë ouderdom, seker nie heeltemal onverwags nie. Mens se hart gaan uit na sy familie en sy naasbestaandes, en dan ook na vriende soos u. Ek weet hoe dierbaar hy vir u was. Ons taal wat, indien die regdenkendes hulle vernietiging daarvan kan voltrek, binne die afsienbare toekoms nie meer sal bestaan nie, het mooi en eerbiedige en sagte uitdrukkings om die onsêbare te probeer verwoord : heengaan byvoorbeeld. En ontslaap. 

 

Baie jare gelede het ek ‘n roman van W.F. Hermans met die titel NOOIT MEER SLAPEN gelees. Die storie het my lankal ontgaan, maar die implikasies van die titel het my bygebly. Beteken om oorlede te wees dat mens dan nooit weer sal slaap nie ? Is ‘om te slaap’ dan so eie aan ons oorlewing? 

 

Abraham het nou die grens na die ewigheid van stilte oorgesteek. Dis soos ek hom verbeel en onthou. Vir diegene wat nog kan hoor selfs al wil hulle nie luister nie, was Abraham Viljoen se stilte egter nie die uiting van verslaentheid of opgee of berou of selfs berusting nie. Sekerlik ook nié van ‘stilbly is ook ‘n antwoord’. nie. Inteendeel, dit  was ‘n gelouterde, sterk en diepe stilte. Miskien selfs ´n vertroosting. Die stilte van iemand wat gedoen het wat hy kón vir solank dit moontlik was, en gewéét het hoe dit is om getrou te bly aan jou ideale gevoed deur oortuiging en empatie. En aan die suiwerheid van eenvoud. 

 

Ek kan nie voorgee dat ek die voorreg gehad het om hom te ken nie. Maar wat in my verweef lê is daardie één dag wat ons, danksy u bemiddeling, saam deurgebring het. 

´n Dag sonder begin of einde met veel lig. Die plaas se naam was Betlehem. Of dalk Jerusalem. Al die Bybelse verwysings. Met Helderberg om ons te laat vergeet van die nabye nes van slinkses wat voorgee hulle is links : die Fariseërs en Saduseërs wat ons enigste eersgeboortereg langs die Eersterivier verkwansel vir ‘n bietjie aansien terwyl die taal nooit hulle s’n was om te verkoop vir ‘n vuil skottel lensiesop nie. Hulle ganse lewe was seker een van selfveragting, en dit sal heimlik ook so bly.

 

Het ons enigiets spesifieks vir mekaar te vertel gehad daardie dag? Ek glo nie. Dit was nie nodig nie. En dit is ongevraagd om nou so ‘n vals noot van verbittering te wil uiter. Ek wil glo Abraham luister nog iewers. Hy oordeel nie. Miskien voel hy net dis nie die stilte werd om te wil redeneer met ‘n praatsieke vervreemde nie! Buitendien, die Boland is mooi in die herfs, met die skoonheid van verbranding.

 

Laat ek liewers in alle ootmoed vir hom sê ek treur ook in stilte, ek huil ook oor wat kon gewees het - ek is ook van ´n familie vol teenstrydighede en synvuur met wie ek nie om dieselfde vuur kon sit nie maar op wie ek trots is. Mense vir wie ek deur die vuur sal loop. Want hulle is eerbare mense met, uiteindelik, net die verantwoordelikheid vir ´n lewe bevolk deur ander en met dieselfde verknogting aan ‘n gedeelde geboortegrond, daardie onbevraagtekende lojaliteit teenoor die medemens as aardling, die ander wat beskerm moet word. Wie sal oordeel? Niemand is onskuldig nie.

 

Saam met sy broer het Abraham Viljoen ´n burgeroorlog voorkom. Gaan vra maar vir Nelson Mandela en Mac Maharaj en Albie Sachs. Gaan vra vir die bure en die werkers van die wêreld waar hy vandaan kom. Moenie vir Carl Niehaus vra nie - hy kan nie help om te lieg en te huigel nie… en dalk ook, wanneer niemand dit sien, ´n bietjie te huil nie. Moet ook nie vir Roelf Meyer vra nie : hy sal nie weet nie. 

 

En wat het ons nou? ‘n Volk wat nie ´n volk is nie en, vir dié van hulle wat oorbly, probeer oorlewe in ‘n partystaat van plunderaars wat heers oor die gemors van woede en armoede, die haat en die vrees, die ongebreidelde vraatsug en die vernedering. 

 

Was ons onbesonne om te droom dat dit anders kon wees? Is dit dan so eie aan die mense-natuur dat ons net lewe om mekaar dood te maak? Néé! Ek wil my verwerdig om te glo ons sou nog steeds dieselfde stryd gestry het, elk op eie manier. Miskien met minder selfverblinding (ek praat nou van myself) en meer geduld en begrip en wedersydse aanvaarding. Miskien met meer bereidwilligheid om te wil leer en verstaan.

 

Abraham sou, dink ek, wéér ‘n stigterslid van IDASA wou wees, wéér saam met Van Zyl Slabbert na Dakar en Gorée reis op soek na erkenning van en geregtigheid vir ons almal. Wat anders kon hy doen? Hy was ‘n man van geloof al het die haatdraendes in sy kerk hom verdryf en verguis. Hy was van daardie uitsonderlike voorbeelde wat wérklik omgee vir die swakkeres, die weduwees en die wese. Hy was een van dié wat dit tog die moeite werd maak om mens te wil wees. 

 

Sy dood sal stil verbygaan. Tog, daar sal altyd mense wees, hoe onvolmaak dan ook, om sy lewe te gedenk. Sy stilte was dalk dié van ontnugtering en ontmagtiging - maar dit was ook die stilte van wysheid. Van iemand wat in geloof en oortuiging verder kon sien as die huidige gespartel om oorlewing. Die Vrystaat, in alle implikasies van stryd en van ruimte en van één-wees met die mensdom se noodlot, was eenvoudig te diep in hom verankerd om ooit op te wil gee. Hy vergestalt, en so sal dit bly, die oerkennis wat oor eeue van ons nietigheid strek: 

die hart fatsoeneer géé

en kan nie anders nie 

 

Ons wil vir hom hamba kahle mfowethu, sê. Soos vir Madiba en Chief Van Zyl en Betsie du Toit en Beyers Naudé en Neville Alexander en Naamgenoot Fischer en Alex Borraine en Oom Tao Versfeld en Johann Degenaar en Dulcie September en Jan Rabie… ons oermoeders en ons abbavaders.  

 

En persoonlik, beste Lamé, wil ek dit kan doen in wat ons neem-en- eet se deel was in stilte en saamwees : ons voëlvrytaal in sonde en stryd ontvang en gebore, en die beliggaming kon wees deur vele lywe en met baie tonge van ons saam-mekaar-andersmaak, van ‘n vry oopheid wat ons ‘Suid-Afrikaan’ sou kon noem sonder om anderpad te hoef kyk, van die aardse en die sublieme, die banale en die ekstase, die skone en die skoonmaak, die behoudenheid én die omvorming… Miskien sou ook dit soos die lewe self net ‘n handomkeer duur. ‘n Mooi illusie. ‘n Tutudroom. Maar dit sal  ook ‘n soeke na sin bly selfs al ontken ons die grammatika van menswees.

 

om diep en stip sonder wegkyk 

In jou oë op te gaan 

asof dit die laaste sien sou wees

van wat jy nog wou déél 

 

om saam te neem na waar sien 

en sien-nie nie meer bestaan 

 

tot aan die donker flikkering 

van die innigste woord 

van kaalgestroop te word in ons taal : 

ontslaap 

 

 

Mag Braam rustig rus - 

 

Breyten Breytenbach