Kontingensie, of noodsaaklikheid, in moderne samelewing
Daar heers
’n toutrekkery tussen twee maniere om met die werklikheid om te gaan in die
Westerse denktradisie; ’n toutrekkery wat veel ouer en veel meer fundamenteel
is as die ewige pseudo-debat tussen die pseudo-religie en die pseudo-wetenskap.
Dit is die onderskeid tussen Verligting en Tragiek.
Ware beskawing, soos Aristoteles dit gesien het, is ’n
interspel tussen tragedie en verligting, skryf Louise Mabille.
DIE TWEESPEL VAN BESKAWING
Die verskil
tussen die twee kan ten beste verduidelik word aan die hand van die filosofiese
begrip ‘kontingensie’. In streng filosofiese terme kan die begrip kontingensie
gekontrasteer word met ‘noodsaaklikheid’. Noodsaaklike waarhede is die groep
(gewoonlik abstrakte) waarhede wat nie weerspreek kan word nie. Dit behels waarhede
soos die feit dat ’n vierkant vier hoeke het, of dat twee parallele lyne nooit
kruis nie. Hierdie waarhede is gewoonlik toutologies (selfverwysend) en vanselfsprekend,
en word dikwels in die wiskunde en formele logika aangetref.
Kontingensie
kan in verband gebring word met die meer toeganklike begrip van ‘toeval’. Dit
verwys na waarhede wat toevallig so is, bv dat ’n mens vyf vingers en vyf tone
aan elke hand en voet het. Daar is niks wat sê dat dit so moet wees nie
– Marilyn
Monroe het byvoorbeeld ses tone aan een voet gehad, en dit het haar nie minder
menslik gemaak nie.
Behalwe vir
‘toeval’ kan kontigensie ook met gebeurlikheid in verband gebring word: die
warboel feite, voorwerpe, emosies, posisies, verhoudings en lewens waarmee elke
mens bedags gekonfronteer word. Dit is die raamwerk van wêreldse gesitueerdheid
wat menslike bestaan moontlik maak. Van die mees fundamentele eienskappe van
menslike bestaan is die feit dat die mens uitgelewerd staan aan hierdie
wêreldkondisie. Nie alleen is die mens se bestaan eindig nie, dit is ook
onderworpe aan veranderlikheid, en wat ons ’n epistemologiese tekort
kan noem: die tweebeendier kan nie deurdring tot die mees fundamentele waarhede
oor óf die heelal, óf oor hom of haarself nie. Dit is die mees fundamentele
aspekte van die menslike toestand.
In die Weste
het daar basies twee maniere ontstaan om sin te maak van kontingensie en die
menslike uitgelewerdheid daaraan. Die mees voor die hand liggende manier vir
die moderne mens is om sy rede in te span. Sedert die Griekse Verligting van
die sesde eeu V.C. het ’n gees van optimisme begin posvat dat die rede of ratio
gebruik kan word om die mens meer tuis te laat voel in sy/haar gesitueerdheid.
Die sleutel daarvoor was natuurlik kennis. Die vroeë Griekse φυσιόλογοι (fisiologoi) was die eerste denkers wat die wêreld in
fisiese, natuurwetenskaplike terme beskryf het. Dit het begin met Thales - van die Ioniese skool, wat gesê het dat
water die oorsprong van alles is – iets wat in ’n waterarme land soos
Suid-Afrika nogal sin maak. Die Ioniese Verligting het natuurlik verder deur
die Griekse skiereiland beweeg tot en met die hoogtepunte bereik deur Sokrates,
Plato en Aristoteles wat almal oor een ding saamgestem het, naamlik dat die rede
die werklikheid kon begrond, of dit nou te vinde is in vorms of gemene delers.
Filosofie self het haar oorsprong in ’n geloof in die rede om sin te maak van
’n mensonvriendelike werklikheid. Deur die eeue het die filosofie en die
natuurwetenskappe ’n optimime oor die denke gedeel - ’n optimisme wat vandag
nog te vinde is in die eindelose pogings van die Anglo-Saksiese tradisie om tog
net ‘n ‘rasionele taal’ te vind wat die werklikheid woord vir woord kan
uitbeeld. Verligtingsdenke verklaar pyn, ongeluk en lyding in terme van ’n
gebrek aan kennis en is gewoonlik aan ’n progressiemodel gekoppel. Toe Descartes
se dogtertjie oorlede is, het hy homself getroos met die gedagte dat die mens
eendag die dood self deur die korrekte aanwending van die natuur kon oorkom, en
sy grootste smart was dat hy nie geleef het in die tyd toe dit moontlik geword
het nie. Spinoza het die begrip kontingensie in sy geheel verwerp, en voorgehou
dat as die werklikheid onregverdig of pynlik voorkom, die rede net beter
toegepas moet word.
Pyn en
lyding is dan ook een van die groot stukragte agter die opkoms van die rede.
Mary Shelley se beroemde wetenskapsfiksieverhaal, Frankenstein, sien dan ook
die rede vir die dokter se eksperimente as ’n poging om die dood - en die pyn wat daarmee saamgaan - te
oorkom. Victor Frankenstein is eintlik ’n personifikasie van die Cartesiaanse
ideaal. ’n Ouer woord wat ook met kontingensie verband hou, is natuurlik die
noodlot. Volgens die verligtingsideaal kan kennis die noodlot tem. ’n Mens moet
net slim en presies wees, en die natuur noukeurig observeer. Dit is die domein
vir die teoretiese mens, die theoreos, wat dinge op ’n afstand beskou, onder
die vergrootglas plaas en ’n skerp lig daarop laat skyn, dus die Ver-lig-ting.
Die
Verligtingsideaal het die Weste vir altyd vervorm, en die rasionele houding het
baie gebied. Niemand ontken die voordele wat die mediese wetenskap gebring het,
en groot tegniese prestasies soos die uitvinding van elektrisiteit (wie sal
daarmee stry – dankie aan Franklin en Edison!) het die wêreld ’n makliker plek
gemaak om in te bly.
Maar steeds moet ons met die digter saamstem: ‘die wêreld
is ons woning nie’.
Die rede
daarvoor kan gevind word in die feit dat die mens, ten spyte van die tegniese
buffer (Gestell) wat hy tussen hom of haarself en die werklikheid bou,
steeds uitgelewer is aan kragte waaroor hy of sy weinig beheer het. Descartes,
byvoorbeeld, was verkeerd - daar is baie meer aan die dood as bloot net ’n
gebrek aan kennis. Meer as ’n duisend deure loop daarop uit.
Dit bring
ons by die ouer manier om die menslike toestand te verwoord, en dit is die
tragedie, of die tragiese lewensuitkyk. Dit is veel meer as net ’n genre waar
die held of heldin ondergaan; dit is ’n estetiese meditasie oor menswees. Waar
die Verligtingsmens homself as ’n denkende subjek sien teenoor ’n objektiewe wêreld,
is die tragiese self ingebed in ’n komplekse kosmiese orde wat groter as haar-
of homself is. In hierdie wêreld moet die handelende self versigtig met die
werklikheid omgaan om die grense wat deur God, die natuur, of omstandighede
getrek is nie te oorskry nie. Volgens Nietzsche was dit die sterk punt van die
ou Attiese tradisie - ’n Griekse tradisie wat ouer is as die rede waarna ons
reeds verwys het, en terugstrek na selfs die orale tydperk. Figure soos
Oedipus, Orestes en Antigone, en die dramas wat rondom hulle gebou is, vertel
bo alles vir die toeskouer - wat nou nie bloot ’n afsydige toeskouer is nie,
maar deel van ’n gehoor wat in die verhaal ingetrek word - dat die lewe, ten
spyte van ons uitgelewerdheid aan die noodlot, steeds wonderlik is, en esteties
verwoord kan word. Ware tragedie vertel nooit ’n morele lessie nie. Nietzsche
sou ’n weersin gehad het aan Thomas Bowdler, die agtiende eeuse sensor wat
aangedring het dat Koning Lear ’n gelukkige einde moet hê! Anders as die
rasionele subjek, vind die tragiese held of heldin nie sommer antwoorde nie,
dit word deur die gebeure, of die kontingente, afgedwing. Daarom kan ons
eintlik die tragedie as ‘die gebeure wat handel’ beskryf, eerder as die subjek.
Bestaan is nie meer so objektief as wat die geval is met die Verligtingsubjek
nie, die self ondergaan eerder die werklikheid as om dit te verklaar. Die
tragiese besoek die donker hoeke waar die lamplig nie val nie. Terwyl Sokrates
van die Symposium in wind en weer buite staan, deur sy rede gepantser
teen die koue op ’n Stoïsynse manier, staan Koning Lear uitgelewer aan die
elemente gedurende ’n storm in ’n onbeskermde veld, verlaat deur sy dogters en
sy goeie oordeel. (Maar natuurlik, net soos Bartho Smit se Keiser, nie sonder
sy hofnar nie).
Ware tragiek
het weinig met konvensionele geregtigheid te doen. Oedipus, Antigone en Orestes
is nie een moreel skuldig aan wat met hulle gebeur nie, tog wys hulle verhale,
anders as die Verligtingsideaal, dat teëspoed wel ’n deugdelike mens kan
besoek. Iemand wat die stelling sou waag dat Macbeth sy dood sou ‘verdien’, het
ook nie ’n idee wat tragedie werklik is nie - dit wys eerder dat daar ’n groter
kosmiese orde is waaroor Macbeth geen beheer het nie. Maar meer nog, dit wys
ook dat die mens van al die elemente van sy of haar lewe kan sin maak -
en bo alles, dat groot kuns ook negatiwiteit benodig om werklik trefkrag te hê
- Polanski se Macbeth (die ‘bloedige’ Macbeth[i]) het nou
eenmaal meeer trefkrag as Bowdler s’n. So ook, sou dit bloot Hollywood wees as
Koki, Van Wyk Louw[ii]
se held in Raka, nie ondergaan aan die einde nie.
’n Mens moet
egter nie die fout maak om te dink dat die tragiese al is wat ons nodig het, of
dat ons ons moderniteit moet verruil vir uitgelewerdheid ten einde meer
outentiek te wees nie. Daar is goeie denkers en skrywers in elke tradisie: rasionele,
wetenskaplike skrywers en sosiale realiste wat die wêreld toeganklik maak, maar
ook goeie skrywers wat die wêreld as ’n onsinnige warboel beskryf. Die
redenasie bestaan dat die tragiese hom veral tans in die gruwelgenre
manifesteer. Thomas Ligotti byvoorbeeld, beskryf die werklikheid as ’n groot
‘sameswering teen die mensdom’. Soos baie skrywers van die kontemporêre
Gotiese, het hy ’n siniese uitkyk op die lewe, net soos sy voorgangers H.P.
Lovecraft en Edgar Allan Poe. Plaaslik is daar natuurlik van die verhale van C.J.
Langenhoven(!) en Herman Charles Bosman wat ’n vreemdheid tussen die humor
oproep. Sy uiteindelike posisie is eintlik heel ontstellend, as ’n mens werklik
daaroor nadink: dit staan bekend as anti-natalisme, of die doktrine dat dit beter
is om nie gebore te wees nie, omdat die lewe vol pyn en onverstaanbaar is, en
dat die goeie nie die slegte in die wêreld regverdig nie. Ligotti het onlangs
prominent geword omdat sy idees ’n groot invloed uitgeoefen het op die
Suid-Gotiese reeks ‘True Detective’. Lovecraft is iemand wat nie so bekend is
in die hoofstroom-letterkunde nie, maar het ’n sterk kultusgevolg, veral onder
die meer denkende gruwelleser. Interessant egter is dat Michel Houellebecq, ’n
skrywer goed bekend aan gereelde Café Riche-gangers, beweer dat Lovecraft een
van sy grootste invloede is. Houellebecq is natuurlik ’n aarts-sinikus en word
ook by die anti-natalistiese tradisie ingesluit. Plaaslik is dit natuurlik
David Benetar van UCT wat ’n anti-natalistiese posisie op utilitaristiese
gronde verdedig – dit sou volgens hom selfsugtig wees om voort te plant, omdat
dit pyn in die wêreld bring. So ’n oordrewe rasionalisme - en ’n voorbeeld van
wat gebeur as die Verligtingsideaal tot sy rasionale uiterste gedryf word,
spring egter terug op homself: as sy voorstel om nie voort te plant nie werklik
gevolg word, sal daar nie meer ’n subjek wees wat die vraag kan vra, of ’n
leser - om Derrida se poskaartmetafoor te gebruik - wat sy boodskap sal kan
ontvang nie. Ons het nie hier met ’n tragiese insig te make nie. Op die oog af
lyk dit nogal op die wysheid van Silenius - Midas se bête noir wat hom
meedeel: ‘Lydende wese, eendagsvlieg, die beste vir jou is nie bereikbaar nie.
Die beste van alles is om nie gebore te word nie, en die tweede beste is om gou
te sterf’. (Die Geboorte van die Tragedie, III, my vertaling). Soos
duidelik uit die anti-natalistiese tradisie, kan tragedie alleen nie wysheid
bring nie. Ware beskawing, soos Aristoteles dit gesien het, is ’n interspel
tussen tragedie en verligting. Ons as mense moet al die hulp en insig gebruik
wat tot ons beskikking is. Ons het dit werklik nodig.
[i] Kyk uit vir die nuwe Macbeth later
vanjaar in die rolprentteaters – ‘n eg Skotse weergawe.
[ii] Ek bevel graag Andre P Brink se Orde en
Chaos aan vir verdere lees.