-->
Vrydagaand se Filosofiekafee-onderwerp was
‘Distopia en Utopia: die rol van politieke en sosiale aspekte in kuns,’
aangebied deur Diek Grobler.
Die spesifieke vorm van kuns wat onder die
loep geneem is was animasie. Twee formate
is aanwesig in die wêreld: eksperimentele animasie, wat nie populisties is nie,
nie aandring op ‘n gelukkige einde nie en selfs nie vereis dat alles in die
film verstaanbaar hoef te wees of ‘n ‘storie’ hoef te vertel nie. Dan is daar kommersiële of ‘Disney’
animasie, wat aandring op ‘n storie - een met ‘n goeie einde - en meestal gemik
is op kinders. Dié styl maak
gebruik van vergrote bewegings en oordrewe ‘toneelspel’ van die karakters. Die styl is grootliks voorskriftelik en
dus voorspelbaar. Hierdie styl is
dominant in die Engelssprekende wêreld en word nie gevind in bv Franse of
Spaanse animasiefilms nie.
Daar was ‘n interessante variasie op die
normale formaat van die Filosofiekafee, in die vorm van die vertoning van ‘n
animasiefilm van 1979, A Tale of Tales
deur Russiese kunstenaar Yuri Norstein.
Norstein was nooit populêr in sy tyd nie en
moes binne moeilike beperkinge werk in die destydse USSR. Sy werk was nie gesensor as sulks nie,
maar hy is nie toegelaat om te toer daarmee nie, selfs nadat hy begin pryse wen
het in die Weste. A Tale of Tales
word deur meeste kenners beskou as die beste animasiefilm ooit. Dit het vier jaar geneem om te maak en
al die werk is deur Norstein self gedoen.
Dit sou onmoontlik wees om so ‘n film vandag te vervaardig, aangesien
dit veels te duur sou wees.
Die werk is grootliks outobiografies van aard
en is gestruktureer soos menslike
herinneringe. Daar is dus nie ‘n
netjiese, chronologiese opeenvolging nie; beelde verskyn herhaaldelik; een
gedagte lei na ‘n ander; daar is ‘n sterk invloed van jeugdige gebeure wat ‘n
groot indruk gemaak het.
Herhalende temas is
-
Oorlog en die vernietigende
effek op Rusland van die stryd op die front tydens WW II
-
Die lig in die oop deur aan die
einde van die gang
-
Groen appels
-
Die baba wat soog
-
Die kat op die tafel
-
Vuur binne en sneeu buite.
-
Die ‘karakters’ wat herhaaldelik verskyn is
die digter, ma met die stootwaentjie, die dogtertjie met die groot bul, die
seuntjie in die park met die kraaie, dansers, soldate en die grys wolfie. Die
wolfie (met groot kop en groot ronde oë) kom uit ‘n baie bekende Russiese
wiegeliedjie wat verwys na die wolf wat die baba sal kom steel – soos ook
uitgebeeld in die film.
Kleurgebruik is besonders: die meeste
beelde is wat ‘n mens seker ‘sepia’ sal noem; effens bruinerig. Nou en dan is daar helderder kleure bv
die groen appel en in die park.
Gedeeltes van die film het byklanke wat ingevoeg is of stilte. Musiek word effektief gebruik: die
klankbaan is gekomponeer deur Mikhael Meyerovich en het ook snitte uit komposisies
van Bach, Mozart en ‘n tango vir die dansers van Petersburski.
Die gesprek ná die tyd was
interessant. Reaksies het
gevarieer van mense wat koud gelaat is tot ander wat meegevoer is deur die
film. Dit is beskryf as ‘soos ‘n
droom’, magies, meesleurend. Dit kyk terug na ‘n nostalgiese utopie – het dit
ooit regtig bestaan? Die utopiese ideaal is wel onderliggend aan die
kommunisme; daar is egter altyd die menslike factor. Daar is gevra of die
meeste van ons ingestel is op woorde – is ons dalk ‘dom’ oor die visuele en
vind dit dus verwarrend? Die film
is gemaak vir alle oë en is nie elitisties nie.
Ten slotte het Diek geantwoord op ‘n vraag
oor hoe die film gemaak is.
Norstein het dit letterlik self gemaak: hy was die regisseur sowel as
die animeerder. Die animasietafel
het gewoonlik ‘n lig reg bo die tafel.
Norstein het ‘cut-out’ animasie gebruik teen verskeie agtergronde. Soms het hy werklike footage gebruik soos
bv voertuie op die pad wat op die agtergrond geprojekteer is. Hy het verskeie glas tableaux gemaak
wat hy gebruik het om diepte te verkry. Inderdaad ‘n kragtoer vir een persoon
om te bereik. Norstein werk reeds
sedert 1981 aan ‘n film genaamd The
Overcoat gebaseer op die kortverhaal van Gogol. Die einde is egter nog nie
naastenby in sig nie. Sy Hedgehog in the
Fog is wel voltooi en word sterk aanbeveel.
Laastens is daar genoem dat daar ‘n
ATKV-projek vir Suid-Afrikaanse animasie aan die gang is asook die Mzanzi
kortfilmfees, waar ses animasie films vertoon is.
Dankie aan Diek Grobler vir ‘n aangrypende
aand!
Ansie de Swardt