VOLLEDIGE TEKS:

Die enigmatiese verbintenis tusen die roman en die filosofie: Charl-Pierre Naude.

INLEIDING

Het die roman enigiets vir die filosofie te sê? Ek gaan vanaand ’n oorsigtelike blik gee oor hierdie kreatiewe verbintenis. Eintlik gaan dit oor meer as die roman, naamlik die uitbeeldingskunste in die algemeen, waarvan die film en die gedig ook voorbeelde is.

As daar een ding is wat my opval oor letterkunde- en politieke opvattings te lande is dit hoe daar skerp skeidings getref word tussen begrippe, pleks dat daar gekyk word na die interaksie en die oorvleueling van begrippe, die hermeneutiese gesprek tussen begrippe.

Gedigte word egter soms op reduksionistiese wyse gesien as óf filosofies, óf beeldend, óf melodies óf geselsend, óf dit, óf dat. Opvattings soos “die kuns dink met die maag, die filosofie met die kop” kom egter dikwels voor. Of, nog erger: “Dit is nie die werk van die digkuns om filosofies te wees nie”, en “die filosofie werk met idees, nie met beelde nie.”

Hierdie oorvereenvoudigde opvattings kom nog voor ondanks die postmodernisme wat die interkonneksie van alles met alles beklemtoon, en ondanks die interdissiplinêre klem van dissiplines in die huidige tyd.



2. Historiese glimpe van die verhouding tussen filosofie en letterkunde



Die denkende verbeelding en die beeldende verbeelding vermeng gereeld in beide die filosofie as skryfsoort, en die letterkunde as ’n skryfsoort.

So het Nietzsche, byvoorbeeld, stories gebruik om sy filosofie uit te beeld. Aldus spreek Zarathustra is ’n goeie voorbeeld. Die teendeel is ook waar: Beeldende skrywers maak ook gebruik van filosofie en die toegespitse denke.

Meer nog, filosowe leer dikwels hoe om filosowe te wees by niemand minder as beeldende skrywers, en skrywers leer om beeldend te skryf by filosowe.

Twee voorbeelde.

Op 24 April 1825 skryf Hegel aan Goethe die volgende: “Wanneer ek bestek neem van my intellektuele ontwikkeling, vind ek jou oral daarin verweef, en ek kan myself net sowel een van jou seuns noem; van jou het my innerlike lewe sy voedingskrag geneem, en die krag gekry om abstraksie te weerstaan. Ek het my koers gevind deur jou konstrukte voortdurend in die oog te hou asof hulle bakens is.”

Hier praat niemand minder as ’n filosoof oor die gevaar van abstraksie, asof hy self ’n digter is!

Daarenteen, het J.G. Herder, die Duitse dramaturg en beeldende skrywer, in 1788 as volg oor Immanuel Kant geskryf, wat op ’n goeie dag baie abstrak kon filosofeer: “Ek het die geluk gehad om ’n filosoof te ken wat ook my leermeester was.”

Abstraksie en konkretisering is nie twee geskeide modusse nie. Konkretisering is ’n onderafdeling van die abstraksiemodus, waardeur abstraksie begrypbaar word. En abstraksie is ’n onderafdeling van die konkretiseringsmodus, wat aan konkretisering sy betekenis gee.

Die beeldende en die filosofiese is twee verskillende maniere van dink, dit is wél so. Maar hulle deel elemente, oorvleuel in oogmerke, en gee geboorte aan mekaar se style en stemme.

Ek wil nou kyk na een gedig en twee romans om die verhouding tussen filosofie en die beeldende letterkunde te belig.



3. Hoe ’n gedig wat ’n prentjie voorhou, soos filosofie wat abstrakte idees bevat, kan kommunikeer



’n Belangrike gedig deur Goethe, Prometheus, werp lig op wat Hegel dalk bedoel het toe hy te kenne gegee het dat hy by Goethe geleer het. Daar is ’n ooreenkoms tussen Hegel se grootse begrip van “gees”, waaraan die mens ondergeskik is en wat influister aan die mens oor hoe om die werklikheid te verstaan, en Goethe ’n begrip van Goethe: sy begrip van die “monades”.

Volgens Goethe werk die letterkunde met monades (’n begrip wat hy by die filosoof Leibniz kry en omskryf het tot sy eie). Die monade is ’n wyse van verstaan wat nie deur die rede verskaf word nie, maar deur die aktiwiteit van die lewe aangebied word en “verhard het” tot ’n beeld of soortgelyke intuïtiewe verstaanswyse.

Hier is my eie omskrywing: Dink aan ʼn diamant wat saamgepers is uit omringende vryswewende koolstof oor ʼn baie lang tyd, dan het jy iets van die prentjie van wat ʼn monade is, en hoe die begrip staan teenoor Hegel se begrip van gees. ʼn Monade is opgebou uit aspekte van menslike ervaring wat gekristaliseer het in ʼn kosbare en duursame verstandhouding, voorstelling, of onsêbare begrip.

Ek sien in die “koolstof” wat die monade oplewer iets van Hegel se “gees”-begrip, en in die monade self is iets wat ooreenstem met gees wat sigself in die menslike kultuur deur middel van inhoude verwesenlik.

Tot sover hoe filosofie by letterkunde leen. Nou, hoe letterkunde soos filosofie, wat abstrakte idees bevat, kan funksioneer.

In die gedig Prometheus (geskryf tussen 1772-4), wat baie omstrede was in sy tyd, is Prometheus, die afgesette god wat die heersende gode uitdaag ter wille van die mens, die voorganger van die mens. Die mens individualiseer tot groter onafhanklikheid weg van die ou jaloerse gode in die rigting van ’n beter goddelikheid (met ander woorde ’n hoër menslikheid) binne die aardse bestaan. Ek haal aan uit die gedig hoe Prometheus die gode en Zeus aanspreek:

Ek ken geen armsaliger wesens
onder die son as julle nie, gode!
Julle voed jul verhewenheid
ellendig met dankoffers
en wierook
van gebede.
Julle sou krepeer,
was kinders en bedelaars
nie hoopvolle dwase nie.

En:

Hier sit ek, ek skep mense
na my eie beeld,
’n geslag wat gelyk aan my sal wees,
om te ly, om te ween,
om die lewe te geniet en gelukkig te wees –
en om jou nie meer te ag nie [Zeus],
net soos ek!



Hierdie is ʼn voorbeeld van hoe die individu (al is hy die grote Goethe) nie tromp-op die verskrikkende realiteit kan benader nie, maar deur middel van die poësie, in ʼn bedekte vorm dus, homself van verdrukkende idees kan bevry. Dit is ʼn gedig wat sê: Ek is hier om jou te help, mens, terwyl jy nog nie die uitdruklike terme van jou redding besit nie.

Die gedig is ʼn singende en dansende vorm van filosofie, net soos die filosofie ʼn gestolde weergawe van die singende dans is. Die gedig is ʼn invoeling tot individuasie (Breytenbach noem dit ʼn “getas in die donker”), terwyl filosofie die uiteindelike vertaling bied vir ʼn rasionele benadering van daardie individuasie.



4. Nietzsche, en J.M. Coetzee se twee romans, Disgrace en The Childhood of Jesus



The Childhood of Jesus is ʼn roman wat op intertekstuele wyse interageer met die meesterteks van die Jesus-verhaal in die Bybel.

Die verhaal speel af binne die sterfte van ʼn fiktiewe wêreldryk, iets soos die postkoloniale, globalistiese wêreld van min of meer hierdie tyd, en die geboorte van ʼn nuwe ryk, iets soos ʼn soort post-globalistiese wêreld wat vermoedelik sou kan volg op die in die storting van die huidige wêreldorde. Die verhaal vermeng egter historiese gegewens, soos verwysings na vergane vervoermiddels, en eietydse gegewens, op ʼn manier wat suggereer dat die storie ʼn allegorie wil wees is oor alle ryke se kom en gaan.

Net soos die Bybelse verhaal ook iets daarvan vertel. Die pessimistiese visie vir die mensdom van Thomas Hobbes in die Leviathan het ’n groot invloed op die werk van Coetzee uitgeoefen en daar is al veel oor geskryf.

In The Childhood of Jesus arriveer die vlugtelingseun David in ’n land wat hawe bied aan vlugtendes uit ’n globalistiese rampsituasie. Die vlugtelingseun praat Spaans, ’n taal waarin die voornaam Jesus algemeen is en net soos Engels ’n wêreldtaal is. Die jong seun David arriveer met ’n vlugtelingman wat nie sy biologiese pa is nie maar ’n soort pleegpa. Hulle is op soek na die seun se ma, maar nie sy biologiese ma nie want David het as weeskind nooit ’n ma geken nie. Inés, ’n vrou uit die welgestelde maar verbrokkelende ou stand neem die vlugtelingseun aan. (Jesus se ouers was ook nie sy eie nie, hy was die Seun van God.)

Daar word in die land van aankoms, wat onbenoem bly, van die vlugtelinge verwag om hul vorige lewens af te lê. Die toekoms is nou ’n vae sosiale kontrak wat dien as kompromie om almal wat uit verskillende oorde gevlug het in ’n nuwe maar oninspirerende omgewing te huisves. Dit is die keerkant van Coetzee se Hobbesiaanse wêreld soos wat dit geskets staan in byvoorbeeld Waiting for the Barbarians. Dit herinner hier eerder aan ’n situasie van afgeleefdheid, van entropie, wat ’n minimum-mate van lewensenergie van die individu verg en in ruil daarvoor ʼn minimum-mate van plesier beloof. Die roman roep die beginpunt van ʼn nuwe ryk op maar die orde wat in die roman wag het nog geen naam nie.

Coetzee se Hobbesiaanse visie vir die mensdom is ’n spanning wat sy werk deurstraal. Die Hobbesiaanse en die keerkant daarvan, die entropiese, kom ook in sy roman Disgrace ter sprake. Die spanning tussen ’n energieke, wrede en selfgerigte Hobbesiaanse uitkoms en die entropiese alternatief is in The Childhood of Jesus weer die spilpunt. Die entropiese is die pool van so min wrywing as moontlik en herinner aan Freud se doodsinstink.

Die tema van die eindelose tragiese herhaling van bloeiende en dan sterwende ryke, wat die verhaal suggereer, roep Nietzsche se begrip van die terugkeer van dieselfde, of die ewige wederkeer op, wat ook in Disgrace figureer.

Tot op die punt van die verskyning van hierdie roman was dit maklik om Coetzee se oeuvre as handelende oor die stryd tussen “koloniale besetters en verdrukte inheemses” te vertolk. Die dieper en belangriker tema, naamlik die tragiek van die Hobbesiaanse mens wat oënskynlik slegs deur sy entropiese keerkant tot ruste gebring kan word, is meer ingrypend en minder voor die hand liggend. Dit is ʼn ontwikkeling binne die oeuvre van Coetzee.

Met Hobbesiaans verwys ek na die opvatting van Thomas Hobbes dat die mens ʼn mateloos wrede dier is wat slegs deur die bestaan van die staat beskerm kan word teen die uitwissing van ander en van homself.

Die entropiese, daarenteen, soos ek dit hierbo stel, is die pool van so min wrywing as moontlik en herinner aan Freud se doodsinstink.

Hierdie teks wil die aandag vestig op ’n oplossing in The Childhood of Jesus wat skynbaar vir die Hobbesiaanse / entropiese botsing as oplossing aangebied word. Die interaksie met filosofie in Coetzee se werk is deurgaans te bespeur.

Die oplossing hier is een wat tegelykertyd teenóór die entropiese sowel as teenóór die Hobbesiaanse staan. Dit is ’n oplossing wat herinner aan Heidegger se scenario van lewenswêrelde wat per definisie nie buite hulself, vir buitestanders, hóéf sin te maak nie, solank die lewenswêreld in homself klop. Die vlugtelingseun David is ’n soort savant-kind. Hy leef in ʼn vreemde wêreld van sy eie, wat beloof om meer opwindend te wees as die entropiese wêreld wat die vrede moet bewaar, en hy neem sy ouers op ʼn hellevaart op pad na hierdie wêreld van redding. Die aangenome ouers besluit om hul wederstrewige seun uit niks anders as liefde te steun nie en sy strewe hul eie te maak. Hulle aanvaar ondanks hul gebrek aan begrip die bestaansgeldigheid van David se visie. Dis ’n enigmatiese, tot dusver vreemde wêreld, hierdie van die seun, waarin hy gulle uitnodigings rig aan ’n ieder en ’n almal wat die gesin op hul vlugtelingtog (weg van die verbeterskole en die bestaande orde) teëkom, om “hom te volg”.

Die oplossing tussen die twee strydende pole, van Hobbes en die entropie, wat myns insiens hier aangebied word, is dat “vreemde” lewens-opsies, veral as dit op liefde gebasseer is, die reg het om op gelyke grondslag met enige aanvaarde orde te bestaan. Die twee opsies hoef nie met mekaar te wedywer nie, hoef nie in mekaar op te gaan nie, hulle moet net mekaar erken. Hierin verval die Hobbesiaanse tragiek sowel as die entropiese wanoplossing wat die lewe in gebluste vorm aanbied as middegrond.

Hier is die laat Coetzee aan die woord wat verskil van die Coetzee van Waiting for the Barbarians en Dusklands. Hierdie verskuiwing na ʼn omhelsing van die subjektiewe lewe stem ooreen met sy verskuiwing in houding oor taal. Daar was ʼn tyd toe hy gesê het hy hoop Engels gaan net van krag tot krag as ʼn wêreldtaal. Lateraan het hy aangedring daarop dat sy biografie eers in Afrikaans moet verskyn alvorens dit in Engels beskikbaar word.

Maar Coetzee se roman is nie filosofie nie. Dit werk met ʼn gevestigde monade (ʼn soort “simboliese piktogram”, kan mens dit ook dalk noem) om op invoelende wyse ʼn hervertolking daarvoor te bied wat uiteindelik op beskrywende vlak die filosofie gaan nodig hê om dit te ontsluit.

Disgrace (of Oneer, soos die welluidende Afrikaanse vertaalde titel van Fanie Olivier lui), toon noukeurige ooreenkomste met die filosofie van Nietzsche, waarsonder die roman in sy dieper lae nie ontsluit kan word nie.

Daar is twee Nietzscheaanse konstruksies wat in Disgrace werksaam is: die een is die konstruksie van “die ewige wederkeer”, die ander een is Nietzsche se hervertolking van die Prometheus-mite in sy boek Die geboorte van die tragedie.

In Die geboorte van tragedie herskryf Nietzsche die rol van sonde wat in die Semitiese Adam-en-Eva-mite voorkom. In eersgenoemde is sonde sleg, in laasgenoemde is “sonde” goed – dit is die goedgunstige transgressie van die Titaan (Prometheus) wat die onbehoorlike mag van Zeus uitdaag. In Coetzee is transgressie ook goed, en dit gaan terug na boeke soos Waiting for the Barbarians. Dit is die teenmag wat die koloniale besetter aan bande wil lê, en die bevolking wil bevry. Maar dit is die nuwe Prometheus, van Nietzsche, wat in Disgrace ter sprake kom. Hierdie Prometheus oorskry enige iets in die postkoloniale diskoers.

Laat ek verduidelik. In die antieke mite bevry Zeus vir Prometheus uit sy kettings op die eensame Kaukasusgebergte, in ruil daarvoor dat Prometheus ’n profesie aan Zeus bekendmaak wat Zeus kon gebruik om sy toekoms teen ’n voorspelde mededinger te verseker. Die profesie was: Indien Zeus ’n seun by sy huidige minnares Thetis sou verwek, sal die spruit eendag “groter as sy vader wees”. Danksy Prometheus, weet Zeus hy moet versigtig wees met spruite verwek. Hy gee Thetis die trekpas.

In die nuwe mite, kom Zeus en Prometheus tot ʼn nuwe vergelyk. Prometheus, wat daarvan hou om nuwe mense uit klei te maak, moet hulle altyd weer vernietig nadat hy hulle gemaak het. Prometheus se vernietiging van sy kleimensies sus sodoende vir Zeus, soos Herodes gesus is deur die doodmaak van die babas. In ruil daarvoor mag Prometheus telkens nuwe mense van klei maak. (Die kinkel is dat in die nuwe mite het Zeus reeds ʼn seun met wie hy ʼn goeie verhouding het en glad nie verdink nie, maar wat hom wel eendag sal vervang ... Hierdie seun van Zeus is ʼn Christus-agtige figuur, en die Christendom het wel die antieke gode op die duur vervang).

Die ewigdurende vernietiging van die klei-mense stel die onoorkomelike dood van geslagte voor, wat mekaar sal vervang in ʼn ewigdurende siklus van wederkeer. Maar die dood is nie die uitvloeisel van sonde soos in die Adam-en-Eva-mite nie, dit is die quid pro quo van die afgekoopte bevryding. In die Semitiese scenario verlos Jesus uiteindelik die mens van die dood wat die uitvloeisel is van sonde. In die herskrewe Griekse mite se scenario van Nietzsche is die dood juis die instrument van verlossing. Dit is ʼn scenario waarin die individu vergaan en die mensheid as geheel oor geslagte heen, in nuwe siklusse, op pad na die verwesenliking van die Übermensch, die antwoorde sal kan vind.

Dit is belangrik om te kyk na die rol van Zeus se seun in die nuwe mite. In die Griekse mite, soos Christus in die Semitiese een, is hy die een wat vertroosting bring. Maar in die Grieks-geïnspireerde mite van Nietzsche, doen hy dit nie deur die afskaffing van die dood nie, maar deur die vérskaffing van musiek aan die mens, sodat die mens se sterfgang sodoende deur kuns versag kan word.

Terug na die roman. Die verhouding tussen geregtigheid en mag staan sentraal daarin. Die roman is ’n uitbeelding van Nietzsche se idee dat die mens se bemagtiging en sy selfkennis in die tyd geskei staan, en dat dade en begrip aan teenoorgestelde kante van die lewensikus staan. Hoe meer ontmagtig die hoofkarakter David Lurie word, hoe meer groei sy selfkennis soos hy hom voortberei op die onvermydelike dood. Intussen skryf hy ʼn opera.

In die terme van Coetzee se oeuvre gaan die verval van mag van die kolonialistiese Engelse wêreldsfeer – deur Suid-Afrika in die roman verteenwoordig – hand aan hand met nuwe begrip en toegeeflikheid teenoor die voormalige verdruktes. Daarenteen gaan die bevryding van die voormalige onderdruktes met die morele ongenaakbaarheid gepaard. ’n Toevlugsoord vir mishandelde honde in die Oos-Kaap word byvoorbeeld die metafoor vir Lurie, asook vir sy kultuur, die globale Westerse kultuur). Die hond word uiteindelik uitgesit.

Die metafoor vir die núwe magsklas is Petrus, ’n swart werker wat landheer word en Lurie se dogter Lucy in ’n aanval op haar plaas in die Oos-Kaap verkrag, en boonop, volgens alle aanduidings, met Lucy se volle instemming met haar gaan trou sodat hy haar grond syne kan maak. Petrus is die vergestalting van nuwe mag, soos wat Lurie van ou, getaande mag die vergestalting is (en Lucy as ondergeskikte van die voormalige orde sowel as in die nuwe orde, versinnebeeld die relatief onskuldiges in die kruisvuur). Van beide Petrus én Lurie is seksuele handelinge waarin ’n slagoffer-party se instemming afgedwing word, dié kenteken.

Die ewige wederkeer is ’n mite wat juis nié noodwendig alles wat gebeur het, sal herhaal nie, hoewel dit in alle waarskynlikheid wel so sal wees. Elke herhaling van hierdie naatsoomblik – die oomblik wanneer die geskiedenis of die psige weer en weer op dieselfde naat (van wederkeer) te staan kom – dra egter die moontlikheid van verandering, as die betrokkenes dit maar net voldoende sou raaksien.

Die feit dat mens kan verwag dat die kans meestal weer en weer verlore sal gaan, in ʼn proses waarin die geskiedenis homself eindeloos herhaal, is in my lesing die oneer, die “disgrace” van die titel.

Hierdie idee van die mens se bemagtiging en sy wysheid wat in die tyd geskei staan is voorwaar ʼn pynlike en tragiese een. Dit verleen ook aan Kavafis se gedigte hul vernaamste spanning. Ook Kavafis is fundamenteel deur hierdie siening van Nietzsche gevorm, en iewers het Coetzee in ʼn swak oomblik te kenne gegee dat Kavafis ʼn groot invloed op hom gehad het. Namate hy egter ongekende sukses as romansier gesmaak het, het hy (na my wete) nooit weer daardie bekentenis gemaak nie.



5. Opsommend



Ek hoop ek kon die verweefdheid van die letterekuns en die filosofie vanaand ’n skeutjie belig. Dit is veral waar die opvoerings van die letterkunde só betekenisvol raak dat mens nie woorde het om dit mee te beskryf nie, dat filosofie die leser behulpsaam kan wees. Mens kan dit noem: die oopmaak van die monades.

Ek gaan nou vir julle ’n gedig lees, van die Amerikaanse digter John Ashbery, wat verskriklik betekenisvol is, maar nie beskryf kan word nie. Dalk kan die filosofie die gedig help ontsluit?

Ek dink dit kan. ʼn Antwoord kom voor in my boek, In die rede geval, wat hier te koop is vanaand. Hier is die gedig:
Breezeway

Someone said we needed a breezeway
to bark down remnants of super storm Elias jugularly.
Alas it wasn’t my call.
I didn’t have a call or anything resembling one.
You see I have always been a rather dull-spirited winch.
The days go by and I go with them.
A breeze falls from a nearby tower,
finds no breezeway, goes away
along a mission to supersize red shutters.

Alas if that were only all.
There’s the children’s belongings to be looked to
if only one can find the direction needed
and stuff like that.
I said we were all homers not homos
but my voice dwindled in the roar of Hurricane Edsel.
We have to live out our precise experimentation.

Otherwise there’s no dying for anybody,
no crisp rewards.

Batman came out and clubbed me.
He never did get along with my view of the universe
except you know existential threads
from the time of the peace beaters and more.
He patted his dog Pastor Fido.
There was still so much to be learned
and even more to be researched.
It was like a goodbye. Why not accept it,
anyhow? The mission girls came through the woods
in their special suitings. It was all whipped cream and baklava.
Is there a Batman somewhere, who notices us
and promptly looks away, at a new catalog, say,
or another racing car expletive
coming back at Him?