TEKS:
Oorlog in ʼn era van tegniese waansin - Pieter Duvenage.
Toe ek in die laat 1970’s en vroeë 1980’s op hoërskool was – en later as student die 1980’s van binne af beleef het – was oorlog ’n tasbare werklikheid. Die Koue Oorlog het soos ’n yskoue wind oor die wêreld gewaai. Die konflik in die Midde-Ooste wou net nie ophou nie. En Suid-Afrika het binne-in ’n grensoorlog én ’n soort burgeroorlog geworstel – net 70 jaar ná die Anglo-Boereoorlog.
Daardie tyd het nie net die nuus bepaal nie, dit het kultuur gevorm. Films soos Apocalypse Now en The Deer Hunter het mens nie net geskok nie, maar diep geraak. Musiek soos The Wall of Brothers in Arms het nie net geklink nie – dit het iets geség: oor verlies, verwarring, broosheid, oor menswees. En dan natuurlik literatuur: Joseph Conrad se Heart of Darkness of hier te lande Alexander Strachan se Wêreld sonder Grense het gewys hoe oorlog mense van binne af verander. Dis in daardie jare dat ek besef het: oorlog is nie net iets wat elders gebeur nie. Dit is iets wat jou kan vorm – of breek. Dit dring deur tot in jou gewete, kom op in jou vrae. Só is my vroeë belangstelling in filosofie aangevuur. Nie die enigste rede om die pad van denke te kies nie, maar wel ’n kragtige een.
En toe kom 1989. Die Berlynse Muur val. Skielik lyk dit of alles kan verander. Daar was vreugde in die strate, hoop in die lug. Francis Fukuyama het selfs gewaag om van die “einde van geskiedenis” te praat. Maar vandag weet ons: oorlog verdwyn nie net nie. Dit is so oud soos die mens self – en onthul die hoogtes én laagtes van ons psige: hoe ons met geweld en konflik omgaan, dit probeer regverdig of beperk. Wat wél verander het, is die wêreld waarin oorlog nou plaasvind. Ons leef in ’n tegnologiese era – die tema van die bydrae.
Oorlog word vandag gevoer in kuberruimtes, deur hommeltuie, en al hoe meer deur kunsmatige intelligensie wat besluite neem waar mense eens moes kies. Dit dwing ons tot nuwe vrae. Kan filosofie – oud en nuut – ons help om sinvol oor oorlog te dink? Ek wil die brandende kwessie op vyf maniere benader.
Ek begin met Aristoteles en sy idee van beweging – waarin konflik en menslike handeling belangrik is – en beweeg dan na Hegel, wat oorlog as deel van geskiedenis, vryheid en wording verstaan (1). Daarna volg ’n tussenbetragting oor Regverdige Oorlogsteorie (Just War Theory) as ’n normatiewe en morele raamwerk (2), gevolg deur Heidegger se ontologiese besinning oor oorlog, en Habermas se poging om dit binne ’n normatiewe model van kommunikatiewe rasionaliteit te plaas (3). Laastens sluit ek af met enkele samevattende gedagtes (5).
1. Aristoteles en Hegel: twee bewegende denkmodelle oor oorlog
Aristoteles was ’n filosoof van beweging – kinēsis. Hy bedoel daarmee nie net fisieke beweging nie, maar ook morele en doelgerigte wording. Alles in die wêreld is, volgens hom, op pad na ’n telos, ’n volheid of vervulling. Vir mense lê daardie doel in die ontwikkeling van deug en die nastreef van geluk (eudaimonia) – nie in isolasie nie, maar in die konteks van ʼn regverdige gemeenskap, die polis.
In só ’n etiek is oorlog nooit ’n doel op sigself nie. Dit kan nodig wees, maar slegs as middel tot vrede, geregtigheid, en die moontlikheid van ’n goeie lewe vir almal. In Politiek (VII.14) sê hy: “Ons voer oorlog om in vrede te leef.” Die radikale implikasie? Oorlog is ondergeskik aan ’n hoër morele orde. Dit is slegs regverdigbaar as dit dien om ’n regverdige en deugsame samelewing moontlik te maak.
Vir so ’n samelewing is goeie oordeel noodsaaklik. Dit is fronēsis, praktiese wysheid – die vermoë om in konkrete situasies reg te oordeel. In die konteks van oorlog beteken dit: Wanneer is dit regverdig om oorlog te voer? Hoe lyk moed sonder roekeloosheid? Hoe bewaar ons geregtigheid te midde van vernietiging? Aristoteles se deugde-etiek – met fokus op moed, matigheid en geregtigheid – bied ’n wyse van dink eerder as ’n stel reëls.
Maar Aristoteles het ook sy beperkinge. Hy het nie alle mense as volwaardige burgers beskou nie. In Politiek(I.5) stel hy dat sommige bestem is om te heers, ander om te dien – insluitend vroue en slawe. Dit noop ons om vandag sy denke met ’n kritiese oog te herlees: kan sy etiek, ten spyte van sy eksklusiewe siening, tog rigting gee in ’n pluralistiese wêreld?
’n Hedendaagse heraktualisering van Aristoteles vra dus nie ’n naïewe terugkeer nie, maar ’n dinamiese gesprek: om sy denke te laat beweeg binne óns wêreld – met ander mense, ander vrae, en ander verantwoordelikhede.
Ook vir Hegel is beweging sentraal – maar sy beweging is dialekties: dit verloop deur konflik, teenstelling, en oorgang na hoër vlakke van orde en bewussyn. Waar Aristoteles beweging sien as voltooiing, sien Hegel dit as ’n worsteling waarin die geskiedenis self ontvou. Oorlog is dus nie bloot tragies nie – dit is soms noodsaaklik vir die wording van vryheid.
In sy Philosophie des Rechts skryf hy: “In oorlog word die etiese gesondheid van volke bewaar” (§324): "War has the higher significance that by its agency the ethical health of peoples is preserved in their indifference to the stabilization of finite institutions... Just as the blowing of the wind preserves the sea from stagnation, so also corruption in nations would be the product of prolonged, let alone ‘perpetual’, peace." Hy vergelyk oorlog met ’n wind wat die see in beweging hou hou – sonder dit, sê hy, raak samelewings opgeblase en korrup. Dis ’n omstrede beeld: oorlog as suiwerende krag, as toets van Sittlichkeit, die etiese gesindheid van ’n volk.
Vir Hegel is die staat nie net ’n regering nie – dit is die konkrete vorm van vryheid, waar individuele reg en gemeenskapswil verenig word. As instellings stagneer, bring oorlog weer beweging. Tog, belangrik: oorlog is nooit vir hom ’n doel nie. Dit is ’n moment in die groter proses waardeur die wêreldgees (Weltgeist) tot selfbewussyn kom. In sy Wêreldgeskiedenis-lesings verwys hy selfs na Napoleon as ’n “wêreldgees te perd” – ’n figuur waardeur geskiedenis versnel. Maar hierdie idees het ook hewige kritiek ontlok.
Michael Walzer, in Just and Unjust Wars, waarsku teen die idee dat oorlog bloot ’n historiese noodwendigheid is: “Warfare is not a Hegelian dialectic, but a human tragedy.” Vir hom is oorlog altyd ’n morele grensgeval wat gereguleer moet word – nie ’n stadium op pad na hoër orde nie.
Daarby kom Hegel se wantroue teenoor internasionale reg. Sonder ’n oorkoepelende gesag, sê hy (§333), is oorlog die laaste arbiter tussen soewereine state. Maar in ’n wêreld ná twee wêreldoorloë, met die opkoms van die VN en ’n bewussyn van menseregte, voel hierdie siening nie net verouderd nie – maar gevaarlik. Dit laat min ruimte vir kritiek op hegemoniese magsmisbruik.
En dan is daar nog ’n probleem: tegnologie. Hegel se oorlog berus op fisieke teenwoordigheid en morele deelname. Maar wat gebeur as oorlog deur hommeltuie gevoer word, met kuberstrategieë en algoritmes, sonder enige morele agentskap? Die soldaat verdwyn agter ’n skerm. Die ervaring van oorlog – vir Hegel só sentraal – begin verdamp.
Tog herinner Hegel ons daaraan dat oorlog dikwels nie van buite kom nie, maar van binne die geskiedenis self. Dit is ongemaklik – maar belangrik. Dit help ons om oorlog te verstaan as meer as net skande: ook as ’n openbaring van mag, idees en wêreldkragte. Sy uitdaging is nie net om te veroordeel nie, maar om te begryp – en dan verantwoordelik te herinterpreteer.
As ons Hegel vandag ernstig wil opneem, moet ons hom nie herhaal nie, maar beslis herinterpreteer. Dit is die ongemaklike waarheid. Filosofie help ons dan nie net om die verlede te interpreteer nie, maar om die toekoms sinvol aan te spreek. As ons sy denke vandag wil gebruik, moet ons dit her-bedink – nie om dit te herhaal nie, maar om dit te konfronteer met ’n nuwe wêreld: een waarin menswaardigheid, aanspreeklikheid en globale geregtigheid nuwe uitdagings stel.
2. Die Regverdige Oorlogsteorie: ’n normatiewe tussenbetragting
Met Hegel het ons gesien hoe oorlog nie bloot as onderbreking van die etiese lewe beskou word nie, maar as ’n moment waarin vryheid, reg en identiteit sigself in die geskiedenis verwerklik. Dis ’n kragtige, selfs ontstellende insig: dat konflik, ten spyte van sy vernietiging, die draer van betekenis kan word. Dat oorlog nie altyd vermybaar is nie – en soms as onafwendbaar of selfs noodsaaklik gesien word. Die gevaar is egter dat oorlog dan te maklik as regverdig aanvaar word, bloot omdat dit gebeur.
In ’n wêreld waarin tegnologie, propaganda en ideologie oorlog alledaags en amper onmerkbaar kan maak, is hierdie gedagte gevaarlik. Dit is hier waar ’n ander Westerse tradisie na vore tree – een wat juis nie oorlog as noodwendig aanvaar nie, maar poog om dit moreel te begrens en juridies te reguleer: die sogenaamde Just War Theory.
Hierdie tradisie het sy wortels in die klassieke Romeinse en Christelike denke – van Cicero en Augustinus tot Thomas van Aquino, en beweeg via Hugo Grotius na moderne denkers soos Michael Walzer. Anders as Hegel vra hierdie denkers nie wat oorlog ís in die geskiedenis nie, maar eerder wanneer oorlog regverdig is – en hoe dit gevoer moet word.
Waar Hegel klem lê op botsende soewereiniteite sonder ’n hoër gesag, hou die Just War-tradisie vol: selfs in oorlog bly morele en regsbeginsels geldig. Daar is drie hoofkategorieë: jus ad bellum (regverdiging vir die begin van oorlog), jus in bello (regverdigheid binne oorlog), en jus post bellum (geregtigheid ná oorlog). Binne hierdie raamwerk word vrae gevra soos: Is daar ’n regmatige oorsaak? Is oorlog die laaste uitweg? Word burgers en vegters duidelik onderskei? Is die geweld proporsioneel?
Hierdie verskuiwing van historiese noodwendigheid na morele norm stel ’n belangrike eis: oorlog moet nie net agterna beoordeel word nie, maar van die begin af aan universele maatstawwe getoets word.
Tog is hierdie benadering nie sonder spanning met Hegel nie. Wat as daar, soos Hegel waarsku, geen werklik geldige universele gesag bestaan nie? Wat as “regverdigings” altyd deur die oorwinnaars geskryf word? Wat as morele norme verskuil raak agter retoriek of ideologiese rasionalisering?
Die Just War-tradisie bied in daardie sin nie net ’n alternatiewe perspektief nie, maar ’n normatiewe uitdagingaan alle vorme van magsdenke: dit vra nie net wat gebeur nie, maar wat behoort te gebeur – en wie daarvoor aanspreeklik is. Dit herinner ons daaraan dat oorlog nie bloot ’n gegewe is nie. Dit is ’n menslike keuse waarvoor verantwoordelikheid geneem moet word – moreel, politiek én juridies.
Maar in ons tegnologiese tyd word selfs hierdie tradisie tot sy grense beproef. Want oorlog het fundamenteel verander. Slagvelde het plek gemaak vir hommeltuigaanvalle van duisende kilometers ver, vir kuber-oorloë wat infrastruktuur saboteer, en vir kunsmatige intelligensie wat teikens identifiseer en uitskakel.
Wat gebeur met die etiese inhoud van oorlog wanneer die aanvaller geen risiko loop nie? Wanneer oorlog gesteriliseer en afstandelik word – sonder bloed, sonder teenspoed, sonder teenwoordigheid? Wanneer daar nie meer ’n soldaat is nie, maar ’n skerm, ’n algoritme?
Michael Walzer waarsku al in Just and Unjust Wars (1977) teen die verlies aan morele sensitiwiteit wanneer oorlog verontmenslik word. Brian Orend voeg by: tegnologie mag wel die vorm van oorlog verander, maar dit verskuif nie morele verantwoordelikheid nie. Die Just War-tradisie mag dan oud wees, maar dit is juis in ons era dat dit verdiep moet word – om nuwe grense vir geregtigheid te trek in ’n wêreld van onpersoonlike oorlogvoering.
Die regverdige oorlogsteorie bly dus ’n beweeglike etiese poging: nie om oorlog te verhef of permanent te legitimeer nie, maar om dit voortdurend te bevraagteken en binne die grense van menswaardigheid te hou. In ’n era van tegniese waansin is dit dalk een van ons laaste morele ankers.
3. Heidegger en Habermas: die ontologie en die normatiwiteit van oorlog
Na die teleologiese denke van Aristoteles, Hegel se historiese dialektiek en die regsnormas van Just War Theory, bring Martin Heidegger (1889–1976) ’n radikaal ander perspektief. Vir hom is oorlog in die eerste plek nie ’n politieke of morele probleem nie, maar ’n ontologiese gebeure – iets wat ons verhouding tot waarheid, tegniek en eindigheid blootlê.
In Einführung in die Metaphysik (1935) verbind hy oorlog met Polemos, die oorspronklike stryd waaruit orde en betekenis na vore kom. “Only where there is strife is there also the possibility of Being,” skryf hy. Hierdie stryd is fundamenteel: nie bloot militêr nie, maar eksistensieel – dis hoe menslike bestaan tot sy grense kom, en nuwe moontlikhede ontsluit.
Maar in die moderne era het hierdie stryd vervals, sê Heidegger. In Die Frage nach der Technik (1954) waarsku hy teen Gestell – die tegniese bestel waarin alles, ook die mens, tot hulpbron gereduseer word. Oorlog word daarin self tegnies: bestuurbaar, afstandelik, gerasionaliseer.
Die gevaar, sê hy, lê nie net in oorlog self nie, maar daarin dat ons dit nie meer as oorlog ervaar nie. Wat eens ’n radikale ervaring van moed, verlies of vrees was, word nou tegnies bestuur – sonder aanspreeklikheid of betekenis. Dis oorlog sonder teenwoordigheid, sonder gebrokenheid – en dus sonder waaragtige ontmoeting.
Heidegger bied nie riglyne of kriteria soos Just War Theory nie. Hy oordeel nie dit nie – hy wys bloot. Maar, wat hy wys, is skokkend: ’n wêreld waarin die mens vervreem van wese self, en oorlog slegs ’n funksie van tegnologiese werking word.
Na die Tweede Wêreldoorlog, in die Bremer und Freiburger Vorträge (1949), praat hy nie triomfantlik nie, maar gebroke en ontredderd. Oorlog, sê hy, het iets in ons selfverstaan laat verbrokkel. In sy beroemde Spiegel-onderhoud (1966) sê hy: “Only a god can still save us.” Dit klink byna mistiek, maar dit is Heidegger se poeties-mediatiewe wyse van denke as diepe insig in die krisis van moderniteit – ’n verlange na ’n nuwe begin van denke, nie gefikseer op beheer nie, maar ontvanklik vir wat is.
Heidegger se stiltes oor Nazi-gruwels, en sy ambivalente houding ná die oorlog, bly egter problematies. Hy bied geen morele evaluasie nie. Maar tog – sy insig in die tegnologiese bestel waarin alles bereken en bestuur word, bly een van die skerpste beskrywings van ons tyd. Die vraag wat hy laat hang, is dít: As alles tegnies bepaal word, waar is daar nog plek vir geregtigheid, verset of hoop?
Presies op dié punt word Jürgen Habermas (1929-) se denke belangrik. Waar Heidegger blootlê, probeer Habermas herbou. Waar Heidegger vra wat gebeur met ons verhouding tot wees?, vra Habermas: Wat doen ons daarmee? Hoe praat, oordeel en handel ons binne ’n wêreld wat ook moreel herbesin moet word?
Habermas plaas oorlog binne ’n raamwerk van kommunikatiewe rasionaliteit. In plaas daarvan om oorlog as ’n noodwendigheid (soos by Hegel) of as eksistensiële stryd (soos by Heidegger) te sien, koppel hy dit aan die vermoë van mense om reg, rede en gesag diskursief te legitimeer. In Between Facts and Norms (1996) stel hy dit duidelik: “Legitimate law must be able to be accepted by all citizens in a discursive manner.”
Vir Habermas kan oorlog slegs geregverdig word indien dit voldoen aan internasionale reg, menseregte, en universeel aanvaarbare norme – nie deur magsbalanse of geopolitieke voordele nie. Oorlog moet voortvloei uit openbare redevoering, nie elitistiese of geheime besluite nie. Maar juis in ’n era van tegnologie – van kuber-oorlog en hommeltuie – word hierdie ideaal bedreig. Oorlog onttrek hom aan demokratiese beheer.
Habermas se sentrale idee is dat geweld die teenoorgestelde is van kommunikasie. In Theorie des kommunikativen Handelns (1981) onderskei hy tussen strategiese en kommunikatiewe handeling – en wys hoe oorlog kommunikasie vernietig: dit vervang rede met mag.
In Die postnationale Konstellation (1998) pleit hy vir ’n herbesinning van internasionale reg: wêreldregering nie in die sin van hegemonie nie, maar van wêreldburgerskap en regmatigheid. Hy ondersteun humanitêre ingryping, mits dit voldoen aan streng norme – soos in Kosovo of Rwanda – en het die Amerikaanse inval in Irak (2003) sterk gekritiseer as onregmatig, onwettig en immoreel.
Tog is Habermas se model nie sonder spanning nie. Kritici soos Chantal Mouffe wys daarop dat konflik nie altyd diskursief opgelos kan word nie – dat antagonisme en emosie deel is van politieke werklikheid. Habermas se rasionalisme mag dalk die strukture erken waarin geweld ontstaan, maar onderskat dalk die onversoenbaarheid van sekere visies op die wêreld.
Maar ten spyte van hierdie kritiek bly Habermas se stem belangrik: hy herinner ons daaraan dat oorlog nie slegs ’n daad is nie, maar ’n normatiewe breuk – iets wat altyd verantwoord moet word: nie net juridies nie, maar moreel, in gesprek, voor die wêreld.
4. Slotgedagtes
In die Westerse filosofiese tradisie is daar ’n ryke en ernstige poging om oorlog te begryp – nie bloot as daad van mag nie, maar as etiese, historiese en selfs metafisiese verskynsel. Aristoteles sien oorlog as instrumenteel – ’n middel tot vrede, waarin die polis homself kan beveilig sodat die deugdelike lewe kan floreer. By Hegel is oorlog ’n moment van historiese selfverwerkliking, waar die volksgees deur konflik ryp word en vryheid ’n konkrete gestalte aanneem. Heidegger, op sy beurt, verskuif die fokus radikaal: oorlog is vir hom nie eers eties of histories nie, maar ’n gebeurtenis op die grens van menslike bestaan – iets wat ons verhouding tot wese en tegniek aan die lig bring. En Habermas bring uiteindelik ’n normatiewe raamwerk na vore waarin oorlog slegs geregverdig kan word as dit aan die beginsels van diskursiewe regmatigheid en kommunikatiewe rede voldoen.
Tussen al hierdie figure loop daar ’n draad: die Regverdige Oorlogsteorie – ’n pogingsraamwerk om oorlog moreel te begrens. Nie as eerste keuse nie, maar as laaste uitweg, onder streng voorwaardes van geregtigheid: daar moet ’n regverdige oorsaak wees (jus ad bellum), oorlog moet op regverdige wyse gevoer word (jus in bello), en die nawerking van oorlog moet tot ’n regverdige vrede lei (jus post bellum).
Maar in die tegnologiese era begin hierdie denke knel. Wat beteken “regverdige oorlog” wanneer oorlog nie meer aanvoel soos oorlog nie – wanneer daar geen teenwoordigheid meer is nie, geen liggaamlike risiko nie, geen gewetensnabyheid nie? Wat gebeur met morele oordeel wanneer oorlog gedigitaliseer, geoutomatiseer en gedelegeer word aan kunsmatige intelligensie? Paul Virilio het reeds in die laat twintigste eeu gewaarsku teen die versnellende logika van oorlog: dat tegnologie dit so vinnig, so verwyderd en so rekenbaar maak dat oordeel – die kern van etiek – eenvoudig nie meer kan byhou nie.
Dit is hier waar Heidegger se waarskuwing weerklink. In die Gestell, die tegnologiese bestel, word alles – ook oorlog – gesien as hulpbron, as funksie, as berekenbare objek. Oorlog het nie meer die karakter van eksistensiële skeuring nie; dit is stil, rofweg geruisloos – en juis daarom gevaarlik. Die gevaar lê nie net in vernietiging nie, maar in ons onvermoë om te voel, om te onderskei, om weerstand te bied.
Habermas voeg ’n ander, maar verwante bekommernis by. Vir hom is oorlog wat buite openbare diskurs plaasvind, wat nie ingebed is in demokratiese proses of rasionele gesprek nie, fundamenteel ondemokraties. Dit onttrek hom aan die legitimerende struktuur van regsorde, burgerlike deliberasie, en universele beginsels van menseregte. In plaas daarvan word besluite oor oorlog dikwels geneem in strategiese kamers, in algoritmiese berekeninge, verwyderd van diegene wat die gevolge moet dra.
Maar die krisis is nie net tegnologies of demokraties nie – dit is ook epistemologies. Want soveel as wat die Westerse tradisie – van Aristoteles tot Habermas – ’n ryk erfenis bied, is dit nie universeel nie. Dit is gevorm in spesifieke historiese, kulturele en magspolitieke kontekste. Die vraag is dus: wat gebeur as ons hierdie denke oopmaak vir ander wysheidsbronne – vir stemme wat dikwels buite die hoofstroom van filosofiese kanons gehou is?
In Oosterse tradisies, soos Boeddhisme en Confucianisme, word oorlog dikwels gesien as ’n mislukking van balans, ’n afwyking van die pad van innerlike vrede en sosiale harmonie. Die oplossing lê nie in oorwinning nie, maar in transformasie – in die herstel van orde binne die self én in die gemeenskap.
Ubuntu, die Afrikafilosofie wat die mens-in-verhouding beklemtoon, bied ’n ander insig: dat oorlog ’n breuk is in gemeenskaplike weefsel, en dat vrede nie die afwesigheid van geweld is nie, maar die aktiewe herstel van menslikheid-in-verhouding. Dit is nie net ’n ontologiese of politieke probleem nie, maar ’n etiese oproep tot herverbinding.
Gandhi se leer van satyagraha, die krag van waarheid en nie-gewelddadige weerstand, wys op ’n ander moontlike verhouding tot konflik. Vir Gandhi was ware weerstand nie passief nie, maar aktief – ’n morele getuienis, selfs in die gesig van strukturele onderdrukking.
En in dekoloniale denke – by denkers soos Frantz Fanon, Enrique Dussel en Achille Mbembe – word oorlog gelees as struktuur, nie net as gebeurtenis nie. Dit is nie net ’n botsing van gelyke moondhede nie, maar ’n voortsetting van historiese onderdrukking, van koloniale logika, van globale onreg. Die vraag hier is nie net of oorlog regverdig is nie, maar wie die magsbepalers is wat die definisie van geregtigheid besit – en hoe dié strukture afgebreek kan word.
Dit is egter interessant dat nie een van die genoemde tradisies, Oosters, Afrika, Indies en postkoloniaal word ʼn duidelike regverdige oorlogsteorie ontwikkel nie. Ook nie iets met die intellektuele bedoelinge van Habermas se kommunikatiewe handelingsteorie nie.
Uit al hierdie perspektiewe volg eerder ’n eenvoudige maar radikale vraag: Hoe verbreed ons ons verstaan van oorlog sodat dit reg laat geskied aan die verskeidenheid van wêreldlike ervaring én die morele spanninge van ons tyd?Want in ’n era van kunsmatige intelligensie, kuber-konflik en outonome wapens, vervaag die grense tussen soldaat en burger, tussen aanval en verdediging, tussen vrede en permanente gewelddadigheid. Die ou kategoriseringe – jus ad bellum, jus in bello – is onder druk. Maar die behoefte aan oordeel is groter as ooit.
Hiermee kom ons by wat ek noem bewegende denke. Hierdie filosofiese ingesteldheid begin by Aristoteles se insig in beweging as die oorgang van potensiaal na aktualiteit. Maar dit ontwikkel verder: tot ’n filosofie van voortdurende onderskeiding, ’n denke wat nie in vaste sisteme rus nie, maar in die beweging van oordeel self – altyd in verhouding, altyd in gesprek, altyd bewus van sy eie grense.
Bewegende denke erken dat geen begrip van vrede, oorlog of geregtigheid finaal is nie. Dat elke oordeel situatief, histories en moreel ingebed is. Dit dring aan op voortdurende herwaardering – nie net binne bekende tradisies nie, maar tussen tradisies. Dit vra nie net of oorlog regverdig is nie, maar ook: Wat maak oorlog moontlik? Wat beteken oorlog vir wie? En wat sou dit verg om oorlog oorbodig te maak?
Hierdie denke is nie relatiwisties nie – inteendeel, dit is veeleisend. Want dit vra dat ons teenwoordig bly – nie net teenoor norme en beginsels nie, maar teenoor mense en geskiedenisse. Dit vra ’n houding van weerloosheid en onderskeiding, van luister en verantwoordelikheid – teenoor die verlede, die ander, en die moontlikheid van ’n ander wêreld.
Dalk is die werklike uitdaging van ons tyd om drie registers sáám te hou:die normatiewe riglyne van die Regverdige Oorlogsteorie, die histories-ontologiese insig van Hegel en Heidegger (en sommige van die nie-Westerse tradisies soos genoem) en die kommunikatiewe etiek van Habermas.
In so ’n veelstemmige gesprek kan filosofie meer as norm of analise wees – dit kan word wat dit oorspronklik was: ’n liefde vir wysheid, gegrond in die soeke na geregtigheid, vrede en betekenis. Dáár lê die belofte van bewegende denke: nie as oplossing nie, maar as oriëntering. Nie as finale antwoord nie, maar as die vermoë om te bly vra – te vra na wat regverdig is, wat moontlik is, en wat nodig is in ons tyd.
Want in die laaste instansie gaan dit nie net oor oorlog nie. Dit gaan oor hoe ons oordeel. Hoe ons onthou. Hoe ons leef – en met wie.