Die plek van gemeenskap in die tyd van globalisering

Terugberig: Lydia Von Wielligh-Steyn

Vir die wat die Nederlandse filosoof, politikus en musikus Ad Verbrugge by die Filosofie-kafee gemis het op 26 Januarie 2016, lees gerus die terugberig van sy gesprek hieronder.



Ad Verbrugge verwys na die dood van die filosoof Sokrates, wat homself as’t ware opgeoffer het vir die polis of gemeenskap, wat binding tussen ′n plek en sy mense skep en waar dit handel oor “sorg vir mekaar”. Alle individue vorm deel  van ′n gemeenskap, en dit begin reeds by die gesin – ′n eenheid wat tans onder druk verkeer en waar heelwat sosiale probleme hul oorsprong het.

Vryheid van individuele regte is beding in die 1960s in Europa. Nou word dit ′n globale ordening. Grense word tans opgehef wat verkeer van mense, goedere en dienste betref. Die wêreld van die tegnologie verbind ons aan die ekonomie en versterk ook die rol van die individu binne die gemeenskap.

Een van die gevare van globalisering is die skep van gedelokaliseerde ruimtes waarbinne prikkels verskaf word deur Youtube, Instagram ens.

Wat ek doen, kan ek slegs doen danksy die bestaan van Die Ander. Wanneer my groet byvoorbeeld nie beantwoord word nie, is dit bloot gek. Die erkenning van jou as ′n persoon vorm die grondslag van die juridiese stelsel. Wanneer die krimineel jou deur middel van sy dade ontken as persoon, ontken hy terselfdertyd ook homself.

Gemeenskap gaan oor die tot bloei bring van jouself en Die Ander. Dit geld ook vir instellings. Politiek handel oor die organisering van ruimte. Politieke vervreemding ontstaan wanneer daar nie meer ′n gemeenskapsgevoel bestaan nie. Die politiek het ′n spesifieke taak om mense tot volle bloei te bring.

Die stedelike ruimte “suig” talent op van die landelike gebiede. Jongmense verlaat die platteland omdat hulle nie geleenthede daar sien nie. Ironies genoeg beland hulle dan meesal in afgesonderde voorstede buite die stad. Op streeksvlak kan mens egter wel van betekenis wees. Die kulturele sfeer kan bevorder word. Deur trots op jou herkoms kan ′
n desentraliserende tendens geskep word.