Wat wil ons vergeet, en waarmee wil ons woeker?
Om nie onoordeelkundig af te breek óf te behou nie, só stel Louise Mabille voor moet ons dink aan die onlangse stormloop op koloniale standbeelde. Die geskiedenis is 'n balanseertoertjie, sê sy, en elke gesprek wat ’n mens met die geskiedenis aanknoop, dra tot daardie geskiedenis by.
Dr. Mabille sê in hierdie artikel dat die standbeelde-debat in 2015 haar herrinner aan Nietzsche se Gebruik en Misbruik van die Geskiedenis vir die Lewe.
DIE GESKIEDENIS AS BALANSEERTOERTJIE
|
Foto: Gallo Images. |
-->
Dit is moontlik om Foucault te parafraseer en te sê dat
die geskiedenis ’n malhuis is. Dit wil sê, dit is allesbehalwe ’n enkele groot
verhaal, laat staan nog een van progressie en voorspoed. Wat ons al te maklik
“geskiedenis” noem, is eintlik ’n metoniem, of ’n opsomming van ’n klomp groot
verhale, waarvan die meeste nog boonop in stryd met mekaar staan. Daarby is min
van hierdie verhale vir almal toeganklik. Blote geletterdheid impliseer nie
historiese geletterdheid nie. Maar dat die geskiedenis, wat op die oog af stom
en verby is, wel ’n houvas op mense kan hê, kan duidelik gesien word uit die
effek wat ’n aantal standbeelde uit die verlede tans op die hede het.
Die belangrikste beeld, wat eintlik die “beeldstorm van
2015” aan die gang gesit het, is natuurlik die standbeeld van die invloedryke
Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad. Sedertdien is nog
standbeelde aangeval. Dit is duidelik dat dit meer oor geskidenis as kuns gaan,
en daarom het ek ’n ou bekende tema nadergetrek: Nietzsche se Gebruik en
Misbruik van die Geskiedenis vir die Lewe (“Vom Nutzen und
Nachtheil der Historie für das Leben”). Gegewe die Foucauldiaanse malhuis wat
die geskiedenis eintlik is, is dit nogal ’n aantreklike prentjie wat Nietzsche
hier skep van sorgelose beeste:
“Beskou die
weiende beeste soos jy hulle verbygaan. Hulle weet nie wat bedoel word met more
of vandag nie. Hulle spring rond, eet, rus, verteer hulle kos, spring weer
rond, van die oggend tot die aand en van dag tot dag, en hulle is nooit
teneergedruk of verveeld nie.
Maar die mens
wonder nog die meeste oor homself, dat hy nie kan vergeet nie, en bly vasklou
aan dinge van die verlede. Dit maak nie saak hoe ver of vinnig hy hardloop nie;
die verlede is nog altyd soos ’n ketting by hom. Die oomblik is ’n wonderbaarlike
ding: skielik daar en skielik weer weg. Nogtans kom dit weer terug soos ’n gees
wat by ’n mens kom spook. Dit is soos ’n blaar wat van die rol van tyd ontsnap
en wegwaai; net om weer terug te waai in ’n man se skoot. Dan sê die man ‘ek
onthou’ en voel niks minder as jaloesie teenoor die dier nie, wat dadelik
vergeet, en elke moment onder wolk en nag sien verdwyn”.
Juis dít wat die mens sy menslikste maak, is
ook dieselfde aspek wat hom of haar die meeste uitgelewerd laat voel. Dit is
duidelik te siene aan die effek wat slegs ’n paar dekades oue standbeelde kan
wakker maak.
Volgens Nietzsche is daar drie maniere om met die
geskiedenis om te gaan. Die eerste is die geskiedenis as monumentale verhaal.
Dat hierdie manier van omgang met die geskiedenis so ’n belangrike rol in ons
eie verlede gespeel het, kan help om te verklaar waarom daar soveel woede in
die openbare ruimte rondom koloniale standbeelde is. Alle volke het groot
inspirerende figure op strategiese tye in hul geskiedenis nodig: sulke figure
dien as ideaal en maatstaf vir die toekoms. Sulke figure is dan ook dikwels ’n
verpersonifisering van wie en wat ’n volk eintlik wil wees.
|
Foto: Netwerk24.com. |
Soms egter, kan ’n inspirerende figuur so groot
uitrys bo die res van sy volk, dat daar geen sprake meer is van in ’n
verhouding staan met hierdie figuur nie. Die figuur word so groot dat hy of sy
eintlik mitiese status aanneem. Die ideaal word onmenslik hoog gestel sodat niemand meer
hierdie status kan bereik nie. Die gelyknamige figuur in Shakespeare se Julius
Caesar is so ’n figuur. Vir Brutus en Cassius was Caesar naderhand so ’n reus
dat daar vir niemand anders meer ruimte in die openbare sfeer was nie:
Hy betree die klein wêreldjie soos ’n Kolossus
En ons klein mannetjies loer agter sy reuse-bene
uit
Net om ons uiteindelik in eerlose grafte te vind
(my vertaling)
Dit is geen toeval dat Rhodes ook met ‘n “Kolossus”
geassosieer word nie. Hy het in ’n stadium gesê dat “hy die maan sou koloniseer
as hy maar net kon”. In Rhodes se geval het ons met ’n negatiewe Kolossus te
make. Die woede wat rondom hierdie figuur uitgebreek het, sowel as die
uiteindelike verwydering van die beeld, daag nie werklik die koloniale
(kolossale) verlede uit nie, maar bevestig die greep wat Cecil John Rhodes
steeds op die gekoloniseerde hede het. Die verwydering van sy standbeeld is
eintlik net nog ’n insident in die beeld se verlede. Selfs al word die beeld
nou in ’n museum geplaas, het dit onlangs meer aandag ontvang as in die
afgelope vyftig jaar.
Die
uiteindelike verwydering van die beeld, daag nie werklik die koloniale
(kolossale) verlede uit nie, maar bevestig die greep wat Cecil John Rhodes
steeds op die gekoloniseerde hede het.
Daar is egter slegs een antwoord op ‘n “Kolossus”:
nog ’n Kolossus. In Suid-Afrika het ons meer as een antwoord gehad: eers Paul
Kruger, en heelwat later, Nelson Mandela.
Geen
land kan egter net op ’n dieet van groot figure oorleef nie, en mense moet leer
om saam met die kolosse van die verlede te leef sonder om in hul skadu te
staan. Slegs dan kan daar sprake van vryheid wees.
Omdat Suid-Afrika so ’n jong land is, is dit wat
oud is vir ons dikwels iets eksoties en waardevol. Maar die drang om te
preserveer is wat Nietzsche die antikwariese geskiedsorïentasie genoem het. Om
te bewaar, is ’n gesonde begeerte, en kan baie waardevol wees. Niemand wil in
die verskriklike posisie wees van die Jode ná die Tweede Wêreldoorlog, wat bo
en behalwe die verwerking van die verlies aan hul geliefdes, ook die brokstukke
van hul tradisie moet optel nie. Tog is antikwariese geskiedenis nie net
voordelig nie. Hans-Georg Gadamer sluit aan by die gedagte van antikwariese
geskiedenis, met sy konsep van die “museumifikasie” van die alledaagse lewe.
Soos Foucault gewys op die tendens om elke aspek van die lewe aan ’n kenner te
onderwerp in die moderne tydperk, so is daar ’n tendens in die moderne Weste om
allerhande aspekte van die lewe – kos, seks, geld – in museums te verewig.
Volgens Nietzsche kweek hierdie antikwariese vashou van die verlede ’n
negatiewe opvatting teenoor die lewe: niemand voel ooit vry om die toekoms
sonder hierdie gewig aan te pak nie.
Dit is slegs deur die derde modus waar Nietzsche
genoeg lewensvatbaarheid in die geskiedenis sien om dit waardevol vir die hede
te maak. Dit is net as mens op ’n kritiese wyse met die verlede in
gesprek tree wanneer dit van waarde word vir die hede. Tans is daar ’n tendens
om die verlede in terme van “skuld” te bedink: een groep is die eendimensionele
skuldenaars en die ander die eendimensionele slagoffers. So ’n interpretasie
van die verlede maak egter van almal eendimensionele kartonfigure, en hou almal
in ’n toestand van stasis vas.
|
Foto: Netwerk24.com. |
Die woord “krities” kom van die Grieks kritikē
af, wat rofweg vertaal as “uitmekaar haal om te bestudeer”. Volgens Nietzsche
is dit noodsaaklik om krities met die geskiedenis om te gaan. Dit beteken om
nie onoordeelkundig te vernietig óf te bewaar nie. Die geskiedkundige bevind hom
of haar as’t ware op ’n dun koord oor ’n hoë afgrond. Beide te veel en te min
geskiedenis kan dodelik wees.
Elke gesprek wat ’n mens met die
geskiedenis aanknoop, dra tot daardie geskiedenis by.
Dit is nie
net vir die professionele geskiedkundige nie, maar vir almal wat hulle in die
huidige tydsgewrig bevind, nodig om te besluit wat hulle wil vergeet en waarmee
hulle gaan woeker. Dit is belangrik, want elke gesprek wat ’n mens met die
geskiedenis aanknoop, dra tot daardie geskiedenis by.