Terugberig: Christo Lombaard en die Catch-22 van Genesis 22.



Christo Lombaard en die Catch-22 van Genesis 22.
Daar is min dinge waarvan ons Afrikaners so hou as ‘n lekker teologiegesprek. Daarvan getuig die briefkolomme in die pers daagliks. Soms is hierdie gesprekke nie altyd van die hoogste gehalte nie. Maar daar is gelukkig ook ‘n sterk hermeneutiese tradisie in die Afrikaanse denkwêreld. Daarvan getuig die kwaliteit van ons teologiese navorsing!
Die filosofiese jaar by Café Riche het op 31 Januarie juis op so ‘n noot afgeskop met ‘n fassinerende oorsig van die hoogs problematiese teks van Genesis 22, ingelei deur Christo Lombaard van UNISA se teologiefakulteit. Die betrokke teks vertel die verhaal van God se opdrag aan Abraham om vir Isak te offer. Dit is ‘n teks wat baie lesers erg ongemaklik stem, aangesien dit moeilik is om dit met die liefdevolle beloftes van God die Voorsiener te versoen. Soos Lombaard dit dan ook stel, dit is voorwaar ‘n Catch-22 situasie! (Die term Catch 22 verwys na Joseph Heller se beroemde roman oor hoe absurde burokratiese reëls oorlog nog verder bemoeilik. Die Catch-22 situasie geld natuurlik wanneer soldate poog om gevaarlike missies vry te spring deur hulself as waansinnig voor te doen, juis dit demonstreer hoe rasioneel en gebalanseerd hulle werklik is. So was Abraham ook tussen ‘n duiwel en ‘n diep blou see: moet hy kies vir die lewe van sy seun wat hy liefhet, of vir getrouheid aan die God wat hy ook liefhet? Met erkenning aan Fransi Philips, ons het miskien hier met ‘n donker God te make! Gesofistikeerde hermeneut wat hy is, gee Lombaard ‘n aantal opsies, met die werklik oorspronklike bydrae waar die teks gesien kan word as ‘n agonistiese stryd tussen twee patriargsdiskoerse, naamlik die Abrahamitiese en die Isakiaanse tradisies, met eersgenoemde wat dan op die ou einde getriomfeer het. 
- Louise Mabille