Die FilosofieKafee® skep 'n gasvrye omgewing waar aktuele onderwerpe onbevange bespreek word. Ons poog om gesprek oop te beur, en vooroordele te eien. Iedereen is welkom om met nuwe idees te verlei én oor kwessies na te dink! Hierdie oop gesprek is standhoudend elke maand sedert 1998. Die volgende gesprek is Vrydagaand 1 November, in Wellington. Dit is dan ook die afsluiting vanjaar. Voorstelle oor temas en sprekers kan direk gestuur word na Lamé by oopgesprek@filosofiekafee.co.za.
FilosofieKafee: Meimaand! 31 Mei vanaf 19:30
"Suid Afrika het nog altyd net vyf jaar gehad voor dit klaarpraat sou wees" -
Tim du Plessis.
Tim reken dis nie klaarpraat met ons nie. Van uniewording af al sê hulle dat SA het net 5 jaar oor. En kyk hoe lank gaan ons nou al aan!
Of, is dit hierdie rondte dalk tog wel só?
Kritiese gesprek, onbevange en robuust!
Café Riche
Kerkplein 2, Pretoria .
R70 pp sluit aandete in.
rsvp 012 328 3173 of caferiche@kerkplein.co.za
Terugberig: Debat 'Tot watter mate het wetenskap die rol van religie oorbodig gemaak?' Louise Mabille en Piet Croucamp
-->
Die tema
van April se filosofie-kafee het dadelik my oog gevang en gou genoeg het ek my
naam by dié van ander gevoeg om die aand mee te maak. Die tema het duidelik ook
die aandag van vele ander getrek, want die lokaal het oorgeloop van
nuuskieriges. Piet Croucamp is immers beroemd (of is dit berug?) vir sy
flambojante persoonlikheid en charismatiese mishae in “gode-dienaars” en
daarbenewens is Louise Mabille ‘n gedugte teenstander wat filosofiese
redevoering betref (plaaslik sowel as internasionaal).
Piet
Croucamp het die gesprek geopen en (ek moet bely) ek was liederlik teleurgestel
in dit wat hy uiteindelik op die tafel geplaas het. Sy entoesiasme, aggressie
en afkeuring was tasbaar – maar die inhoud van sy argument swak en
onsamehangend. Dit was veral opmerklik om te sien met watter ywer en
luidrugtigheid hy hiérdie redevoering aangepak het. Hy kritiseer deurgaans die
sogenaamde “gode-dienaars” en hulle “gode” terwyl hy nie veel anders as ‘n
gewone prediker, wat van ‘n kansel af bulder, opgetree het nie. Stef Bos sing
in een van sy liedjies oor ‘n moontlike verligting van ‘n vervelige preek:
“Pepermunt, pepermunt. Als de preek je gaat vervelen. Als je niet meer
luisteren kunt.” Ek kon nie anders
as om die lied te eggo ten tye van Piet se wel bedoelde relaas nie.
Hy
argumenteer dat religie (in haar verskeie vorme) onwetenskaplik en irrasioneel
is. Hy is egter van mening dat die moderne tyd se denke oorheers word deur
rasionaliteit en daarmee saam dat die sogenaamde postmoderne konsep van
relatiwiteit en subjektiewe-waarheid (ook werklikheid-verstaan) ‘n verbygaande
‘foefie’ was, wat reeds vastrapplek in die heersende wetenskaplike (oftewel
filosofiese) denke, verloor het. Vir hom is waarheid onderhewig aan sensoriese
observasie, (natuur)wetenskaplike navorsing en empiriese bewyse. Hy sou in die
woorde van Dingemans (die Nederlandse sistematiese godsdiens filosoof), meen
dat religie “ontoepaslik” is vir die Moderne (wetenskaplike) tyd waarin ons
leef. Hy sou “gode-dienaars” vervolgens kon afmaak as fossiele van ‘n ander
(voor-wetenskaplike) era. Hy steun op die verifikasie-beginsel wat die bestaan
van gode betref, en maak dit duidelik dat hy homself nie gaan verlaat op die
‘bewys’ dat god(e) nie bestaan nie (falsifikasie). Sy relaas word grootliks
gebaseer op die uitlatings van die teoretiese fisikus en kosmoloog
Lawrence Krauss. Krauss is die brein agter die boek
“A Universe
from Nothing” (2012), waarin hy ‘n model formuleer waarin die heelal potensieel
vanuit ‘niks’ ontstaan het. Alhoewel sy model met bepaalde eksperimentele
observasies ooreenstem, word dit beskou as ‘n “moontlike hipotese” – dus, nog
glad nie empiries getoets en bewys nie. Piet Croucamp beskou waarheid as iets
wat net herhaaldelik getoets en (empiries) bewys kan word, tog baseer hy sy
idees op die werk van teoretiese fisika (teenoor eksperimentele fisika) waarvan
die ‘teorie’ nog lank nie ‘herhaaldelik’ getoets en bewys is nie. Dit bly ten
beste ‘n goeie hipotese.
Louise
argumenteer dat religie deur die eeue waardevol was en steeds vandag ‘n
betekenisvolle rol in die samelewing speel. Sy argumenteer dat religie ‘n sterk
dryf sfeer vir die vorming van ‘moraliteit’ en morele waardes in samelewings
was (en steeds is); aangesien religie reëls vir dit wat ‘reg’ en ‘verkeerd’ is
(al dan gedeeltelik kultureel bepaald) daarstel. Sy vra uiteindelik vrae oor
die epistemologie (kennisleer) en ontologie (wordingsleer) van enige bepaalde
argument rondom rasionaliteit, ‘waarde’ (oftewel betekenis), wetenskap en
religie. Aangesien ‘n wetenskaplike toets onderhewig is aan ‘n model (of
bepaalde toets), moet ‘n bepaalde hipotese in die eerste plek bestaan. ‘n
Model/teorie val nie uit die lug uit nie, maar word subjektief geformuleer en
is reeds in die ontstaan fase gevlek met vooropgestelde idees (uitkomstes
ingedagte), beskikbaarheid van kennis (daarby ook ‘spesifieke’ kennis) en
bestaande modelle/hipoteses. Wetenskap (biologies, kosmologies of teoreties) se
bydrae, as ek haar reg verstaan, is betekenisvol – maar daarin moet
vooropgestelde idees en intensies oor verklaar word, aangesien geen
redevoering, model of hipotese in essensie ‘objektief’ kan wees nie. Elke
dissipline en leer het eie bepaalde areas van bydrae, bv. religie kan nie die
kosmologiese verklaring rondom ‘skepping’ suksesvol of toepaslik verantwoord
nie, maar dit is nie die area/waarde van religie opsig self nie; net so kan
fisika nie ‘n uitspraak oor moraliteit en morele waardes maak nie, aangesien
dit nie die fokus of vooropgestelde intensie van die bepaalde wetenskap is nie.
Louise meen dat die rasionaliteit rondom- en die rol van religie nie deur die
(natuur)wetenskaplike reëls waarin iets waar (oftewel waardevol) is, bepaal kan
word nie. (Dis miskien ‘n bietjie soos om rugby met sokker-reëls te speel). Die
‘waarde’ van religie kan eerder gevind word in die enorme rol wat (veral
christelike) religie in die totstandkoming van morele-bewussyn in moderne juridiese
sisteme; grondwet-bepalings van lande; en daarmee saam die algemene bewussyn
van die menslike samelewing. Religie is vervolgens die denkraamwerk (of een van
die grootste) wat die menslike konsep van ‘reg’ en ‘verkeerd’ help vorm en
reëls vir menslike interaksie met mekaar, die ekosisteem en ander biologiese
organismes daar probeer stel.
In
reaksie argumenteer Piet dat ‘moraliteit’ en morele waarde nie na religie
herlei kan word nie, maar dat dit eerder deel van ons biologiese samestelling
en kulturele ontwikkeling is. Die meer ontwikkelde mens sal hier volgens, hoër
morele waardes hê. Eerste wêreld lande behoort dan ‘n hoër morele waardesisteem
te hê en te handhaaf, as minder kultureel-ontwikkelde lande (derde wêreld
lande) soos dié uit Afrika. In wese is hierdie argument van hom gebrekkig,
aangesien daar op hede ‘n duidelike onverdraagsaamheid teenoor die ‘ander’
(midde Oosterse mense of Islamitiese groepe) in Eerste wêreld streke sigbaar
is. Moraliteit kan nie noodwendig ‘beter’ of ‘slegter’ beskou word op grond van
kulturele-ontwikkeling nie. Hy verstewig sy relaas oor die irrasionele aard van
religie en die ‘vou van godsdiens’ namate wetenskaplike vooruitgang gemaak
word. Louise daag hom tereg uit oor dit wat hy beskou as ‘rasioneel’, aangesien
verskeie aanvaarde (en tersiêr-gedoseerde) wetenskappe van abstrakte konsepte
en teorieë gebruik maak (bv. sielkunde, psigiatrie, kwantum fisika/meganika,
ensovoorts) wat nie empiries met ‘eksperimente’ getoets kan word nie. Sy
beklemtoon die feit dat vooropgestelde idees in enige redevoering verklaar moet
word; wys hom daarop dat ‘postmodernisme’ nie so irrelevant is as wat hy dink
nie – aangesien die filosofiese departement van die Universiteit van Pretoria
in onlangse tyd juis ‘n denker, wat van bepaalde postmoderne konstrukte gebruik
maak, aangestel het; en eindig met die herinnering dat waarheid of waarde van
enige gegewe dissipline deur studie-veld en aard van bydrae bepaal moet word en
nie universeel toegedig kan word nie, omdat dit dan subjektief deur bepaalde
‘tipe’ denke getipeer sal word.
Ek het
die debat op twee vlakke beleef. Die een monoloog was hoogs emotief gedrewe
(sodat mens amper vrae oor persoonlike ervaring en vooropgestelde idees wou
vra) en onsamehangend saamgeflans; die ander filosofies-substansieel met
argumente wat verstaanbaar op mekaar bou en (wat boonop) by die onderwerp hou.
Die twee het moeilik met mekaar in gesprek getree, omdat Louise filosofiese
(grond teoretiese) vrae aan Piet gestel het, wat hy vanuit sy gebrekkige
filosofiese vaardighede nie verstaan het nie en nie behoorlik kon antwoord nie
(hiermee laat ek my nie uit oor sy kennis en vaardighede wat politieke
wetenskappe betref nie, waarin ek ook seker is Louise nie sou kon deelneem
nie). Om bloot kosmologiese en fisies wetenskaplike feite aanmekaar te ryg,
bewys nie ‘iets’ in filosofiese redevoering reg/verkeerd (waardevol/irrelevant)
nie – die beginsels, argument en ‘toepaslikheid’ van gegewe argument word die
deurslag (al dan nie).
Met dank
aan Café Riche vir die aand se reëlings, die sprekers se voorbereiding en
moeite met die redevoering.
Groete,
Marlene
Botha
Enige persoon word uitgenooi om 'n 'terugberig' te skryf. Kommentaar hierop kan die debat verder stimuleer.
Lamé
Subscribe to:
Posts (Atom)