"Hoe het die beiteltjie dan so stomp geword? Sê my waar is al die intellektuele heen…" 

Wilhelm Jordaan.

Wilhelm Jordaan se inleiding tot die gesprek op 1 Julie by die FilosofieKafee in die Bôrdienghuis se teater op Wellington vind plaas teen die agtergrond van die stortvloed hoofsaaklik negatiewe kommentare oor sekere programveranderinge by RSG-radio. Die taamlik sterk konsensus is dat die veranderinge op ‘n voortgesette vervlakking van intellektuele gesprekvoering dui, soos dit ook elders in die samelewing voorkom.

Met N.P. van Wyk Louw se breë vermenslikende siening van die “ware intellektueel” in gedagte, gaan Jordaan die begrip  “vervlakking” en die breedlopende simptome daarvan in oënskou neem. Hy vra ook waarom die benaming “intellektueel” verdag geraak het. En is daar iets soos ‘n “nuwe intellektueel” en wat is die uitlopers van dié manier van wees, dink en doen? 

Die vraag is dan of daar nog ‘n plek en funksie is vir die soort intellektueel vir wie dié begrip nie op ‘n aanmatigende titel dui nie, maar op ‘n outentieke manier van wees in die wêreld. Vir hom behels dít, á la Van Wyk Louw, om oor belangrike lewensake redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel en die eie mening met ‘n bietjie meer selfkritiek te beskou. Verder behels dit om ook met verwondering en verbeelding lewensin te soek. 

As só ‘n intellektuele houding meriete het, hoe gaan ons verseker dat dit gedy?   

Waarmee hou hy hom tans besig.

"Lank-lank gelede, byna soos in ‘n sprokie, moes ek ‘n intreerede by Unisa hou. My onderwerp was ‘n Grammatika vir Menskunde. Dit het gegaan oor hoe die sielkunde kan baat deur interdissiplinêre samewerking, byvoorbeeld tussen sielkunde, teologie, letterkunde en filosofie. In my akademiese loopbaan was dié tema vooropgestel en die rubrieke wat ek sedert 1987 vir Afrikaanse koerante skryf, is ‘n voortsetting daarvan. Die projek kom nie klaar nie. Jy kan maar sê ek werk nog steeds aan ‘n onvoltooide én onvoltooibare grammatika vir menskunde.

Daarnaas hou ek van lees oor alles en nog wat, vuurmaak, vleisbraai, kyk na die sterre, tuinmaak, reis na stil beskutte plekke, gesels met my geliefde, klets met my kinders en kleinkinders en praatjies maak vir die vaak – soos vanaand. "

                                  IEDEREEN WELKOM! 

Plek: Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.
Tyd: vanaf 18:30
R220 pp sluit aandete en ‘n glasie wyn in.
Bespreek vroegtydig by Lamé:  0828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

Of direk per eft:

Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000.

"Die koplose ruiter van Skimmelperdpan: Is sintuiglikheid 'n wegholperd, en die ruiter red(d)eloos?" 

Frederik Rudolph van Dyk.


Die jong Nigeries-Amerikaanse filosoof en teoretikus, Olufemi Taiwo, het reeds in 2020 die koppe laat draai met sy wenner-essay op die joernaalblad The Philosopher (sien https://www.thephilosopher1923.org/post/being-in-the-room-privilege-elite-capture-and-epistemic-deference).

 

Taiwo verdedig in sy essay die argument dat standpunt-epistemologie / kennisleer, identiteitspolitieke diskoerspraktyke en epistemic deference (epistemiese heenwysing) - wat saam die teoretiese onderbou vorm waaruit die sogenaamde wokeisme en kanselleerkultuur inspirasie put - 'n elite opvoering geword het. Taiwo wys daarop dat hoewel hierdie teoretiese raamwerke vanuit basiese empiriese oftewel sintuiglike kennisleerbeginsels afgelei kan word, die talle belewenisse van ongelykheid en ander sosiale magswanbalanse net opgelos kan word indien gemeenskappe hande vat rondom daadwerklike planne. Dit is dan die sogenaamde "konstruksiebenadering" tot 'n identiteitspolitieke diskoers.

 

In 'n poging om voort  te bou op Taiwo se argumente, kan gevra word of sy kwalifikasie van die sintuiglike / empiriese grondslae van identiteitspolitieke raamwerke moontlik is sonder die aanvaarding van beginsels van die rede-leer, oftewel die rasionalisme. 

 

Is sy handevat of konstruksiebenadering tot identiteitspolitieke praksis enigsins sinvol, indien die wegholperd van die sintuiglikheid nie juis deur eeue-oue rasionale instellings gekwalifiseer word nie? Laastens, is daar meriete in die argument dat rasioneel-gebaseerde instellings self die slagoffers van empiriese identiteitswanbalanse is, en dus haas onbruikbaar word? 

 

Frederik probeer denkende, aktiewe en nuuskierige Afrikaanse intellektualiteit uitlewe. Hy geniet lees, openbare debat, uithousport en deesade ook 'n potjie gholf. Verder skryf hy, soos die muse kom, bepaald oor Afrikaanse musiekverwikkelinge (veral rock en alternatiewe bands) en geniet verder sy vinielplaat-versameling saam met sy naastes om 'n waaghalsig opgetoorde maaltyd in die Johannesburgse winter.


IEDEREEN WELKOM!

 

 

FilosofieKafee®

R220 pp sluit aandete en ‘n glasie wyn in.

Bespreek by 0828951139 /oopgesprek@filosofiekafee.co.za 

en betaal asb by hierdie portaal: Verw P10/06

http://pay.yoco.com/filosofiekafee   OF  direk per eft: Absa Spaar rek naam en nommer  9242373000