"Denke wat kan dans: Johan Degenaar se gesprek as filosofiese kunsvorm" – Andrew Nash

Vir meer as 40 jaar was die filosoof Johan Degenaar (1926-2015) 'n bron van voortdurende inspirasie vir sy studente op Stellenbosch, maar ook die oorsaak van frustrasie vir die akademiese, kerklike en politieke owerhede. Hoe het hierdie establishment Degenaar tot orde probeer roep? Wat was die aard, struktuur en uitwerking van sy eiesoortige gesprek met studente en ander? Kan sy vernuwende filosofiese praktyke vandag nog voortleef en verder ontwikkel?

Andrew Nash studeer en doseer by die universiteite van Wes-Kaapland (UWK), Kaapstad (UK) en Stellenbosch (US) in Politieke Filosofie. Hy publiseer gereeld essays oor verskeie  aktuele onderwerpe en bedryf ‘n blog genaamd www.dialectic.co.za waar van hierdie skrywes beskikbaar is.

 

 

Datum: Vrydagaand 6 Mei 2022 vanaf 18:00

Plek: Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington.

R190 pp (sluit aandete en 'n glasie wyn in)

rsvp: oopgesprek@filosofiekafee.co.za  of teks 0828951139

Betaal asb by hierdie portaal: http://pay.yoco.com/filosofiekafee    

of ’n eft na Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000.





















Waarom die aandrif tot filosofie? - Willie van der Merwe.

Medereerder: Louise du Toit


Waar kom die aandrif tot filosofie vandaan? Kies ’n mens daarvoor om bewustelik filosofie te beoefen, jou tyd en energie te wy aan die begeerte na wysheid, of is dit iets wat jou as’t ware oorval en oorrompel? Is die aandrif tot filosofie nie eerder iets wat in ’n mens wakkergemaak word nie, iets wat by jou opgeroep word, ’n roeping waaraan jy gehoor móét gee, selfs al sou jy nie wou nie?  Waarom sou jy, as soveel mense – gewone individue en groot denkers – vóór jou en náás jou daarvan getuig dat die beoefening van filosofie ’n mens nie juis gelukkiger maak nie, inteendeel! Soos die bekende Duitse filosoof, Oddo Marquard, ’n keer half-sinies en met self-ironie opgemerk het, is die keuse van ’n jongmens vir filosofie immers meesal nie die begin van ’n suksesvolle loopbaan nie, maar eerder van ’n persoonlike tragedie. Waarom dan die aandrif tot filosofie? En waarom daaraan gehoor gee?

Vrydagaand: 8 April 2022 vanaf 18:00
La Sala, Reyneveldstr 44, Stellenbosch.

R190 pp (antipastabord en 'n glasie wyn)

rsvp: Lamé
oopgesprek@filosofiekafee.co.za of 0828951139

Betaal asb by hierdie portaal: 

http://pay.yoco.com/filosofiekafee

Of maak 'n direkte eft:
Absa Spaar rek naam en no: Lamar 9242373000







 

WAAR IS ONS (NOU) - Breyten Breytenbach 

"Alle vormgee is ‘n soeke na plek. Wat ons nou, wêreldwyd, belewe is chaos en onsekerheid. Ons gebruiklike aandoenplekke het opeens onvertroubaar geword. Die pandemie, die Kroonpes, Covid, die kouevoetkonfyt het waarskynlik almal op die aardbol laat besef dat ons één is. En nêrens was daar enige begrip van wat die agent hiervan werklik is nie : alle golflengtes is versadig met alarmistiese verslae, herhaaldelik, om ons nog dieper in die depressie te dryf. Die enigste teenvoeter was skynbaar om ons te isoleer agter ons snoetdoeke en mense-kontak te vermy. Ons was alleen in die heelal. Desperaat het ons gesoek na alternatiewe haarde om hierdie oorbevolkte en besoedelde aardplaneet te verlaat. Ons het afgetuur in die Niet. En net so skielik het ons besef hoe nietig, hoe toevallig, hoe oorbodig ons is – en hoe gevaarlik vir ander lewens- en bewussynsvorme. Hierdie einde-van-alles bestaansangs het ons menswees na vore gebring : werklike  empatie, ‘n diepgaande bevraagtekening van alles (veral sedert daar nou geen ‘waarheid’ of ‘onwaarheid’ was om te onderskei nie) en ook ons inherente hebsug en wreedheid en versmagting na mag – so asof ons die dood sou kon systap deur onderdrukking en uitbuiting, of deur verbaster te word met verbeelde lewensuitinge wat ons self geskep het, die virtuele intelligensie en sosiale media. Daar was opeens geen morele leierskap waar dan ook, en is nog steeds nie. Die rykes het ryker geword ook al is die rykdom virtueel en obseen, en die armes méér, en meer ellendig.  

Waar is ons in die kosmos ? Wat is die omvang van syn indien nie net pyn nie ? Wie is hierdie ons ? Bestaan ons ooit of is ons maar net skimme in ‘n kosmologiese nagmerrie ? Wie of wat droom ons ? Is hierdie nou wat ons deur gesamentlike konseptualisering teenwoordigheid of substansie wil gee wérklik ? Of is dit ‘n ewigheid wat maar net ‘n oogknip lank duur ?" - Enkele aanhalings uit die gesprek by die FilosofieKafee op Wellington,  4 Maart 2022 (Breytenbach Galery)