TEKS: Veronderstel daar is hoop - Fransi Phillips

                TEKS: Veronderstel daar is hoop - Fransi Phillips.



Die ergste moontlike vorm van wanhoop, is die besef dat vryheid  ‘n gevangenis geword het, en bevryding ‘n lokval. 

 

Op die oomblik word daar van ons gevra om te  aanskou hoe die volk wat tydens die Tweede Wêreldoorlog van die Nazi’s bevry is, met behulp van die wat hulleself die bevryders genoem het in daardie oorlog, self met ‘n volksuitwissing besig geraak het. 

 

Dis  hierdie toestand wat ons noodgedwonge terugvat op die pad wat die boemerang gevlieg het sedert die laaste keer toe die  die wêreld uit ‘n oorlog  “bevry” is, en wat ons laat wonder oor die moontlikheid dat hoop dalk uit vreemder, voorheen misverstane en selfs  minder “bevrydende” oorde kan kom. 

 

En veronderstel daar is wel hoop vir die wêreld, 

wat ons sukkel om raak te sien:  langs watter weë kan daardie hoop ons hier in ‘n donkerder wordende Afrika bereik?

 

Die Wêreld na die laaste Wêreldoorlog

 

Dis  onmoontlik om die toekoms te voorspel, maar dis min of meer doenbaar om die verlede te google. En as die cliché waar is dat die geskiedenis homself herhaal, is dit dikwels uit die hoek van ons oog, wanneer ons dit so min verwag dat ons dit nie sien gebeur voordat dit te laat is nie, 

en nooit sonder on ironies te wees nie, en dikwels in die vorm van ‘n boemerang wat die wêreld tussen die bene tref 

eerder as ‘n netjies voorspelde spieëlbeeld.  Aan die ander kant is dit onmoontlik om tussen al die details wat sigself as gesiedenis aanmeld, te besluit wat herhaal gaan word. So, kom ons los daardie speletjie vir die profete, en kyk gewoon terug na die situasie aan die einde van WOII en na alles wat daarna gebeur het. 

 

Die Russe en die Amerikaners stry oor baie dinge, en een daarvan is oor wie die oorlog gewen het. Objektief kan daar wel gegoogle word en gesien word dat die Amerikaners, soos die Russe in 1941,  tot die oorlog toegetree het. 

Amerika stuur aanvanklik 300 000 troepe en teen die einde van die oorlog 1,5 miljoen en die Russe 34 miljoen. Die Russe verloor uiteindelik  72 miljoen mense , waarvan die meeste burgerlikes, en die Amerikaners 45 000 en ‘n paar atoombomme.

 

Waaroor niemand stry nie, is dat die Amerikaners as ekonomiese oorwinnaars uit die stryd getree het. Die wat regtig deelgeneem het aan die oorlog, was bankrot. 

 

Wat dit betref, gaan ek nie maak of ek ‘n ekonoom is nie, 

ek gaan julle maar net vertel van ‘n paar dinge wat ek wysgeword het in die gange van die Russiese banke waar ek sedert 2011 gewerk het, en wat ook deel is van ‘n meer konkrete geskiedkundige verloop as wat Russiese propaganda sou kon opdis.

 

Direk na die oorlog word die Breton Woods ooreenkoms gesluit, waar daar besluit is op die  dollar as wêreldeenheid, 

gekoppel aan goud. Die goudreserwes het egter net tot met die Viëtnam oorlog gehou, wat beteken het ‘n nuwe skelmstreek moes bedink word. Kissinger nader  Saoedie-Arabië met ‘n voorstel dat alle olie regoor die wêreld onder die petrodollar ooreenkoms in dollars verkoop moet word. In ruil daarvoor, word die Saoedies bewapen en millitêr beskerm deur Amerika, wat hulle die sterkste millitêre mag in die Midde Ooste maak. Dit versterk die dollar se aanvraag en waarde tot so ‘n mate dat dit moontlik word 

om na willekeur dollars te druk en self die waarde daarvan te bepaal. Die wins wat die Saoedies in die proses maak, word in Amerika belê: ‘n proses wat genoem word “petrodollar recycling”. 

 

Nukkerige lande word gestraf

 

Nukkerige lande wat voel hulle baat nie noodwendig by hierdie reëling nie, word onder beheer gebring: in die sewentigs word ‘n Saoedie prins met die naam Osama Bin Laden bewapen om Afghanistan  te gaan straf vir sy vriendskap met Rusland (want almal weet dis van altyd af onwettig om vriende te wees met die Russe. Dit spreek vanself.) Bin Laden stig die Mujahideen wat later die Taliban word, en soos ons weet, of later vertel is deur die einste Amerika, is dit onder sy aanvoering dat Al Qaeda die aanvalle op die Twin Towers gedoen het. Wat ons seker nooit sal weet nie, is of dit uit as reaksie teen of kop in een in een mus met Amerika gedoen is. Maar kom ons laat vir eers die samesweringsteorieë uit die prentjie: wat die gewone gedeklassifiseerde geskiedenis  ons vertel is erg genoeg. 

 

Enige iemand wat belangstel in vroueregte het wel al die foto’s gesien van Afghan studente wat in die sestigs universiteit toe draf in hulle minirokke, in die tyd toe Afghanistan bevriend was met die onderdrukkende Sowjet Unie en voordat Amerikaanse bevryders vir Bin Laden bewapen het om vrouens te kom verbied op straat en hulle in uitrustings te prop wat hulle meer laat lyk soos halfdooie honde wat uit swart vullissake op hulle kinders blaf. 

 

Die Twin Towers episode wat deur bin Laden uit Saoedie- Arabië bedryf is,  meer as twintig jaar nadat hy deur Amerika bewapen is om die Mujahideen in Afghanistan te gaan vestig,  bring Amerika tot die merkwaardige slotsom  dat Sadam Hoessein wapens het waarmee hy die hele wêreld wil vernietig. Wat sterk onderbeklemtoon word, 

is dat Hoessein se  “weapon of mass destruction” 

eintlik die olie was wat hy in sy eie geldeenheid 

wil verhandel, en wat dus ‘n gevaar inhou vir die petrodollar 

wat so lekker op die hele wêreld afgedwing is en wat Amerika so lekker kan gebruik om self ‘n waarde aan sy gedrukte stukkies waardelose papier te gee. Inderdaad ‘n “weapon of mass destruction” waar  Amerikaanse bullshit 

as die norm vir wêreldvrede  voorgehou word. So, Irak word ingeval en vernietig en Sadam Hoessein word sonder seremonie  onder die vloerplanke uitgekrap en in die openbaar gehang. Wêreldheersers uit die Midde-Ooste 

wat nie met hulle Westerse weldoeners saamstem nie, 

moet immers dankbaar wees om van hulle miserabele lewens bevry te word. 

 

Dieselfde gebeur met Gaddafi van Libië ‘n paar jaar later, 

en om dieselfde rede. Wie sal die youtube video vergeet 

van ‘n laggende Hillary Clinton : We came, we saw, he died. 

Sjarmante mense, die Amerikaners. En net daarna die Benghazi skandaal waarvoor niemand tot vandag toe 

enige verantwoordelikheid geneem het nie, maar waarvoor Julian Assange in die tronk moet sit hoewel hy ten tyde daarvan ‘n Australiese joernalis was. 

 

‘n Paar jaar later kom ek in Moskou aan, dood bang geïndoktrineer deur die stories waarmee ek grootgeword het, vir die bleek Russiese reuse wat dromend op die roltrappe by my verby sweef,  en sit en skaak speel in die parke, en tog ook  heilig  verwonderd oor die skoonheid van goue en silwer kerkkoepels wat lig maak in die ure en ure van donker winters en kerkklokke wat lui uit die woud waar daar ‘n Kremlin is en wat ook die woud was waar Boris Pasternak weggekruip het vir die Sowjet regime, en waar hy nou vereer word. Dis daardie woud waar mens in die sneeu agter  klokke aan uit die verte strompel, verby die plek waar jy vroeër die week ‘n wit wolf en ‘n swart kraai in die sneeu gesien sit en praat het, en soos jy nader kom, hoor jy meer en meer ingewikkelde  melodieë uit die toring kom, en as jy  die deur van die kerk oopmaak, word jy begroet deur engele wie se sang harmonieer met die kerkklokke in die patrone wat die vlamme maak in die goud geraamde ikone. 

Maar verskoon my , ek raak bietjie sentimenteel, dis nie waaroor my gesprek gaan nie. Ook nie oor die kinders wat op sewejarige ouderdom ‘n vuisgeveg sal begin oor die standpunt van Pushkin teenoor die van Tolstoy nie, spesifiek in verband met die liefde. Of oor die ballerinas op die roltrap op pad na Metro Frunzenskaya, of die ysskaatsbane waarin Gorky Park verander in die winter of die liedere uit skepe op die Moskva rivier tydens die wit nagte vol ekstase wat so intens is dat selfs die voëls van uitputting uit die bome val nie.

 

Nee, dis iets van daardie freak met die naam Putin wat ek hier wil vertel. Voor een van my klasse in Sberbank anderkant Gorky Park, en voordat ek nog agtergekom het 

dat enige iemand Obama kan bevraagteken, sit ek een 

oggend en kyk na ‘n lewendige TV gesprek tussen freak Putin en baas van die wêreld, Obama. Obama beduie in Engels wat in Russies vertaal word, dat hy Sirië gaan binneval, en dat hy wat Putin is, saam met Obama vir Sirië gaan binneval en ontslae gaan raak van Assad, soos vroeër van Hoessein  en Gaddafi. Dit sê Obama wel wetende dat daar ‘n historiese vriendskap tussen Rusland en Sirië bestaan, wat vanselfsprekend net so onaanvaarbaar is as die vroeëre vriendskap tussen Afghanistan en die Sowjet Unie. Putin luister ewe beleefd, en toe hy seker is Obama het homself uitgewoed,  sê hy net een woord, en die woord is “Nyet”.  Obama word doodsbleek en ‘n uitdrukking van algehele konsternasie kom lê oor sy arrogante gelaat.  Dit was eintlik die eerste keer dat ek regtig vir Putin gesien het in enige politieke situasie, en dis waar ek besluit het die ou is next level eienaardig, selfs vir ‘n Rus. Wat ook ‘n rede is hoekom geen Amerikaanse argumente die Russe ooit teen hom sal laat draai nie.  Terloops, toe ek vir my studente vertel dat ek daardie gesprek eienaardig gevind het, vertel hulle vir my wat Putin se reaksie was op die Russiese volk se misnoeë toe hy in 2011 ‘n verkiesing gewen het waaraan hy nie veronderstel was om deel te neem nie. “Stop vomiting on me”, het hy goediglik gemompel, “I love you”.

 

‘n Paar maande later begin Islamic State Sirië binneval, 

saam met ander rebelle teen Assad. Almal mense wat, 

anders as Putin, dieselfde ding doen as wat Amerika gedoen wil hê, natuurlik heeltemal toevallig. Rusland gryp egter in op Assad se versoek, en teen die tyd dat Trump aan bewind kom, verdwyn Islamic State wonderbaarlik 

van die aardbol af. Op hierdie punt het ek in Rusland

 ‘n onderhoud gesien waarin Assad vir ‘n Rusiese joernalis vertel  dat Islamic state ten spyte van hulle gruweldade  teen burgerlikes en teen sy bewind, kan terugkom na Sirië. 

“Hulle is my kinders”, het hy gesê. Ek wou skielik begin  huil oor die gebrek aan Westerse, en per implikasie my eie, eerbied vir mense van wie ons niks begryp nie.  So, ek neem aan Islamic State is seker net in liefde teruggeneem na waar hy vandaan kom, behalwe van die groepie wat in die Kongo gebraai en opgeëet is toe hulle daar wou gaan moeilikheid maak. 

 

Maar intussen word die Russies gesinde Oekraïniese president Yanokovitch deur Victoria Nuland uit sy pos ontslaan. Die wat dink dis blote propaganda wat ek nou weer hier verkondig, kan gaan luister na ‘n  audio waarin Nuland, wat op daardie stadium Amerika se Ambassadeur in die EU was,  die nuwe regering in die Oekraïene uiteensit , teenoor Pyatt, wat die Amerikaanse ambassadeur in die Oekraïene was. Dis dieselfde video waarop Nuland “Fuck the EU” uitroep, Sy vra wel later vir die EU om verskoning dat sy hulle wou fuck, maar sy versuim om die Oekrainiërs, en dan spesifiek die Oos- Oekraïniërs, om verskoning te vra vir die  nuwe regering 

wat sy taamlik onsubtiel op hulle afgedwing het. Die Amerikaners verwyt die Russe oor hoe hulle die audio in die hande gekry het,  maar dis nie die punt nie. Die punt is dat Nuland se betrokkenheid by die staatsgreep in die Oekraïene, duidelik na vore kom en dat sy niks daarvan ontken nie. Sy self sê ewe trots dat sy in daardie tyd 

vyf keer in drie weke in die Oekraïene was, en almal praat van die koekies wat sy uitgedeel het vir die Oekraïniërs, 

asof hulle nie hulle eie babushkas het wat hulle eie koekies kan bak nie.

 

Die Maidan revolusie, hoe goed dit ookal mag lyk uit ‘n Westerse oogpunt, het ongelukkig nie die sentimente 

van Oos-Oekraïniërs in gedagte gehou nie. Wydverspreide onrus volg op die Amerikaans gesteunde Maidan oorname, 

en vroeg in 2014 word ‘n klomp Oos-Oekraïniese betogers 

by Odessa in ‘n gebou gejaag en aan die brand gesteek. 

Westerse joernaliste berig nie baie breedvoerig daaroor nie.  

In Kiev vra ‘n joernalis ‘n woordvoerder van die Amerikaanse ambassadeur, se kommentaar op die voorval. 

Sy antwoord: “We must keep them under control. “ 

Nie net die kossakke in die omgewing, wat terloops next  level hardegatte is, vererg hulle by die idee dat Amerika 

hulle onder beheer wil hou nie, maar die hele Rusland begin gereedmaak  vir WOIII, met uitsondering van Putin, 

wat eers vir 8 jaar lank  die Minsk samesprekings  ‘n kans wou gee. Sou ek die atmosfeer in daardie tyd moet opsom 

sal ek sê dat ek as Engelse onderwyser, en dus uit hulle oogpunt ‘n Westerling, te bang was dat as  ek ‘n vraag sou vra, my keel in my slaap met ‘n gebreekte vodka bottel afgesny sou word. M.a.w. die Russe, met ‘n halfmiljoen etniese Russiese vlugtelinge uit Oos Oekraïene in hulle midde, was hoog de hel in, en baie van hulle het oor die grens gegaan om hulle broers en neefs te help veg.   

So begin die oorlog, wat eers sedert 2022 deur Westerse joernaliste gedek is, en wat nou nog nie verby is nie,  

en wat die Weste nie besig is om te wen nie, reeds in 2014. 

Ek moet wel byvoeg dat ek in daardie tyd in die gange van Sberbank die woord petrodollar oorlog opgetel het, en dat ek eenkeer ‘n foto gesien het van Putin en Xi Jinping wat ‘n glasie sjampanje klink in ‘n kamer vol goudstawe.

 

So waar is die hoop, sal julle vra. Maar vergun my nog eers

‘n laaste bietjie wanhoop: ek was nog nooit juis ‘n ou sonstraaltjie nie. 

 

Hamas is net nog ‘n terroriste organisasie. En soos met die Mujahideen, die Taliban, Al Qaeda en Islamic State, is daar sprake van bande met Amerika,nie net via Qatar, waar hulle hoofkantore op Amerikaanse versoek gesetel is nie, maar ook via Israel. Obama het in 2017 $220 miljoen na Hamas gestuur. Daar word wel beweer dat Trump  betyds 

die betaling gekanseleer het. Maar Netanyahu maak geen geheim daarvan dat hy Hamas befonds met die doel om Palestina verdeeld te hou nie, en Amerika maak geen geheim van sy steun aan Israel nie. Die meer vanselfsprekende  doel wat Netanyahu nie bekendmaak nie, is dat hy  Hamas sou kon gebruik as ‘n verskoning om die Palestynse volk uit te wis. Almal weet dat daar op die oomblik meer kinders per dag doodgemaak word,

 in ‘n baie kleiner gebied, as tydens die  strafkampe in die tweede Wêreldoorlog. Almal weet dat die Amerikaners 

vegvliegtuie stuur om honger kinders te bom. Almal weet dat Amerika‘n skietstilstand in die Verenigde Volke teenstaan. Ons hoef nie meer te spekuleer nie. Die toestand in Palestina is so wanhopig as kan kom. Die enigste ligpunt is dat daar hierdie keer meer berig word oor die Weste se aandeel aan die slagting as wat die geval was in lande soos Afghanistan, Irak, Libië, Sirië, Oekraïene, en Yemen. Dalk moet ons Al Jazeera in Qatar daarvoor bedank, of dalk die miljoene vlugtelinge uit bg. ontwrigte lande wat hulle heenkome gaan soek het in in ‘n verbysterde Europa. 

 

Laaste, maar allermins die minste, het Biden op ‘n stadium 

tentatief begin skoor soek met China. Maar ek het ‘n spesmaas dat so ‘n stap meer snaaks as wanhopig gaan afloop. Die weste se hele ekonomie is gebaser op die goedkoop arbeid van China, selfs die mees gesofistikeerde ontwerperswinkels laat hulle ware in China vervaardig. 

Sou die Chinese regering besluit om eerder Russiese Zadira laser sisteme as Europese ontwerpershandsakke en IKEA meubels te begin vervaardig, stort ‘n groot deel van die Westerse ekonomie in duie nog voordat die konsekwensies 

van die petrodollar oorlog in ag geneem word. En ja, China ontken dat hy wapens lewer aan Rusland, maar die wapenvervaardigingstransaksies tussen Rusland en China  

word duidelik uiteengesit op TASS nuusblad vir die wat nie dom genoeg is om te dink Rusland gaan verdwyn as hulle koerante op facebook gesensor is nie. Wapenlewering en wapenvervaardigingstransaksies is twee verskillende dinge, nie waar nie? 

 

Die hoop begin draai op daardie punt waar mens lus raak om te lag, en ek raak nou al baie lus. Die boemering is in slow motion besig om terug te vlieg na daardie punt 

waar Amerika as ekonomiese oorwinnaars uit WOll gekeer het , duidelik afgeëts teen die horison.

 

‘N Ekonomiese en diplomatieke oorlog

 

Die oorloë in Afghanistan, Iran, Libië, Sirië, Oekraïene, Palestina, Yemen  was vanselfsprekend nie polities of ideologies gemotiveer nie, maar ekonomies. Wapenverkope was maar die tip van die ysberg, maar baie meer bepalend 

was die petrodollar ooreenkoms met Saoedie-Arabië. 

En terwyl almal die militêre oorloë sien, en die meeste mense nou begin kennis neem van ekonomiese ondertone, 

waardeur ‘n multipolêre wêreld gevorm word,  is die diplomatieke pogings wat besig is om hierdie alternatiewe toekoms te vorm, vir die meeste mense nog onbekend. 

Wie weet bv van Sergey Lavrov se gewerskaf om China en die Saoedies bymekaar te kry, met die uiteindelike doel dat China met sy geweldige koopkrag in sy eie geldeenheid sal begin handel dryf met die Saoedies, van wie Amerika se petrodollar ooreenkoms afhanklik is. Wie besef die implikasies van potensiele vrede in die midde ooste, wat uit ‘n Amerikaanse oogpunt meer soos nog ‘n weapon of mass destruction lyk, van die onlangse diplomatieke bande tussen Saoedie-Arabië en Iran. Wie het agtergekom 

dat die vaal ou Lavrov deesdae Paisley hemde van sy uit Indië dra en Pushkin gedigte  rig aan die Europese Unie.  

Wie het raakgelees dat Mohammed Bin Salman van Saoedie-Arabie doen net wat hy wil in terme van OPEC+ se olie-uitsette en dat, wanneer Biden hom bel om te kla oor hoë oliepryse, hy die oproepe deursit na sy 85 jarige oupa. Wie hou rekening met die feit dat Bin Salman saam met die hele OPEC+ sedert Januarie vanjaar deel is van BRICS, en dat China net in 2023 reeds ontslae geraak het van ‘n helfte van die dollar skuld wat hy van Amerika het.

 

 Die Saoedies is hoog die hel in oor die Palestina slagting, 

maar hulle moet wel ontslae raak van Amerikaanse beleggings voordat hulle kan bekostig om die dollar finaal in toiletpapier of iets minder waardevols te verander.  Dit is die dag waarop die oorloë sal stop. 

 

Terwyl die fluisteringe in die gange in SBERBANK oor die dood van die petrodollar  in 2014 na die slagting in Odessa  begin het, is dit sedertdien konstant ontken deur Westerse ekonome. Daar was natuurlik goeie rede om die haalbaarheid daarvan te bevraagteken. Die Yuan  is eenvoudig op sy eie nog nie in staat om die dollar  te vervang as wereld geldeenheid nie, en ‘n “Basket of commodities” deur BRICS lande, gekoppel aan goud, 

klink morsig en ongeorganiseerd en onnodig gekompliseerd. Die vooruitsig aan ‘n BRICS geldeenheid, saam met die manier waarop die Russe westerse sanksies hanteer het sedert 2022,  laat die skeptici egter geleidelik van opinie verander. In ‘n artikel getiteld, “A Brics currency could shake the dollar’s dominnance’ op foreignpolicy.com, skryf Joe Sullivan, ‘ n senior adviseur van die Lindsey group, : “A BRICS issued currency would be different. It would be like a new union of up and coming discontents who, on the scale of GFP, now collectively outweigh not only the United States, but the entire G7 weight class put together.”

 

“The BRICS currency would be poised to achieve a level of self sufficiency in international trade that has eluded the world’s other currency unions. Because a BRICS currency union, unlike any before it, would not be among countries united by shared currency borders, it’s members would be able to produce a wider range of goods than any existing monetary union.”

 

Let daarop dat hierdie artikel in April 2023 gepubliseer is. 

Op daardie stadium  het BRICS uit Brasilie, Rusland, Indië, China en Suid Afrika bestaan. In Januarie 2024 kom Egipte, Ethiopië, Iran, Saoedie-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate by. Argentinë besluit die dollar is veiliger, 

en bly by Amerika en die Weste. 

Hopelik koop Argentinië die Amerikaanse skuld, 

in die vorm van treasuries  of bonds of wat ookal, by China. 

Amerika kan dit self blykbaar terugkoop op hierdie stadium: 

hulle pomp net die waarde van hulle dollar nog bietjie op dan’s hulle weer lekker ryk. Party mense het al die geluk . 

 

Om terug te keer tot BRICS: let op die feit dat die hele OPEC+ nou BRICS lande is. Wat beteken hulle almal kan, 

en sal waarskynlik, begin om olie in hulle eie geldeenhede te verhandel wanneer die tyd reg is vir hulle. Iran verhandel lankal nie olie in dollars nie, as gevolg van jarelange boikotte deur Amerika. Deur Rusland te verban van die SWIFT sisteem het Amerika hom eintlik gedwing om teen die dollar te draai. China dryf met albei hierdie lande handel in yuan. So, ek sou graag Mnr Sullivan se kommentaar nou wou hoor, veral in die lig van Amerika se geweldige skuld. 

 

Mens kan spekuleer oor die mate waartoe die probleme in Palestina veroorsaak  is deur Amerikaanse kommer oor Saoedie- Arabië se geleidelike onttrekking uit die petrodollar ooreenkoms, op ‘n tyd toe die Saoedies besig was met ‘n historiese vredesooreenkoms met Israel wat basies die hele Midde-Ooste in vrede sou dompel. Maar nou het ons wat ons het, en die tyd sal leer hoe dit afloop. 

 

Die ideologiese onderbou van BRICS

 

Teen die sewende jaar in n vreemde land wat regtig vreemd is, is daar steeds oomblikke dat mens soos n totale vreemdeling voel, maar daar is ander oomblikke dat jy skielik besef jy het tot so n mate deel geword van die vreemdelinge dat jy meer soos n vreemdeling geword het vir jouself.

 

Dis waar wat hulle van die Russe sê, dat hulle onvriendelik is op straat. Nie ongeskik of onbehulpsaam nie, maar nie lus vir oogkantak en geselsies nie. Enige scruffy punk 

sal vir jou opstaan in die metro as jy jou mus ver genoeg oor jou oë trek en effens vooroor buk, soos n babushka. 

As mens oor n plein loop wat met swart ys bedek is, 

sal die naaste man in die omgewing doelgerig op jou afloop en jou beveel om sy hand te vat. Jy sal dit doen as jy weet wat goed is vir jou, want as jy dit nie doen nie, gaan daardie selfde man jou moet help as jy twee sekondes later

 op jou rug lê op die ys, en jy gaan lekker simpel voel, as jy nog lewe om simpel te kan voel. 

 

Maar dat Russe nie op die metro sosiaal verkeer nie, is n feit soos n koei. So, toe iemand wat toevallig n man is  eendag in die metro vir my glimlag, kyk ek dadelik agterdogtig in n ander rigting, en toe die metro stop en ons afklim, loop ek vinnig n entjie agter hom aan en gaan staan agter n pilaar om te  kyk of hy mal is. Dis op daardie oomblik dat ek besef het dat ek nie meer weet  waar ek in die hiernamaals gaan tuisvoel nie.

 

Mense is dikwels onbewus van die komplekse etniese samestelling van die land, en van die eeue oue ongeskrewe wet dat niemand op straat onder enige omstandigdhede 

ongeskik mag wees met iemand van n andebevolkingsgroep nie. Hoe jy in jou hart voel is jou saak, 

en by jou huis mag jy sê en doen wat jy wil, maar op straat hou jy jou in. Om daardie rede is Charlie Hebdo verbied, 

en ook die Jehova getuies. Jy aanbid jou God in n kerk van jou keuse en los die Moslem langs jou om sy god in sy kerk te aanbid. As jy sy godsdiens beledig, moet jy nie vir die staat vra om jou uit jou misery te help nie, en as hy jou vrou molesteer kyk die polisie anderpad as jy sy keel afsny. 

Dis hoe dit werk.

 

Dis ook basies die ideologie, of gebrek daaraan,  agter die BRICS groepering, waarin Christene, Moslems, Hindus

 en wat ookal Chinese deesdae is, almal saam werk onder  ‘n beleid van geen inmenging en met ekonomiese eiebelang as enigste saambindende faktor. Kulturele en ideologiese verskille word te alle tye gerespekteer. Vir iemand wat dit sien as sy of haar roeping om digoddeloses en barbare tot ander insigte te dwing en af te pers, soos wat die Katolieke en ander Christene en  die Westerse verligtingsdwepers vir eeue reeds doen, is dit dalk totaal onaanvaarbaar dat daar n groep mense op aarde kan wees met n ander ideologiese ingesteldheid as jyself. 

Die waarheid is dat jy toenemend minder van n keuse gaan hê. Die planeet is nie jou spieëlbeeld nie, selfs al is jy n superieure Westerling. Raak gewoond daaraan. Westerse ideologiese bevrydings was, net soos sy voorganger,

 godsdienstige bekerings en heksejagte, meer gewetenloos 

en tegelyk  oneerliker as die skynbaar a-morele reëling van lande wat mekaar hulle godsdienste en binnelandse reëlings of  gebrek aan bggun eerder as om ideologie te gebruik as verskoning vir die verwesenliking van eie ekonomiese en militêre agendas.

 

Daar word soms na die Russiese filosoof Alexander Dugin verwys as Putin se brein. Wel, Putin se brein sit eintlik in sy eie kop. Maar mens kan tog kennis neem van Dugin se  visie van n multipolêre wêreld van individuele kulture 

waarin die kleinste minderheidsgroep gerespekteer word. 

Europa met sy eeue oue kulture word in so n bedeling baie hoog geag, en selfs vir Amerika se woke ideologie sal daar blykbaar plek wees in n multipolêre wêreldorde, solank dit op niemand afgedwing word nie. Miskien sal dit onder so n bedeling beter gaan met die Afrikaners en die Boesmans 

as in n globalistiese wêreld.

 

Mens kan jou afvra tot watter mate China en Rusland die kleiner lande gaan micromanage, en of  hulle nie sommer 

die wêreld sal oorneem en klaarkry nie.  Wel, Putin het al dikwels gesê dat Rusland hom besig genoeg hou, wat een rede is hoekom hy vir agt jaar gewik en geweeg het voordat  hy Oos-Oekraïene op hulle eie versoek by Rusland ingelyf het. Ek mag verkeerd wees, maar ek vermoed  dat as China die wêreld sondermeer inneem, hy niemand gaan hê om al sy “made in Chinas” aan af te smeer nie. Dis maar hoe ek dit sien.  Maar ek is nie n China ekspert nie. Soos ek dit het, wil China wel Taiwan behou op die huidige voorwaardes. Amerikaanse inmenging mag daardie voorwaardes verander.

 

Waar staan ons in Suid-Afrika

 

Ek weet mens mag nie gunstelinge hê nie, maar op die oomblik is my gunsteling Russiese student n Oekraïniese astrofisikus uit Dnipro Petrovsk, n entjie wes van die gebiede in Oos-Oekraïene wat nou deelgeword het van Rusland. Hy bly in Rusland sedert 2014, toe hy 16 jaar oud was.Hys een van n halfmiljoen Oekraïniërs wat Rusland toe is tydens die oorlog in 2014, na die Odessa slagting.  Die huidige werk van hierdie 26-jarige genie, is om robots te ontwerp wat kernongelukke soos die een by Chernobil sal voorkom. En hy sê dat China van plan isom vir Suid-Afrika n kernkragsentrale te skenk. Hy sê dit vir n feit. Sal die Chinese so n groot geskenk net onvoorwaardelik gee? Natuurlik sal hulle nie. Wat hulle in ruil sal wil hê, is goud, ja, en ook uraan en lithium. Dis hoe dit sal wees. Minerale wat ons te slapgat is om te ontgin, in ruil vir infrastruktuur wat ons te slapgat is om in stand te hou. Wat gaan ons presies verloor? Of ons geplunder gaan word in die proses? Ek twyfel. Die rede is weer eiebelang, en BRICS, soos die die Eurasiese Ekonomiese  Forum, glo dis in hulle belang om sterk  bondgenote te hê. Dieselfde Oekraïniese student  

vertel dat die EEU, bestaande uit Rusland, Belarus, Kazakstan, Kyrgystan, besig is om in n soort Sillicon Valley tipe krag hub te verander wat goed vergelyk met Singapore.  

Almal lande wat aanvanklik taamlik versukkeld was, soos ons outjies hier. Gestel  BRICS gaan van dieselfde standpunt uit, en gestel daar is hoop, moet ons dan daardie hoop van die hand wys uit vrees vir wat ons nie ken nie?  . 

En nee, nie Rusland of China het enige illusies oor die ANC regering nie. Moenie glo nie. 

 

Mens hoor dikwels dat, indien die Amerikaanse ekonomie ineenstort, die hele wêreld saam met hulle ineen gaan stort. 

Dit hang natuurlik af hoe jy “wêreld” definieer. n Handelsblok wat verantwoordelik is vir so n ineenstorting, 

gaan dit nie ten koste van homself doen nie. En as dit gebeur, en ons is dan reeds deel van n hoopvolle bedeling 

van vreemde lande, elk met sy eie ideologie, elk met n eeue oue kultuur,  met klem op verskille eerder as ooreenkomste, sal ek ten  minste sê ek is in n posisie om een van die mees gestigmatiseerdes van daardie lande te verduidelik aan die wat kans sien om te hoop.