TEKS: Brein? Mens, wie is jy dan.... Wilhelm Jordaan. (Volledige teks)
JY IS JOU BREIN/JY IS NIE JOU BREIN NIE. NIE EEN VAN DIE TWEE NIE? MENS, WIE IS JY DAN…
Die onderwerp is kompleks (filosofies, biologies, psigologies en teologies) en om in so 40 minute reg daaraan te laat geskied, grens aan waansin of verwaandheid, of ‘n kombinasie daarvan.
Ek gaan met breë kwashale ‘n prentjie skets van hoe die neurowetenskap van ons tyd ons uitdaag om weer te dink wat dit is om mens te wees.
Maar vooraf ‘n paar opmerkings oor kultusse in wetenskapskringe. Dit verwys na die wyse waarop legitieme, egte wetenskap van tyd tot tyd verskraal word deur ‘n soort opportunisme in die vorm van oorywerige interpretasies en toepassings wat veral in die media aandag kry. Ten minste drie sulke kultusse het deel geword van die mens se poging om homself te verstaan:
Ten eerste die begrip instinkte. Menswetenskaplikes soos Sigmund Freud, William James, William McDougall en ook Konrad Lorenz het interessante, insiggewende werk gedoen oor die rol van ingebore instinkte in die gedrag van mense en hoedanig sulke instinkte deur leer en ondervinding gewysig kan word. Die “verkultussing” daarvan het behels dat daar vir haas elke vorm van menslike gedrag ‘n instink gepostuleer is.
Daaroor het Robert Holt hekelend geskryf: “Die mens word gedryf deur sy instinkte. As hy saam met sy maats gaan, is dit die kudde-instink. Loop hy alleen, is dit die anti-sosiale instink. As hy baklei is dit die aggressie-instink. As hy met sy duime speel is dit die duimspeel-instink. As hy nie met sy duime speel nie, is dit die nie-speel-met-die-duime- instink. Alles wat jy is en doen, word deur instinkte bepaal.”
Toe die DNS-molekuul beskryf is, het iets soortgelyk gebeur. Vir haas elke gedragsvorm is ‘n geen aangebied as verklaring – ‘n geen vir skaamwees; ‘n geen vir moreel wees; ‘n geen vir kriminaliteit, gene vir dit gene vir dat sonder einde. Met die implikasie dat as jy so ‘n geen sou hê, sal die gedrag vanself volg. Die rol van omgewing by wyse van byvoorbeeld opvoeding is nie verreken nie. Die beginsel dat nóg jou genepoel, nóg die omgewing opsigself bepalend vir jou menswees is, is skromelik ignoreer. Dit het gelei tot ‘n populêre maar naïewe erflikheidsleer wat menswees “verbiologiseer” en gereduseer het tot ‘n gerieflike dwaasheid wat die oë sluit vir die rykdom van lewensmoontlikhede.
‘n Derde soort kultus gaan saam met neurowetenskap – waar breinaktwiteite met gedrag verbind word en hoe dié “nuus” oor jy en jou brein in die media gepopulariseer word – soms met die “aanmoediging” van neurowetenskaplikes.
‘n Voorbeeld om dié toedrag te illustreer:
Alle mense was sekerlik een of ander tyd verlief en het liefde vir ‘n ander mens verklaar. Almal ken die ekstase daarvan – om te bemin en bemin te word. Die dagga van die gees en die dye wat die dye aantrek, is van die digterlike taal daaromheen.
Nee, sê Andreas Bartels, ‘n breinnavorser by die Max Plank Instituut in Tübingen, Duitsland: Liefde is bloot ‘n geval van die afskeiding van ‘n sekshormoon, oksitosien, in die hipotalamus van die brein. Ek haal hom aan:
“Nog net ‘n paar jaar en ons sal in staat wees om seksuele aantrekkingskrag chemies te wek deur ‘n dier met oksitosien in te spuit en te laat ‘bond’ met ‘n vreemdelingdier van dieselfde soort. Al wat ons dan nodig het, is om dieselfde met mense te doen.”
Let vireers op die gelykstelling: liefde is ‘n seksuele repons. Sinisme hieroor is gepas: Mense het mekaar lief want hulle oksitosienvlakke is versoenbaar. En só sê die man dan vir sy geliefde: “Sluk nog ‘n knertsie oksitosien, my lief, vir die liefdesvuur vannag. En kry môre by die apteek vir ons ‘n bietjie van daai serotonien en ‘n doppie dopamien. Dan het ons langdurige toegewyde én vurige liefde vir mekaar.’’
Daar is letterlike duisende sulke soort enkelvoudige navorsing wat daarop neerkom dat jy jou brein is en weinig keuse het - geen vrye wil en die self, soos jy dit ken, is eintlik ‘n illusie wat deur die brein geskep word.
Dit is wesenlik die aard van ‘n “neuro-kultus” wat reken die mens is (byna) gereed om breinkennis doeltreffend aan te wend - gegrond op kartering van die brein aan die hand van ‘n verskeidenheid breinbeeldingstegnieke; soos MRI, fMRI, PET en CAT.
Om byvoorbeeld met akkuraatheid:
· jou privaatste gedagtes bloot te lê;
· jou geskiktheid vir sekere soorte werk vooraf te bepaal sodat jy nie eens aansoek hoef te doen nie;
· onbeantwoorde liefde te laat vlam vat;
· te voorspel watter produkte jy sal koop;
· vir watter politieke party of kandidaat jy sal stem;
· die emosies wat jy beleef as jy TV kyk aan te toon;
· mense se spirituele belewenisse neurologies te verklaar
Dié soort verwagtings onderlê die aanspraak: Jy is jou brein. Wat jy is, word deur jou brein bepaal (“determined by” in Engels).
Die woord “bepaal” is belangrik:
Deurgaans bedoel dit dat ‘n sekere breinstruktuur, of groep strukture en hul funksies, die eintlike deurslaggewende faktore is – so asof ‘n mens se denke, besluite, emosies en gedrag bloot die som van elektriese en chemiese gebeure in die brein is.
In sy boek We are our brains: From the womb to Alzheimer’s skryf die Nederlandse psigiater Dick Swaab: “Everything we do and refrain from doing, is determined by the brain. The construction of this fantastic machine determines our potential, our limitations and our characters.”
En elders las hy by: “Just as the kidneys produce urine, the brain produces mind”. Anders gesê: Soos die niere piepie afskei, skei die brein gedagtes af. Nog anders hekelend gesê: Die mens het ‘n baasbrein, miskien ‘n blaasbrein!
In sy Lyfskryf (By, Beeld, 15/8/2009) oor seks en die brein beaam dr. Chris Steinmann, ‘n fisioloog van Pretoria, Swaab se uitgangspunt: “Jy is jou brein!”
Natuurlik weet ons in bepaalde gevalle dat daar veroorsakende verbande is tussen breinbeserings; breintoestande en -gebeurtenisse – soos in die geval van breingewasse, demensie, alzheimers, outisme en dies meer. Maar dit is iets anders as die kultus van neurosentrisme wat al te maklike verbande lê.
Belangrik vir ons debat hieroor is dat deur neurosentrisme, soos ek dit beskryf het, daar ‘n nuwe wending is, naamlik dat die mens homself gelykstel aan ‘n orgaan (dit is die brein) as onderdeel van ‘n geheel. Dit beteken jy as mens, ‘n persoon, wat die geheel is, word volledig verklaar deur ‘n onderdeel daarvan.
Dit negeer natuurlik die eeue-oue beginsel uit die antieke tyd dat die geheel altyd meer en anders is as die samestellende dele. Ons almal negeer natuurlik dié beginsel van tyd tot tyd. Dit beteken ons reduseer ‘n gebeurtenis, of proses of verskynsel tot ‘n eenvoudige of enkele verklaring en versuim aldus om die kompleksiteit van toedragte te verreken. Dit is asof ons intuïtief gehoorsaam is aan die spaarsamigheidsbeginsel van “Ockham’s Razor” (Don’t multiply entities beyond necessity): Moenie met meer verklarings kom as wat nodig is nie!
Verder dan: In sommige gevalle word die orgaan (die brein) gelykgestel aan ‘n “masjien” (‘n rekenaar) wat deur mense gemaak is. Só word die brein dan ook beskryf as ‘n “computational device” wat stap vir stap geprogrammeer kan word op grond van invoerende data, ter wille van selfprogrammering.
In sy boek Homo Deus - a brief history of tomorrow sketsYuval Noah Harari ‘n wetenskapsgedrewe toekomsvisie. In ‘n neutedop: Die mens sal op eie wetenskaplike houtjie goddelike eienskappe verwerf. Soos onsterflikheid en durende geluksaligheid.
Dit sal gebeur deur die samevoeging van breinbiochemiese prosesse; elektroniese algoritmes; en kunsmatige intelligensie apparatuur. Só sal die mens voorspelbaar én beheerbaar gemaak kan word op grond van enorme hoeveelhede data.
Daarom praat hy van “dataïsme” as ‘n nuwe “godsdiens” wat deur voortgaande evolusie die “vloei van data verder sal verhoog.” Daaruit kom datagedrewe organiserende beginsels wat kan help om hoë lewensdoelwitte en waardes te bereik.
Daarvoor is geloof in ‘n god onnodig, net geloof in jouself. Die begrippe God, lewe na die dood en onsterflike siel, is volgens hom “necessary fiction(s)”, gegrond op mense se vrees om te sterf.
Harari se boek is werklik opwindend en leesbaar. Toe ek klaar gelees het, was ek wel lus vir ‘n bietjie hekeling en het toe die eeue oue lied Hoe groot is u (“O heer my God, as ek in eerbied wonder...en al U werke elke dag aanskou”) oneerbiedig herberym!:
O mens ons god, as ons met trots aanskou
hoe al ons werke elke dag ontvou:
Die gene, kwarke, die hadrons, beurse, markte
hoe ons al die data onderhou...
Dan moet ons juig, ons maker en ons god
Hoe groot is ons, hoe groot is ons.
Want deur die hele kosmos klink dit saam
hoe lieflik mens, jou grote naam.
Nou in ‘n ander rigting:
Daar is heelwat breinnavorsers en -kenners wat minder opgewonde is oor wat sommige benaderings in die neurowetenskap en- tegnologie ons oor die mens kan leer.
Richard Restak ( The Naked Brain) en Susan Greenfield (Journey to the centre of the mind) reken die neuro-kultuur, in sy kultusgewaad, is dikwels eintlik ‘n geval van neo-frenologie
Dit is ‘n soort herlewing van die lank reeds uitgediende, frenologie wat deur die Duitse dokter Frans Joseph Gall in die 1800’s ontwikkel is. Hy het gereken sekere psigiese funksies van die mens is afleibaar uit bepaalde eienskappe van die menslike skedel.
Net soos die destydse frenoloë maak die neo-frenoloë hulle skuldig aan growwe reduksionisme, naamlik dat breingebiede en -aktiwiteit (elektries én chemies) is die eintlike bepaler van jou doen en late. Jy ís jou brein, finish&klaar.
Hierdie soort aansprake het morele konsekwensies. Om te beweer “Jy is jou brein” kan oplaas aangebied word as verskoning en verontskuldiging vir slegte gedrag, wandade en misdaad. Want jy kan dan redeneer: “Dis my brein, nie ek nie”. Hoe hou of maak jy ‘n brein moreel verantwoordelik!
Soos dit in ‘n ander verband in ‘n hofsaak in die VSA gebeur het toe die beskuldigde uitroep: Your Honor. I did not do it. My genes made me do it.” Amper so erg soos die bekende sportman wat getuig het: “The devil made me do it.”
Daar is ook ander waarskuwende stemme: In ‘n onlangse regsopinie in ‘n artikel in die Mail & Guardian (13/3/2024) getiteld Mind matters: Navigating the ethical frontier of neurotechnology deur Donrich Thaldar en Marietjie Botes, word die waarde van dié tegnologie aangetoon, spesifiek vir mense met allerlei lewensontnemende neurologiese siektes en breinbeserings. Maar dan die waarskuwing:
“The primary concern resolves around the right to mental privacy. The potential for neurotechnologies to access and interpret neural activity warrants stringent safeguards against unauthorised intrusion into one’s thoughts and mental states. This is not merely a matter of protecting personal information but preserving human dignity, self-determination and the freedom to think without undue repercussions.”
Ek reken die etiese probleme hieromheen is soortgelyk aan dié wat geopper is toe Dolly die skaapooi in die 1980’s gekloon is en daar, naas die verstaanbare nut van die tegniek van kloning (byvoorbeeld stamselle), allerlei visioene was oor geneties-ontwerpte kinders en ander, hoogs verdagte, kloningspraktyke om die mens te verbeter.
Miskien is dit ter sake om hier ‘n gedig aan te haal wat ek in daardie tyd geskryf het, getiteld “Herskepping” (Digterby, 1987):
Toe sien die wetenskap dat dit goed was
om deur die mengeling van geniale saad
na sy beeld ‘n mens te verwek
in ‘n gehuurde hoer
genoem Maria vir effek.
Vir die geboorte is ‘n ou kroniek
herskep met stal en krip van viniel
waar wyser manne opnuut
hulde kon bring en kniel.
Maria het gehuil toe sy die kindjie sien.
Sy wou hom vashou soos ‘n moeder doen
maar hy is van haar weggeneem
en seun van die mens genoem.
Toe reken die wetenskap dat dit goed was
om dié lof te bring:
Dáár is die nobele prys,
ons eier-ek, die wonderkoning
sonder doringkroon of kruis
gebore uit tegniek en kloning
Nou die teenoorstaande moontlikheid soos in die praatjie se titel: Jy is nie jou brein nie.
Formeel kan mens dit ‘n neuro-ekologiese perspektief noem: Die aard hiervan word in besonderhede uiteengesit in Pieter Craffert komende omvattende AOSIS-publikasie The fabric(ation) of consciousness: A neuro-ecological approach; en in ‘n artikel getiteld: “You are (not) your brain: Incompatible images of human beings in the neurosciences” ang (Unisa Press, 2024).
Dié perspektief beteken wesenlik: Jy is nie jou brein is nie maar jy het ‘n brein as part en deel van jou menswees.
Die mens word gesien as ‘n liggaam-gees-omgewing kompleks (‘n totale omramende ekologie) wat tegelyk die breinprosesbasis van menswees beklemtoon, in vervlegting met bewussyn. Wat dit prakties beteken, kan aan die hand van die volgende voorbeeld verduidelik word – iets alledaags soos hoe verskil spandabelrige mense van spaarsamige mense? Ons kan dit byvoorbeeld sien aan hul lewenstyl en koopgedrag.
Wat word in breinnavorsing gevind?
By spandabelrige mense “flikker” die nukleus accumbens(‘n breingebied) baie sterk as hulle iets sien wat hulle begeer. By spaarsamige mense flikker die insula (‘n ander breingebied) sterker as hulle iets sien wat te duur is.
Die interpretasie volgens die Jy is jou brein-model is dat die opflikkerings in die brein daarop dui dat die betrokke gebiede – die nukleus accumbens en die insula - die eintlike oorsaak van die gedrag is – enersyds spandabelrig, andersyds spaarsamig. Jy is en doen wat jou brein dikteer.
Maar is dit werklik die geval?
Dié soort interpretasie kom neer op ‘n algehele oorvereenvoudiging en reduksionisme. Die rede?
Die neuroekologiese benadering (Jy is nie jou brein nie maar jy het ‘n brein) sê ‘n normale brein is nie ‘n spons wat onveranderd gelaat word deur dit wat jy van vroeg af leer deur opvoeding nie.
Opvoeding is part en deel van die totale ekologiese konteks waarbinne die brein funksioneer. Dit wat jy leer, word nie net deur die brein bemiddel nie, maar vestig senubane (as’tware “breinpaadjies”) wat neurologies voorrang gee aan belewenisse en gedrag wat jy meer gereeld as ander uitvoer.
Eenvoudig gestel: As jy van kleintyd af geleer het besittings is ‘n belangrike ding en jy kan maar kry wat jy graag wil hê omdat jy geld het of maklik kan leen, word dit ‘n lewensgewoonte om geld uit te gee.
En dié gewoonte word as’tware “ondersteun” deur ‘n “gewillige” brein wat reageer soos dit deur jou gewoontes geprogrammeer is. Net so ook dan vir spaarsamige gedrag.
Die navorsingsbevinding wat ek pas genoem het oor breinaktiwiteit, spandabelrigheid en spaarsamigheid is dus niks meer nie as ‘n bevestiging dat spandabelrige en spaarsamige mense se breinfunksionering uitdrukking gee aan hul aangeleerde lewensgewoontes. En wat hulle neurologies in gereedheid bring om keer op keer spaarsamig of spandabelrig te wees.
Heropvoeding, as deel van die breë ekologiese konteks - hoe jy kan leer om met begeertes, wense en besittings om te gaan - speel ‘n uiters belangrike rol weens die enorme “plastisiteit” van die brein. Waar plastisiteit beteken herprogrammeerbaarheid.
Soos die filosoof/sielkundige/fisioloog William James lank gelede al gesê het: “The great thing of all education is to make our nervous system( lees: brein) our ally instead of our enemy.”
Dit wat James sê oor die rol van opvoeding is juis wat in deeglike neurologiese navorsing aandag kry. Verlede jaar het drie neurowetenskaplikes ( Christine Holt, Erin Schuman en Michael Greenberg) die Deense Lundbeck-stigting se gesogte prys vir breinnavorsing ontvang: Vir hulle beskrywing van meganismes wat die brein in staat stel om homself te herstruktureer op grond van leer- en lewensondervinding.
Dié soort navorsing bevestig hoe belangrik dit is om te waak teen die oorinterpretasie van neurologiese bevindings wat in die isolasie van eksperimentering in laboratoriumkontekste verkry word.
Anderkant eksperimentering het ons te doen met die ingewikkelde eenheids-samehang van liggaam (brein) en gees (bewussyn en belewenis), soos wat dit plaasvind in lewenswerklike sosiale, sielkundige en kulturele kontekste wat gelyktydig op mens inwerk.
‘n Mooi voorbeeld van lewenswerklikheid en die rol van die brein is die kwessie van godsdienstige en/of spirituele belewenisse:
By mense wat na spirituele belewenisse smag en dit beleef, is sekere breingebiede (in die temporale lob) neurochemies besonder aktief. In populêre publikasies word dit die “god-kol” genoem en dit “bepaal” jou spirituele oriëntering. Dit lyk dus of die mens evolusionêr/neurologies toegerus is om spiritueel te kan wees.
Hieruit lei sommige af dat spiritualiteit en godsdiens niks meer is nie as ‘n evolusionêr-bepaalde breinfunksie en dat geloof in en aanbidding van ‘n god onsinnig is.
Dít is egter ‘n kortsigtige vertolking as mens die tweede model – jy nie jou brein nie maar jy het ‘n brein – toepas. Soos volg:
Jy het spirituele belewenisse omdat jy jou oopstel vir “prikkels” wat dit voortbring. Dié prikkels kan enige fokuspunt van jou keuse wees (die idee van ‘n christelike God, Allah of enige ander spirituele krag soos die meditatiewe Boeddhistiese pad, die natuur, kristalle, sterrestande, die son, die maan wat ook al.
‘n Grondiger vertolking van wat dit beteken dat iets soos ‘n god-kol in die brein is, is om te sê die mens hét ‘n evolusionêr-gegewe kapasiteit om spiritueel of godsdienstig te wees, maar hoe jy daaraan uitdrukking gee berus neuro-ekologies op die samehang van breinfunksies en omgewingsinvloede (die totale ekologiese konteks waarbinne jy as mens grootgeword het en leef) .
Dit sluit in jou opvoeding, kulturele agtergrond, die boeke en geskrifte wat jy lees, die soort idees wat jy verken én jóú keuse van spirituele of godsdienstige prikkels. Uit dié samehang kom ryk belewenisse wat die allerdiepste betekenis vir mense kan hê en hul lewens rig. Dít is iets gans anders as om te sê ‘n breingebied “bepaal” jou spirituele belewenisse.
Juis die verbysterende ingewikkeldheid van ‘n brein-ekologie-kompleks laat Susan Greenfield tot dié insig kom: “Just because we can couch things in physical terms, does not mean that we will be able to solve the hard problem of consciousness.”
“The hard problem” verwys na die probleem om aan te toon presies hoe bewussyn uit breingebeure “voortvloei” en terselfdertyd “terugvloei” tot breingebeure. Tegnies verwys dit na gelyktydige - “feedforward” en “feedback”-prosesse in die brein se triljoene neurone, neuronverbindings en hormonale prosesse.
Dit is inderdaad ‘n verstommende skouspel én mirakel van allesgelyktydigheid.
Dít beteken die brein is as ‘n geheel altyd by alles betrokke. Verskillende dele mag spesifieke primêre funksies hê, byvoorbeeld die oksipitale lob vir visuele insette en verwerking en die temporale lob vir ouditiewe insette en verwerking.
Maar alles wat om en in jou gebeur, is terselfdertyd deel van die “stream of consciousness” ( á la William James) en beteken ook die volle brein is werksaam op die bewussynskontinuum van slaap -- droom -- rustende wakkerheid -- dagdroom -- tot intense aktiewe aandag. Uiteraard is dit wat onbewus is en bly (die “onbewuste” a la Freud en Jung) hierby ingesluit, en kan dit in verband gebring word met die brein se meeluisteringsfunksie (Jordaan & Jordaan, Mens in Konteks, 1998).
Dit is dié allesgelyktydigheid van breinaktiwiteit as ‘n proses wat nagevors en bedink behoort te word, eerder as bloot ‘n fokus op enkelvoudige eksperimente in laboratoriumtoestande, soos dié wat reeds genoem het.
Die pryswennende navorsing waarna hierbo verwys is ‘n voorbeeld hiervan. Natuurlik sluit dit nie laboratoriumnavorsing uit nie.
Allesgelyktydigheid beteken verder dat ons bewuste belewenisse - al word dit deur elektrochemiese aktiwiteit in die brein bemiddel - méér en ánders is as elektrisiteit en biochemie; dat oomblikke van intense selfbewussyn opsigself die brein se elektrochemiese aktiwiteit wysig en selfs nuwe patrone kan skep. Dít terwyl die brein as geheel tegelykertyd die wysiging en nuwe patrone bemiddel.
Anders gesê: Mens is mens in die volheid van jou bewussynsbelewenisse en al word hulle elektrochemies “gedra” of “bemiddel”, is hulle terselftertyd méér en ánders as pure elektrochemie.
Soos die filosoof John Searle sê: “ From a (first-person ontology perspective) consciousness is irreducible...without claiming that it is somehow metaphysically not a part of the physical world. We can accept...irreducibility without accepting dualism.”
“First person ontology” beteken jy as mens het ‘n soort bevoorregte selfkennis (priviledged self-knowledge) wat sê: Ek is bewus en ek alleen weet waarvan ek bewus is. En as jy my vra kan ek jou sê, of ek kan jou sê as ek wil. Maar ek kan ook lieg daaroor!
Op hierdie punt moet ek myself herinner dat ons in die Filosofiekafee is en gekoester word met wyn en brood (pizza) in die Bôrdinghuis. So eers enkele filosofiese gedagtes:
Baie duidelik is model 1 (Jy is jou brein) ‘n geval van monistiese materialisme: Die mens is enkel en alleen materieel. Bewussyn is ‘n epifenomeen, ‘n byproduk, moontlik “a necessary illlusion”. Daniel Dennett, voortreflike filosoof, wat onlangs oorlede is, het veel aandag hieraan gegee.
Model 1 lewer weliswaar ‘n magdom empiriese navorsingsresultate in laboratoriumkontekste en is as sodanig belangrik, veral in die konteks van iets soos breinbeserings, sekere geestesiektes, alzheimers ensomeer. Maar sulke toestande is tog nie ‘n volledige uitdrukking van “só is die mens nie.”
Model 2 (Jy het ‘n bemiddelende brein vervleg met bewussyn in ‘n raamwerk van allesgelyktydigheid) lewer opwindende moontlikhede, soos met die pryswennende navorsing waarna ek verwys het.
Model 2, weens die beginsel van allesgelyktydigheid, is moeilik empiries navorsbaar, maar beweeg op teoreties-konseptuele vlak na ‘n omvattender antwoord.
Die groot vraag hier is: Hoe ondersoek mens gelyktydigheid (die geheel) as jy wetenskaplik metodies aangewys is op die ontleding van onderdele?
Daar is, dink ek, ‘n derde model wat voortbou op Model 2 en wat ons op ‘n ander manier nader bring aan ‘n soort antwoord op die vraag: Mens, wat is jy dan?, en wat ek dink praktiese konsekwensies het vir waarom hoe jy van dag tot dag besluit om te lewe.
Kortweg wil ek dit noem: Die mens as beliggaamde bewussyn.
Wat dit op neerkom, is dat die essensie van die mens nie te vind is ín die brein nie, maar in die mens as persoon, ‘n totaliteit, ‘n gehele eenheid wat ten dele kenbaar word deur die allesgelyktydigheid van fisiese (brein) en bewussynsfunksies.
Dié eenheid word vervat in die begrip beliggaamde bewussyn, of soos die filosoof Maurice Merleau-Ponty sê, “die self as beliggaamde subjektiwiteit”; met intensionaliteit wat beteken jy as mens is altyd op iets gerig, hoe trivaal dit ook al mag voorkom.
Prakties beteken dit dat jy as ‘n persoon ‘n subjektiewe bewussynslewe het wat buite jou wete bemiddel word deur die brein wat jy het; ‘n lewe waarin jy jou kan oorgee aan en opgaan in alle, vir jou kosbare, bewuste belewenisse:
Soos ‘n spirituele ervaring; verwondering oor ‘n immer uitdyende kosmos; ‘n helder insig om ‘n gedig te skryf; die ekstatiese innigheid van ‘n seksuele omhelsing; die bekoring van ‘n woordklank; die lag van ‘n kind; die aanskouing van skoonheid; ‘n vredevolle sterwensoomblik...
Om dié model verder uit te pak, moet ek eers teruggaan na die nalatenskap van Descartes se dualisme (die historiese skeiding tussen liggaam en gees, of dan brein en bewussyn) en sy antwoord op wat ‘n mens is: Die befaamde Cogito ergo sum: Ek dink daarom is ek.
Descartes se uitgangspunt impliseer dat ‘n onderdeel van menswees (denke) verhef word tot ‘n geheel. Daarmee het die idee van die rasionele “Logos” algaande allesoorheersend geword en sy krag gedemonstreer in die logika en prosedures van die (natuur)wetenskaplike metode.
Tot vandag toe word Logos-rasionaliteit deur baie mense gesien as die enigste weg na kennis, die enigste manier van betroubaar weet en verstaan.
Descartes sou dalk ‘n ander opvatting gehuldig het as hy in sy leeftyd ‘n studie sou kon maak van die fenomenologiese opvattings van denkers soos Merleau-Ponty en Johan Degenaar; dat die mens ‘n onverdeelbare eenheid is; ‘n geheel.
En dit behels ‘n ander stelling; ‘n ander grammatika: Ek is daarom is ek, ter uitbreiding van ek dink daarom is ek.
Maar wat sê mens as jy sê: Ek is daarom is ek.
In die eerste plek: Jy is ‘n lewende liggaam wat bewussynfunksies het: Jy is selfbewus, kan taal gebruik, waarneem, emosie voel, doelbewus en berekend optree, dink en redeneer.
In die tweede plek, “Ek is” beteken jy verkeer van oomblik tot oomblik, solank jy leef, in die onvoltooid teenwoordige tyd. Op grond van jou bewussynsfunksies wy jy jou toe aan die enkele leefbeurt wat deur jou en om jou ontvou. Johan Degenaar het hierdie ontvouende bewussynsaspek van die mens gesien as ‘n “oop bouplan” wat met lewensvreugde aangepak moet word.
In die derde plek plaas die stelling jou vierkantig in die hiermaals, soos Degenaar dit verwoord het toe hy gesê ons aardegebondenheid (die hiermaals) moet aandag kry voor ons oor die hiernamaals en die bestaan van ‘n onsterflike siel wil praat.
My vraag nou: Het hy dalk daarmee bedoel dat dit wat ons soms hemel noem (die hiernamaals) en aarde eintlik dieselfde plek is; dat ons tot die aarde behoort en bestem is? Dat ons doodsaanvaardend, nie doodsveragtend nie, moet lewe?
Die digter Lina Spies se huldigingsgedig aan Degenaar beaam iets hiervan:
Hy het my laat besef
Dat die vreugde ‘n opdrag is;
Dat God die hande wat ons ophef
Na Hom as’tware wegstoot
Om die aarde te omklem.
Woorde om nooit te vergeet nie
Het hy aangehaal en sedertdien
Glo ek soos Chesterson dat God,
Ons Vader, jonger is as ons
En soos ‘n kind nooit moeg word nie
Maar elke oggend die son beveel om op te kom.
Ek het van Johan Degenaar geleer
Dat al maak jy jou nie, sonder klere skeur,
Los uit die knelgreep van dogmas nie,
Al moet jy jou telkens ontswagtel
Uit die grafdoeke van leed en verlies,
Jy altyd weer soos ‘n Lasarus
In die lig van die hiermaals op kan staan.
Miskien, net miskien, is dit wat bedoel word met: Dien die Here met blydskap. Hier op die aarde – tot die dood toe.
Of, as die begrip Here jou nie geval nie, ‘n ander keuse: Ag die lewe met blydskap, ook jou lewe, solank jy lewe. Tot die dood toe.
In die vierde plek maak die stelling “Ek is daarom is ek” voorsiening vir die rasionele Logos se teenhanger: Die mens as Mythos – kortweg as gevoelvolle subjektiewe storiemaker.
Kom ons kyk eers na die begrippe Logos en Mythos:
Daar is twee eg menslike impulse wat albei te doen het met die begeerte om te weet en te verstaan. Logos verwys na die redelike die rasionele wat sê: ”Kom ons doen ‘n eksperiment. Kom ons ontleed die probleem, sy bestanddele. Ons soek die feite en bied ‘n verklaring aan, of ontwikkel ‘n toetsbare hipotese waaruit ‘n teorie kan volg.”
Die tweede impuls word vervat in die begrip Mythos: “Kom ek vertel jou ‘n storie.”
Dit is die oudste manier van weet en verstaan en behels vertelde en geskrewe belewenisse, ‘n orale kultuur en nalatenskap wat gelaai kan wees met intuitiewe kennis en wysheid.
Mythos sluit aan by Degenaar se siening van ontvouende bewussyn as ‘n oop bouplan. Jy as mens is die outeur van jou “oop” ontvouende verhaal, vervleg met die ontvouende verhale van ander mense, jou mede-outeurs. En so kom jy tot verhaal in eie en ander se verhale; vind jy die self in verhouding tot (in dialoog met) die ander. Soos die filosoof Wilhelm Dilthey gesê het: Verstaan (van die self) is die terugvind van jou en my.
Die mensvormende aard van Mythos word goed weerspieël in Jonathan Gottschal se The Storytelling Animal: How stories make as human. So ook in die Nederlander Theo Meder se werk oor volksverhale en wat hy noem die “babbelende primaat”. En John Niles praat van die mens as ‘n “Homo narrans” (die vertellende mens).
En hier sit hy voor julle: die babbelende primaat; ‘n groot aap wat praat!
Gottschal omskryf die mens as ‘n Homo fictus wat vreugde vind in verbeelding, denkbeeldigheid, verdigsels en versinsels. Dink maar aan die ongebreidelde verbeeldingskrag in die magiese realisme van Jorge Luis Borges, Garcia Marques en Etienne van Heerden met sy pas verskene Gebeente, sy Toorberg en die Swye van Mario Salviati.
En in die spontane magiese realisme van klein kindertjies. Soos ek dit gevind in ‘n kleinkind van my toe sy 7 jaar oud was. Die klassie moes sinnetjies maak met woorde wat “ui” klanke bevat. Dít was haar lysie, as’tware ‘n klein “verhaaltjie” oor God:
God bly in ‘n groot huis.
Die muis is in God se huis.
God dra ‘n trui.
God se nuwe trui is bruin.
God se huis is bruin.
God maak nooit ‘n vuis.
God wuif vir my.
God eet uie.
(Let wel: Die kleindogter is tot vandag toe nie lief vir uie nie. God is blykbaar!)
Oor die rol van verbeelding in die lees en hoor van stories skryf Gottschal: “The writer guides the way we imagine but does not determine it... A writer lays down words, but they are inert. They need a catalyst to come to life. The catalyst is the reader’s imagination.”
Wat alles saam sê, is dat dit wat ons vertel, oorvertel en verbeeldingryk opmaak of bylieg, is aanvullende maniere van weet en verstaan. So anders as dié wat kom uit deur die werkwyse van Logos. Dit besorg aan ons uitruilbare en vormende kennis, insigte en wysheid oor die mens en die samelewing.
In sulke werke vind jy duidelike tekens van mense se intuïtiewe bewustheid van wat ek genoem het ‘n beliggaamde bewussyn.
In haar roman Want Dit Is Mijn Lichaam verwoord Renate Dorrestein die vreemde tongval van die liefde só:
“Die onvergeetlike magie van liefkosings. Alle kennis oor feromone, klierafskeidings en spiersametrekkings verklaar nie wat werklik gebeur op die oomblik wat jy alleen maar die ander een kan sien, hoor en ruik nie. Wat jy dán voel, bly iets wat deur die gode gegee is. Miskien het jy dáárom ‘n liggaam gekry: om nie te vergeet van die bestaan van die gode nie.”
Antjie Krog skryf in die gedig bergmeditasie: sondag 22 Junie (in die bundel ‘n Vry Vrou)
“...ek is nie sonder my/liggaam nie. slegs deur my liggaam kan/ek die aarde bewoon/my siel is volledig my liggaam/...ek het ‘n liggaam, daarom is ek.tree/vir my in die bresse -/jy’s my heel enigste mandaat om/die aarde lief te hê.”
En Betsie van Niekerk skryf in haar roman ...so ook op die aarde by monde van die karakter Ouma Pop:
“Sustertjie, die kerk het sy woorde, boekwoorde wat nie uit jou eie asem opstaan nie. Maar ons het net ons lywe en ons moet lewe en glo met ons lýwe … mens lewe en glo met jou gánske lyf hier onder op dié barre aarde. Dis mos hier waar ons geloof moet grond raak en lyf kry.”
In Elsa Joubert se vertaalde weergawe van Die Missionaris(The hunchback missionary) kry die sendeling Antonie van der Lingen dié insig: “…we did not bring God to Africa. God is here, was always here…. Perhaps we are mistaking the whole nature of the experience of God. Perhaps we are making too much of it. Perhaps it is much simpler and quieter, and as natural as breathing, as close to us as our hands and feet. Perhaps we are living in God and His breath is our breath.”
Terloops, die aanhaling uit Die Missionaris resoneer met wat teenswoordig in die teologie Radikaal Verdiepte Vleeswording (Deep Incarnation) genoem word, naamlik dat God se Vleeswording in Christus ook beteken dat God self deel van “alle vlees” geword het en dat die heilige juis daarom in die alledaagse gevind kan word.
‘n Vyfde implikasie van “Ek is daarom is ek” is dat antwoorde op “Wie is die mens?” ook en meer bepaald te vinde is in die blootlegging van bewussynsveelvuldigheid in en om ons. Dit is ook deel van die grammatika van menswees.
En dit beteken ons moet met groter bewustheid leef; meer “mindful” (my woord daarvoor is alombewustheid) wees oor alles om en in ons; hoe bewussyn en selfbewusssyn ontvouend gestalte gee aan ons menslike doen en late.
Ek het nou hopelik gevorder van jy is jou brein, na jy is nie jou brein nie maar jy het ‘n brein binne die raamwerk van allesgelyktydigheid, tot beliggaamde bewussyn.
‘n Antwoord op die vraag: Mens wie is jy? lê dan moontlik in die samevoeging van Logos en Mythos
Ek wil dit soos volg inklee, beginnende met ‘n merkwaardige gedig deur Ina Rousseau: “Die maaksel”
saamgestel ontstellend
uit triljoene klein
trillende mirakeltjies:
instrument met fynstelling
waarin die werking kwellend
verwikkeld tik,
opwektoestel vir geluk
en skril pyn,
‘n maaksel sierlik, knap,
breekbaarder
as spinnerak
Dis ons, dis wat en hoe ons is – paradoksaal sierlik én breekbaar.
Maar ‘n maaksel het ‘n maker, dan nie? Ons het dan keuses.
Daar is die Logos-keuse: Die maker sedert die oerknal is evolusionêre ontwikkeling – steeds voortgaande in en om jou en met nuwe moontlikhede. Die wetenskap sal ontleed, weet en ordelik verstaan.
Daar is ook die Mythos-keuse
Die maker hier is die een met ‘n naam in ‘n storie: Ek is wie Ek is – onvoltooid teenwoordige tyd: altyd hier; altyd aan’t gebeur in en om jou en wat jou tot nuwe begip bring oor menswees.
Maar onthou dan ook: “Ander name sluimer nog”, soos Van Wyk Louw in Groot Ode skryf. Ander name dus as “Ek is wie Ek is.”.
Daar is ‘n derde keuse: Logos en Mythos is in dialoog ter wille van breër en dieper mensvormende begrip; met erkenning van albei se mensvormende waarde.
Daar is, miskien, ‘n gans ander moontlikheid – ‘n ontoetsbare Mythosiaanse hipotese van metafisiese aard:
In die begin was die bewussyn
en die bewussyn het brein geword
en die brein het mens geword.
Ons het gekom van vis tot filosoof
en uiteindelik kom ons weer tuis in die Syn,
in die verste omtes van die uitdyende
Groot Bewussyn.