|
Johan Degenaar. Foto: Marc Degenaar. |
Dit was Degenaar se werk wat Pieter
Duvenage as matriekseun oortuig het om filosofie te gaan studeer – hy het ook toe
gelukkig die voorreg gehad om onder sy leermeester self te leer by die Universiteit
Stellenbosch.
“Kant skryf êrens dat daar uit die krom hout van die mensdom geen reguit hout kom nie. Wel, ek dink Johan Degenaar is die mens wat die naaste aanʼn reguit stuk hout gekom het wat ek ken,” sê hy.
Na die heengaan van Johan Degenaar op
Woensdagmiddag 22 Julie 2015 het elkeen van ons wat hom geken het ʼn storie om
te vertel. Pieter Duvenhage deel syne.
Daar is baie Johan Degenaars. In sy
lang loopbaan as dosent op Stellenbosch, maar ook in optredes in Suid-Afrika en
oorsee het hy baie mense se lewens op verskillende tye aangeraak. Voor ek by my
verhaal uitkom net die volgende. Johan Degenaar was ʼn seismograaf wat die diepste
verskuiwing van tektoniese plate onder ons waargeneem het. By hom het die lawa
van die denke altyd beweeg.
|
Geskrifte uit Degenaar se pen. Foto: Marc Degenaar. |
Ek persoonlik het so
teen die laat 1970’s van hom bewus geword, eers deur die raakloop van ʼn boek
van hom (Moraliteit en Politiek,
1976) in die plaaslike dorpsbiblioteek en toe enkele artikels van hom wat ek in
verkillende koerante gelees het. In my matriekjaar het ek ook die
oranjekleurige slapbandboekie van hom, Voortbestaan
in Geregtigheid (1980), in die dorpsbiblioteek onder oë gekry. Wat my
opgeval het as hoërskoolseun was die anderste manier waarop Johan Degenaar taal
gebruik het. By niemand anders het ek op daardie stadium sulke nuanses
raakgeloop wat uit sy geskrewe werk gevloei het nie – selfs nie digters en
romansiers nie. Van daardie oomblik af het ek geweet ek wil filosofie gaan
studeer.
|
Degenaar en Duvenage (regs). |
Ek is dus Stellenbosch
toe in 1982 en Degenaar se departement politieke filosofie was voor op my
lysie. Ek was verder gelukkig om saam met politieke filosofie ook filosofie te
neem. Dit was ʼn unieke geleentheid om jou voorgraadse jare met soveel filosofie
te laai dat ek, ten spyte van liefde vir die geskiedenis as vak, my die heeltyd
met eersgenoemde kon besig hou.
"Degenaar het in die eerste semester van my eerste jaar ons basies welkom geheet en sy eerste woorde aan ons was oor die belangrikheid van taal vir denke."
|
Foto: Lamè Ebersohn. |
Hy het so vir twee of drie
weke klas gegee en toe die kursus aan ʼn jong tydelike dosent oorgegee. Die
kursus het basies gefokus op Plato se Republiek,
maar ons moes ook twee voorgeskrewe opstelle, oor die universiteit en die
natuurreg, skryf. Daarby kon ek ʼn eie verkose opstel oor die krisis in die ASB
op Stellenbosch in 1968 geskryf.
In my tweede en derde
jaar het ek darem ʼn volle semester by Degenaar klas gehad. Ek onthou veral die
derde jaar (1984) toe ons 4 studente was en ons sommer in sy kantoor klas gehad
het. Wat ʼn voorreg! Wat my altyd van Johan Degenaar opgeval het, was die kennis
wat hy van sy vak gehad het, sy medemenslikheid teenoor almal hoog en laag, en
sy vermoë om al die kennis wat hy oor ʼn lang tyd opgedoen het binne die
Suid-Afrikaanse konteks te kon toepas. En daarby sy Sokratiese verwondering vir
die wêreld en die mense wat dit bewoon, maar ook sy kritiek op enige skema wat
dogmaties daarop afgedruk word.
|
Foto: Marc Degenaar. |
Na my voorgraadse jare
is ek weg van Stellenbosch en het uiteindelik ook in Duitsland ʼn draai gaan
maak. Ek het egter gesorg dat ek deurentyd met my voorgraadse leermeester in
verbinding bly. Terwyl ekself in die filosofie tereg gekom het, het ek steeds sy
loopbaan met elke stap fyn dopgehou. Ek het ook ʼn punt gemaak om hom gereeld te
besoek. Hy het my nooit teleurgestel nie. Kant skryf êrens dat daar uit die
krom hout van die mensdom geen reguit hout kom nie. Wel, ek dink Johan Degenaar
is die mens wat die naaste aan ʼn reguit stuk hout gekom het wat ek ken. Ek neem
afskeid van my eerste leermeester in die filosofie met weemoed. Ons sal lank
moet wag om weer so ʼn voorbeeld te kry.
*Pieter Duvenage is professor en
hoof van die Departement Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het in 2008 die saam met Willie van der Merwe ʼn bundel
van die belangrikste essays van Johan Degenaar geredigeer. W.L. Van der Merwe en P. Duvenage (samest.): Die
Tweede Refleksie. ’n Keur uit die denke van Johan Degenaar. Stellenbosch:
SUN Media.