André Kruger
skets die konteks van sy debuutroman, Die
twee lewens van Dieter Ondracek, ten einde die dilemma van skuld te
illustreer. Hy verwys ook na die lewe en hofsaak van Adolf Eichmann, om verdere
aspekte rondom die skuldkwessie uit te wys.
Dieter is ‘n ingenieur in Nazi-Duitsland. Hy is aanvanklik
apolities, maar nadat sy verhouding op die rotse loop, besluit hy om by die
Nazi-party aan te sluit en word hy die vervoerdeskundige wat vervoer vir die
Jode na die uitwissingskampe moet organiseer. Hy vlug later na Suid-Afrika,
waar hy by die SA Spoorweë teregkom en
later op sy buurvrou verlief raak. Sy verlede haal hom egter in…
Kruger verwys na
Hannah Arendt se Eichmann in Jerusalem. In
hierdie boek neem sy ‘n posisie in waarvoor sy uit Joodse geledere erg
gekritiseer is. Sy het Eichmann, die monster, op ‘n ander manier gesien en meen
dat groot besluite altyd kompleks is. Sy het daarop gewys dat David Ben-Gurion
op soek was na ‘n “show trial”. Eichmann was nie besonder intelligent nie. Hy
was verder die mees junior offisisier by die Wannsee-konferensie en ook nie direk betrokke by die strategie rondom die finale
oplossing en dus die dood van mense nie. Uit ‘n regsoogpunt kan mens nie die
doodstraf ontvang vir medepligtigheid nie, maar dit is juis op hierdie aanklag
dat hy ter dood veroordeel is.
Die Nazi’s het
eufemismes gebruik soos die woorde “verwydering”, “arbeid in die ooste”,
“finale oplossing”, maar het nie direk verwys na die moord op mense nie. Die
manipulasie van denke het verder meegebring dat mense nie hierdie dade veroordeel
het nie.
Daar was geen
kousale verband tussen Eichmann se dade en die straf wat hy aan die einde van
die 14-week lange hofsaak in Jerusalem ontvang het nie. Hy is die eerste person
wat op aanklagte van volksmoord verhoor is en is uiteindelik skuldig bevind en
tot die dood veroordeel.