HET DIE
EINDE VAN DIE TRADISIONELE BOEK AANGEBREEK MET DIE KOMS VANDIE DIGITALE ERA? –
NICOL STASSEN medereerder Lydia von Wielligh-Steyn
20 April 2012: Soffkamer, Café Riche, Pretoria
Die vraag wat Vrydagaand
bespreek was, is nie filosofies van aard nie, maar eerder ’n kardinale een.
Dit is bekend dat
bankiers ongeveer 25% wins maak. Vir jare was die winsmarge op boeke baie laag
– tussen 3 en 4%. In die VSA het groot firmas egter begin om in koerante en
boeke te belê. Dit het aanvanklik aanloklik gelyk,
maar hierdie seepbel het in die koerantbedryf gebars en dieselfde kan ook in die
boekbedryf gebeur.
Die impak van tegnologie is nog
te onlangs om werklik te kan beoordeel. In die dertigerjare van die vorige eeu
al was daar vrees dat radio – en later ook TV – lesers sou afrokkel. Die koms
van radio het egter ’n minimale impak
op die boekbedryf gehad.
Die Internet het wel ’n groot verandering meegebring. Die optrede van Google en Amazon sal
deurslaggewend wees vir die voortbestaan van die boekbedryf. Dit kan as ’n vyandige aanslag op
die Westerse kulturele wêreld gesien word. Google het boeke sonder toestemming
gedigitaliseer en die invloed van Amazon het gelei tot die sluiting van talle
onafhanklike boekwinkels. Amazon wil self nou ook boeke begin uitgee, ’n
diaboliese stap, aangesien boekwinkels toenemend van Amazon afhanklik word om
hulle eie boeke te versprei.
In die VSA en in
Kanada is hofsake tans aan die gang omdat groot uitgewers daarvan beskuldig
word dat hulle boekpryse kunsmatig hoog hou en as ’n soort kartel optree.
Amazon (wat sy geld uit Kindles maak) wil boeke onder 10 USD verkoop, wat tradisionele
uitgewers nie kan bekostig nie.
In die laaste tien
jaar het die sirkulasie van koerante wêreldwyd gedaal. Dit het tot ’n verlaging
in advertensie-inkomste en die afdanking van baie joernaliste gelei. So het die
Chicago Tribune en LA Times bankrot gespeel en vele ander
publikasies kan volg. Daar word geraam dat 20 000 werksgeleenthede jaarliks in
die VSA koerantmilieu verloor word. Die globale resessie het hierdie
probleemsituasie versnel. 65% Van Amerikaners glo dat daar oor tien jaar nie
meer koerante gaan bestaan nie. In Brittanje en Frankryk is hierdie
agteruitgang ook sigbaar.
Verbasend genoeg is
die koerantbedryf in Japan nog gesond, asook elders in Asië. 74 Van die wêreld
se huidige top-koerante is dan ook afkomstig uit hierdie wêrelddeel.
Jongmense het
wantrouig teenoor die tradisionele media geword. Verder kannibaliseer Google
die wêreldkoerante, onder die voorwensel dat hulle hiermee “gratis publisiteit”
aan die publikasies gee. Die advertensie-inkomste wat egter so op die Internet
verdien word, beland in Google se sakke.
Nuuslesers op die
Internet is egter nie die enigste rede vir die afname in koerantlesers nie. Net
sowat 3% van nuuslesers lees nuus op die Internet.
’n Moontlike oplossing
sou wees vir regerings om in te gryp, soos in die geval van die probleme rondom
die Süddeutsche Zeitung. Regerings
borg immers reeds staatsbiblioteke, nasionale TV-bedrywe en film-maatskappye.
Die gevaar is natuurlik dat regerings aan koerante probeer voorskryf wat
gepubliseer mag word.
Sommige koerante
aanvaar die digitale era as ’n gegewe waaraan hulle weinig kan verander. So
verskyn die Christian Science Monitor
byvoorbeeld deesdae net in aanlynformaat en is daar weggedoen met die
tradisionele harde kopie. Ander koerante probeer ’n breër leserspubliek trek
ten einde meer advertensies te bekom en uiteindelik kwyn intellektuele debat in
sulke gevalle.
Die invloed van die
digitale era op die musiekbedryf was rampspoedig. Ook in die koerantbedryf lyk
dinge nie rooskleurig nie. Die boekebedryf behoort egter minder geraak te word.
In die laaste paar
dekades was die volgende aspekte prominent in die boekbedryf:
- Die groei in boekwinkelkettinggroepe: hierdie model is egter nie volhoubaar nie. So het Borders in die VSA reeds bankrot gespeel en Fascination Books plaaslik.
- Multi-nasionale uitgewerkonglomerate: in sowel Brittanje, die VSA as in SA word groot gedeeltes van die boekbedryf deur vyf groot uitgewers oorheers. In die geval van SA is dit 52% van die bedryf wat in die hande van vyf uitgewers is...
- Die digitale revolusie: sedert die middel-tagtigs vind al meer tegniese veranderings in die boekbedryf plaas. Die e-boek het egter nie oorgeneem soos voorspel is nie. In 2006 het Sony se eboek verskyn en in 2007 die Kindle. Daar was wel ’n dramatiese toename in die verkope van e-boeke, maar dit moet in gedagte gehou word dat hierdie styging van 0% af kom.
Niemand is regtig
seker wat die toekoms inhou nie. Die voordeel van e-boeke word dalk oordryf –
niemand wil noodwendig die inhoud van honderde boeke op een slag met hom/haar
saamdra nie. Die digitale boek kan verder nie veel byvoeg tot die leeservaring
nie. Die kostevoordeel van die
e-boek (20%) is ook relatief klein.
Dit moet onthou word
dat die digitale era ook voordele vir die boekbedryf gebring het. Dit is vandag
heelwat goedkoper om boeke te druk danksy vordering wat op hierdie gebied
plaasgevind het.