"Die etiese en politieke implikasies van Aristoteles se begrip van praktiese wysheid (phronesis)."-Prof Pieter Duvenage


Dit gaan in hierdie bydrae oor praktiese kennis of wysheid (phronēsis, φρόνησις) in ‘n verdeelde samelewing. Om hierdie kwessie te verken is Aristoteles se werk, en die interpretasie en toepassing daarvan, van grootse belang. In hierdie opsig staan sy begrip van praktiese wysheid (phronēsis) sentraal. In die proses sal hoofstuk VI van die Nikomacheaanse Etiek, waar Aristoteles ‘n belangrike onderskeid tussen wetenskaplik-teoretiese kennis (episteme) en praktiese kennis of wysheid (phronēsis) maak, in die eerste afdeling bespreek word. Daar sal ook verder gewys word hoe hierdie onderskeid nie net van belang vir die sosiaal-etiese aard van die mens (Aristoteles se idee van die mens as zoon politikon) is nie, maar ook vir die daaruit-vloeiende begrip van politiek.

In die tweede afdeling word hierdie kwessie van die politiek verder verdiep met ‘n bespreking van Gadamer se filosofiese hermeneutiek as ‘n twintigste eeuse antwoord op Aristoteles. Hoewel Gadamer in hierdie opsig deur sy leermeester Heidegger beïnvloed is, het hy ook daarin geslaag om om phronēsis as praktiese kennis op ‘n eiesoortige manier met sy voorstel van filosofiese hermeneutiek te integreer. In die opsig word praktiese kennis met begrippe soos die hermeneutiese sirkel en ‘n werkingshistoriese bewussyn verbind.
In die laaste afdeling word Gadamer se rekonstruksie van die Aristoteliese praktiese filosofie met die vraagstuk van ‘n verdeelde samelewing in verband gebring. Die tese, vooraf geformuleerd, is dat Aristoteles se begrip van phronēsis en Gadamer se kreatiewe twintigste eeuse lees daarvan, ten spyte van kritiek wat ook daarop gelewer kan word, van groot waarde kan wees in ‘n plurale en verdeelde samelewing wat deur botsende opvattings van die ware, goeie en skone gekenmerk word.
rsvp: 012 328 3173 (Martie)
Kom vroeg en geniet die aand, dis die laaste gesprek van 2011.

"Wat is die rol van die filosoof in berading vandag?" - Prof Dirk Louw



Die rol van die filosoof as berader kan in die Westerse filosofiese tradisie reeds gevind word in Sokrates (470-399 B.C.) se begrip van die filosoof as ‘n “vroedvrou” wat ander help om geboorte te skenk aan hul eie idees (d.i. om self antwoorde op hul probleme te vind). Hierdie verstaan van die rol van die filosoof was kentekenend van ‘n Grieks-Romeinse tydsgees wat die toepassing van filosofie op alledaagse probleme aangemoedig het. Dink in hierdie verband maar aan die verskeidenheid van voorstelle oor hoe die lewe geleef behoort te word deur onder andere die Pythagoreërs, die Sinici, die Stoїsyne, die Epikureërs en die Cirenese filosofiese skool. In meer resente tye raak die titel “filosofiese berader” al hoe gewilder nadat die Duitse filosoof, Gerd Achenbach, ‘n praktyk vir “filosofiese berading” in die vroeë tagtigerjare gevestig het asook die Gesellschaft fur Philosophische Praxis in 1982 gestig het. Sedertdien het die idee en praktyk van “filosofiese berading” ook na heelwat ander lande verskuif, waaronder die V.S.A., Verenigde Koninkryk, Nederland, Oostenryk, Switserland, Noorweë, Italië, Spanje, Kanada, Israel, Turkye en Suid-Afrika. Desnieteenstaande is daar relatief min oor “filosofiese berading” gepubliseer en nog minder oor “filosofiese berading” in Suid-Afrika. Dus, wat presies is “filosofiese berading”? Wat is “filosofies” aan filosofiese berading? In watter sin is dit “berading”? Verskil die manier waarop “filosofiese berading” in Suid-Afrika bedryf word van hoe dit elders beslag kry?

Dirk is 'n kliniese sielkundige en 'n mede-professor emeritus in die filosofie. Sy belangstellingsveld sluit in die liefde, die lewe, die heelal en alles wat daarmee saamhang. Spesialiteitsvelde sluit in o.a. Filosofiese Berading, die Ubuntu-etiek, en religieuse pluraliteit.

Dink, talm en skrum saam op hierdie blok.
rsvp: Café Riche 012 328 3173 (Martie)

"Is daar aanduidings van intelligente ontwerp (IO) in die wêreld om ons?"- Dr Gawie Nothnagel


As ‘n mens iets ontwerp en bou, begin dit tipies by ‘n grondstof. So byvoorbeeld is klei iets wat natuurlik op aarde voorkom. Die klei het nie selfsamestellende eienskappe nie, en al wag ons donkiejare sal potte nie spontaan daaruit vorm nie. Slegs wanneer ‘n pottebakker dit intelligent verwerk, kan die klei omskep word in iets met ‘n hoër-orde funksie. ‘n Pottebakker is nodig om funksionele kompleksiteit aan nie-selfsamestellende grondstowwe te gee.
Daar is nie bewyse dat hierdie soort impromptu intelligente ontwerp in die natuur bestaan nie. As dit nie so is nie, wat is die metafisiese implikasies?
Aan die ander kant is die vakgebied van die fisika (en ander natuurwetenskappe) net moontlik omdat daar wetmatighede in die fundamentele onderbou en aksies van die natuur bestaan. Mens kan aste ware sê dat daar onderliggende spelreëls is wat “intelligent” voorkom, of minstens toeganklik vir intelligente ondersoek is. Daar is min twyfel dat hierdie wette en aksies selfsamestellende eienskappe het wat tot die ontluikende kompleksiteit aanleiding gee.
Gawie gaan die onderwerp van voortspruitende kompleksiteit vanuit die perspektief van ‘n fisikus, met behulp van enkele voorbeelde probeer toelig, asook om die megaande metafisiese implikasies uit te wys.

Ontmoet nuwe gespreksgenote en kom vroeg!

Café Riche
Kerkplein 2
Pretoria
012 328 3173
rsvp: Dricky

Neem hiér deel aan die gesprek indien u nie Vrydagaand kan bywoon nie.
oopgesprek@filosofiekafee.co.za

“Is daar ‘n verband tussen seerowery en hongersnood? - ‘n kyk deur Somalië se lens”-Prof Maxi Schoeman




Hongersnood, seerowers, terroriste en oorlog - Afrika - én die wêreld- deur die lens van Somalië
Teen die agtergrond van die burgeroorlog in Somalië, en die land se reputasie as 'n veilige hawe vir terroriste, ondersoek Maxi die huidige hongersnood waardeur die land geteister word, en kyk na 'n moontlike verband tussen die hongersnood en seerowery. Sy argumenteer dat die Somaliese krisis 'n mensgemaakte tragedie is waarin buurlande en ander internasionale rolspelers, en spesifiek die VSA, 'n groot aandeel het. Suid-Afrika se (potensiële) rol om hulp te verleen en 'n oplossing te vind, word ook onder die loep geneem.

Kom neem gerus deel aan hierdie gesprek in ‘n gasvrye omgewing en ontmoet mede redenaars.
rsvp 012 328 3173 (Dricky vd Merwe)
oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Terugberig: Hoe skryf ons Suid-Afrika se Geskiedenis?




Geskiedenis gaan nie alleenlik oor die verlede nie, maar stel ons ook in staat om die verlede, teenswoordige en die toekoms met mekaar te verbind. Dit help ons verder om te verstaan waarheen ons op pad is.

Daar is drie scenarios:

1. Wanneer mens leef binne ‘n gemeenskap wat ontwikkel en vooruit beur
2. Wanneer die gemeenskap ‘n stabiele gang gaan
3. Wanneer die gemeenskap besig is om te verval

Hoe langer die geskiedenis gedokumenteer is, hoe beter is mens se begrip van wat presies in die verlede gebeur het. Hoe minder dokumentasie bestaan, hoe moeiliker is dit om jou weg te vind. Die het implikasies vir die “rakleeftyd” van ‘n betrokke stuk geskiedenis. Goeie geskiedenis het ‘n langer rakleeftyd as slegte geskiedenis! In die geval van suider-Afrika het ons ‘n baie kort gedokumenteerde geskiedenis, ten spyte van die feit dat ons na onsself, in die lig van ons lang argeologiese erfenis, as die wieg van die mensdom verwys.

Ons lewe binne ‘n gemeenskap waar meeste Suid-Afrikaans half-geletterd is. Dit was vroeër die geval en is vandag nog waar. Nasionalistiese regerings hou die sistemiese verwaarlosing van geletterdheid in stand. In ons geval vind die oordrag van historiese kennis meesal mondelings plaas. Hierdie soort populêre, demokratiese geskiedenis is nie presies en streng van aard nie. Binne hierdie multi-kulturele en veelrassige land bestaan daar vele gemeenskappe. Oral ter wêreld is dit gebruik dat die heersers geskiedenis gebruik om kulturele herkoms te verheerlik. Binne ‘n gefragmenteerde land soos Suid-Afrika is die situasie moeilik. Die heersers is op soek na helde wat dié gedeelte van die geskiedenis wat hulle graag onthou, verpersoonlik. Historici is lugtig wanneer hulle gekonfronteer word met die mantra van “my geskiedenis” of “nasiebou.” Geskiedenis word deur nasionaliste beskou as ‘n kommoditeit wat deel uitmaak van nasionale politiek.

Die huidige Suid-Afrika aspireer daarna om ‘n slegte staat te wees, maar kry dit nie reg nie! Afropessimiste is verkeerd in hulle siening van Suid-Afrika, aangesien hulle eintlik te optimisties is. Die chaos gaan nie beëindig word nie. Geskiedenis het nie ‘n spesifieke afsnytyd nie. Die Suid-Afrikaanse staat is te sterk om te faal, maar terselfdertyd te swak om ‘n sukses te kan wees.

Geskiedkundiges ontwikkel ‘n stel reëls wat hulle help om die rakleeftyd van hulle geskiedenis te verleng. In hierdie verband verwys prof van Onselen na sy eie reëls:

Eerstens is daar die illusie dat elke land se geskiedenis eiesoortig is. Om jou eie geskiedenis as buitengewoon te wil sien, kan tot waansin lei.

Verder moet ‘n mens nie ‘n gevangene word van geografiese determinisme nie. Nasiestate is menslike skeppings en nie goddelike waarhede nie. Geografiese grense behoort nie nie jou verbeelding aan bande te lê nie. Dit is waarom die gesprek oor plaaslike geskiedenis eerder oor suider-Afrika as net Suid-Afrika moet handel.

Die geskiedkundige het die moeilike taak om ‘n balans te handhaaf tussen ‘n weergawe van die reële, komplekse aard van geskiedenis en ‘n duidelike, samehangende interpretasie daarvan.

Daar behoort samehang te bestaan tussen die verlede en die hede wanneer mens spesifieke vraagstukke bestudeer.

Alles na afloop van 1945 kom neer op ‘n studie van joernalisme of sosiologie.

Die wortels van geskiedenis gaan terug na ‘n periode toe digkuns en historiese oorsprong nou verweef was. Geskiedenis is gevolglik halfpad kuns, en halfpad wetenskaplik van aard.

Geskiedskrywing behoort duidelik te wees en die gehoor te interesseer sonder dat enige kompleksiteit in die gebeure prysgegee word.

Klasverskille gee ‘n universele karakter aan menslike ervarings. Wanneer kleur te sprake kom, beweeg mens te na aan ‘n situasie waar ‘n spesifieke groep se geskiedenis as “buitengewoon” gesien word.

Skeptisisme behoort gehandhaaf te word teenoor alle inligting wat uit staatsoorde bekom word. Hierdie amptelike bronne behoort op ander wyses aangevul te word.

Geskiedkundiges behoort amptelike publikasies, “goedgekeurde” biografieë of enige ander opdragte van die staat te vermy. Indien hulle sulke werk aanvaar, word publikasies gelewer wat geen rakleeftyd het nie.

Lydia van Eeden


“Hoe skryf ons Suid Afrika se geskiedenis?”-Prof Charles van Onselen


Geskiedenis handel nie alleenlik net oor die verlede nie, maar ook oor die maniere waarop die verlede met die hede verbind is. Hierdie onderwerp interesseer ons dus gedeeltelik omdat dit ons toelaat om op daardie platform voort te bou en om oor die toekoms te spekuleer. Indien hierdie teorie waar sou wees, bring dit ‘n klompie interessante vrae mee. Hieronder tel die vraag of die hede historici bevry of gevange hou wanneer hulle besig is met geskiedskrywing. Wat behels die gevare rondom pogings om geskiedenis in die huidige Suid-Afrika neer te pen en wat presies is “Suid-Afrikaanse” geskiedenis? Waarom behoort historici hulle bevraagtekening van die verlede te beperk tot die entiteit van die “nasiestaat” - ‘n ietwat arbitrêre geografiese eenheid met ‘n betreklik onlangse geskiedenis? Behoort ons nie tydens die aantekening van Suid-Afrikaanse geskiedenis op ons hoede te wees vir die gevaar dat ons die analise-eenheid van ‘n “nasiestaat” as vertrekpunt aanvaar nie? Sodanige vertrekpunt kan nie net ons vermoë om die verlede korrek te herkonstrueer beperk nie, maar kan ook, sonder dat dit die bedoeling is, tot voordeel strek van die erfenis-smouse, politici en mede-reisigers wat meer angstig is om historiese projekte in te span vir “nasiebou” en rasbepaalde nasionalisme. Daar is geen eenvoudige antwoorde op sulke vrae nie en, soos dit uit my praatjie sal duidelik word, beskik ek waarskynlik oor minder antwoorde as die meeste historici en sosiale wetenskaplikes.

Kom gesels saam Vrydagaand 29 Julie vanaf 19:30
rsvp:
Café Riche 012 328 3173 (Dricky)
R65 pp sluit aandete in.

“Politokrasie: ‘n Peiling van die dwanglogika van die staat en ‘n moontlike antwoord daarop”


Prof Koos Malan gaan praat oor sy nuwe boek. Hier volg van die kommentare deur regsgeleerdes:
'n Meesterlike opsomming van die geskiedenis van die Westerse staatsfilosofie, staatkunde en staatsreg lei 'n diepgaande en ongemaklike ontleding van die moderne territoriale staat in. Is 'demokrasie' in 'n heterogene gemeenskap met 'n getalsterke meerderheid nie noodwendig gelykstaande aan die verdrukking van minderhede nie? Kan menseregte en die howe minderhede se eiesoortigheid doeltreffend beskerm? Prof Malan bied sy gedeeltelike oplossing van 'tuistelike gemeenskappe' - vrywillige groeperinge van eendersgesindes wat op verskillende grondslae gevorm kan word – geensins voorskriftelik aan nie, maar as 'n prikkelende stuiwer in die armbeurs wat op sowel akademiese vlak asook in die politieke praktyk tot ernstige besinning en debat aanleiding sal gee.
- Eberhard Bertelsmann, Hooggeregshof, Pretoria

Wordt de klassieke trias “monarchie, aristocratie, democratie" binnenkort aangevuld met een vierde type, namelijk de politocratie ? Of vervangen we laatstgenoemde maar beter door deze verder geëvolueerde vorm, waarin de diversiteit van onze samenleving een meer correcte representatie vindt? Koos Malan slaagt erin ons aan het denken te zetten over de weg die de moderne staat gevolgd heeft, en doet dit aan de hand van de meest gezaghebbende auteurs uit verleden en heden. Bovenal is het echter zijn eigen analyse die de lezer voortstuwt, niet alleen in de richting van nieuwe namen, maar vooral in de richting van verbeterde realiteiten.
- Frank Judo, advokaat, Brussel


Die skrywer toon aan dat die moderne territoriale staat in werklikheid nie die nodige erkenning aan verskillende taal-, kultuur- en godsdiensentiteite binne die staat verleen nie. Hy bied deurdagte, praktiese en prikkelende voorstelle vir die moontlike oplossing van probleme juis ondervind in state waarin sterk minderheids- en kulturele groepe hulself voordoen. Sy beskrywing van politokrasie wat op daadwerklike demokrasie neerkom, verdien daadwerklike en diepsinnige oorweging.
- George Barrie, Universiteit van Johannesburg

Wat dink u hiervan?
rsvp: Café Riche 012 328 3173 (Martie Leslie)
caferiche@kerkplein.co.za

Terugberig: Kan die Ondenkbare bedink word? - het Christina Landman gevra



PROF CHRISTINA LANDMAN: KAN DIE ONDENKBARE BEDINK WORD? GODSDIENSTIGE DENKE OOR DIE HEMEL EN DIE EWIGHEID

Kultusse beskik almal oor sekere vaste eienskappe:

- Daar is ‘n sterk Ou Testamentiese aanslag
- Die leier word slaafs gevolg
- Die einde van die wêreld word gewoonlik spoedig voorspel
- Anti -gay, anti-vrou en anti-liberale denke kenmerk die meeste kultusse

Hoe het mense se persepsies oor die eeue heen verander wat die hemel en die hiernamaals betref? Volgens Michel Foucault skep die samelewing ‘n diskoers wat dan die lewens van die lede van daardie gemeenskap beheer. Die Jode van Bybelse tye het onderskei tussen God wat alleen in die hemel verkeer, die aarde en die Sheol, of donker laagtes, waar al die dooies hulle bevind. Hulle het mettertyd die verwagting begin koester dat God hulle noodlot sou verander (veral gedurende die ballingskap-periode). Die antwoord op hulle swaarkry was dat verandering op hulle wag. Die ellende sou met iets beters (die hiernamaals) vervang word.

Jesus is egter die die eintlike argitek van die hemel-konsep. Die Sadduseërs het hom dikwels in hierdie verband uitgevra. By die vroeë Christene was daar dikwels ‘n verlange na die hiernamaals wat skielik sou aanbreek. Vir die martelare was die vraag oor hoe om in die hemel te kom, die kardinale kwessie. Soos mense later verstedelik het, het die hemel die vorm van ‘n nuwe stad aangeneem: Die Nuwe Jerusalem. Augustinus het baie uitgesien na die hiernamaals as ‘n plek van kontemplasie. Gedurende die Middeleeue het die persepsie verander dat God alleen in die hemel was. Mense kon ook daar kom. In die Renaissance is die hemel as ‘n wonderlike plek gesien. Luther en Calvyn het hulle nie te veel oor die konsep van die hemel uitgespreek nie. Met die uitvinding van die teleskoop het die hemel-konsep egter ‘n knou gekry.

Tydens ‘n opname in die VSA is bevind dat die meeste Amerikaners in die hemel glo. Daar is nie veel detail nie, maar die meeste mense glo dat dit nie ‘n vervelige plek sal wees nie en dat mens geliefde afgestorwenes weer daar sal sien. In Suid-Afrika dink sowat 90% van die bevolking waarskynlik dieselfde.

Die beskrywing van die konsep “hemel” het deur die eeue saamgehang met hoe die samelewing daar uitgesien het.

Wat die konsep “ewigheid” betref, is dit een van die kernbegrippe van die Christendom, naamlik dat die lewe nie ophou nie. Plato het al oor die ewigheid gedink. Met sy Ideëleer word alles wat fisies bestaan immers na ewige konsepte herlei.

Vroeë Christene het geglo dat mens reg moes wees om verlos te word indien daar ‘n skielike einde aan die wêreld sou kom. Verlossing kon bereik word deur martelaarskap, die monastieke lewe en die mistiek. Gedurende die Middeleeue was die kerk magtig. Deur gebed en betaling kon jy iemand uit die vaevuur bevry. Luther het die persepsie verander: mense kon nou net deur geloof gered word.

Denke oor die hiernamaals beïnvloed ons gedrag. Dit het ‘n invloed op ons vrese en die morele pad wat ons bewandel. Dit skep vrees by mense wat gesond of inhiberend van aard kan wees. Alles wat mens doen word noodwendig beïnvloed deur jou siening dat die einde van die wêreld om die draai is.

Die huidige, moderne debat oor die hemel het heelwat verander. Die klem het verskuif van die hemel na ‘n sinvolle lewe op aarde. Ekologiese beswaardes meen die einde van die aarde kan oor 50 jaar aanbreek. Hulle voorspel dus ‘n einde van die wêreld wat deur natuurlike chaos veroorsaak word en nie deur ‘n bonatuurlike ingryp nie.

In die moderne debat gaan dit oor ‘n spel tussen die immanente en die transendente. Daar is ook die konsep van self-transendensie: jy konstitueer jouself deur middel van jou rasionele denke. Dit is jou verlossing. Verlossing hang nou saam met die bewus wees van die spel tussen die immanente en die transendente.

Die Christelike boodskap se troos lê nie in ‘n skielike einde van die wêreld nie, maar in wat in die Bybel staan. Dit is ‘n pad wat die mens en God saamstap, ‘n plek waar die mens ‘n gesonde lewe kan lei. Die transendente sal die mens nie alleen laat nie, selfs nie in die graf nie.

Op ‘n vraag of Jesus nog ‘n rol speel in die nuwe denkrigting, antwoord Christina dat die doel van die huidige spel tussen die immanente en transendente is om oop toegang tot God te skep. Die geïinkarneerde God plaas die twee pole in spel en daarin lê die vervulde lewe.

Indien daar geen lewe hierna bestaan nie, het die kerk nog ‘n rol om te speel? Hierop antwoord Christina dat gemeentelede groot verwagtings het van hoe die kerk hulle lewe kan verander (onder andere deur konkrete aspekte soos berading, hulp met die vind van werk, ens). Die bestaansreg van die kerk gaan oor die realisering van Jesus se koms. Die waardes van Jesus se lewe moet prakties deur die kerk geïllustreer word.

Oor die bestaan van kultusse in Suid-Afrika antwoord Christina dat die sendinglande gestig is deur mense wat nie meer in Europa se verligte samelewing verdra is nie. Hulle het terugbeweeg na piëtisme en ‘n sosiale orde wat aan die Ou Testament herinner. Daardie goedgelowigheid het bly vassteek. Selfs bevrydingsteologie in die Suid-Afrikaanse konteks het ‘n piëtistiese inslag.

Kommentaar is ook gelewer oor die ekovrese rondom die voortbestaan van die planeet – hierdie soort voorspelling oor ‘n spoedige einde wys dalk op ‘n oordrag van die religieuse sfeer. Ekovrese is egter waarskynlik meer rasioneel van aard as die soort voorspellings wat in godsdienstige kringe oor die einde van die wêreld gemaak word.

Op ‘n vraag wanneer dit evolusionêr belangrik geword het om te glo aan die konsep van ‘n ewigheid, word gesê dat dit begin het met die homo religiosus: die behoefte om mense te begrawe omdat daar hoop is vir ‘n voorsetting van die lewe hierna.

Lydia van Eeden

"Kan die ondenkbare bedink word? "-Prof Christina Landman


“Kan die ondenkbare bedink word? Godsdienstige denke oor die hemel en die ewigheid”
Christene het pas – glimlaggend of bebloed – die wegraping van 21 Mei oorlewe. Dis nou tyd om na te dink oor
(1) wanneer ‘n godsdienstige geloofsbeskouing ‘n kultus word (en of ons in post-moderne taal nog oor “kultus” kan praat)
(2)waarom en hoe die konsepte oor hemel en ewigheid oor die eeue heen verander het namate samelewings en hulle diskoerse verander het
(3)wat die invloed van hierdie hemel-en-ewigheid-diskoerse op die samelewing is, en hoe dit mense se gedrag bepaal, en
(4)hoe godsdienste hulle denke oor die Ondenkbare filosofies regverdig
Kom vroeg genoeg, en parkeer op Kerkplein.
rsvp 012 328 3173 (Martie Leslie)

Filosofeer HIER in April!


Weens die twee langnaweke net ná mekaar in April, sal ons weer saam gesels op 27 Mei 2011 in die Soffkamer van Café Riche!

"Wat is die toekoms van kernkrag ná Japan?" - Piet Bredell

"Wat is die toekoms van kernkrag ná Japan?" - Piet Bredell
Ná die kernongelukke by Three Mile Island en Chernobyl het die
kernkragbedryf die versekering verskaf dat alles nou in orde is. Dit het
inderdaad so gelyk, want kernkrag het sedertdien wêreldwyd ΄n
indrukwekkende veiligheidsrekord opgebou. Na afloop van die onlangse
katastrofe in Japan ontstaan die vraag egter waar dié gebeure die bedryf
laat en hoe die toekoms voorentoe lyk.

Piet Bredell het sy hele professionele loopbaan aan hierdie saak gewy. Hy
was by Suid-Afrika se historiese kernbrandstofprogram betrokke. In die jare van internasionale afsondering het Suid-Afrika plaaslik΄n indrukwekkende kernbrandstof-vervaardigingsvermoë ontwikkel. Ingevolge hierdie program is die Koebergkragstasie by Kaapstad met brandstof tydens hierdie moeilike periode voorsien. Piet Bredell het die proses van die begin af deurgemaak.

Hy glo steeds ewe sterk aan hierdie kontroversiële energiebron as tevore.

Almal wat egter die afgelope tyd aan die kernbedryf die voordeel van die
twyfel gegee het, wil nou weet: Quo vadis? Die anti-kernkraggroepe voel dat hulle deur die gebeure in Japan reg bewys is. Is hierdie doemprofeteet-oordeel werklik geregverdig? Of is daar hoop? Is hierdie
force majeurenie die ergste ding wat met ΄n kragstasie kon gebeur nie? Was die vrygestelde radioaktiwiteitsvlakke werklik so erg soos wat in die pers beweer word? Wat hou die toekoms in?

Kom deel gerus in hierdie gesprek, verwoord jou eie vraag en oordeel self waarheen ons op pad is.
rsvp
Café Riche
Kerkplein, Pretoria
012 328 3173
R65 per persoon (sluit aandete in)

“Hoe kan die gewone mens ‘n regsbestaan aanpak?” - Elna Wait

. Goeie maniere en protokol :Om jou sê te sê, maar ook om ander kans te gee om te praat en soms net om te luister - sommige gesprekvoerings grens aan die kakofoniese en is inderwaarheid geraasbesoedelaars. Vryheid van spraak behels die reg om te hoor en gehoor te word.

· Ten opsigte van die voorgestelde instelling van die Suid-Afrikaanse mediatribunaal: Met die immergroeiende vordering van tegnologie (selfone, rekenaars, Wiki-leaks, ens.) en gedagtig aan die onlangse gebeure in Tunisië en ander Arabiese lande asook die mond-tot-mondbehandeling in ‘n globale wêreld (dit is nie eerstehulp nie, maar wel die “grapevine” of riemtelegram) sal die reg op alle waarhede, en nie slegs dié van die staatshoof nie, uiteindelik nooit onderdruk kan word nie.

· Te oordeel aan politieke gebeure wêreldwyd oor die eeue heen kom dit voor of burgers dikwels hulle regering verdien. Landsburgers behoort egter ingeligte besluite te neem om hulle (en nie die “koning” se) land vir hulself en hul nageslagte te bewaar. Ek stem saam met Bono van U2 dat korrupsie die grootste “killer” is. Gewone mense behoort op te staan en ferm oor sake te debatteer. Om terug te keer tot die media: Alhoewel die media vir hulle finansiële voortbestaan van hulle tipe lesers afhanklik is, is dit skokkend dat soveel dekking (nogal op Beeld /Die Burger se voorblad) aan triviale kwessies soos “Die Lieflinge” (die sangpaar Rudi en Corlea) afgestaan word.

__________________________________________________________________________________________________________________________

Elna Wait het by die Universiteit van Pretoria ‘n BA-graad met filosofie en Latyn as hoofvakke behaal. SY het verder ook klassieke Grieks en Frans bestudeer. Daarna het ‘n LLB verwerf.
Sy het 37 jaar lank vir die Departement van Justisie en Vervolgingsgesag gewerk. In Mei 2010 het sy op vervroegde pensioen gegaan. Verder het sy in verskeie hofsake in die Hooggeregshof, Appèlhof en Konstitusionele Hof opgetree en was onder andere by die volgende sake betrokke:

· S Nofomela, S v Mamabolo (in die Konstitusionele Hof - oor vryheid van spraak/minagting van die hof ex facie curiae),

· S v Bredenhann en S v Viljoen, waar die onskuldigbevinding tersyde gestel is en die vervolgingsgesag in staat gestel is om hom de novo aan te kla.

Sy was die laaste jaar by die DOV baie betrokke by omgewingsake en het die Eco-Bites nuusbrief die lig laat sien; is ook lankal ‘n leser en versamelaar van boeke en interessante koerantknipsels.

“In die laaste twee jaar het ek tot die besef gekom dat daar baie aspekte in die samelewing is wat meer aandag verg; onder andere die bogenoemde kwessies”

Meerstemmigheid: 'n kontinentale perspektief. 21 Januarie 19:30


"Meerstemmigheid: ‘n ‘kontinentale’ perspektief" - Prof Rudi Visker ( Katholieke Universiteit van Leuven)
In hierdie voordrag probeer ek om iets te sê oor die verskil tussen die analitiese en die sogenaamde kontinentale wysbegeerte. Beide blyk tans hul hoogtepunt te oorskry het. Die feit dat daar oënskynlik min in beide kampe gebeur, het egter nie vir elk dieselfde betekenis nie. Volgens die analitiese filosofie moet daar bepaalde probleme opgelos word; feitelik bevind hulle hulself tans in ‘n periode van ‘normal science’. Die kontinentale filosofie blyk dit uit ‘n ander oogpunt te beskou: probleme moet ontwikkel word, en dít is nie dieselfde as om probleme op te los nie. Aan die hand van twee verskillende interpretasies van Heidegger se kategorie van die ‘ongedagte’ sal ek aantoon wat hier op die spel is.
R65pp - sluit aandete in.
rsvp: Café Riche 012 328 3173 (Martie)
caferiche@kerkplein.co.za