Vrydag 9 Junie vanaf 18:30



“Waarom die Woede in Kontemporêre Politiek?”
 


Jo-Ansie van Wyk

 



Jo-Ansie van Wyk is ‘n Pofessor in die Departement van Politieke Wetenskap by die Universiteit van Suid Afrika. Haar huidige navorsing behels die bestudering van die politieke rol en invloed van Eerste Vroue (First Ladies) in Afrika as 'n instansie van politieke leierskap, Suid-Afrika se kerndiplomasie teen die agtergrond van die regering se kernenergie-ambisie, onderhandelinge rondom die verbod op kernwapens, en emosies in die internasionale politiek. 
Haar belangstellings sluit astronomie, fotografie, bonsai-kuns en reis in.  Sy versamel Koptiese kruise, Afrika-kopstukke (head rests) en Europese swaarde.
 

 Emosies blyk een van die ruilmiddels van politiek te wees. Politici en verkiesingskandidate gebruik dikwels emosies soos vrees, woede, trots en hartseer om steun te behou en stemme te werf. Emosies dien dus 'n bepaalde sosiale en politieke funksie en verdien hernieude aandag in die Sosiale Wetenskappe. Hoewel woede in die openbare sfeer nie nuut is nie, blyk hedendaagse woede uniek te wees. Dit wil voorkom asof ons 'n nuwe era van 'n nuwe tipe woede beleef. Tegnologie en sosiale media, by voorbeeld, versnel die pas waarteen woede versprei en ontlok word. Die gesprek het dus ten doel om hierdie nuwe era van nuwe woede te verken, en die sosio-politieke hoog- en laagwatermerke daarvan te peil.

Dit is oudergewoonte nie ‘n lesing nie en vind in ‘n bistro-atmosfeer plaas. Gaste kan met ander woorde tussendeur eet en ’n drankie geniet en reeds vanaf 18:00 smul aan ‘n keuse van drie keurige disse. Daar is professionele sekuriteitswagte gereël om die parkeerarea te patrolleer.

Vrydag 9 Junie 2017 vanaf 18:30

R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.


Bespreek by 012 328 3173 / hostess@caferiche.co.za

Iedereen Welkom!

Café Riche | Kerkplein 2, Pretoria 

Vanweë die opgradering van die Plein is sekere strate gesluit.

Toegang is tans moontlik vanuit drie rigtings nl:

 a) Suid:Vanuit Pretoriusstraat:  draai regs in Paul Kruger-straat om voor Café Riche te parkeer (Die ingang is nou oop om die Ayreng busse te akkommodeer, alternatiewelik kan u regs in Parlement-straat draai om voor die ou Capitol Teater te parkeer).

 b)Wes: Vanuit W.F.Nkomo-straat, oor Bosman en parkeer voor die Poskantoorgebou.

c)Noord: Vanuit Paul Kruger-straat, kruis Madiba-straat (Vermeulen), ry links om Kerkplein en parkeer reg voor Café Riche. Dui asb aan by die wagte by die geel versperrings dat u op pad is na Café Riche en hulle sal u deurlaat (Kerkplein is ook afgesluit, maar ons het gereël vir toegang vir ons gaste).

* DAGBOEK ASB DIE DATUM  VIR ONS VOLGENDE GESPREK: 14 Julie 2017

 



Volg ons op Twitter en neem aanlyn deel aan die gesprek: @Filosofie_Kafee #woedepolitiek

Terugberig


Die spreker het begin deur ‘n uiteensetting te gee van die wyse waarop die verskillende vorms van woede, met gepaardgaande emosie, binne die gemeenskap tot uiting kom. Sy het van die staanspoor af ‘n duidelike onderskeid gemaak tussen die sielkundige benadering to tot woede en die uiting van woede binne die gemeenskap as ‘n geheel. Hoewel sy die klem hoofsaaklik op laasgenoemde laat val het, het die gehoor hierdie twee vorms van woede in die daaropvolgende debat met hartelus vermeng!
Dit is uiteraard onmoontlik om hier reg te laat geskied aan die wye veld wat sy in haar aanbieding gedek het. Wat my veral opgeval het, was die positiewe reaksie wat sy by haar gehoor ontlok. Die politieke frustrasie  en woede by mense binne die hedendaagse Suid-Afrikaanse situasie  het  besonder sterk navore gekom. Veral die wyse waarop sekere instansies en groepe binne ons gemeenskap woede met opset aanwakker en blatant vir politieke doeleindes gebruik, is sterk beklemtoon.  Hierdie aspek het heelwat bespreking uitgelok, veral met verwysing na die rol van die media in die manipulasie van woede binne die gemeenskap . Daar was ook heelwat spekulasie oor waar al hierdie woede oorspronklik vandaan kon kom, soos wroeging oor kolonialisme  en die nalatenskap van apartheid.
Laastens is dit belangrik om daarop te wys dat die gesprek deurgaans  in ‘n baie goei gees plaasgevind het.  Dit was beslis grootliks te danke aan die spreker se aangename en interaktiewe deelname aan die gesprekvoering.  Met die afsluiting  het dit beslis gelyk asof almal dit terdeë gdeniet het.

Piet Bredell
Medereerder