31 Julie - "Degenaar as mens"

Kom huldig die groot filosoof Johan Degenaar se nalatenskap by Julie 2015 se FilosofieKafee gesprek waar Dirk Hertzog gesels oor Degenaar as mens.

Johan Degenaar en Abrahm Viljoen in gesprek saam met Café Riche se Lamé Ebersöhn.
Johan Degenaar se afsterwe op 22 Julie 2015 noop ons om wéér te kyk na hierdie filosoof wat 'n verskil gemaak het aan meer as vyftig jaar se geskiedenis deur sy onverskrokkenheid, menslikheid en groot beskaafdheid as denkende Suid-Afrikaner. In sy lang loopbaan as dosent op Stellenbosch, maar ook tydens optredes in Suid-Afrika en oorsee, het hy baie mense se lewens op verskillende tye aangeraak. Die FilosofieKafee gebruik hierdie maand se gesprek om hulde te bring aan 'n besonderse mens.

Vrydag 31 Julie 2015 vanaf 19:30
“Degenaar, die mens” - Dirk Hertzog



R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.

Bespreek by 012 328 3173 / hostess@caferiche.co.za

Dirk Hertzog is gebore in Pretoria. Hy het sy skoolopleiding in sowel Pretoria en die Kaap ontvang. Dirk het sy universiteitsopleiding by Stellenbosch voltooi en is daarna na Oxford, waar hy sy kwalifikasies in die regte behaal het. Hy het navorsing gedoen aan Max Planck in München, Duitsland, en het daarna klasgegee aan die Universiteite van Stellenbosch, Unisa en Pretoria. Hy het ook vir sewe en 'n half jaar by die balie as advokaat gepraktiseer.

Sy hoofbelangstelling bly die filosofie. Hy is tans besig met sy Honneurs-kursus by UP. In 2006 het hy (saam met Etienne Britz en Alastair Henderson) 'n boek uitgegee, getiteld "Gesprek sonder Grense" ('n huldigingsbundel ter ere van Johan Degenaar se tagtigste verjaarsdag). In 2012 het die boek "Power of Imagination" verskyn wat die laaste van Degenaar se lesings aan die Universiteit van Kaapstad weergegee het.

Volg ons op Twitter en neem aanlyn deel aan die gesprek: @Filosofie_Kafee met die tema #RIP#JohanDegenaar

Iedereen Welkom !
rsvp: 012 328 3173 / hostess@caferiche.co.za
Café Riche | Kerkplein 2, Pretoria

Toegang tans verkieslik vanuit Pretoriusstraat, regs in Parlementstraat, en parkeer op Kerkplein, reg voor die Café Riche. Die opgradering rondom Kerkplein is nog nie voltooi nie. Daar is wagte buite.

Johannes Degenaar: 1926-2015


Johan Degenaar. Foto: Marc Degenaar.

Dit was Degenaar se werk wat Pieter Duvenage as matriekseun oortuig het om filosofie te gaan studeer – hy het ook toe gelukkig die voorreg gehad om onder sy leermeester self te leer by die Universiteit Stellenbosch.


 Kant skryf êrens dat daar uit die krom hout van die mensdom geen reguit hout kom nie. Wel, ek dink Johan Degenaar is die mens wat die naaste aanʼn reguit stuk hout gekom het wat ek ken,” sê hy.
Na die heengaan van Johan Degenaar op Woensdagmiddag 22 Julie 2015 het elkeen van ons wat hom geken het ʼn storie om te vertel. Pieter Duvenhage deel syne.

Daar is baie Johan Degenaars. In sy lang loopbaan as dosent op Stellenbosch, maar ook in optredes in Suid-Afrika en oorsee het hy baie mense se lewens op verskillende tye aangeraak. Voor ek by my verhaal uitkom net die volgende. Johan Degenaar was ʼn seismograaf wat die diepste verskuiwing van tektoniese plate onder ons waargeneem het. By hom het die lawa van die denke altyd beweeg.

Geskrifte uit Degenaar se pen. Foto: Marc Degenaar.
Ek persoonlik het so teen die laat 1970’s van hom bewus geword, eers deur die raakloop van ʼn boek van hom (Moraliteit en Politiek, 1976) in die plaaslike dorpsbiblioteek en toe enkele artikels van hom wat ek in verkillende koerante gelees het. In my matriekjaar het ek ook die oranjekleurige slapbandboekie van hom, Voortbestaan in Geregtigheid (1980), in die dorpsbiblioteek onder oë gekry. Wat my opgeval het as hoërskoolseun was die anderste manier waarop Johan Degenaar taal gebruik het. By niemand anders het ek op daardie stadium sulke nuanses raakgeloop wat uit sy geskrewe werk gevloei het nie – selfs nie digters en romansiers nie. Van daardie oomblik af het ek geweet ek wil filosofie gaan studeer.
 
Degenaar en Duvenage (regs).

Ek is dus Stellenbosch toe in 1982 en Degenaar se departement politieke filosofie was voor op my lysie. Ek was verder gelukkig om saam met politieke filosofie ook filosofie te neem. Dit was ʼn unieke geleentheid om jou voorgraadse jare met soveel filosofie te laai dat ek, ten spyte van liefde vir die geskiedenis as vak, my die heeltyd met eersgenoemde kon besig hou. 
"Degenaar het in die eerste semester van my eerste jaar ons basies welkom geheet en sy eerste woorde aan ons was oor die belangrikheid van taal vir denke."

Foto: Lamè Ebersohn.

Hy het so vir twee of drie weke klas gegee en toe die kursus aan ʼn jong tydelike dosent oorgegee. Die kursus het basies gefokus op Plato se Republiek, maar ons moes ook twee voorgeskrewe opstelle, oor die universiteit en die natuurreg, skryf. Daarby kon ek ʼn eie verkose opstel oor die krisis in die ASB op Stellenbosch in 1968 geskryf.

In my tweede en derde jaar het ek darem ʼn volle semester by Degenaar klas gehad. Ek onthou veral die derde jaar (1984) toe ons 4 studente was en ons sommer in sy kantoor klas gehad het. Wat ʼn voorreg! Wat my altyd van Johan Degenaar opgeval het, was die kennis wat hy van sy vak gehad het, sy medemenslikheid teenoor almal hoog en laag, en sy vermoë om al die kennis wat hy oor ʼn lang tyd opgedoen het binne die Suid-Afrikaanse konteks te kon toepas. En daarby sy Sokratiese verwondering vir die wêreld en die mense wat dit bewoon, maar ook sy kritiek op enige skema wat dogmaties daarop afgedruk word.

Foto: Marc Degenaar.

Na my voorgraadse jare is ek weg van Stellenbosch en het uiteindelik ook in Duitsland ʼn draai gaan maak. Ek het egter gesorg dat ek deurentyd met my voorgraadse leermeester in verbinding bly. Terwyl ekself in die filosofie tereg gekom het, het ek steeds sy loopbaan met elke stap fyn dopgehou. Ek het ook ʼn punt gemaak om hom gereeld te besoek. Hy het my nooit teleurgestel nie. Kant skryf êrens dat daar uit die krom hout van die mensdom geen reguit hout kom nie. Wel, ek dink Johan Degenaar is die mens wat die naaste aan ʼn reguit stuk hout gekom het wat ek ken. Ek neem afskeid van my eerste leermeester in die filosofie met weemoed. Ons sal lank moet wag om weer so ʼn voorbeeld te kry.

*Pieter Duvenage is professor en hoof van die Departement Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het in 2008 die saam met Willie van der Merwe ʼn bundel van die belangrikste essays van Johan Degenaar geredigeer. W.L. Van der Merwe en P. Duvenage (samest.): Die Tweede Refleksie. ’n Keur uit die denke van Johan Degenaar. Stellenbosch: SUN Media.