30 Oktober - Wat kan ons leer van die Universiteit van die Vrystaat se Odeion Musiekskool-model?


Moeg vir negatiewe stories oor Suid-Afrikaanse universiteite? Marius Coetzee deel op 30 Oktober 'n goeie storie, en een waarby almal kan leer.


Foto: Netwerk24




Vrydag 30 Oktober vanaf 19:30

 

“Die Universiteit van die Vrystaat se Odeion-musiekskool - 'n inspirerende voorbeeld van progressiewe innovering in die Suid-Afrikaanse hoër onderwysarena” - Marius Coetzee



Marius Coetzee is sedert 2011 werksaam as die innovasie-en ontwikkelingsbestuurder van die Odeion-musiekskool van die Universiteit van die Vrystaat.

Marius het in 1993 'n beurs van die Suider-Afrika Musiekregteorganisasie, SAMRO, ontvang. Hy het dit benut deur kunstebestuur in Helsinki, Finland, te gaan studeer.

Ná afloop van sy terugkeer na Suid-Afrika in 1994 is hy as bemarkingsbestuurder van die Staatsteater Dansgeselskap in Pretoria aangestel. Hy het in 1997 'n beurs ontvang vir 'n internskap in Israel. Hier het hy die bemarkingsafdelings van die hoog aangeskrewe Bat Sheva Dansgeselskap, die Nuwe Israeli Opera en die Israeli Filharmoniese Orkes besoek.

Vanaf 2003 tot 2008 was Marius werksaam by die Jyväskylä Universiteit van Toegepaste Wetenskappe (Kulturele Studieskool) in Finland. Hy was veral betrokke by die totstandkoming van die Graadprogram in Musiekbestuur wat 'n gesamentlike projek van die Jyväskylä Universiteit van Toegepaste Wetenskappe, die Buckinghamshire Universiteitskollege en Inholland Universiteit van Toegepaste Wetenskappe was. Vanaf 2004 tot 2006 het Marius as voorsitter van die Finse komponent van die program opgetree en ook as projekbestuurder vir die ontwikkeling van 'n gesamentlike leerplan. Hy was verder betrokke by die kwaliteitsbestuurspan van die eerste Europese Gesamentlike Meestersgraadprogram.


R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.

Bespreek by 012 328 3173 / hostess@caferiche.co.za






Volg ons op Twitter en neem aanlyn deel aan die gesprek: @Filosofie_Kafee met die tema #UVSSukses

Iedereen Welkom !

rsvp: 012 328 3173 / hostess@caferiche.co.za

Café Riche | Kerkplein 2, Pretoria


Toegang tans verkieslik vanuit Pretoriusstraat, regs in Parlementstraat, en parkeer op Kerkplein, reg voor die Café Riche. Die opgradering rondom Kerkplein is nog nie voltooi nie. Daar is wagte buite.

Vanaand gaan ons weer probeer om die gesprek uit te saai. Direkte stroom vanaf 19:30.

https://www.youtube.com/watch?v=Gc4sCNLmAiI

Neel asb deel!

28 Augustus - Wat kan ons by die Grieke leer?

James Blignaut - 'n kenner op die gebied van volhoubare ontwikkeling - gaan kyk na die Grieke: hul geld en hul gode, om uit te vind watter lesse ons by hulle kan leer tydens Augustus se Filosofiekafee.


Volhoubare ontwikkeling behels die sinvolle en blywende integrasie en harmonie van en tussen natuurlike, finansiële, sosiale, menslike en vervaardigde kapitaal.  Onderlinge wanbalanse tussen hierdie vyf vorme van kapitaal het katastrofiese gevolge.  Vra die Grieke.  Ons gaan dus kyk waar hierdie wanbalanse onstaan het, waarom dit toegelaat is om te ontwikkel tot die mate waartoe dit het, en wat die lesse vir ons op beide persoonlike en landsvlak is.

Vrydag 28 Augustus 2015 vanaf 19:30
“Die Grieke, hul geld, hul gode, en moontlike lesse wat ons kan leer” - James Blignaut






R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.


Bespreek by 012 328 3173 / hostess@caferiche.co.za

James is deeltydse professor in ekonomie (spesifiek omgewingsekonomie) by Tukkies, navorser by die omgewingsekonomie denkplatform, ASSET Research, en konsulteer via sy BK, Beatus. James se navorsing fokus op volhoubare ontwikkeling met die klem op voedsel-, water-, en energiesekuriteit sowel as die restourasie van gedegradeerde natuurlike kapitaal.  Hy poog ook om van die beginsels op klein skaal tuis toe te pas en is dus onbewus van die implikasies van beurtkrag deurdat sy huis onafhanklik op biogas en sonkrag kan funksioneer.  Verder word die grootste gedeelte van sy gesin se groente en vleis self geproduseer.


Volg ons op Twitter en neem aanlyn deel aan die gesprek: @Filosofie_Kafee met die tema #LesseuitGriekeland.

Iedereen Welkom !

rsvp: 012 328 3173 / hostess@caferiche.co.za
Café Riche | Kerkplein 2, Pretoria

Toegang tans verkieslik vanuit Pretoriusstraat, regs in Parlementstraat, en parkeer op Kerkplein, reg voor die Café Riche. Die opgradering rondom Kerkplein is nog nie voltooi nie. Daar is wagte buite.

31 Julie - "Degenaar as mens"

Kom huldig die groot filosoof Johan Degenaar se nalatenskap by Julie 2015 se FilosofieKafee gesprek waar Dirk Hertzog gesels oor Degenaar as mens.

Johan Degenaar en Abrahm Viljoen in gesprek saam met Café Riche se Lamé Ebersöhn.
Johan Degenaar se afsterwe op 22 Julie 2015 noop ons om wéér te kyk na hierdie filosoof wat 'n verskil gemaak het aan meer as vyftig jaar se geskiedenis deur sy onverskrokkenheid, menslikheid en groot beskaafdheid as denkende Suid-Afrikaner. In sy lang loopbaan as dosent op Stellenbosch, maar ook tydens optredes in Suid-Afrika en oorsee, het hy baie mense se lewens op verskillende tye aangeraak. Die FilosofieKafee gebruik hierdie maand se gesprek om hulde te bring aan 'n besonderse mens.

Vrydag 31 Julie 2015 vanaf 19:30
“Degenaar, die mens” - Dirk Hertzog



R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.

Bespreek by 012 328 3173 / hostess@caferiche.co.za

Dirk Hertzog is gebore in Pretoria. Hy het sy skoolopleiding in sowel Pretoria en die Kaap ontvang. Dirk het sy universiteitsopleiding by Stellenbosch voltooi en is daarna na Oxford, waar hy sy kwalifikasies in die regte behaal het. Hy het navorsing gedoen aan Max Planck in München, Duitsland, en het daarna klasgegee aan die Universiteite van Stellenbosch, Unisa en Pretoria. Hy het ook vir sewe en 'n half jaar by die balie as advokaat gepraktiseer.

Sy hoofbelangstelling bly die filosofie. Hy is tans besig met sy Honneurs-kursus by UP. In 2006 het hy (saam met Etienne Britz en Alastair Henderson) 'n boek uitgegee, getiteld "Gesprek sonder Grense" ('n huldigingsbundel ter ere van Johan Degenaar se tagtigste verjaarsdag). In 2012 het die boek "Power of Imagination" verskyn wat die laaste van Degenaar se lesings aan die Universiteit van Kaapstad weergegee het.

Volg ons op Twitter en neem aanlyn deel aan die gesprek: @Filosofie_Kafee met die tema #RIP#JohanDegenaar

Iedereen Welkom !
rsvp: 012 328 3173 / hostess@caferiche.co.za
Café Riche | Kerkplein 2, Pretoria

Toegang tans verkieslik vanuit Pretoriusstraat, regs in Parlementstraat, en parkeer op Kerkplein, reg voor die Café Riche. Die opgradering rondom Kerkplein is nog nie voltooi nie. Daar is wagte buite.

Johannes Degenaar: 1926-2015


Johan Degenaar. Foto: Marc Degenaar.

Dit was Degenaar se werk wat Pieter Duvenage as matriekseun oortuig het om filosofie te gaan studeer – hy het ook toe gelukkig die voorreg gehad om onder sy leermeester self te leer by die Universiteit Stellenbosch.


 Kant skryf êrens dat daar uit die krom hout van die mensdom geen reguit hout kom nie. Wel, ek dink Johan Degenaar is die mens wat die naaste aanʼn reguit stuk hout gekom het wat ek ken,” sê hy.
Na die heengaan van Johan Degenaar op Woensdagmiddag 22 Julie 2015 het elkeen van ons wat hom geken het ʼn storie om te vertel. Pieter Duvenhage deel syne.

Daar is baie Johan Degenaars. In sy lang loopbaan as dosent op Stellenbosch, maar ook in optredes in Suid-Afrika en oorsee het hy baie mense se lewens op verskillende tye aangeraak. Voor ek by my verhaal uitkom net die volgende. Johan Degenaar was ʼn seismograaf wat die diepste verskuiwing van tektoniese plate onder ons waargeneem het. By hom het die lawa van die denke altyd beweeg.

Geskrifte uit Degenaar se pen. Foto: Marc Degenaar.
Ek persoonlik het so teen die laat 1970’s van hom bewus geword, eers deur die raakloop van ʼn boek van hom (Moraliteit en Politiek, 1976) in die plaaslike dorpsbiblioteek en toe enkele artikels van hom wat ek in verkillende koerante gelees het. In my matriekjaar het ek ook die oranjekleurige slapbandboekie van hom, Voortbestaan in Geregtigheid (1980), in die dorpsbiblioteek onder oë gekry. Wat my opgeval het as hoërskoolseun was die anderste manier waarop Johan Degenaar taal gebruik het. By niemand anders het ek op daardie stadium sulke nuanses raakgeloop wat uit sy geskrewe werk gevloei het nie – selfs nie digters en romansiers nie. Van daardie oomblik af het ek geweet ek wil filosofie gaan studeer.
 
Degenaar en Duvenage (regs).

Ek is dus Stellenbosch toe in 1982 en Degenaar se departement politieke filosofie was voor op my lysie. Ek was verder gelukkig om saam met politieke filosofie ook filosofie te neem. Dit was ʼn unieke geleentheid om jou voorgraadse jare met soveel filosofie te laai dat ek, ten spyte van liefde vir die geskiedenis as vak, my die heeltyd met eersgenoemde kon besig hou. 
"Degenaar het in die eerste semester van my eerste jaar ons basies welkom geheet en sy eerste woorde aan ons was oor die belangrikheid van taal vir denke."

Foto: Lamè Ebersohn.

Hy het so vir twee of drie weke klas gegee en toe die kursus aan ʼn jong tydelike dosent oorgegee. Die kursus het basies gefokus op Plato se Republiek, maar ons moes ook twee voorgeskrewe opstelle, oor die universiteit en die natuurreg, skryf. Daarby kon ek ʼn eie verkose opstel oor die krisis in die ASB op Stellenbosch in 1968 geskryf.

In my tweede en derde jaar het ek darem ʼn volle semester by Degenaar klas gehad. Ek onthou veral die derde jaar (1984) toe ons 4 studente was en ons sommer in sy kantoor klas gehad het. Wat ʼn voorreg! Wat my altyd van Johan Degenaar opgeval het, was die kennis wat hy van sy vak gehad het, sy medemenslikheid teenoor almal hoog en laag, en sy vermoë om al die kennis wat hy oor ʼn lang tyd opgedoen het binne die Suid-Afrikaanse konteks te kon toepas. En daarby sy Sokratiese verwondering vir die wêreld en die mense wat dit bewoon, maar ook sy kritiek op enige skema wat dogmaties daarop afgedruk word.

Foto: Marc Degenaar.

Na my voorgraadse jare is ek weg van Stellenbosch en het uiteindelik ook in Duitsland ʼn draai gaan maak. Ek het egter gesorg dat ek deurentyd met my voorgraadse leermeester in verbinding bly. Terwyl ekself in die filosofie tereg gekom het, het ek steeds sy loopbaan met elke stap fyn dopgehou. Ek het ook ʼn punt gemaak om hom gereeld te besoek. Hy het my nooit teleurgestel nie. Kant skryf êrens dat daar uit die krom hout van die mensdom geen reguit hout kom nie. Wel, ek dink Johan Degenaar is die mens wat die naaste aan ʼn reguit stuk hout gekom het wat ek ken. Ek neem afskeid van my eerste leermeester in die filosofie met weemoed. Ons sal lank moet wag om weer so ʼn voorbeeld te kry.

*Pieter Duvenage is professor en hoof van die Departement Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het in 2008 die saam met Willie van der Merwe ʼn bundel van die belangrikste essays van Johan Degenaar geredigeer. W.L. Van der Merwe en P. Duvenage (samest.): Die Tweede Refleksie. ’n Keur uit die denke van Johan Degenaar. Stellenbosch: SUN Media.

26 Junie - "Oor Gemeenskap en Plek"

Koos Malan gesels by Junie 2015 se Filosofie Kafee met 
Danie Goosen
  oor sy nuwe boek: 

'Oor Gemeenskap en Plek.  Anderkant die onbehae'


Lees ook die resensie oor díe boek deur Auwais Rafudeen hier.  

In aansluiting by gemeenskapsdenkers in die hedendaagse filosofiese en teologiese denke voer Danie in sy nuwe boek 'n kritiese gesprek met die globale hegemonie van die neo-liberalisme. In die hart van dié gesprek staan die oeroue vraag na die aard van die mens: Ontvang ons onsself vanuit bronne wat ons as individue voorafgaan en selfs moontlik maak, soos ons veelheid van gemeenskappe en tradisies? Of is ons vryswewende individue wat ons eie werklikheid vanuit 'n gemeenskapsvrye sone skep, maak?

Vrydag 26 Junie 2015 vanaf  19:30

“Oor Gemeenskap en Plek..”

- Danie Goosen

 

Sluit aan en neem deel aan die 2-in-1 boekbekendstelling en gesprek.

Kom neem gerus deel aan hierdie debat in 'n gasvrye omgewing en ontmoet ander gespreksgenote. Iedereen Welkom!

R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.

 

Bespreek by 012 328 3173 /  hostess@caferiche.co.za


 



Wat is die sosiale en politieke implikasies van 'n antwoord op genoemde vrae? Lewer die neo-liberale beeld op die mens ons nie aan die ‘monsteragtige’ uit nie? En bied 'n aansluiting by die gemeenskapsgedagte 'n antwoord hierop?

Danie Goosen is professor in godsdienswetenskap aan Unisa, voorsitter van die FAK-direksie, en lid van die direksie van AfriForum.   

Soos altyd, by Café Riche | Kerkplein 2, Pretoria.

Volg ons op Twitter en neem aanlyn deel aan die gesprek: @Filosofie_Kafee met die tema #Gemeenskap.

Parkering in Parlementstraat, vanuit Pretoriusstraat. 

Kontak Lamé Ebersöhn  - oopgesprek@filosofiekafee.co.za.



Verligting en Tragiek

Kontingensie, of noodsaaklikheid, in moderne samelewing



Daar heers ’n toutrekkery tussen twee maniere om met die werklikheid om te gaan in die Westerse denktradisie; ’n toutrekkery wat veel ouer en veel meer fundamenteel is as die ewige pseudo-debat tussen die pseudo-religie en die pseudo-wetenskap. Dit is die onderskeid tussen Verligting en Tragiek.


 

Ware beskawing, soos Aristoteles dit gesien het, is ’n interspel tussen tragedie en verligting, skryf Louise Mabille.

 

DIE TWEESPEL VAN BESKAWING


Die verskil tussen die twee kan ten beste verduidelik word aan die hand van die filosofiese begrip ‘kontingensie’. In streng filosofiese terme kan die begrip kontingensie gekontrasteer word met ‘noodsaaklikheid’. Noodsaaklike waarhede is die groep (gewoonlik abstrakte) waarhede wat nie weerspreek kan word nie. Dit behels waarhede soos die feit dat ’n vierkant vier hoeke het, of dat twee parallele lyne nooit kruis nie. Hierdie waarhede is gewoonlik toutologies (selfverwysend) en vanselfsprekend, en word dikwels in die wiskunde en formele logika aangetref. 

Kontingensie kan in verband gebring word met die meer toeganklike begrip van ‘toeval’. Dit verwys na waarhede wat toevallig so is, bv dat ’n mens vyf vingers en vyf tone aan elke hand en voet het. Daar is niks wat sê dat dit so moet wees nie – Marilyn Monroe het byvoorbeeld ses tone aan een voet gehad, en dit het haar nie minder menslik gemaak nie. 

Behalwe vir ‘toeval’ kan kontigensie ook met gebeurlikheid in verband gebring word: die warboel feite, voorwerpe, emosies, posisies, verhoudings en lewens waarmee elke mens bedags gekonfronteer word. Dit is die raamwerk van wêreldse gesitueerdheid wat menslike bestaan moontlik maak. Van die mees fundamentele eienskappe van menslike bestaan is die feit dat die mens uitgelewerd staan aan hierdie wêreldkondisie. Nie alleen is die mens se bestaan eindig nie, dit is ook onderworpe aan veranderlikheid, en wat ons ’n epistemologiese tekort kan noem: die tweebeendier kan nie deurdring tot die mees fundamentele waarhede oor óf die heelal, óf oor hom of haarself nie. Dit is die mees fundamentele aspekte van die menslike toestand. 

In die Weste het daar basies twee maniere ontstaan om sin te maak van kontingensie en die menslike uitgelewerdheid daaraan. Die mees voor die hand liggende manier vir die moderne mens is om sy rede in te span. Sedert die Griekse Verligting van die sesde eeu V.C. het ’n gees van optimisme begin posvat dat die rede of ratio gebruik kan word om die mens meer tuis te laat voel in sy/haar gesitueerdheid. Die sleutel daarvoor was natuurlik kennis. Die vroeë Griekse φυσιόλογοι (fisiologoi) was die eerste denkers wat die wêreld in fisiese, natuurwetenskaplike terme beskryf het. Dit het begin met Thales  - van die Ioniese skool, wat gesê het dat water die oorsprong van alles is – iets wat in ’n waterarme land soos Suid-Afrika nogal sin maak. Die Ioniese Verligting het natuurlik verder deur die Griekse skiereiland beweeg tot en met die hoogtepunte bereik deur Sokrates, Plato en Aristoteles wat almal oor een ding saamgestem het, naamlik dat die rede die werklikheid kon begrond, of dit nou te vinde is in vorms of gemene delers. Filosofie self het haar oorsprong in ’n geloof in die rede om sin te maak van ’n mensonvriendelike werklikheid. Deur die eeue het die filosofie en die natuurwetenskappe ’n optimime oor die denke gedeel - ’n optimisme wat vandag nog te vinde is in die eindelose pogings van die Anglo-Saksiese tradisie om tog net ‘n ‘rasionele taal’ te vind wat die werklikheid woord vir woord kan uitbeeld. Verligtingsdenke verklaar pyn, ongeluk en lyding in terme van ’n gebrek aan kennis en is gewoonlik aan ’n progressiemodel gekoppel. Toe Descartes se dogtertjie oorlede is, het hy homself getroos met die gedagte dat die mens eendag die dood self deur die korrekte aanwending van die natuur kon oorkom, en sy grootste smart was dat hy nie geleef het in die tyd toe dit moontlik geword het nie. Spinoza het die begrip kontingensie in sy geheel verwerp, en voorgehou dat as die werklikheid onregverdig of pynlik voorkom, die rede net beter toegepas moet word. 

Pyn en lyding is dan ook een van die groot stukragte agter die opkoms van die rede. Mary Shelley se beroemde wetenskapsfiksieverhaal, Frankenstein, sien dan ook die rede vir die dokter se eksperimente as ’n poging om die dood  - en die pyn wat daarmee saamgaan - te oorkom. Victor Frankenstein is eintlik ’n personifikasie van die Cartesiaanse ideaal. ’n Ouer woord wat ook met kontingensie verband hou, is natuurlik die noodlot. Volgens die verligtingsideaal kan kennis die noodlot tem. ’n Mens moet net slim en presies wees, en die natuur noukeurig observeer. Dit is die domein vir die teoretiese mens, die theoreos, wat dinge op ’n afstand beskou, onder die vergrootglas plaas en ’n skerp lig daarop laat skyn, dus die Ver-lig-ting. 

Die Verligtingsideaal het die Weste vir altyd vervorm, en die rasionele houding het baie gebied. Niemand ontken die voordele wat die mediese wetenskap gebring het, en groot tegniese prestasies soos die uitvinding van elektrisiteit (wie sal daarmee stry – dankie aan Franklin en Edison!) het die wêreld ’n makliker plek gemaak om in te bly. 

Maar steeds moet ons met die digter saamstem: ‘die wêreld is ons woning nie’. 

Die rede daarvoor kan gevind word in die feit dat die mens, ten spyte van die tegniese buffer (Gestell) wat hy tussen hom of haarself en die werklikheid bou, steeds uitgelewer is aan kragte waaroor hy of sy weinig beheer het. Descartes, byvoorbeeld, was verkeerd - daar is baie meer aan die dood as bloot net ’n gebrek aan kennis. Meer as ’n duisend deure loop daarop uit.

Dit bring ons by die ouer manier om die menslike toestand te verwoord, en dit is die tragedie, of die tragiese lewensuitkyk. Dit is veel meer as net ’n genre waar die held of heldin ondergaan; dit is ’n estetiese meditasie oor menswees. Waar die Verligtingsmens homself as ’n denkende subjek sien teenoor ’n objektiewe wêreld, is die tragiese self ingebed in ’n komplekse kosmiese orde wat groter as haar- of homself is. In hierdie wêreld moet die handelende self versigtig met die werklikheid omgaan om die grense wat deur God, die natuur, of omstandighede getrek is nie te oorskry nie. Volgens Nietzsche was dit die sterk punt van die ou Attiese tradisie - ’n Griekse tradisie wat ouer is as die rede waarna ons reeds verwys het, en terugstrek na selfs die orale tydperk. Figure soos Oedipus, Orestes en Antigone, en die dramas wat rondom hulle gebou is, vertel bo alles vir die toeskouer - wat nou nie bloot ’n afsydige toeskouer is nie, maar deel van ’n gehoor wat in die verhaal ingetrek word - dat die lewe, ten spyte van ons uitgelewerdheid aan die noodlot, steeds wonderlik is, en esteties verwoord kan word. Ware tragedie vertel nooit ’n morele lessie nie. Nietzsche sou ’n weersin gehad het aan Thomas Bowdler, die agtiende eeuse sensor wat aangedring het dat Koning Lear ’n gelukkige einde moet hê! Anders as die rasionele subjek, vind die tragiese held of heldin nie sommer antwoorde nie, dit word deur die gebeure, of die kontingente, afgedwing. Daarom kan ons eintlik die tragedie as ‘die gebeure wat handel’ beskryf, eerder as die subjek. Bestaan is nie meer so objektief as wat die geval is met die Verligtingsubjek nie, die self ondergaan eerder die werklikheid as om dit te verklaar. Die tragiese besoek die donker hoeke waar die lamplig nie val nie. Terwyl Sokrates van die Symposium in wind en weer buite staan, deur sy rede gepantser teen die koue op ’n Stoïsynse manier, staan Koning Lear uitgelewer aan die elemente gedurende ’n storm in ’n onbeskermde veld, verlaat deur sy dogters en sy goeie oordeel. (Maar natuurlik, net soos Bartho Smit se Keiser, nie sonder sy hofnar nie).

Ware tragiek het weinig met konvensionele geregtigheid te doen. Oedipus, Antigone en Orestes is nie een moreel skuldig aan wat met hulle gebeur nie, tog wys hulle verhale, anders as die Verligtingsideaal, dat teëspoed wel ’n deugdelike mens kan besoek. Iemand wat die stelling sou waag dat Macbeth sy dood sou ‘verdien’, het ook nie ’n idee wat tragedie werklik is nie - dit wys eerder dat daar ’n groter kosmiese orde is waaroor Macbeth geen beheer het nie. Maar meer nog, dit wys ook dat die mens van al die elemente van sy of haar lewe kan sin maak - en bo alles, dat groot kuns ook negatiwiteit benodig om werklik trefkrag te hê - Polanski se Macbeth (die ‘bloedige’ Macbeth[i]) het nou eenmaal meeer trefkrag as Bowdler s’n. So ook, sou dit bloot Hollywood wees as Koki, Van Wyk Louw[ii] se held in Raka, nie ondergaan aan die einde nie. 

’n Mens moet egter nie die fout maak om te dink dat die tragiese al is wat ons nodig het, of dat ons ons moderniteit moet verruil vir uitgelewerdheid ten einde meer outentiek te wees nie. Daar is goeie denkers en skrywers in elke tradisie: rasionele, wetenskaplike skrywers en sosiale realiste wat die wêreld toeganklik maak, maar ook goeie skrywers wat die wêreld as ’n onsinnige warboel beskryf. Die redenasie bestaan dat die tragiese hom veral tans in die gruwelgenre manifesteer. Thomas Ligotti byvoorbeeld, beskryf die werklikheid as ’n groot ‘sameswering teen die mensdom’. Soos baie skrywers van die kontemporêre Gotiese, het hy ’n siniese uitkyk op die lewe, net soos sy voorgangers H.P. Lovecraft en Edgar Allan Poe. Plaaslik is daar natuurlik van die verhale van C.J. Langenhoven(!) en Herman Charles Bosman wat ’n vreemdheid tussen die humor oproep. Sy uiteindelike posisie is eintlik heel ontstellend, as ’n mens werklik daaroor nadink: dit staan bekend as anti-natalisme, of die doktrine dat dit beter is om nie gebore te wees nie, omdat die lewe vol pyn en onverstaanbaar is, en dat die goeie nie die slegte in die wêreld regverdig nie. Ligotti het onlangs prominent geword omdat sy idees ’n groot invloed uitgeoefen het op die Suid-Gotiese reeks ‘True Detective’. Lovecraft is iemand wat nie so bekend is in die hoofstroom-letterkunde nie, maar het ’n sterk kultusgevolg, veral onder die meer denkende gruwelleser. Interessant egter is dat Michel Houellebecq, ’n skrywer goed bekend aan gereelde Café Riche-gangers, beweer dat Lovecraft een van sy grootste invloede is. Houellebecq is natuurlik ’n aarts-sinikus en word ook by die anti-natalistiese tradisie ingesluit. Plaaslik is dit natuurlik David Benetar van UCT wat ’n anti-natalistiese posisie op utilitaristiese gronde verdedig – dit sou volgens hom selfsugtig wees om voort te plant, omdat dit pyn in die wêreld bring. So ’n oordrewe rasionalisme - en ’n voorbeeld van wat gebeur as die Verligtingsideaal tot sy rasionale uiterste gedryf word, spring egter terug op homself: as sy voorstel om nie voort te plant nie werklik gevolg word, sal daar nie meer ’n subjek wees wat die vraag kan vra, of ’n leser - om Derrida se poskaartmetafoor te gebruik - wat sy boodskap sal kan ontvang nie. Ons het nie hier met ’n tragiese insig te make nie. Op die oog af lyk dit nogal op die wysheid van Silenius - Midas se bête noir wat hom meedeel: ‘Lydende wese, eendagsvlieg, die beste vir jou is nie bereikbaar nie. Die beste van alles is om nie gebore te word nie, en die tweede beste is om gou te sterf’. (Die Geboorte van die Tragedie, III, my vertaling). Soos duidelik uit die anti-natalistiese tradisie, kan tragedie alleen nie wysheid bring nie. Ware beskawing, soos Aristoteles dit gesien het, is ’n interspel tussen tragedie en verligting. Ons as mense moet al die hulp en insig gebruik wat tot ons beskikking is. Ons het dit werklik nodig.


[i] Kyk uit vir die nuwe Macbeth later vanjaar in die rolprentteaters – ‘n eg Skotse weergawe.
[ii] Ek bevel graag Andre P Brink se Orde en Chaos aan vir verdere lees.

 

 

29 Mei - “Baie geluk, Lord Milner.......”

By die volgende Filosofie Kafee sessie gaan Harald Pakendorf gesels oor of daar regtig so iets soos 'n Suid-Afrikaner is en wil hy klem laat val op die verengelsing van die land  - selfs Rhodes is ironies  in Engels van sy troon gestoot.

 

Kom neem gerus deel aan hierdie gesprek in 'n gasvrye omgewing en ontmoet ander gespreksgenote. Iedereen Welkom!

 

Vrydag 29 Mei 2015 vanaf  19:30

“Baie geluk, Lord Milner...”

- Harald Pakendorf 

 

R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.

Besrpeek by 012 328 3173 /  hostess@caferiche.co.za


Harald Pakendorf is op 'n sending stasie buite Middelburg in die ou Transvaal gebore, het 'n B-graad en was 'n  Nieman-genoot, het tot 'n stuk of tien boeke 'n hoofstuk elk bygedra, was redakteur van verskeie koerante (by die laaste een in 1986 afgedank weens sy aandrang op 'n gesprek met die ANC en die noodsaak dat almal voor die wet gelyk moet wees en dieselfde stemreg moet hê) TV-aanbieder, radio-kommentator (selfde program vir 15 jaar) het twee dekades lank ‘n maandelikse politieke verslag vir maatskappye gelewer en ook lesings oor die politieke gehou, ens. Tans is hy 'n skrywer by die kommunikasie-maatskappy Meropa  - en doen nog soms van die ander goed.

Soos altyd, by Café Riche | Kerkplein 2, Pretoria.

Volg ons op Twitter en neem aanlyn deel aan die gesprek: @Filosofie_Kafee met die tema #LordMilner.


Parkering in Parlementstraat, vanuit Pretoriusstraat. 

Kontak Lamé Ebersöhn  - oopgesprek@filosofiekafee.co.za.






Standbeeld-storm 2015

Wat wil ons vergeet, en waarmee wil ons woeker?

 

Om nie onoordeelkundig af te breek óf te behou nie, só stel Louise Mabille voor moet ons dink aan die onlangse stormloop op koloniale standbeelde. Die geskiedenis is 'n balanseertoertjie, sê sy, en elke gesprek wat ’n mens met die geskiedenis aanknoop, dra tot daardie geskiedenis by.

 

 

Dr. Mabille sê in hierdie artikel dat die standbeelde-debat in 2015 haar herrinner aan Nietzsche se Gebruik en Misbruik van die Geskiedenis vir die Lewe.

 

DIE GESKIEDENIS AS BALANSEERTOERTJIE

Foto: Gallo Images.

 

-->
Dit is moontlik om Foucault te parafraseer en te sê dat die geskiedenis ’n malhuis is. Dit wil sê, dit is allesbehalwe ’n enkele groot verhaal, laat staan nog een van progressie en voorspoed. Wat ons al te maklik “geskiedenis” noem, is eintlik ’n metoniem, of ’n opsomming van ’n klomp groot verhale, waarvan die meeste nog boonop in stryd met mekaar staan. Daarby is min van hierdie verhale vir almal toeganklik. Blote geletterdheid impliseer nie historiese geletterdheid nie. Maar dat die geskiedenis, wat op die oog af stom en verby is, wel ’n houvas op mense kan hê, kan duidelik gesien word uit die effek wat ’n aantal standbeelde uit die verlede tans op die hede het.

Die belangrikste beeld, wat eintlik die “beeldstorm van 2015” aan die gang gesit het, is natuurlik die standbeeld van die invloedryke Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad. Sedertdien is nog standbeelde aangeval. Dit is duidelik dat dit meer oor geskidenis as kuns gaan, en daarom het ek ’n ou bekende tema nadergetrek: Nietzsche se Gebruik en Misbruik van die Geskiedenis vir die Lewe (“Vom Nutzen und Nachtheil der Historie für das Leben”). Gegewe die Foucauldiaanse malhuis wat die geskiedenis eintlik is, is dit nogal ’n aantreklike prentjie wat Nietzsche hier skep van sorgelose beeste:


“Beskou die weiende beeste soos jy hulle verbygaan. Hulle weet nie wat bedoel word met more of vandag nie. Hulle spring rond, eet, rus, verteer hulle kos, spring weer rond, van die oggend tot die aand en van dag tot dag, en hulle is nooit teneergedruk of verveeld nie.

Maar die mens wonder nog die meeste oor homself, dat hy nie kan vergeet nie, en bly vasklou aan dinge van die verlede. Dit maak nie saak hoe ver of vinnig hy hardloop nie; die verlede is nog altyd soos ’n ketting by hom. Die oomblik is ’n wonderbaarlike ding: skielik daar en skielik weer weg. Nogtans kom dit weer terug soos ’n gees wat by ’n mens kom spook. Dit is soos ’n blaar wat van die rol van tyd ontsnap en wegwaai; net om weer terug te waai in ’n man se skoot. Dan sê die man ‘ek onthou’ en voel niks minder as jaloesie teenoor die dier nie, wat dadelik vergeet, en elke moment onder wolk en nag sien verdwyn”.

Juis dít wat die mens sy menslikste maak, is ook dieselfde aspek wat hom of haar die meeste uitgelewerd laat voel. Dit is duidelik te siene aan die effek wat slegs ’n paar dekades oue standbeelde kan wakker maak.

Volgens Nietzsche is daar drie maniere om met die geskiedenis om te gaan. Die eerste is die geskiedenis as monumentale verhaal. Dat hierdie manier van omgang met die geskiedenis so ’n belangrike rol in ons eie verlede gespeel het, kan help om te verklaar waarom daar soveel woede in die openbare ruimte rondom koloniale standbeelde is. Alle volke het groot inspirerende figure op strategiese tye in hul geskiedenis nodig: sulke figure dien as ideaal en maatstaf vir die toekoms. Sulke figure is dan ook dikwels ’n verpersonifisering van wie en wat ’n volk eintlik wil wees. 

Foto: Netwerk24.com.


Soms egter, kan ’n inspirerende figuur so groot uitrys bo die res van sy volk, dat daar geen sprake meer is van in ’n verhouding staan met hierdie figuur nie. Die figuur word so groot dat hy of sy eintlik mitiese status aanneem. Die ideaal word  onmenslik hoog gestel sodat niemand meer hierdie status kan bereik nie. Die gelyknamige figuur in Shakespeare se Julius Caesar is so ’n figuur. Vir Brutus en Cassius was Caesar naderhand so ’n reus dat daar vir niemand anders meer ruimte in die openbare sfeer was nie:

Hy betree die klein wêreldjie soos ’n Kolossus

En ons klein mannetjies loer agter sy reuse-bene uit

Net om ons uiteindelik in eerlose grafte te vind (my vertaling)


Dit is geen toeval dat Rhodes ook met ‘n “Kolossus” geassosieer word nie. Hy het in ’n stadium gesê dat “hy die maan sou koloniseer as hy maar net kon”. In Rhodes se geval het ons met ’n negatiewe Kolossus te make. Die woede wat rondom hierdie figuur uitgebreek het, sowel as die uiteindelike verwydering van die beeld, daag nie werklik die koloniale (kolossale) verlede uit nie, maar bevestig die greep wat Cecil John Rhodes steeds op die gekoloniseerde hede het. Die verwydering van sy standbeeld is eintlik net nog ’n insident in die beeld se verlede. Selfs al word die beeld nou in ’n museum geplaas, het dit onlangs meer aandag ontvang as in die afgelope vyftig jaar.

Die uiteindelike verwydering van die beeld, daag nie werklik die koloniale (kolossale) verlede uit nie, maar bevestig die greep wat Cecil John Rhodes steeds op die gekoloniseerde hede het.

Daar is egter slegs een antwoord op ‘n “Kolossus”: nog ’n Kolossus. In Suid-Afrika het ons meer as een antwoord gehad: eers Paul Kruger, en heelwat later, Nelson Mandela.  

Geen land kan egter net op ’n dieet van groot figure oorleef nie, en mense moet leer om saam met die kolosse van die verlede te leef sonder om in hul skadu te staan. Slegs dan kan daar sprake van vryheid wees.

Omdat Suid-Afrika so ’n jong land is, is dit wat oud is vir ons dikwels iets eksoties en waardevol. Maar die drang om te preserveer is wat Nietzsche die antikwariese geskiedsorïentasie genoem het. Om te bewaar, is ’n gesonde begeerte, en kan baie waardevol wees. Niemand wil in die verskriklike posisie wees van die Jode ná die Tweede Wêreldoorlog, wat bo en behalwe die verwerking van die verlies aan hul geliefdes, ook die brokstukke van hul tradisie moet optel nie. Tog is antikwariese geskiedenis nie net voordelig nie. Hans-Georg Gadamer sluit aan by die gedagte van antikwariese geskiedenis, met sy konsep van die “museumifikasie” van die alledaagse lewe. Soos Foucault gewys op die tendens om elke aspek van die lewe aan ’n kenner te onderwerp in die moderne tydperk, so is daar ’n tendens in die moderne Weste om allerhande aspekte van die lewe – kos, seks, geld – in museums te verewig. Volgens Nietzsche kweek hierdie antikwariese vashou van die verlede ’n negatiewe opvatting teenoor die lewe: niemand voel ooit vry om die toekoms sonder hierdie gewig aan te pak nie. 

Dit is slegs deur die derde modus waar Nietzsche genoeg lewensvatbaarheid in die geskiedenis sien om dit waardevol vir die hede te maak. Dit is net as mens op ’n kritiese wyse met die verlede in gesprek tree wanneer dit van waarde word vir die hede. Tans is daar ’n tendens om die verlede in terme van “skuld” te bedink: een groep is die eendimensionele skuldenaars en die ander die eendimensionele slagoffers. So ’n interpretasie van die verlede maak egter van almal eendimensionele kartonfigure, en hou almal in ’n toestand van stasis vas. 

Foto: Netwerk24.com.


Die woord “krities” kom van die Grieks kritikē af, wat rofweg vertaal as “uitmekaar haal om te bestudeer”. Volgens Nietzsche is dit noodsaaklik om krities met die geskiedenis om te gaan. Dit beteken om nie onoordeelkundig te vernietig óf te bewaar nie. Die geskiedkundige bevind hom of haar as’t ware op ’n dun koord oor ’n hoë afgrond. Beide te veel en te min geskiedenis kan dodelik wees.  

Elke gesprek wat ’n mens met die geskiedenis aanknoop, dra tot daardie geskiedenis by. 

Dit is nie net vir die professionele geskiedkundige nie, maar vir almal wat hulle in die huidige tydsgewrig bevind, nodig om te besluit wat hulle wil vergeet en waarmee hulle gaan woeker. Dit is belangrik, want elke gesprek wat ’n mens met die geskiedenis aanknoop, dra tot daardie geskiedenis by.

 

Vat 'n blaaskans - tot Mei-maand!




In die lig van die twee langnaweke wat voorlê (25-27 April asook 1-3 Mei) het ons besluit om die Filosofiekafee-byeenkoms van April te laat oorstaan na Mei.
              
Diegene wat in Pretoria gaan wees gedurende hierdie periode is welkom om te kom inloer vir 'n drankie of ‘n ete: Café Riche is - soos altyd - oop van 06:00 soggens tot 18:00 saans. 

Rus goed uit en kom sluit op Vrydag 29 Mei om 19:00 weer by ons aan vir ‘n stimulerende gesprek in ons gasvrye ruimte op Kerkplein!’

Die Rol van Films in die Skepping van Eietydse Mitologie

In hierdie maand se Filosofiekafee sessie gesels draaiboekskrywer/vervaardiger Piet de Jager oor die rol van films in die skepping van eietydse mitologie.

Foto: Cornél van Heerden/ Foto24.

“For a film to reach mythical proportions, a myth must exist not as fact but as a metaphor for truth.” 


Kom neem deel aan die gesprek...

Vrydag 27 Maart 2015 
Vanaf 19:30
Te Café Riche, Kerkplein, Pretoria. 

 En volg dit aanlyn op Twitter by @filosofie_kafee met die hutsmerk #filmasmitologie.


Piet is alom bekend vir sy rol in die omskepping van die roman Roepman in 'n populêre film, saam met Jan van Tonder en sy seun Sallas de Jager. Sedert 2007 is Piet intensief betrokke by die studie van draaiboek-ontwikkeling en filmkunde. Akademici en filmkundiges het Roepman as `n monumentale deurbraak beskou.



Daarna (in 2013) skep Piet en Sallas die geliefde en bekroonde Verraaiers, en volg Stuur Groete aan Mannatjies Roux en Musiek vir die Agtergrond - die eerste Afrikaanse film wat by die Moembai Filmfees in 'Bollywood' vertoon is


Piet glo onverbiddelik in en streef na die vervulling van William Farrell se stelling: “ For a film to reach mythical proportions, a myth must exist not as fact but as a metaphor for truth.”  Wanneer 'n wet,'n reël, of 'n standpunt die kulterele of etiese ondersteuning of verwerping van 'n gemeenskap verg, is dit die taak van skrywers en filmmakers om met die allegorie van stories universele vrae te opper. Sulke fiksie vorm die bron van moderne mitologie. Goeie films moet gebou word rondom `n grond-idee, maar moet deur middel van `n goeie storie bloot vrae vra en die antwoorde of die gebrek daaraan aan die kykers oorlaat.

Piet de Jager is in 1953 gebore. Hy het aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth gematrikuleer en het die grade MA en LLB aan die UV en Unisa behaal. Sedert 1982 praktiseer hy as advokaat by die Pretoria Balie. In 1997 het wyle pres Nelson Mandela hom aangestel as Senior Consultus (SC) en sedert 1999 neem hy gereeld as regter in Pretoria waar.

In 2006 is sy debuut digbundel, Ouhout, gepubliseer en in 2012 het Protea Uitgewers sy Afrikaanse vertaling van Albert Camus se roman La Peste gepubliseer.


Tans werk Piet as uitvoerende vervaardiger aan die internasionale produksie, Free State  -  `n multikulturele verhaal oor verbode liefde, gelaai met plaaslike en internasionale sterre.

Kom vroeg en ontmoet nuwe gespreksgenote in die heerlike sfeer van die Café Riche se Merkurius -vertrek, wat uitkyk oor Kerkplein.

Toegang tot Kerkplein is tans vanuit Pretoriusstraat, via Parlementstraat (tussen die Ou Raadsaal en die Capitol Teater). Ry reguit noord tot op Kerkplein.
Parkering is reg voor Café Riche, die ligkleurige gebou op die hoek van die Wesfasade.

Wagte sal aan diens wees, asook 'n CCTV-kamera reg voor Café Riche.

“Die intellektuele lewe kan nie bestaan buite die stad nie” - Jacques Ellul

Iedereen Welkom !
FilosofieKafee: Lamé Ebersöhn
oopgesprek@filosofiekafee.co.za


Café Riche
Kerkplein 2, Pretoria
rsvp: 012 328 3173 /  hostess@caferiche.co.za


*R90pp - sluit aandete in wat reeds vanaf 18:00 bedien word.