Vrydagaand Julie 25: "Pittige Burgerskap: Humor en Vryheid in die Openbare Sfeer" - Louise Mabille

-->
'Pittige Burgerskap: Humor en Vryheid in die Openbare Sfeer'   
Dame: ‘Winston, jy is walglik dronk!’
Churchill: ‘Ja ek is. En jy is lelik. Maar more is ek sober en dan is jy is nog steeds lelik.’


Een van die barometers om die stand van 'n gesonde openbare sfeer te bepaal is om te kyk of burgers op 'n skerpsinnige manier met hulle eie taal kan omgaan. Die Engelse tradisie, met sy sterk demokratiese wortels, is bekend vir sy 'wits' - Winston Churchill, G. K. Chesterton, George Bernard Shaw, J.B. Synge, Oscar Wilde - die beste Engelsman is gewoonlik 'n Ier- om maar 'n paar te noem. Dit is egter hoegenaamd nie afwesig in Suid-Afrika nie. Afrikaners kan ook gevat wees. Aan die hand van 'n aantal skerpsinnige voorbeelde gaan ons 'n gesprek voer oor hoe ironie, satire en ondermyning vryheid in die openbare sfeer  in stand hou. 
-->
Louise is besig met voorbereidings vir ’n doktersgraad by die Universiteit van Hull, oor die onderwerp 'transhumanisme' - die politieke implikasies van die tegnologies-gerekonstrueerde subjek. 'n Artikel, 'Nietzschean heresy' oor hoe Nietzsche die sg 'nuwe ateiste sou hanteer het, het vroeër vanjaar in die populêre Britse filosofietydskrif The Philosopher's Magazine verskyn, en 'n boek oor hierdie onderwerp volg later by Bloomsbury. Verder doen sy navorsing oor republiekanisme in die VSA en begin versigtig aan 'n roman te werk...
 
Iedereen Welkom ! 
Café Riche 
Kerkplein nr 2, Pretoria.
R80 pp sluit aandete in wat gereed is vanaf 18:00 
rsvp: 012 328 3173 / caferiche@kerkplein.co.za
Parkeer op Kerkplein - karwag gereël 


Terugberig: 27 Junie 2014

-->
Vrydagaand se Filosofiekafee-onderwerp was ‘Distopia en Utopia: die rol van politieke en sosiale aspekte in kuns,’ aangebied deur Diek Grobler.

Die spesifieke vorm van kuns wat onder die loep geneem is was animasie.  Twee formate is aanwesig in die wêreld: eksperimentele animasie, wat nie populisties is nie, nie aandring op ‘n gelukkige einde nie en selfs nie vereis dat alles in die film verstaanbaar hoef te wees of ‘n ‘storie’ hoef te vertel nie.  Dan is daar kommersiële of ‘Disney’ animasie, wat aandring op ‘n storie - een met ‘n goeie einde - en meestal gemik is op kinders.  Dié styl maak gebruik van vergrote bewegings en oordrewe ‘toneelspel’ van die karakters.  Die styl is grootliks voorskriftelik en dus voorspelbaar.  Hierdie styl is dominant in die Engelssprekende wêreld en word nie gevind in bv Franse of Spaanse animasiefilms nie.

Daar was ‘n interessante variasie op die normale formaat van die Filosofiekafee, in die vorm van die vertoning van ‘n animasiefilm van 1979, A Tale of Tales deur Russiese kunstenaar Yuri Norstein.

Norstein was nooit populêr in sy tyd nie en moes binne moeilike beperkinge werk in die destydse USSR.  Sy werk was nie gesensor as sulks nie, maar hy is nie toegelaat om te toer daarmee nie, selfs nadat hy begin pryse wen het in die Weste. A Tale of Tales word deur meeste kenners beskou as die beste animasiefilm ooit.  Dit het vier jaar geneem om te maak en al die werk is deur Norstein self gedoen.  Dit sou onmoontlik wees om so ‘n film vandag te vervaardig, aangesien dit veels te duur sou wees.

Die werk is grootliks outobiografies van aard en is gestruktureer soos  menslike herinneringe.  Daar is dus nie ‘n netjiese, chronologiese opeenvolging nie; beelde verskyn herhaaldelik; een gedagte lei na ‘n ander; daar is ‘n sterk invloed van jeugdige gebeure wat ‘n groot indruk gemaak het.  Herhalende temas is
-   Oorlog en die vernietigende effek op Rusland van die stryd op die front tydens WW II
-   Die lig in die oop deur aan die einde van die gang
-   Groen appels
-   Die baba wat soog
-   Die kat op die tafel
-   Vuur binne en sneeu buite.
-    
Die ‘karakters’ wat herhaaldelik verskyn is die digter, ma met die stootwaentjie, die dogtertjie met die groot bul, die seuntjie in die park met die kraaie, dansers, soldate en die grys wolfie. Die wolfie (met groot kop en groot ronde oë) kom uit ‘n baie bekende Russiese wiegeliedjie wat verwys na die wolf wat die baba sal kom steel – soos ook uitgebeeld in die film.

Kleurgebruik is besonders: die meeste beelde is wat ‘n mens seker ‘sepia’ sal noem; effens bruinerig.  Nou en dan is daar helderder kleure bv die groen appel en in die park.  Gedeeltes van die film het byklanke wat ingevoeg is of stilte.  Musiek word effektief gebruik: die klankbaan is gekomponeer deur Mikhael Meyerovich en het ook snitte uit komposisies van Bach, Mozart en ‘n tango vir die dansers van Petersburski.

Die gesprek ná die tyd was interessant.  Reaksies het gevarieer van mense wat koud gelaat is tot ander wat meegevoer is deur die film.  Dit is beskryf as ‘soos ‘n droom’, magies, meesleurend. Dit kyk terug na ‘n nostalgiese utopie – het dit ooit regtig bestaan? Die utopiese ideaal is wel onderliggend aan die kommunisme; daar is egter altyd die menslike factor. Daar is gevra of die meeste van ons ingestel is op woorde – is ons dalk ‘dom’ oor die visuele en vind dit dus verwarrend?  Die film is gemaak vir alle oë en is nie elitisties nie. 

Ten slotte het Diek geantwoord op ‘n vraag oor hoe die film gemaak is.  Norstein het dit letterlik self gemaak: hy was die regisseur sowel as die animeerder.  Die animasietafel het gewoonlik ‘n lig reg bo die tafel.  Norstein het ‘cut-out’ animasie gebruik teen verskeie agtergronde.  Soms het hy werklike footage gebruik soos bv voertuie op die pad wat op die agtergrond geprojekteer is.  Hy het verskeie glas tableaux gemaak wat hy gebruik het om diepte te verkry. Inderdaad ‘n kragtoer vir een persoon om te bereik.  Norstein werk reeds sedert 1981 aan ‘n film genaamd The Overcoat gebaseer op die kortverhaal van Gogol. Die einde is egter nog nie naastenby in sig nie. Sy Hedgehog in the Fog is wel voltooi en word sterk aanbeveel.

Laastens is daar genoem dat daar ‘n ATKV-projek vir Suid-Afrikaanse animasie aan die gang is asook die Mzanzi kortfilmfees, waar ses animasie films vertoon is.

Dankie aan Diek Grobler vir ‘n aangrypende aand!
Ansie de Swardt