FilosofieKafee: Meimaand! 31 Mei vanaf 19:30



"Suid Afrika het nog altyd net vyf jaar gehad voor dit klaarpraat sou wees" -
Tim du Plessis.
Tim reken dis nie klaarpraat met ons nie. Van uniewording af al sê hulle dat SA het net 5 jaar oor. En kyk hoe lank gaan ons nou al aan!
Of, is dit hierdie rondte dalk tog wel só?
Kritiese gesprek, onbevange en robuust!
Café Riche
Kerkplein 2, Pretoria .
R70 pp sluit aandete in.
rsvp 012 328 3173 of caferiche@kerkplein.co.za

Terugberig: Debat 'Tot watter mate het wetenskap die rol van religie oorbodig gemaak?' Louise Mabille en Piet Croucamp

-->
Die tema van April se filosofie-kafee het dadelik my oog gevang en gou genoeg het ek my naam by dié van ander gevoeg om die aand mee te maak. Die tema het duidelik ook die aandag van vele ander getrek, want die lokaal het oorgeloop van nuuskieriges. Piet Croucamp is immers beroemd (of is dit berug?) vir sy flambojante persoonlikheid en charismatiese mishae in “gode-dienaars” en daarbenewens is Louise Mabille ‘n gedugte teenstander wat filosofiese redevoering betref (plaaslik sowel as internasionaal).

Piet Croucamp het die gesprek geopen en (ek moet bely) ek was liederlik teleurgestel in dit wat hy uiteindelik op die tafel geplaas het. Sy entoesiasme, aggressie en afkeuring was tasbaar – maar die inhoud van sy argument swak en onsamehangend. Dit was veral opmerklik om te sien met watter ywer en luidrugtigheid hy hiérdie redevoering aangepak het. Hy kritiseer deurgaans die sogenaamde “gode-dienaars” en hulle “gode” terwyl hy nie veel anders as ‘n gewone prediker, wat van ‘n kansel af bulder, opgetree het nie. Stef Bos sing in een van sy liedjies oor ‘n moontlike verligting van ‘n vervelige preek: “Pepermunt, pepermunt. Als de preek je gaat vervelen. Als je niet meer luisteren kunt.”  Ek kon nie anders as om die lied te eggo ten tye van Piet se wel bedoelde relaas nie.

Hy argumenteer dat religie (in haar verskeie vorme) onwetenskaplik en irrasioneel is. Hy is egter van mening dat die moderne tyd se denke oorheers word deur rasionaliteit en daarmee saam dat die sogenaamde postmoderne konsep van relatiwiteit en subjektiewe-waarheid (ook werklikheid-verstaan) ‘n verbygaande ‘foefie’ was, wat reeds vastrapplek in die heersende wetenskaplike (oftewel filosofiese) denke, verloor het. Vir hom is waarheid onderhewig aan sensoriese observasie, (natuur)wetenskaplike navorsing en empiriese bewyse. Hy sou in die woorde van Dingemans (die Nederlandse sistematiese godsdiens filosoof), meen dat religie “ontoepaslik” is vir die Moderne (wetenskaplike) tyd waarin ons leef. Hy sou “gode-dienaars” vervolgens kon afmaak as fossiele van ‘n ander (voor-wetenskaplike) era. Hy steun op die verifikasie-beginsel wat die bestaan van gode betref, en maak dit duidelik dat hy homself nie gaan verlaat op die ‘bewys’ dat god(e) nie bestaan nie (falsifikasie). Sy relaas word grootliks gebaseer op die uitlatings van die teoretiese fisikus en kosmoloog Lawrence Krauss. Krauss is die brein agter die boek
“A Universe from Nothing” (2012), waarin hy ‘n model formuleer waarin die heelal potensieel vanuit ‘niks’ ontstaan het. Alhoewel sy model met bepaalde eksperimentele observasies ooreenstem, word dit beskou as ‘n “moontlike hipotese” – dus, nog glad nie empiries getoets en bewys nie. Piet Croucamp beskou waarheid as iets wat net herhaaldelik getoets en (empiries) bewys kan word, tog baseer hy sy idees op die werk van teoretiese fisika (teenoor eksperimentele fisika) waarvan die ‘teorie’ nog lank nie ‘herhaaldelik’ getoets en bewys is nie. Dit bly ten beste ‘n goeie hipotese.

Louise argumenteer dat religie deur die eeue waardevol was en steeds vandag ‘n betekenisvolle rol in die samelewing speel. Sy argumenteer dat religie ‘n sterk dryf sfeer vir die vorming van ‘moraliteit’ en morele waardes in samelewings was (en steeds is); aangesien religie reëls vir dit wat ‘reg’ en ‘verkeerd’ is (al dan gedeeltelik kultureel bepaald) daarstel. Sy vra uiteindelik vrae oor die epistemologie (kennisleer) en ontologie (wordingsleer) van enige bepaalde argument rondom rasionaliteit, ‘waarde’ (oftewel betekenis), wetenskap en religie. Aangesien ‘n wetenskaplike toets onderhewig is aan ‘n model (of bepaalde toets), moet ‘n bepaalde hipotese in die eerste plek bestaan. ‘n Model/teorie val nie uit die lug uit nie, maar word subjektief geformuleer en is reeds in die ontstaan fase gevlek met vooropgestelde idees (uitkomstes ingedagte), beskikbaarheid van kennis (daarby ook ‘spesifieke’ kennis) en bestaande modelle/hipoteses. Wetenskap (biologies, kosmologies of teoreties) se bydrae, as ek haar reg verstaan, is betekenisvol – maar daarin moet vooropgestelde idees en intensies oor verklaar word, aangesien geen redevoering, model of hipotese in essensie ‘objektief’ kan wees nie. Elke dissipline en leer het eie bepaalde areas van bydrae, bv. religie kan nie die kosmologiese verklaring rondom ‘skepping’ suksesvol of toepaslik verantwoord nie, maar dit is nie die area/waarde van religie opsig self nie; net so kan fisika nie ‘n uitspraak oor moraliteit en morele waardes maak nie, aangesien dit nie die fokus of vooropgestelde intensie van die bepaalde wetenskap is nie. Louise meen dat die rasionaliteit rondom- en die rol van religie nie deur die (natuur)wetenskaplike reëls waarin iets waar (oftewel waardevol) is, bepaal kan word nie. (Dis miskien ‘n bietjie soos om rugby met sokker-reëls te speel). Die ‘waarde’ van religie kan eerder gevind word in die enorme rol wat (veral christelike) religie in die totstandkoming van morele-bewussyn in moderne juridiese sisteme; grondwet-bepalings van lande; en daarmee saam die algemene bewussyn van die menslike samelewing. Religie is vervolgens die denkraamwerk (of een van die grootste) wat die menslike konsep van ‘reg’ en ‘verkeerd’ help vorm en reëls vir menslike interaksie met mekaar, die ekosisteem en ander biologiese organismes daar probeer stel.

In reaksie argumenteer Piet dat ‘moraliteit’ en morele waarde nie na religie herlei kan word nie, maar dat dit eerder deel van ons biologiese samestelling en kulturele ontwikkeling is. Die meer ontwikkelde mens sal hier volgens, hoër morele waardes hê. Eerste wêreld lande behoort dan ‘n hoër morele waardesisteem te hê en te handhaaf, as minder kultureel-ontwikkelde lande (derde wêreld lande) soos dié uit Afrika. In wese is hierdie argument van hom gebrekkig, aangesien daar op hede ‘n duidelike onverdraagsaamheid teenoor die ‘ander’ (midde Oosterse mense of Islamitiese groepe) in Eerste wêreld streke sigbaar is. Moraliteit kan nie noodwendig ‘beter’ of ‘slegter’ beskou word op grond van kulturele-ontwikkeling nie. Hy verstewig sy relaas oor die irrasionele aard van religie en die ‘vou van godsdiens’ namate wetenskaplike vooruitgang gemaak word. Louise daag hom tereg uit oor dit wat hy beskou as ‘rasioneel’, aangesien verskeie aanvaarde (en tersiêr-gedoseerde) wetenskappe van abstrakte konsepte en teorieë gebruik maak (bv. sielkunde, psigiatrie, kwantum fisika/meganika, ensovoorts) wat nie empiries met ‘eksperimente’ getoets kan word nie. Sy beklemtoon die feit dat vooropgestelde idees in enige redevoering verklaar moet word; wys hom daarop dat ‘postmodernisme’ nie so irrelevant is as wat hy dink nie – aangesien die filosofiese departement van die Universiteit van Pretoria in onlangse tyd juis ‘n denker, wat van bepaalde postmoderne konstrukte gebruik maak, aangestel het; en eindig met die herinnering dat waarheid of waarde van enige gegewe dissipline deur studie-veld en aard van bydrae bepaal moet word en nie universeel toegedig kan word nie, omdat dit dan subjektief deur bepaalde ‘tipe’ denke getipeer sal word.

Ek het die debat op twee vlakke beleef. Die een monoloog was hoogs emotief gedrewe (sodat mens amper vrae oor persoonlike ervaring en vooropgestelde idees wou vra) en onsamehangend saamgeflans; die ander filosofies-substansieel met argumente wat verstaanbaar op mekaar bou en (wat boonop) by die onderwerp hou. Die twee het moeilik met mekaar in gesprek getree, omdat Louise filosofiese (grond teoretiese) vrae aan Piet gestel het, wat hy vanuit sy gebrekkige filosofiese vaardighede nie verstaan het nie en nie behoorlik kon antwoord nie (hiermee laat ek my nie uit oor sy kennis en vaardighede wat politieke wetenskappe betref nie, waarin ek ook seker is Louise nie sou kon deelneem nie). Om bloot kosmologiese en fisies wetenskaplike feite aanmekaar te ryg, bewys nie ‘iets’ in filosofiese redevoering reg/verkeerd (waardevol/irrelevant) nie – die beginsels, argument en ‘toepaslikheid’ van gegewe argument word die deurslag (al dan nie).

Met dank aan Café Riche vir die aand se reëlings, die sprekers se voorbereiding en moeite met die redevoering.

Groete,
Marlene Botha  

Enige persoon word uitgenooi om 'n  'terugberig' te skryf. Kommentaar hierop kan die debat verder stimuleer. 
Lamé