Terugberig: Digitale era se invloed op die tradisionele boek- Lydia von Wielligh-Steyn



HET DIE EINDE VAN DIE TRADISIONELE BOEK AANGEBREEK MET DIE KOMS VANDIE DIGITALE ERA? – NICOL STASSEN medereerder Lydia von Wielligh-Steyn
20 April 2012: Soffkamer, Café Riche, Pretoria
Die vraag wat Vrydagaand bespreek was, is nie filosofies van aard nie, maar eerder ’n kardinale een. 
Dit is bekend dat bankiers ongeveer 25% wins maak. Vir jare was die winsmarge op boeke baie laag – tussen 3 en 4%. In die VSA het groot firmas egter begin om in koerante en boeke te belê.  Dit het aanvanklik aanloklik gelyk, maar hierdie seepbel het in die koerantbedryf gebars en dieselfde kan ook in die boekbedryf gebeur.
Die impak van tegnologie is nog te onlangs om werklik te kan beoordeel. In die dertigerjare van die vorige eeu al was daar vrees dat radio – en later ook TV – lesers sou afrokkel. Die koms van radio het egter ’n minimale impak op die boekbedryf gehad.
Die Internet het wel ’n groot verandering meegebring. Die optrede van Google en Amazon sal deurslaggewend wees vir die voortbestaan van die boekbedryf. Dit kan as ’n vyandige aanslag op die Westerse kulturele wêreld gesien word. Google het boeke sonder toestemming gedigitaliseer en die invloed van Amazon het gelei tot die sluiting van talle onafhanklike boekwinkels. Amazon wil self nou ook boeke begin uitgee, ’n diaboliese stap, aangesien boekwinkels toenemend van Amazon afhanklik word om hulle eie boeke te versprei.
In die VSA en in Kanada is hofsake tans aan die gang omdat groot uitgewers daarvan beskuldig word dat hulle boekpryse kunsmatig hoog hou en as ’n soort kartel optree. Amazon (wat sy geld uit Kindles maak) wil boeke onder 10 USD verkoop, wat tradisionele uitgewers nie kan bekostig nie.
In die laaste tien jaar het die sirkulasie van koerante wêreldwyd gedaal. Dit het tot ’n verlaging in advertensie-inkomste en die afdanking van baie joernaliste gelei. So het die Chicago Tribune en LA Times bankrot gespeel en vele ander publikasies kan volg. Daar word geraam dat 20 000 werksgeleenthede jaarliks in die VSA koerantmilieu verloor word. Die globale resessie het hierdie probleemsituasie versnel. 65% Van Amerikaners glo dat daar oor tien jaar nie meer koerante gaan bestaan nie. In Brittanje en Frankryk is hierdie agteruitgang ook sigbaar.
Verbasend genoeg is die koerantbedryf in Japan nog gesond, asook elders in Asië. 74 Van die wêreld se huidige top-koerante is dan ook afkomstig uit hierdie wêrelddeel.
Jongmense het wantrouig teenoor die tradisionele media geword. Verder kannibaliseer Google die wêreldkoerante, onder die voorwensel dat hulle hiermee “gratis publisiteit” aan die publikasies gee. Die advertensie-inkomste wat egter so op die Internet verdien word, beland in Google se sakke.
Nuuslesers op die Internet is egter nie die enigste rede vir die afname in koerantlesers nie. Net sowat 3% van nuuslesers lees nuus op die Internet.
’n Moontlike oplossing sou wees vir regerings om in te gryp, soos in die geval van die probleme rondom die Süddeutsche Zeitung. Regerings borg immers reeds staatsbiblioteke, nasionale TV-bedrywe en film-maatskappye. Die gevaar is natuurlik dat regerings aan koerante probeer voorskryf wat gepubliseer mag word.
Sommige koerante aanvaar die digitale era as ’n gegewe waaraan hulle weinig kan verander. So verskyn die Christian Science Monitor byvoorbeeld deesdae net in aanlynformaat en is daar weggedoen met die tradisionele harde kopie. Ander koerante probeer ’n breër leserspubliek trek ten einde meer advertensies te bekom en uiteindelik kwyn intellektuele debat in sulke gevalle.
Die invloed van die digitale era op die musiekbedryf was rampspoedig. Ook in die koerantbedryf lyk dinge nie rooskleurig nie. Die boekebedryf behoort egter minder geraak te word.
In die laaste paar dekades was die volgende aspekte prominent in die boekbedryf:

  1. Die groei in boekwinkelkettinggroepe: hierdie model is egter nie volhoubaar nie. So het Borders in die VSA reeds bankrot gespeel en Fascination Books plaaslik.
  1. Multi-nasionale uitgewerkonglomerate: in sowel Brittanje, die VSA as in SA word groot gedeeltes van die boekbedryf deur vyf groot uitgewers oorheers.  In die geval van SA is dit 52% van die bedryf wat in die hande van vyf uitgewers is...
  1. Die digitale revolusie: sedert die middel-tagtigs vind al meer tegniese veranderings in die boekbedryf plaas. Die e-boek het egter nie oorgeneem soos voorspel is nie. In 2006 het Sony se eboek verskyn en in 2007 die Kindle. Daar was wel ’n dramatiese toename in die verkope van e-boeke, maar dit moet in gedagte gehou word dat hierdie styging van 0% af kom.
Niemand is regtig seker wat die toekoms inhou nie. Die voordeel van e-boeke word dalk oordryf – niemand wil noodwendig die inhoud van honderde boeke op een slag met hom/haar saamdra nie. Die digitale boek kan verder nie veel byvoeg tot die leeservaring nie.  Die kostevoordeel van die e-boek (20%) is ook relatief klein.
Dit moet onthou word dat die digitale era ook voordele vir die boekbedryf gebring het. Dit is vandag heelwat goedkoper om boeke te druk danksy vordering wat op hierdie gebied plaasgevind het.

April 20 “Het die einde van die tradisionele boek aangebreek met die koms van die digitale era?”- dr Nicol Stassen

Met die koms van die digitale era het heelwat nuwe uitdagings vir uitgewers aangebreek. Sommige het ’n positiewe invloed op die boekbedryf gehad en ander het tot ernstige probleme in die bedryf aanleiding gegee. Met die koms van e-boeke wil dit voorkom of die einde van tradisionele boeke aangebreek het. Is dit werklik so? Hoe raak die digitale era ons reeds wankelende plaaslike boekebedryf?
Nicol Stassen het ’n meestersgraad in chemiese ingenieurswese, ’n BA-graad met Afrikaans, Duits en Russies as hoofvakke en in 2009 het hy ’n D. Phil.-graad in geskiedenis behaal met die onderwerp: “Die Afrikaners se laaste halfeeu in Angola, 1928-1975”.

Kom neem gerus deel aan hierdie gesprek in ‘n gasvrye omgewing en ontmoet mede redenaars.
Onthou, kom vroeg en koop besonderse boeke!

Café Riche, 19:30
Kerkplein 2, Pretoria rsvp: 012 328 3173
caferiche@kerkplein.co.za
R65pp - sluit aandete in.